Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe nou gemaak met Ace?

Pres. Cyril Ramaphosa gaan nog sy hande vol hê met Ace Magashule en sal ’n versigtige skaakspel moet speel om sy hervormingsplanne deur te voer, skryf Theuns Eloff.

’n President met nuwe hoop? Pres. Cyril Ramaphosa kort nadat hy die name van sy nuwe kabinetslede in Pretoria bekend gemaak het. Foto: Reuters

’n Mens kan die moedeloosheid van die Suid-Afrikaanse bevolking en spesifiek Afrikaanssprekendes amper aanvoel. Onder die redes hiervoor tel ’n skynbaar ongekende toename in die vlaag van plaasaanvalle en -moorde, Ace Magashule-hulle wat met die Reserwebank foeter en probleme met infrastruktuur en wanfunksionele munisipaliteite op amper elke dorp.

En dan help die Proteas se geploeter by die Wêreldbekertoernooi ook nie!

Die vraag op baie se lippe is: “Wat doen Cyril hieraan? Hy is mos nou die president!”

Ramaphosa is nie meer ’n 'tussentydse' president nie, maar een wat sy party tot ’n oorwinning gelei het.

Dit is gedeeltelik waar – ons president is partypolities op ’n beter plek as ’n jaar gelede. Ramaphosa het sy oorwinning by Nasrec (van 53%) opgevolg met ’n oorwinning van 57.5% by die stembus in Mei.

Hy is nie meer ’n “tussentydse” president nie, maar een wat sy party tot ’n oorwinning gelei het (en waarskynlik eiehandig van ’n nederlaag gered het). Hy het die kabinet verklein en van al die groot Zuptaskurke ontslae geraak. Hy het (amper soos ’n Madiba van ouds) belowe om ’n president vir al die mense van Suid-Afrika te wees en nie net vir die ANC nie.

Maar ongelukkig beteken dit alles nie dat hy onaantasbaar is en kan doen wat hy wil nie. Daar is ’n paar remblokke om sy been. ’n Mens moet weet wat hierdie remblokke is om te verstaan wat nou aan die gebeur is.

Onbeholpe amptenare en plaaslike probleme

Die baas van Luthuli-huis: Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Argief

Daar is steeds Zuptagesindes in die kabinet, veral onder die adjunkministers. Ramaphosa moes toegewings aan verskillende belangegroepe maak en dit het onder meer daartoe gelei dat daar baie meer ministers en veral adjunkministers is as wat hy wou gehad het.

Selfs onder dié wat hom nou steun (maar wat ook destyds gehelp het om oudpres. Thabo Mbeki uit te skop), is daar ’n paar ministers wat nou nie eintlik die toonbeeld van doeltreffendheid en integriteit is nie.

Net Ramaphosa se leierskap en dryfkrag sal hulle tot aksie laat oorgaan.

Die tweede remblok is dat die mense wat die hopelik nuwe beleid moet toepas, nog steeds dieselfde ou amptenare is – en die meeste van hulle is die produk van die toksiese mengsel van rassetransformasie en kaderontplooiing.

Dit sal tyd neem om beter amptenare op meriete aan te stel. Dit geld ook vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ’n beter greep op misdaad, plaasaanvalle en -moorde.

Ramaphosa se vermoë om ’n burgemeester en raadslede van ’n heeltemal disfunksionele munisipaliteit van hul pligte te onthef, is uiters beperk.

Dit is ook welbekend dat groot dele van die staatsdiens nog ernstig gebuk gaan onder korrupsie en dat staatskaping nou eers die wyk begin neem. Behoorlike leefstyloudits is die enigste manier waarop korruptes op die medium- en langtermyn die deur gewys sal kan word.

Derdens sal dit nog langer neem om ’n noemenswaardige verskil op plaaslike vlak te maak – dis net hoe drie vlakke van regering wêreldwyd werk.

Ramaphosa (en enige president voor en ná hom) se vermoë om ’n burgemeester en raadslede van ’n heeltemal disfunksionele munisipaliteit soos Lekwa (Standerton) van hul pligte te onthef, is uiters beperk.

Die probleme van Lekwa, wat nie eens meer die vermoë het om genoeg water vir sy gemeenskap en besighede ’n paar kilometer verder uit die Vaalrivier te pomp nie, en waar haweloses snags in die munisipaliteit se kantore slaap, kan slegs deur die (self onbeholpe) provinsiale regering en ANC-strukture opgelos word.

En dit vat tyd . . .

Teenkanting uit eie geledere

Bathabile Dlamini: Gaan sy een van Ace Magashule se kamerade in Luthuli-huis wees? Foto: Argief

Die vierde remblok is die ernstige teenstand uit eie geledere teen Ramaphosa.

Die gesig van hierdie teenstand is Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Hy het Ramaphosa voor en ná Mei se verkiesing in die openbaar gekritiseer en sy rol in die ANC se oorwinning bevraagteken.

Hy het ook die huidige storm in die ANC ontketen met sy ongevraagde uitsprake oor ’n veranderde mandaat vir die Reserwebank. Hy was slim genoeg om dit te koppel aan die ANC se verklaring dat werkloosheid ’n nasionale ramp is. Maar hy was nie slim genoeg om die regte term vir die druk van nuwe geld te gebruik nie: “quantity easing”, in plaas van “quantitative easing”.

Die skade van die nege gemorste Zuma-jare gaan nie gou ongedaan gemaak word nie.

Volgens Magashule en sy mede-populiste sal werkloosheid verminder word as daar meer geld gedruk word. Behoede ons . . .

Magashule sal ook al hoe meer probeer om Ramaphosa se taak nog verder te bemoeilik deur hom uit Luthuli-huis (waar Magashule die baas is) te probeer ondermyn en sy hervormingsplanne te laat skipbreuk ly.

Hiervoor is hy besig om ’n hele klomp ontevredenes wat uit die kabinet en die parlementêre lyste gelaat is (lees Bathabile Dlamini) rondom hom in Luthuli-huis te vergader. Daar kan hulle saamsweer op die kort- en mediumtermyn, met die oog op die ANC se interne prosesse en die verkiesingskonferensie wat in 2022 voorlê.

Teen die agtergrond van hierdie remblokke om Ramaphosa se been, moes niemand ooit verwag het dat die skade van die nege gemorste Zuma-jare gou ongedaan gemaak gaan word nie.

Hoe nou gemaak met Magashule?

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die parlement toe. Die parlement is een van sy belangrikste magsbasisse. Foto: Adrian de Kock

Ramaphosa kan Magashule nie in die tronk laat stop nie omdat daar regsprosesse is wat gevolg moet word. Ramaphosa kan Magashule ook nie in die pad steek nie – hy is deur die ANC se verkiesingskonferensie verkies. Hy sal slegs as sekretaris-generaal vervang kan word as hy aan ’n misdaad skuldig bevind word.

Wat kan dan gedoen word?

Ramaphosa het drie “magsblokke” waarbinne hy moet optree. Elkeen van hierdie drie magsblokke is uniek en soos sirkels oorvleuel hulle ook.

Die eerste magsblok is ANC se hoofkantoor in Luthuli-huis, Johannesburg. Dit is hier waar Ramaphosa se partypolitieke mandaat vandaan kom, en hy kan hom nie van die meerderheid van sy eie party vervreem nie.

As gevolg van wat op die Nasrec-verkiesingskonferensie gebeur het (spesifiek die verkiesing van Magashule en Jessie Duarte as adjunk-sekretaris-generaal) is Ramaphosa nie in beheer van Luthuli-huis nie. Hy sal hierdie faktor moet verreken en die hele tyd bestuur.

Dr. Theuns Eloff

Die tweede magsblok is die wetgewende en uitvoerende gesag: die parlement en die kabinet. Hier is hy wel in beheer, met die meerderheid van die ANC-parlementslede en kabinet wat hom steun – al is dit net omdat hy nou stewig in die presidentstoel sit.

Hy kan hierdie magsblok doeltreffend gebruik, maar kan steeds nie teen die wense van die meerderheid ANC-koukuslede optree nie. Hy sal hulle van elke hervormingstap moet oortuig en daar kan ook negatiewe beïnvloeding uit Luthuli-huis kom.

Maar regeringsbeleid word uiteindelik hier gemaak en toegepas. Dit is waar Ramaphosa werklike mag het.

Die derde magsblok is dié van die Grondwet en haar instellings. Dit sluit die hoofstuk 9-instellings (soos die openbare beskermer, die Menseregtekommissie en ander in). Dit sluit ook die regsprekende gesag van die howe in, veral die konstitusionele hof.

Ramaphosa se mandaat as president van die land kry hy uit die Grondwet, nie uit die ANC nie. Hierdie magsblok is waarskynlik die sterkste en kan baie doeltreffend deur Ramaphosa gebruik word, ondanks ’n paar vrot appels in die hoofstuk 9-instellings.

Die manier waarop Ramaphosa dié drie magsblokke bestuur, sal ’n deurslaggewende rol in sy sukses (of mislukking) speel.

Hy sal die magsblokke waaroor hy beheer het of waar hy ’n sterk mandaat het, moet gebruik om die magsblok van Luthuli-huis te neutraliseer.

Dit is geen maklike taak nie. Dit sal tyd neem en goeie tydsberekening verg.

Kyk ’n mens na die Magashule-geval, sal hy nie die stryd in Luthuli-huis wen nie (in elk geval nie op die korttermyn nie), maar hy sal op ’n beleidsvlak die wetgewende en uitvoerende magsblok moet gebruik om Magashule se uitsprake te reduseer tot bloot dié van ’n ANC-amptenaar. Op ’n ander vlak sal hy die vervolgingsmeganismes tot die staat se beskikking moet toelaat om die wandade waarvan Magashule beskuldig word, in die hof te laat toets.

Dis die enigste manier waarop Magashule op die mediumtermyn uit Luthuli-huis verwyder kan word.

Ramaphosa sal hierdie voortdurende skaakspel en die onderliggende magstryd moet speel terwyl hy aan die ander remblokke aan sy hervorminingskoen aandag gee.

Dit is geen maklike taak nie. Dit sal tyd neem en goeie tydsberekening verg.

Wat beteken dit vir my?

Wat vra dit van gewone Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaanssprekendes?

Neem hierdie remblokke en magsblokke in ag in jou beoordeling van ons land se huidige situasie. Dis nie die ideale toestand nie, maar hierdeur kan daar vordering wees op pad na ’n beter Suid-Afrika.

Doen jou werk en kom jou verantwoordelikheid na, onder meer deur nog beter na jou en ander se veiligheid om te sien.

Besef dat miljoene ander Suid-Afrikaners ook soos jy voel en dieselfde bekommernisse en soms veel erger ervarings deel.

Bowenal, bly koelkop – daar is lig in hierdie donker tonnel.

* Dr. Eloff is van 1 Junie af voorsitter van die FW de Klerk-stigting se Adviesraad. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.