Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe maak jy motors lekker?

Suid-Afrikaanse motorjoernaliste is waansinnig as hulle dink ’n Porsche Panemera behoort die Motor van die Jaar te wees, skryf Jaco Kirsten.

Ek het Marnus Hattingh se onlangse skrywe “Een Porsche met skyfies” nogal geniet. Maar miskien is dit omdat ek hier in Amerika die perspektief van afstand het dat ek, met alle respek teenoor my geleerde vriend, met ’n paar van sy argumente wil verskil.

Kortliks: Dis godsonmoontlik dat die Porsche Panamera, so ’n puik ryding as wat dit is, met reg as Suid-Afrika se Motor van die Jaar aangewys kan word. En dit nogal met ’n straight face, soos hulle hier by ons sal sê.

Net ter interessantheid, hier is die SA Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) se wenners die afgelope vyf jaar.

2013: Porsche Boxter

2014: Porsche Cayman S

2015: Porsche Macan S Diesel

2016: Volvo XC90

2017: Opel Astra

2018: Porsche Panamera

Bespeur jy ook iets vreemd? Wel, tensy jy op ’n waglys vir ’n dubbele korneaoorplanting is, kan dit jou dalk opgeval het dat vier van die laaste ses Motors van die Jaar in Suid-Afrika ’n – wag hiervoor – Porsche was.

Noem dit dan eerder ‘die SAGMJ se Selfbevredi­gingsprys’.

En watter motorkarre, liewe leser, het die Europese motorskrywers as hul Motor van die Jaar oor dieselfde tydperk aangewys?

2013: VW Golf

2014: Peugeot 308

2015: Volkswagen Passat

2016: Opel Astra

2017: Peugeot 3008

2018: Volvo XC40

En dan, net om die skille verder van die oë te laat afval, hier is die Internasionale Motor van die Jaar-kompetisie se uitslae vir die afgelope ses jaar.

2013: VW Golf MK7

2014: Audi A3

2015: Mercedes-Benz C-Klas

2016: Mazda MX-5

2017: Jaguar F-Pace

2018: Volvo XC60

Die vraag is dus hoe die SAGMJ dit só konstant só skouspelagtig verkeerd kan kry? Om dit te beantwoord, moet ek ’n paar van Marnus se analogieë bekyk.

Die eerste is dat Motor van die Jaar-kompetisies vergelykbaar is met Restaurant van die Jaar-kompetisies. Ek verstaan die punt dat Wimpy of McDonald’s se verkope hulle nie noodwendig kwalifiseer as toprestaurante nie. Maar daar is ’n baie groot verskil tussen restaurante en voertuie. Beginnende by die feit dat toprestaurante ’n luukse is wat min mense beskore is. En hoeveel keer eet jy nou eintlik uit? Een keer elke twee weke? Een keer per maand?

Rygoed, aan die ander kant, is iets wat amper elke werkende persoon besit. Vir elke restaurant in Suid-Afrika is daar waarskynlik ’n paar duisend motorvoertuie. En as jy dink jy krap kop oor waar jy gaan uiteet, dink gerus aan hoe jy jou verknies oor watter ryding jy volgende gaan koop.

Die een is dus ’n lekker-om-te-geniet-item, die ander ’n baie duur noodsaaklikheid. Watter restaurant-ete kos R400 000? En kan jy oor vyf jaar jou ete inruil by dieselfde restaurant waar jy dit oorspronklik geniet het, geld bysit en ’n nuwe bord kos kry? Voorspoed daarmee.

Bogenoemde sluit aan by my volgende punt: Ek dink baie motorjoernaliste is te ver verwyderd van die werklikheid. Dat daar van hulle is wat indrukwekkende kennis van voertuie het, is vanselfsprekend. Maar te veel van hulle besit nie hul eie voertuie nie. Wat beteken dat hulle nie ’n benul het van die koste van eienaarskap nie. Ook nie waardevermindering en handelaarsnetwerke nie.

Gestel nou maar jou Porsche Panamera ontwikkel ’n probleem naby Kuruman. Wat de hel gaan jy doen? Met ander woorde, die maatstawwe waaraan die Motor van die Jaar in Suid-Afrika gemeet word, het mettertyd só tred verloor met die werklikheid dat die gilde vier uit die laaste ses jaar met ’n straight face tot die gevolgtrekking kon kom dat ’n Porsche die beste ryding op Suid-Afrika se paaie is. Watter paaie? Kyalami? Die Franschhoekpas? Sandton? Wat van die ander 97% van die land?

Marnus kom eintlik met die mandjie patats uit met die sin: “Om rou eerlik te wees, ons pryse is toekennings deur kenners, aan kenners. Maar moet dit asseblief nie as ’n klap in die gesig beleef nie.”

Wel, ’n mens kan jouself afvra of julle julself as groter kenners as jul Europese eweknieë beskou, maar dit daar gelaat. Noem dit dan eerder “die SAGMJ se Selfbevredigingsprys”.

’n Ander analogie is dat die SA Motor van die Jaar-kompetisie soos die Cannes-rolprentfees is, waar uitnemendheid, eerder as kommersiële sukses, gevier word. Hier gee ek hom gelyk – tot op ’n punt. Want sien, Cannes is ’n bedryfs­eksklusiewe filmfees. Die breë publiek kan dus nie vertonings bywoon nie. Laat ek en Marnus vir ’n oomblik gou vergeet van die toetsvoertuie wat met eentonige reëlmaat gestamp en gebuig word; en aanvaar die “deur kenners, aan kenners”-aanname in goeder trou.

Wat is dus die oplossing vir die SAGMJ as hulle wil hê dat die Motor van die Jaar-kompetisie relevant bly? Myns insiens is dit ’n benadering soortgelyk aan die Oscars: Kies wenners vir verskillende kategorieë. Want hei, selfs die Cannes-rolprentfees het kategorieë.

En dis ook nie iets nuut in die motorbedryf nie. In Noord-Amerika is die Car of the Year-kompetisie geleidelik verander van Car of the Year na die huidige North American Car, Utility and Truck of the Year-kompetisie. In 2013 het hulle ’n Motor van die Jaar sowel as ’n Bakkie van die Jaar aangewys.

Dis veral relevant hier, waar die Ford F150 al die afgelope 40 jaar die topverkoper-bakkie is. In 2017 is altesaam 17,2 miljoen bakkies in die VSA verkoop. Tussen Januarie en Junie vanjaar is 450 000 F150’s, oftewel een elke 35 sekondes, verkoop. Die punt is dat hulle die plaaslike mark in ag neem. In 2016 het hulle begin om truck/utility, oftewel bakkie/sportnutsvoertuig te kombineer en van verlede jaar af is daar drie afsonderlike kategorieë, naamlik motor, bakkie en sportnutsvoertuig.

En hier is die afgelope ses jaar se Noord-Amerikaanse wenners:

2013: motor – Cadillac ATS, bakkie – RAM 1500

2014: motor – Chevrolet Corvette Stingray, bakkie – Chevrolet Silverado

2015: motor – VW Golf, bakkie – Ford F150

2016: motor – Honda Civic, bakkie/sportnuts – Volvo XC90

2017: motor – Chevrolet Bolt, bakkie – Honda Ridgeline, sportnuts – Chrysler Pacifica

2018: motor – Honda Accord, bakkie – Lincoln Navigator (hoewel dit eintlik ’n sportnuts is), sportnuts – Volvo XC60

Dis nie net oorsee waar dit gedoen word nie. In 2013 het ek die 4x4’s van die Jaar-pryse by WegRy-tydskrif begin. Pryse is toegeken in onder meer die volgende kategorieë: dubbelkajuitbakkie, ekspedisievoertuig, sportnutsvoertuig, luukse sportnutsvoertuig, sagte veldryer, ens.

Dit maak ook nie saak wat die SAGMJ sê nie, jy kán nie ’n Golf GTI, ’n Toyota Fortuner en ’n Porsche Panamera met mekaar laat meeding nie. Ek weet, ek was self ’n Motor van die Jaar-jurielid. Skep verskillende kategorieë en laat hulle dit onderling met mekaar uitspook. Want die ou wat in die mark is vir ’n ryding om nou en dan Mosambiek of Namibië toe te ry, kan nie minder omgee oor ’n Panamera se hoëspoedhantering nie. Insgelyks kan die potensiële Porsche-eienaar ook nie eintlik kwel oor handelaars­netwerk, grondvryhoogte en pakruimte nie.

Indien die SAGMJ nie ernstig selfondersoek doen oor die manier waarop hulle die mark beoordeel nie, dink ek onwillekeurig aan die definisie van waansin: om oor en oor dieselfde ding te doen en in een of ander stadium ’n ander resultaat te verwag.

* Jaco Kirsten het bykans twee dekades se ervaring in die motorjoernalistiek. Hy woon tans in die VSA waar hy help om die volgende geslag bestuurders op te lei.

Meer oor:  Motor Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.