Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe kry Cyril die ekonomiese wa deur die drif?

Pres. Cyril Ramaphosa sal eenvoudig bereid moet wees om moeilike ekonomiese besluite te neem as hy die land uit sy ekonomiese verknorsing wil red, skryf Theuns Eloff.

Moeilike besluite wag op pres. Cyril Ramaphosa as hy die land uit sy ekonomiese verknorsing wil red. Foto: Argief

Vroeër vanjaar, in reaksie op die Covid-19-pandemie en die vernietigende ekonomiese gevolge van die staat van inperking, het die regering ’n ekonomiese herstelplan bekend gemaak.

Dit is interessant dat die woord “radikale ekonomiese transformasie” nie meer gebruik word nie. Die bekendmaking van die herstelplan is gevolg deur die derde beleggingskonferensie, waar aangekondig is hoeveel kapitaal reeds belowe en belê is.

Alhoewel virtueel gehou, is dit goed bygewoon en was daar ’n mate van nuuskierigheid. En toe, binne dae van hierdie optimisme, kom twee van die groot graderingsagentskappe (Moody’s en Fitch) en kondig ’n verder kredietafgradering aan, die swakste vlak in ons geskiedenis.

Dit is duidelik dat daar vir die agentskappe ’n “geloofwaardigheidsgaping” (prof. Raymond Parsons se term) bestaan tussen wat in die herstelplan geskryf staan en wat gaan gebeur. Daar is (tereg) skeptisisme oor die vermoë van die Suid-Afrikaanse regering om selfs goeie planne in werking te stel.

Aan die hart hiervan lê die onvermoë om harde besluite te neem en deur te voer. As voorbeelde hiervan kan die staatsdiens se hemelhoë salarisrekening en die SAL-fiasko genoem word.

Ons het dus ’n uiters benarde (om dit sagkens te stel) ekonomiese situasie wat aan die vererger is.

In dieselfde tydperk kondig die raad van die SAUK ’n regrukplan aan wat (tereg) grootskaalse afdankings behels. Nie net is daar van die kant van die vakbonde histerie nie, maar selfs ANC-parlementslede kritiseer dit in die openbaar. Pule Mabe, die nasionale woordvoerder van die ANC, het selfs openlik een van die betogings teen die afleggings by die SAUK bygewoon en namens die ANC die afleggings gekritiseer.

Hierdie proses is sedertdien, as gevolg van die openbare verset, met ’n maand uitgestel.

En verlede week stel Jeff Radebe die ANC se besprekingsdokument vir die vergadering van die Nasionale Algemene Raad van 2021 bekend – die ekonomie speel ook hierin ’n rol, maar sekere van die uitgediende sosialistiese idees bly daarin voorkom.

Ons het dus ’n uiters benarde (om dit sagkens te stel) ekonomiese situasie wat aan die vererger is. Die president van die land probeer heldhaftig nuwe beleggings werf en kom met ’n goed gekonsulteerde herstelplan vir die ekonomie. Hy kry selfs internasionale en plaaslike besighede om in te stem om meer te belê. Maar sy eie party en dié se alliansievennoot skop in die openbaar vas teen ’n belangrike element van die herstelplan, naamlik inkorting van staatsbesteding.

Meer nog, sy eie party se besprekingsdokumente oor sy vordering en uitdagings wemel van uitgediende en ideologiese begrippe wat in dekades nie verander het nie. Dit klink asof dit (veral die eerste hoofstuk) deur ’n aartskommunis uit die vyftigs geskryf is.

Die vraag is dus: Hoe kry pres. Cyril Ramaphosa die ekonomiese wa deur die diep drif met hierdie situasie (en mens wil amper sê “met sulke vriende”)?

Wie se skuld is staatskaping?

Die invloed van Covid-19 op die Suid-Afrikaanse ekonomie was vernietigend. Foto: AP

Die besprekingsdokumente bevestig die probleem.

’n Mens moet aanvaar dat (soos erken word) die dokumente op die vorige “Strategy and Tactics”-dokumente van 2017 geskoei is. Wat genoem kan word die “semantiek en kultuur” van ANC-dokumente is steeds daar.

Die “ideologiese loodsplatform” is steeds die stryd teen kolonialisme van ’n spesiale aard (lees: wit mense) met die strategiese bedoeling om daardeur bevryding te bring vir swart mense oor die algemeen, en meer spesifiek vir Afrikane.

Die grondwetlike oorgang van 1994 word (slegs) ’n strategiese deurbraak genoem. Die oorhoofse doel bly steeds die Nasionale Demokratiese Rewolusie waardeur ’n nasionale demokratiese staat tot stand gebring sal word. Die (onderhandelde) Grondwet weerspieël maar eintlik wat die Vryheidsmanifes reeds lankal gesê het.

Staatskaping en korrupsie word grootliks op die brood van kapitalisme gesmeer.

Een “nuwe” begrip is die afkeurende wyse waarop van “lumpen elements” in die samelewing gepraat word. Marxiste het altyd van die “lumpen proletariaat” gepraat. Dit beteken dat hulle (onbegryplik) nie belangstel in rewolusionêre vooruitgang nie.

Die dokument sonder ’n deel van die middelklas, ’n deel van die politieke elite, sommige staatsamptenare, sommige vakbondlede en dele van die jeug uit as verteenwoordigers van hierdie “lumpens”.

Dit is hoofsaaklik hierdie elemente wat vir staatskaping verantwoordelik is – met die ANC wat nie regtig self skuld daaraan het nie. Trouens, staatskaping en korrupsie word grootliks op die brood van kapitalisme gesmeer – as ons nie ’n kapitalistiese stelsel gehad het wat gierigheid aanmoedig nie, sou staatskaping en korrupsie nie plaasgevind het nie!

Voorstelle vir ekonomiese groei

Nie oral ewe gewild nie. T-hemde met die gesig van pres. Cyril Ramaphosa word deur ondersteuners van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, in Bloemfontein verbrand. Foto: Argief

Die ekonomiese deel van die gespreksdokumente is nader aan die werklikheid en verwys gereeld na die herstelplan van die regering. As redes vir die swak ekonomie word genoem die invloed van Covid-19-maatreëls, elektrisiteitsvoorsiening, klimaatsfaktore, staatskaping, korrupsie, werkloosheid, ongelykhede en armoede. Veelseggend genoeg word ’n gebrek aan konsensus oor ekonomiese prioriteite en beleid ook genoem as oorsaak van die ekonomiese krisis.

Die dokument maak darem die geldige (en voor die hand liggende) punt dat die staat nie die vermoë het om besighede oor te neem nie, maar (slegs) te reguleer. Die vraag huiwer: Sou hulle dit oorgeneem het as hulle die vermoë gehad het?

Een tasbare voorstel is dat die minimumloon elke jaar met ten minste 1,5% bokant inflasie verhoog moet word.

Die dokument stel ’n hele paar reaksies op die situasie voor, maar gaan mank aan enige detail. Onder die voorstelle tel ’n “volhoubare pakket om ekonomiese groei te laat herleef”, maatreëls om ekonomiese geleenthede vir werkende mense te vergroot, verbeterde toegang tot onderwys op al drie vlakke vir leerlinge uit lae inkomstegroepe.

Een tasbare voorstel is dat die minimumloon elke jaar met ten minste 1,5% bokant inflasie verhoog moet word. Dit is hoogs aanvegbaar en onvolhoubaar. ’n Ander voorstel is dat die bestuur van “besighede se behoeftes en verwagtinge” verbeter moet word, sodat herbelegging en werkskepping kan plaasvind.

’n Siniese persoon sal opmerk dat besighede slegs verdra word sodat hulle hier kan bly en werk kan skep. Groot maatskappye moet aangemoedig word (en darem nie gedwing word nie) om vakbonde uit te nooi om op hul direksies te dien en om groter eienaarskap deur werknemers en gemeenskappe na te streef.

Wat van staatsbeheerde ondernemings?

Betogings teen beplande afleggings by die SAUK het voortgeduur, hoewel dié proses uitgestel is. Foto: Argief

Tot hier die ANC se dokument. Help dit om ANC-lede bewus te maak van die probleem en te oortuig dat ’n nuwe ekonomiese aanpak nodig is? Ek glo nie. En die sosialistiese retoriek in veral die eerste hoofstuk wys duidelik wat die basiese denke van die organisasie is.

Wat sê dit alles?

Die ANC bly, ook wat ekonomiese beleid betref, ’n breë kerk. Jy het ’n baie groot kombers om almal se sienings te bedek – van taamlik markgerig, tot links-sosialisties. En dit kan nie eens meer aan die invloed van Cosatu toegeskryf word nie.

Dit is ook waarom die besprekingsdokument erken dat konsensus oor ekonomiese prioriteite en beleid nie bereik kan word nie – want die ideologiese sienings is so ver van mekaar af.

Ongelukkig glo en tree sommige ANC-leiers op asof SBO’s groot werkskeppingburo’s is.

Die belangrikste saak waarin die ekonomiese verskille na vore kom, is die rol van die staat: moet dit die ekonomie “dryf” deur ingryping, regulasies en die bedryf van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), of moet dit die omstandighede, ruimte en insentiewe skep waarin die privaat sektor die ekonomie moet dryf?

Hiermee saam hang die element van werkskepping: moet die staat of die privaat sektor dit doen? Ongelukkig glo en tree sommige ANC-leiers op asof SBO’s groot werkskeppingburo’s is (die SAUK en Eskom), om nie te praat van munisipaliteite nie.

As een van ’n organisasie se nasionale woordvoerders aan ’n betoging deelneem teen die verkleining van ’n SBO se onvolhoubare salarisrekening, weet ’n mens daar is nie ’n kans dat ekonomiese werklikhede en noodsaaklikhede raakgesien gaan word nie.

Moeilike besluite Cyril se voorland

Theuns Eloff

’n Ander element van Ramaphosa se dilemma is die gebrek aan begrip van basiese ekonomiese beginsels by die meeste ANC-leiers en -lede.

Ons onthou almal die minister wat gesê dat as die rand val, dan tel ons hom maar weer op!

Ace Magashule, die sekretaris-generaal, het nie lank gelede nie die mening uitgespreek dat ons meer geld moet druk – so ’n “kwalitatiewe verruiming” (sic) sal ons probleme oplos.

Benewens ’n sosialistiese ideologie, word sake vererger deur die feit dat baie min (indien enige) ANC-leiers al ooit self ’n klein, medium of groot besigheid bestuur het. Ja, baie sit op direksies van groot maatskappye, maar om op ’n direksie te dien, laat jou nie sommer die binnekant van die besigheid of die breë ekonomie verstaan nie.

Wat kan en moet gedoen word?

Ramaphosa sal eerstens bereid moet wees om (konsultatiewe kultuur en al) moeilike ekonomiese besluite te neem. Die ANC-regering het nie meer die luukse om op twee ekonomiese stoele – een ’n mark- en die ander ’n sosialistiese stoel – te sit nie.

Die graderingsagentskappe, die sakesektor en groot dele van die land se bevolking vra beslistheid.

Derdens is dit tyd dat die ANC werklik ’n ekonomiese skool (en nie bloot ’n politieke skool nie) begin, sodat gewone lede die basiese beginsels van die ekonomie kan bemeester en ’n nuwe ekonomiese diskoers in die organisasie gevestig kan word.

Die grootte van die staatsdiens se salarisrekening is nie volhoubaar nie. Om te dink dat ’n mislukte lugdiens deur selfs R10 miljard aantreklik vir beleggers gemaak gaan word, is nie realisties nie. Ons kan nie meer oor ekonomiese beleid konsulteer nie – dit is nou tyd vir implementering.

Tweedens sal die president moet besef dat die wortel van die onbevoegde en onkapabele staatsdiens in die aanstelling van onbevoegde mense lê, gedryf deur die ideologie van rassetransformasie en swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie wat verkeerd toegepas is. As ons nie nou begin om die regte en die beste mense aan te stel (en van die vrottes en die luies ontslae raak) nie, gaan die hele staatsdiens inmekaar tuimel en gaan ons (nog) nader aan ’n mislukte staat beweeg.

Geen ekonomiese herstelplan sal slaag as die implementeerders daarvan onbevoeg en onkapabel is nie. En miskien moet hy met sommige lede van sy kabinet begin.

Derdens is dit tyd dat die ANC werklik ’n ekonomiese skool (en nie bloot ’n politieke skool nie) begin, sodat gewone lede die basiese beginsels van die ekonomie kan bemeester en ’n nuwe ekonomiese diskoers in die organisasie gevestig kan word.

’n Paar keiharde kommuniste sal dalk teëstribbel, maar die ekonomiese krisis en die moderne ekonomiese situasie vereis dit.

Ten slotte sal die president (en daar is reeds tekens dat hy dit begin doen het) in die presidensie die kapasiteit moet skep om buiteom swak staatsdiensdepartemente en nog swakker munisipaliteite te werk in die implementering van die herstelplan.

Die herstelplan en selfs die ANC se besprekingsdokument praat van groter kapasiteit in die presidensie om ekonomiese prosesse te koördineer, te moniteer, om blokkasies in implementering te verwyder en implementering te versterk.

Dit lyk (veral deur die openbare-private-groei-inisiatief) asof daar nuwe waarde aan vennootskappe met die privaat sektor geheg word.

Dit is ’n stap in die regte rigting en baie professionele en sakemense sal hul gewig hierby ingooi as dit duidelik word dat iets uiteindelik gedoen word.

Wat oud-president Thabo Mbeki amper reggekry het – om die ANC van ’n ortodokse bevrydingsbeweging in ’n moderne politieke party te verander – moet Ramaphosa nou voltooi.

Ter wille van die ekonomie, die land en al sy mense. Dan sal die ekonomiese wa wel deur die drif kom.

* Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Thabo Mbeki  |  Pule Mabe  |  Ace Magashule  |  Jeff Radebe  |  Cyril Ramaphosa  |  Korrupsie  |  Staatsdiens  |  Staatskaping  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.