Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe keer jy 948 000 haweloses van Sirië?

In die noorde van Sirië ontvou ’n menslike drama hom wat skokgolwe tot wyd buite die Midde-Ooste kan stuur. Leopold Scholtz berig.

Siriese kinders wat uit Aleppo verwyder is, het ’n tydelike tuiste in ’n vlugtelingkamp in Idlib gekry. Foto: AP

Sedert die Siriese weermag begin Desember met ’n grootskeepse offensief begin het in die provinsie Idlib, het ’n vloedgolf van 948 000 hawelose mense op die vlug geslaan.

Dié mense is die pionne op ’n genadelose internasionale politieke skaakbord. Die spelers is hoofsaaklik press. Wladimir Poetin van Rusland, Reçep Tayyip Erdogan van Turkye en Basjar al-Assad van Sirië, terwyl Amerika en die Europese Unie betreklik magtelose toeskouers is.

Die verskillende elemente van die politieke knoop is soos volg:

Ten eerste: ’n Burgeroorlog woed nou al agt jaar lank in Sirië. Dit het in 2012 begin, toe sommige Siriërs, aangesteek deur die “Arabiese Lente” elders in die Midde-Ooste, ’n einde aan die outo­kratiese Assad-bewind geëis het. Maar Assad was nie bereid om pad te gee nie en het hárd teruggeslaan. Hy het die rebelle nou teruggedryf tot die noordelike helfte van die provinsie Idlib teenaan die Turkse grens.

Erdogan het ingesien dat die kwessie nie net sy geopolitieke vergesigte oor die herstel van die Turkse Sultanaat kan dien nie, maar dat hy dit ook kan gebruik om Europa se arm vir verdere toegewings te draai.

Tweedens: Poetin het in die oorlog sy kans gesien om Rusland se invloed in die Midde-Ooste weer uit te brei. Hy het gevolglik sy lugmag en spesmagte in Sirië ingestuur om Assad te help. Dit het geslaag. Assad se bewind is nie slegs gered nie; Assad is nou grotendeels afhanklik van Poetin en hom baie verskuldig.

’n Derde element is dat die Siriese burgeroorlog deel vorm van ’n breër konflik tussen die twee hoofstrome van die Islam, die Soenniete en die Sjiïete.

Assad is ’n aanhanger van die Alawitiese sekte, ’n onderdeel van die Sjiïete, en kry dus hulp van die oorweldigend Sjiïtiese Iran. Daarteenoor staan die Soennitiese Saoedi-Arabië agter die rebelle.

Dit bring ons by nommer vier: Nog ’n Soennitiese land wat hulp aan die rebelle verleen, is Turkye. Maar vir Erdogan is die religieuse konflik sekondêr; dit gaan vir hom om geopolitieke voordeel.

Kenners meen as Erdogan na die kaart van die Midde-Ooste kyk, sien hy die – uit sy oogpunt – glorieryke Turkse Ryk wat ’n paar eeue gelede die grootste deel van die streek tot diep in Europa beslaan het. Die burgeroorlog in Sirië is vir hom ’n geleentheid om ’n stap nader aan sy ideaal te kom. Hy het dus militêr in Idlib ingegryp en die Siriese magte ’n behoorlike bloedneus gegee.

Wat ook vir Erdogan belangrik is, is om die Koerde se invloed te neutraliseer. Die Koerde is ’n staatlose volk wat in die grensgebiede tussen Turkye, Sirië, Irak en Iran woon en Erdogan sien hulle as ’n gevaar vir sy eie land.

Die vyfde element is die een wat tans soveel aandag in die internasionale media trek, die vloedgolf vlugtelinge.

Die EU het ’n trauma oorgehou aan die vorige vloedgolf van 2015, toe meer as ’n miljoen vlugtelinge deur Turkye, Griekeland en die Balkan hoofsaaklik na Duitsland getrek het. Baie oningeligte mense verwyt die bondskanselier, Angela Merkel, dat sy die mense in haar land toegelaat het, maar laat buite rekening dat jy moeilik ’n rivier wat afkom kan keer. Die mense het gekóm, en die enigste manier hoe hulle toe gekeer kon sou word, was met geweld.

Tog, ook Merkel het ingesien dat dit ’n eenmalige gebeurtenis moes bly in die lig van die maatskaplike probleme wat baie van die vlugtelinge veroorsaak het. In Maart 2016 het die EU dus op haar aandrang ’n ooreenkoms met Turkye gesluit: In ruil vir hulp ten bedrae van €6,7 miljard sou Turkye keer dat die vlugtelinge verder trek en hulself onderhou.

Die Siriese offensief in Idlib het nou alles op sy kop omgekeer.

Erdogan het ingesien dat die kwessie nie net sy geopolitieke vergesigte oor die herstel van die Turkse Sultanaat kan dien nie, maar dat hy dit ook kan gebruik om Europa se arm vir verdere toegewings te draai. Erdogan het twee weke gelede aangekondig dat hy nie meer gaan keer dat Siriese vlugtelinge sy grense na Europa oorsteek nie.

Tot 20 000 mense het dus die see van die Turkse kus oorgesteek na die Griekse eilande in die Egeïese See, waar hulle eilande soos Kos en Lesbos oorstroom en ’n yslike probleem vir die plaaslike owerhede meegebring het. Erdogan was vandeesweek in Brussel, maar dis onduidelik wat die uitslag was.

Ná die samesprekings het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie,  wel gesê die EU verwag dat Erdogan die ooreenkoms van 2016 sal nakom.

Erdogan gebruik die krisis ook om sy militêre posisie te verstewig. Nadat hy tydens sy besoek aan Brussel ook met Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van Navo, gepraat het, het hy gesê “Turkye se grens met Sirië is ook Navo se suidelike grens” – ’n onsubtiele manier om die Europeërs daaraan te herinner dat Turkye formeel gesproke ’n bondgenoot is wat steun verdien.

Rusland se vinger in die pap bemoeilik sake verder. Daar was botsings tussen Turkse en Russiese troepe in Idlib, en in een geval het ’n Russiese bombardement 33 Turkse soldate gedood.

As lidstaat van Navo word van Turkye verwag dat hy die breë Westerse kritiese houding teenoor Russiese optrede in Oekraïne moet deel. Desondanks het Erdogan toenadering tot Rusland gesoek en selfs ’n Russiese lugafweer-wapenstelsel gekoop, eerder as een uit ’n Navo-land.

Die botsings in Idlib het klaarblyklik die toenadering tussen Poetin en Erdogan gekelder. Die twee het mekaar verlede week ontmoet, en dit lyk of hulle ooreengekom het om hul verskille nie verder te laat eskaleer nie, maar dit skuur steeds tussen hulle. Enersyds kon Erdogan hieruit sien dat Rusland nie sy natuurlike bondgenoot is nie, en dat hy – al was dit maar uit eiebelang – eerder op Navo moet staatmaak. Andersyds misbruik hy die vlugtelingkwessie om Europa tot allerlei toegewings te dwing.

Hoe nou verder?

Eintlik is daar slegs een ding wat ’n mens met sekerheid kan sê, en dit is dat alles deurmekaar en onseker is.

Europa kan opnuut deur vlugtelinge oorstroom word, en dit kan die regs-populistiese partye bevoordeel en die Europese politiek lelik deurmekaar krap. Turkye en Sirië se konflik kan verhewig. Turkye en Rusland kan aanmekaar spring. Iran kan besluit dis sy kans om sy slag te slaan en op groter skaal as voorheen in die Siriese burgeroorlog inspring.

Hoe gaan die Weste daarop reageer? Pres. Donald Trump het al meermale laat blyk hy is nie lus om in nog buitelandse oorloë betrokke te raak nie, en Europa is nie in staat om homself te laat geld nie.

Alles is onseker.

Meer oor:  Wladimir Poetin  |  Europese Unie  |  Rusland  |  Sirië  |  Turkye  |  Midde-Ooste  |  Vlugtelinge  |  Terreur  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.