Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe gaan ons die reënboog nou red?

As ons Suid-Afrika wil red, sal almal, maar veral die ANC, weer die droom van ’n nierassige samelewing ernstig moet opneem, skryf Mondli Makhanya.

Suid-Afrikaners vier die inhuldiging van pres. Nelson Mandela op 10 Mei 1994 in Pretoria. Foto’s: Per-Anders Pettersson en Louise Gubb

Een van die mees herhaalde gemeenplase van die afgelope eeu is dié van Friedrich Hegel wat gesê het as ons enigiets uit die geskiedenis leer, is dit dat ons niks uit die geskiedenis leer nie.

Dit is omdat ons, die menslike ras, so geneig is om die foute van die verlede te herhaal. Ons het twee wêreldoorloë binne ’n paar dekades gehad. Ná die Tweede Wêreldoorlog, met verregse nasionalistiese ideologieë nog vars in die geheue, het apartheid amptelike beleid in Suid-Afrika geword.

Die Joodse volksmoord in die eerste helfte van die 20ste eeu is minder as 50 jaar later deur die volksmoord in die Balkan en later in Rwanda gevolg.

Die roekelose uitbundigheid van onbelemmerde kapitalisme, wat tot die wêreldwye resessie van die 1930’s bygedra het, is in die 1980’s en weer in 2008 herhaal. En so kan ’n mens aangaan.

Die eintlike waarheid agter die Hegel-gemeenplaas is egter nie net dat ons niks uit die geskiedenis leer nie; dit is dat ons (ver)kies om niks daaruit te leer nie.

In die ateljee was twee wit mans wat bewustelik of onbewustelik geglo het dat die swart man ’n hupstootjie gekry het om te wees waar hy is.

Ons mense sien blykbaar die geskiedenis soos wat ’n tiener ’n lastige ouer of onderwyser beskou. Iemand wat altyd wil hê dat jy die regte ding moet doen – selfs wanneer daar ’n weg van veel minder weerstand, of ’n prettiger een, is om te volg.

Wat ons bring by die situasie waarin hierdie wonderlike republiek van ons, Suid-Afrika, hom tans bevind.

Die geskiedenis leer ons dat hierdie land die laboratorium moes wees vir nie-rassigheid, anti-rassisme en die stryd teen onverdraagsaamheid.

Dit is immers hier waar rassisme en onverdraagsaamheid in die jare ná die Tweede Wêreldoorlog tot sy uiterste gevoer is.

En dit is ook hier waar die dapperste stryd teen rassisme en dwangarbeid geveg is.

Die Suid-Afrikaanse stryd was ook die uitsonderlikste revolusie van die 20ste eeu, omdat dit een is wat daarin geslaag het om mense in elke hoofstad en dorp in die wêreld te verenig teen een stelsel.

In teenstelling met rasseonderdrukking in Suid-Afrika was daar die wêreldwye anti-apartheidsbeweging wat miljarde fatsoenlike inwoners van hierdie planeet geïnspireer het om ’n verklaring van “nie in my naam nie” te onderteken.

In denke en in wese was die vorm wat die Suid-Afrikaanse revolusie aangeneem het spesiaal. Daar is reggekry om die idees van Pan-Afrikanisme, swartbewussyn en liberalisme te verenig in ’n enkele doelwit: om apartheid te verslaan en ’n pragtige nuwe denkwyse in die plek daarvan tot stand te bring.

In teenstelling met die gogga-maak-vir-baba-bang- populistiese interpretasies en kritiek oor Pan-Afrikanisme het die vader van dié idees, Robert Sobukwe, ons geleer dat daar “net een ras is, die menslike ras” en dat ons verdeel word deur slegs die fisiologiese verskille, wat op hul beurt die gevolg is van aardrykskunde en klimaat.

Die swartbewussynsikoon Steve Biko het gepredik dat “wit mense bewus gemaak moet word daarvan dat hulle net menslik is en nie beter as ander nie”– terwyl swart mense moet leer dat hulle “ook menslik is en nie minderwaardig nie”.

 Die Vryheidsmanifes, wat vir die grootste deel van die bevrydingsbeweging soos die Bybel was, het verklaar dat “Suid-Afrika aan almal behoort wat hier woon, swart en wit.”

Die liberaal Alan Paton het gedroom van ’n Suid-Afrika waarop die “wêreld trots sal wees, ’n nasie waarin elkeen van sy baie verskillende groepe sy eie kreatiewe bydrae sal maak”.

Die sosialisme wat deur die Kommunistiese Party van Suid-Afrika verteenwoordig is, het ’n gelyke, rassisme-vrye land verbeel.

Hierdie idees, wat almal die droom van ’n nierassige en regverdige samelewing in gemeen gehad het, het miljoene gemobiliseer om op te staan teen onderdrukking. Die stryd wat hulle geïnspireer het, het die grondslag gelê vir een van die grootste internasionale solidariteitsbewegings wat tot nog toe gesien is.

Hierdie beweging het die stryd teen apartheid oorleef en sy internasionale aktiviste speel steeds ’n sleutelrol in die debat oor baie van die belangrikste kwessies waarmee die wêreld steeds worstel – of dit klimaatsverandering is, die stryd teen armoede of menseregtekwessies.

Dit is iets waarop ons baie trots moet wees.

Ten spyte van dit alles is ons self besig om ons eie geskiedenis te “ontleer” en op ons eie nalatenskap te spoeg. Die nasie wat die wêreld geleer het dat rassisme, onverdraagsaamheid en rasseskeiding oorkom kan word, is nou in ’n wedloop gewikkel om die beste voorbeeld te word van presies dít waarteen ons so hard geveg het.

As die ANC die ekonomiese koek groter gemaak het, sou die bitterheid oor rasseongelykheid nie so skerp gewees het as wat dit nou is nie.

Kom ons aanvaar dit nou eens en vir altyd, ons is voortdurend slegs ’n asemteug weg van ons volgende rassevoorval of -konfrontasie.

Die voorval in die SuperSport-ateljee verlede naweek, toe ’n ergerlike Ashwin Willemse die woede van ’n ondermynde swart man aan die wêreld gewys het, is maar net nog ’n bewys daarvan dat ons teruggly na die dae van haat.

Die toneel was tipies Suid-Afrikaans. In die ateljee was twee wit mans, albei rugbylegendes, wat bewustelik of onbewustelik geglo het dat die swart man waarmee hulle die ateljee deel ’n hupstootjie gekry het om te wees waar hy is en daarom dankbaar moet wees om tyd in hul teenwoordigheid deur te bring.

Hier was ’n swart man, self ’n rugbylegende, waarskynlik selfs groter as die twee waarmee hy die ateljee gedeel het, wat genoeg gehad het van wat Suid-Afrika as normaal beskou.

Die swart vrou wat ook teenwoordig was, was niks meer as ’n bykomstigheid nie, iets waarvan ons te veel in ons patriargale samelewing sien.

Die uiteenlopende reaksies van Suid-Afrikaners was beduidend.

Vir die meeste wit Suid-Afrikaners wat oor die saak kommentaar gelewer het, was Willemse ’n darkie wat tussen die “ware” legendes aanspraak maak op iets wat hy nie regtig self verdien nie, en wat soos gewoonlik die gerieflike rassekaart speel.

In swart Suid-Afrika was die reaksie een van “net nog ’n voorbeeld van hoe hierdie wit mense is”.

SuperSport en MultiChoice op hul beurt het hul bes gedoen om te maak asof niks ernstigs gebeur het nie.

’n Gedwonge handdruk, net soos dié tussen José Mourinho en Arsène Wenger in die ou dae, was genoeg om die MultiChoice- en SuperSport-base warm en tevrede te laat voel.

Hierdie nederige koerantman wil nie verder in die kompleksiteite van hierdie voorval delf nie, behalwe om te sê dat dit die idee van die gelukkige reënboognasie nek omdraai.

Ons is eintlik ’n borrelende pot van wrok en toornigheid.

Kan die droom van ’n nierassige samelewing gered word?

Kan ons weer daardie laboratorium van nierassigheid wees in ’n wêreld wat al hoe dieper in die slympoel van haat en etniese populisme gly?

Wie moet wat doen om ons weer op die regte pad te kry?

Wat is die verantwoordelikhede van ons politieke, godsdiens- en sakeleiers en die leiers in die burgerlike samelewing?

Wat is ons individuele verantwoordelikhede as burgers van hierdie republiek?

As daar iets is wat ons uit die geskiedenis kan leer, is dit dat dit nodig is om die bose te erken en af te sweer as jy wil hê die goeie moet oor die bose seëvier.

Tans is ons in ’n fase van ontkenning, óf ons weier om ons kwaal te diagnoseer óf ons wil nie die diagnose aanvaar nie.

Dit is so dat die grootste deel van wit Suid-Afrika nie ten volle verstaan ??waaroor apartheid gegaan het nie of die omvang van die skade besef wat dit veroorsaak het nie. Hierdie neiging om die impak van apartheid te probeer minimaliseer voed die arrogansie en straffeloosheid van diegene wat – ’n kwarteeu nadat ons demokratiese orde tot stand gekom het – steeds swart mense as minderwaardig beskou en hulle as minderwaardig behandel.

Apartheidsontkenning sit ook agter die traagheid van transformasie en die stryd teen rasgegronde ekonomiese ongelykheid.

Die punt is as jy niks verkeerd met die status quo sien nie, sal jy nooit enige rede vind om dit reg te stel nie.

Een van die grootste skuldiges in ons stryd teen rassisme en rasseverdeling is die ANC, die regerende party van hierdie verdeelde republiek. Die ANC se mislukking is tweeledig: ’n onvermoë om sy grondwetlike mandaat vir ’n transformasieagenda te implementeer – en om dan populisme te gebruik om hierdie tekortkominge te probeer wegsteek.

As daar die politieke wil was om onapologeties transformasiedoelwitte deur wetgewing deur te voer – al was dit beperk in hul omvang – sou Suid-Afrika vandag heel anders daar uitgesien het.

Diegene wat steeds transformasie teenstaan en dit as omgekeerde rassisme beskou, sal weet dat dit ’n noodsaaklikheid is en nie net bloot iets wat lekker sal wees om te hê nie.

As die ANC die ekonomiese koek groter gemaak het en verseker het dat dit dienooreenkomstig en regverdig verdeel word, sou die bitterheid oor rasseongelykheid nie so skerp gewees het as wat dit nou is nie.

En as die regering van die afgelope dekade nie so korrup was nie, sou die rassiste in ons midde nie so voorbarig gewees het as wat hulle nou is nie.

Die ANC se ander sonde is sy terugval in populisme.

Die gevolg is dat die ANC, wat eens aan die voorpunt was in die stryd vir ’n nie-rassige samelewing, nou die handlangers is van ’n spul lawaaierige deugniete wat geen verantwoordelikheid het om die samelewing te lei nie.

Die ANC van die laaste paar jaar het ’n opstoker van vure geword eerder as ’n verantwoordelike leier. Dit is asof die ANC ’n slagoffer is eerder as ’n party aan die bewind.

Dit is vandag moeilik om die ANC te onderskei van die bende afbrekers en die ahistoriese skares wat niks weet van die ware doelwitte van die vryheidstryd nie.

As die grootste politieke party in die land dra die ANC die grootste verantwoordelikheid om die afwaartse gang na ’n haatdraende samelewing te stuit.

Maar so ook die opposisie, wat oorheers word deur diegene wat wit bevoorregting ontken en wat voordeel trek uit die stook van rassewoede.

Die sakesektor moet ook aan boord kom deur net so vasbeslote te wees om transformasie na te streef as wat hulle was om staatskaping te beveg.

Maar die oplossing moet kom uit dié sektor van die samelewing wat ook hul stem dik gemaak het in die geveg teen staatskaping: die geestelikes.

Soos wat hulle gedoen het op die hoogtepunt van apartheid en op die ergste oomblikke van staatskaping, moet die geloofsleiers hul invloed, geloofwaardigheid en reuse-netwerke gebruik om te doen wat politieke partye moontlik nie in die verkiesingstyd kan of gaan doen nie.

*Mondli Makhanya is redakteur van Rapport se susterskoerant, City Press.

Meer oor:  Ashwin Wilemse  |  Rassisme  |  Toekoms  |  Populisme  |  Kapitalisme  |  Rasseverhoudings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.