Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe kan jy hier bly of hier weggaan?

Hoe moet hy hierdie verskriklike plek aan ’n kind probeer verduidelik, het Danie Marais gewonder ná die onlangse skietery by ’n nagklub in Stellenbosch.

Die toneel ná die skietery by die Cubaña-nagklub in Stellenbosch. Foto: Verskaf

“Die lewe is soos ’n partytjie waar die gaste probeer om ’n onsigbare skerpskutter te ignoreer wat hulle een vir een uithaal,” het die gewilde Britse filosoof Alain de Botton ’n paar jaar gelede getwiet.

In die Suid-Afrikaanse konteks is dit dikwels letterlik waar. Behalwe dat daardie sluipmoordenaar sommer openlik sonder vrees vir vervolging rondloop, uit die heup uit skiet en nie juis omgee wie hy almal tref nie.

Dis die straat deur die hart van die studentedorp.

Want kyk, laasweek gaan ek haarkapper toe in Stellenbosch se Pleinstraat – skuins oorkant die dorpsbiblioteek wat ons kinders van nege en tien gereeld besoek; direk oorkant die statige ou Stadsaal met Strijdom van der Merwe se Mandela-standbeeld wat voor op die gras glimlag. Dis die straat deur die hart van die studentedorp waarin die Decameron-restaurant altyd vol is; die straat waarin mense tot onlangs graag by die Cubaña tussen die poskantoor en Ocean Basket gekuier het – die Ocean Basket waarin ek nou die dag die skrywer Mandla Langa saam met sy gesin gesien het.

In die Cubaña, wat wawyd oop tot op die sypaadjie uitloop, is twee mense op Vrydag 13 Oktober tussen middernag en 01:00 doodgeskiet en ’n ander gewond. Een van die oorledenes was Nicole Muller, ’n 32-jarige ma van twee kinders van drie en vyf. Sy het in die spervuur beland nadat die klaarblyklike teiken – Donovan Jacobs, ’n vermeende bendelid van die 28’s – die kuierplek ingevlug het.

‘Ek sou daar gewees het!?’

“Ek sou daar gewees het!?” sê ek, steeds oorbluf, vir die haarkapper.

Ek en drie vriende, almal ook pappas, het vir die eerste keer in ’n lang tyd op daardie Vrydagaand gaan fliek in die Eikestad Mall – net langs Cubaña. Ons wou almal Blade Runner 2049 in volle 3D op die groot doek beleef. My vriend Desmond was so opgewonde om weer op ’n Vrydagaand by die fliek te wees dat hy sommer ’n hele sakkie Whispers in sy groot popcorn omgekeer het. En die nuwe Blade Runner was ’n wilde belewenis. Ná 2 uur en 44 minute het ons kort voor middernag soos die enigste oorlewendes van ’n verbysterende nagmerrie uit die bioskoop gesteier, heeltemal oorweldig deur die distopiese skouspel wat ons pas weggevoer het na ’n absoluut troostelose Los Angeles in 2049.

Die ou wat hulle geskiet het, was aan ’n tafel naby ons.

Ek, wat duidelik oor geen sesde sintuig vir gevaar beskik nie, stel toe voor dat ons hierdie epiese fliekervaring gaan bespreek oor ’n whisky in die Cubaña, maar die ander manne bely hul moegheid en ons besluit om te verdaag.

“Ek wás Vrydagaand in die Cubaña,” sê die haarkapper, wat intens geluister het. Ek het haar nog nooit so somber gesien nie.

“Ons ken een van die eienaars goed, man. Ons kuier altyd daar. Die ou wat hulle geskiet het, was aan ’n tafel naby ons wat soos hele bottels Jameson en vodka bestel het en jy weet hoe duur drank in Cubaña is.

"Die vrou wat hulle geskiet het, was daar vir ’n vriendin se 30ste. Hulle het lekker gedans.

Nicole Muller is in die skietery by die Cubaña-nagklub dood. Foto: Facebook

“Maar kort voor twaalf het ek besluit om te waai sonder om te groet. Ek het mos ’n rubber-arm. So, ek het geweet as ek groet, gaan ek vasval. Ek was nog nie by die huis nie, toe bel hulle my histeries om te vra waar ek is. In die agtergrond hoor ek net ’n geskree.”

“Daai vrou se man – hy was hier op Paul Roos – hy’s stukkend. Ek het die hele ding later op hul CCTV gesien: Die ou wat inhardloop binne toe met twee agterna; hoe hulle haar deur die oog geskiet.

"Die ou het hulle by die kombuis getref – nie die badkamers soos die koerant sê nie. Toe hy lê, het hulle nog ’n paar skote in sy kop geskiet. En toe loop hulle rustig uit.”

“Die nagbestuurder en nog iemand moes tot 07:00 die volgende oggend by die lyke sit. Die personeel het dié week met berading begin.”

Hoe bly jy kalm en positief?

Intussen is die beweerde bendeleier van die 26-bende en die Sexy Boys, Jerome “Donkie” Booysen, amper dood in ’n koeëlreën by Kaapstad se lughawe. Glo ’n poging tot vergelding vir die Cubaña-moord.

Maar wat weet ek van wie nou regtig agter wat sit. Al waarvan ek seker is, is dat ek en my drie vriende nooit weer dieselfde sou wees as ons daardie noodlottige Vrydagnag daar was nie. Ek sou soos duisende ander in ons samelewing jare lank stil-stil moes sukkel om psigies weer op die been te kom nadat geweld my tot in die murg geskud en my met verlammende trauma besmet het wat in my gemoed kom en gaan soos malaria.

Hoe moet ek hierdie verskriklike plek aan ’n kind probeer verduidelik?

Ek weet ook die Cubaña-skietery is binne die grusame groter Suid-Afrikaanse prentjie nie werklik opspraakwekkend nie. Maar daardie idee van die CCTV-opname spook by my. Wat doen dit aan jou wanneer jy so in saaklike swart-en-wit sien hoe jou vrou, jou man, jou kind, jou ma of jou pa geluidloos getref word, ruk en inmekaarsak?

Hoe moet ek hierdie verskriklike plek aan ’n kind probeer verduidelik? Hoe beywer jy jou vir ’n beter Suid-Afrika as jy weet verdeeldheid en rassespanning pas jou president uitstekend en jou belasting verdwyn in die sinkgat van ’n meedoënlose kleptokrasie? Ek verpes die siellose, onbarmhartige materialisme wat ek oral om my sien, maar waarin kan ek belê wat nie na die ekwivalent van ’n hopeloos naïewe wensfonteintjie lyk nie? ’n Mens wil graag die bedagsaamheid hê om nie soos net nog ’n siniese bitterbek te stink voor jy dood is nie, maar hoe bly jy kalm en positief? Wat het my besiel om vrywillig 15 jaar gelede terug te keer uit Duitsland? Was die heimwee en die lang winters regtig so erg gewees?

‘Ek sal maar altyd net hier bly’

Ná die Cubaña-skietery voel dit of ek my dogter om vergifnis moet vra dat ek haar in die wêreld gebring het in hierdie verraderlike niemandsland by die see wat jou alles behalwe vrede of gemoedsrus kan gee.

Maar dan dink ek aan Ryk Hattingh, wat tien dae nadat hy die kykNET-Rapportprys vir sy Huilboek gewen het, terug in Auckland, Nieu-Seeland, op 10 Oktober vanjaar aan ’n hartaanval oorlede is. Ek was daar toe Ryk dié groot prys in Kaapstad in ontvangs geneem het. Hy was daardie aand behoorlik uit sy kassie – ’n uitgelate, beskonke anargis wat almal, man en vrou, sommer met ’n soen wou groet. Dit was so lekker om te sien hoe bly hy was oor die toekenning en om ou bekendes weer in die oë te kyk, maar dit is sy woorde in ’n stiller oomblik wat my altyd sal bybly. Nadat die wenners gefotografeer is, het ons staan en gesels en Ryk het asof aan homself, na aanleiding van alles en niks, gesê: “Jy weet, ek bly al 20 jaar in Nieu-Seeland, maar ek was nog altyd net hier, net hier.”

In daardie teer, sielige oomblik het ek onthou hoe bang ek soms in Duitsland was dat ’n bus my sou raakry en ek per ongeluk daar begrawe sou word. In so ’n vreemde graf sou ek sweerlik in alle ewigheid nooit ’n oog kon toemaak nie.

Danie Marais

Ek sal maar altyd net hier, net hier bly, selfs al gaan ek waar. En dalk verkies ek dit tog om so na aan al my kosbaarste skade te leef. Maar wanneer ek dink aan daardie ma van twee wat daar dood in die Cubaña lê met die skieters wat onverstoord uitloop, voel my wortels hier noodlottig.

Aan die einde van Huilboek verbeel Ryk hom hoe Outa Toon uit sy kinderdae vir hom sê: “Fok, basie, kyk hoe laai hulle die veertigvoet-container vol van jou goed. Kaste en beddens en komberse en verwarmers. Jy is op pad. Weer eens op pad. Weg van hier af, hier bestaan nie meer nie, my basie. Die snaar het gebreek. Hier is nie meer ’n lied nie.”

By terugskoue was die triestige Blade Runner 2049 lekker ontvlugting. In daai heel denkbare 2049 soek almal in ’n volkome kunsmatige wêreld naarstiglik na iets wat nog organies en real is. Hier in Suid-Afrika 2017 is dinge so skrikwekkend werklik dat alles soms heel abstrak en onwerklik voel.

* Marais is die bestuurder van PEN Afrikaans, ’n digter, ’n vryskutjoernalis en -omroeper.

Meer oor:  Danie Marais  |  Nicole Muller  |  Stellenbosch  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.