Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe het SA se demokratiese presidente gevaar?

Sedert 1994 het Suid-Afrika ’n allegaartjie van presidente gehad wat nie ewe getrou aan die Grondwet was nie. Richard Calland en Mabel Dzinouya meen daar kan nie meer op die spel wees vir presidensiële leierskap as juis nou nie.

Oudpres. Jacob Zuma spreek sy volgelinge toe by Nkandla nadat die Konstitusionele hof hom tot vyftien maande tronkstraf gevonnis het weens minagting van die hof. Foto: Mlungisi Louw

Die koronavirus-pandemie het die leierskap van presidente en premiers wêreldwyd in ’n uiters onvergewende kollig geplaas. Dit het onderliggende swakhede blootgelê, en het verborge sterkpunte onthul.

’n Kolossale krisis soos dié bied ruimte vir ’n ondersoek na ’n politieke leier – ’n baie akute vorm van aanspreeklikheid. Só ’n krisis kan ’n leier maak of breek. Suid-Afrika word deur ’n leierskap-keerpunt in die gesig gestaar. Teen die agtergrond van ’n voormalige president wat in die tronk is weens minagting van die hof omdat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te verskyn, is dit nie verbasend dat die vertroue van Jan Publiek aan die verflou is nie. Navorsing, onder meer ’n studie van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het dit beaam.

Zwelivelile “Mandla” Mandela en Jacob Zuma poseer op 16 Desember 2013 voor ’n standbeeld van oudpres. Nelson Mandela voor die Uniegebou. Dié standbeeld is die dag ná Mandela se begrafnis in Qunu onthul. Foto: Getty Images

Gevolglik is daar ’n behoefte aan ’n vorm van leierskap wat op ’n etiese krisis kan reageer. In Suid-Afrika en wêreldwyd word ons “normatiewe essensie” uitgedaag – die onderliggende waardes en etiese beginsels wat ’n samelewing aan mekaar bind – soos wat die onlangse verwoestende oproerigheid onderstreep het.

Suid-Afrika se ervaring van presidensiële leierskap en aanspreeklikheid sedert 1994 is ’n verwarrende en dikwels teenstrydige mengsel van sterkpunte en swakhede, sukses en mislukking, veerkragtigheid en wondbaarheid.

Dít is die beginpunt van ons hoofstuk, “Presidensiële leierskap en aanspreeklikheid vanaf Mandela tot by Ramaphosa”, in ’n nuwe publikasie van die RGN.

Die konseptuele benadering wat ons gebruik het om die Suid-Afrikaanse presidente van die demokratiese era met mekaar te vergelyk, was gelei deur die idee van “etiese presidensiële leierskap”. Ons het vrae gevra soos: Wat was die belangrikste eienskappe van die drie presidente wat aan bewind was voor Ramaphosa (Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Jacob Zuma)? En wat is die bruikbare en toepaslike gevolgtrekkings vir sy termyn as die hoof van die regering?

Ons het ’n raamwerk ontwikkel om presidensiële leierskap te beoordeel gegrond op vyf kriteria: getrouheid aan die Grondwet, die opbou van die instansie, sosio-ekonomiese transformasie, besluitneming en politieke oordeel en strategiese visie en diplomasie.

Ons hoofstuk pas die eerste twee toe, naamlik getrouheid aan die Grondwet en die bou van die instelling. Ons het gevind in die 25 jaar sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het, was daar indrukwekkende getrouheid aan die Grondwet én flagrante ontrouheid aan die Grondwet. Daar was indrukwekkende opbou van die instansie sowel as destabiliserende verwoesting.

Suid-Afrika se ervaring van presidensiële leierskap en aanspreeklikheid sedert 1994 is ’n verwarrende en dikwels teenstrydige mengsel van sterkpunte en swakhede, sukses en mislukking, veerkragtigheid en wondbaarheid.

Konstitusionalisme en staatsbestuur

President Cyril Ramaphosa op Mandeladag in Soweto tydens Operasie Skoonmaak en Herbou ná dae van anargie en plundering. Dit was deel van die amptelike Mandeladag-vieringe. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie. Die grondslag van ons oorgang weg van die despotiese, outoritêre en diskriminerende regime van die apartheidsera was die vestiging van ’n samelewing gegrond op reëls. Hierin sou die uitvoerende gesag getoets word teen wat die Suid-Afrikaanse aktivis, akademikus en juris Etienne Mureinik genoem het ’n “kultuur van verantwoording”. Elke keer wanneer daar mag uitgeoefen word, sou dit in die openbaar verduidelik moes word op ’n oop en deursigtige manier.

Mandela, met sy onmiskenbare steun vir die beginsel van grondwetlikheid en die oppergesag van die reg, het ’n voorbeeld gestel wat moeilik was om na te volg.

Die dokument waarop Suid-Afrika se nuwe demokrasie gegrond is, was uitgedink as meer as ’n kaart van die nuwe verdeling van mag en gesag. Dit is gesien as ’n Grondwet met ’n “transformerende” doel. Met ander woorde om die land se “politieke en sosiale instellings en magsverhoudinge (te verander) in die rigting van deelname en gelykheid”.

Suid-Afrika se Grondwet doen dit. Dit lê die primêre grondslag vir demokratiese regering sowel as sosiale verandering – al erken ons dit is ’n bestrede paradigma.

Daarom het die mate waartoe presidente die geskrewe konstitusionele kode aanhang diepgaande implikasies vir hul gebruik van uitvoerende mag en leierskap. Mandela, met sy onmiskenbare steun vir die beginsel van grondwetlikheid en die oppergesag van die reg, het ’n voorbeeld gestel wat moeilik was om na te volg.

Oudpres. Thabo Mbeki tydens die eeufeesvieringe vir Nelson Mandela by laasgenoemde se huis in Houghton. Foto: Gallo Images

Mbeki het sy uiterste bes gedoen om die kapasiteit en die samehang van die demokratiese bewind te versterk, veral wat betref hervorming van die presidentskap self.

’n Mens kan egter nie die gevolgtrekking vermy nie dat sy benadering tot diplomasie en sy politieke bestuur van sy eie ingewikkelde en dikwels onregeerbare party, daartoe gelei het dat hy die Grondwet en die oppergesag van die reg ondermyn het. Hy het dit dalk onwetend gedoen, maar hy was nietemin onfeilbaar wat dit betref.

Ons gevolgtrekking is dat hy dus nie onthou sal word as ’n groot konstitusionalis of ’n etiese leier nie, al sal hy in die geskiedenis onthou word as ’n beter leier as Zuma.

In Zuma se geval het die hoogste hof in die land verklaar dat hy die Grondwet geskend het. ’n Groot klomp getuienis is ook voor die Zondo-kommissie gebring dat hy die mag wat aan hom toevertrou is as president misbruik het. En dat hy die sistematiese vorm van korrupsie moontlik gemaak het wat nou bekend staan as “staatskaping”.

Misdaadintelligensie en polisie het misluk

’n Fabriek brand af in die Sea Cow Lake-gebied in Durban op 12 Julie tydens die onluste en strooptogte ná die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma. Foto: Gallo Image

Die opbou van die instelling is naverwant aan konstitusionele getrouheid. Dit is omdat Suid-Afrika se Grondwet befaamd is vir die uitgebreide konstellasie van “institusionele infrastruktuur” wat hierdeur gevestig word. Dit is die ander kant van dieselfde munt. Die opbou van die instansie verseker dat die voertuie vir transformasie die nodige organisatoriese dryfvere het wat in elke opsig geskik is vir hul doel.

Soos die Ghanese prokureur en opvoedkundige, H. Kwasi Prempeh, argumenteer, is daar ’n behoefte om die fokus te skuif vanaf sterk leierskap na die bou van geloofwaardige en doeltreffende instellings op nasionale en plaaslike vlak.

Ons stem saam die opbou van die instelling is van kritieke belang. Maar instellings sonder bewuste, visioenêre en verantwoordbare leiers is kwesbaar vir die misbruik van mag en die verlies aan integriteit. Met ander woorde etiese leierskap vereis sterk, bekwame instellings. Soos wat Ramaphosa onlangs agtergekom het word leiers gekwets deur swak instellings. Misdaadintelligensie én die polisie het klaaglik misluk, soos wat Ramaphosa gedwing was om in die openbaar te aanvaar.

Baie op die spel

Die gemengde uitkomste van die afgelope 25 jaar het talle implikasies vir Ramaphosa en toekomstige leiers. Onkreukbare individuele etiese standaarde is noodsaaklik. Maar dit moet gerugsteun word deur sterk, bekwame instellings. Mbeki het dit erken en het hom ten doel gestel om dit te op te bou. Zuma het hulle uitgehol en hulle kwesbaar gemaak vir “kaping”. Ramaphosa is nou in die proses van heropbou, maar ’n ineenskakeling van sosiale, fiskale, ekonomiese en gesondheids-krisisse staar hom in die gesig.

’n Kultuur van die 'etiek van omgee' moet op elke regeringsvlak ingestel word.

Die invloed van sterk etiese leierskap deur staatshoofde is van kritieke belang. Maar ’n kultuur van die “etiek van omgee” moet op elke regeringsvlak ingestel word.

Daar kan nie meer op die spel wees vir die leierskap van ’n president wat betref die gesag van die presidentskap en die demokratiese staat, die integriteit van die Grondwet en die sosio-ekonomiese stabiliteit en bevordering van Suid-Afrika as juis ’n ernstige, uitgerekte en meervlakkige krisis nie.

* Calland is ’n medeprofessor in openbare reg aan die Universiteit van Kaapstad en Dzinouya Sithole is ’n program-beampte vir Building Bridges aan dieselfde universiteit. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

conversation
Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Thabo Mbeki  |  Suid-Afrika  |  Leierskap  |  Grondwet  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.