Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe ons nie vir Afrikaans moet baklei nie

Hoe moet Afrikaanssprekendes hul regte beskerm terwyl die gety al hoe meer teen die taal draai? het Marida Fitzpatrick aan Theuns Eloff, Leon Wessels en Wannie Carstens gevra.

Tonele van betoging en geweld buite die Hoërskool Overvaal in Vereeniging midde-in die hofstryd oor die skool se taalbeleid. Foto: Selloane Khalane

Afrikaanse mense en gemeenskappe se taal- en kultuurregte word al hoe meer weggekalwe, het oudpres. F.W. de Klerk Sondag in Rapport geskryf.

De Klerk het gesê Afrikaanssprekendes moet al die magte gebruik wat die Grondwet hulle bied om hul regte en belange te beskerm.

Maar hoe doen hulle dit?

Theuns Eloff, Leon Wessels en Wannie Carstens bied drie verskillende perspektiewe:

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting:

Theuns Eloff.

As Afrikaans as taal sy hoër funksies verloor, gaan die volgende die een ná die ander ook verdwyn: Afrikaanse skole, universiteite, kolleges, Afrikaanse onderwysers, die Afrikaanse media, Afrikaanse kunstefeeste, Afrikaanse musiek. Die taal sal gereduseer word tot ’n kombuistaal.

Om seker te maak Afrikaans se regte word in die openbare lewe steeds erken, is daar twee moontlikhede:

1. Die howe. Veg in die howe vir hierdie regte. Die ANC se huidige anti-Afrikaanse ideologie kan jy net in die hof beveg.

2. ’n Politieke skikking. Minderhede soos Afrikaanssprekendes het dalk ’n kans om nuwe begrip by die regering te kry met Cyril Ramaphosa as die ANC se nuwe president.

Ek is nie seker of hy regtig weet hoe Afrikaans afgeskaal en uitgeskuif word nie. As ’n mens net met die feite na hom toe gaan en dit in perspektief stel, kry hy dalk baie begrip.

Die afvaardiging wat met Ramaphosa gaan praat, moet egter nie net wit, Afrikaanse mans wees soos ek nie. Dit moet ’n verteenwoordigende, veelrassige afvaardiging wees.

Hy moet sien Afrikaans is ’n nierassige taal. Dis belangrik dat daar ’n baie sterk bruin stem na vore moet kom – ek dink dis sterker as wat dit ’n paar jaar gelede was.

Dit sal dom wees om nie ook op die private terrein te begin kyk na onafhanklike Afrikaanse skole, universiteite en kolleges nie.

Dis belangrik om enige moontlike politieke oplossing te ontgin, want ’n party soos die EFF het nou nie meer (oudpres. Jacob) Zuma as ’n vyand nie. Sy nuwe vyand is wit mense, minderhede en Afrikaans.

Ouers en beheerliggame moet nou versigtig wees om nie te swig onder die druk nie en as ’n gebaar van goeie trou te sê kom ons laat ’n paar Engelssprekende kinders toe nie. Want dan word die feitestel van Kovsies al hoe meer van toepassing op daardie skool.

En hoewel ons moet aanhou veg op die openbare terrein, sal dit dom wees om nie ook op die private terrein te begin kyk na onafhanklike Afrikaanse skole, universiteite en kolleges nie.

Maar dis baie belangrik dat dié instansies nierassig en bekostigbaar is en goeie gehalte onderrig bied.

Ons moet Afrikaans se beeld as ’n “witmanstaal” verander na dié van ’n taal van verskillende rassegroepe.

Dr. Leon Wessels, voormalige voorsitter van die Menseregtekommissie en medeskrywer van die Suid-Afrikaanse Grondwet:

Dr. Leon Wessels.

Die taal se voortbestaan hang af van hoe ons onsself gaan organiseer, hoe ons self die taal gaan koester en hoe ons onsself gaan gedra teenoor ons landgenote.

’n Taal moet vir homself sorg. Die oomblik dat jy ’n sent van die belastingbetaler se geld vat om die taal te beskerm, is Afrikaans in ’n begunstigde posisie en ruik dit te veel na ou apartheid.

As FW sê ons moet al ons regte gebruik, dan is die belangrikste daarvan ons reg tot vrywillige assosiasie, selfmobilisering, oprigting van ons eie inisiatiewe en die reg om na ons eie belange om te sien.

Maar ons moet altyd daardie reg balanseer met die ander persoon se reg tot toegang. Dit is die kruks van die saak.

Afrikaans se toekoms lê in veeltaligheid. Ongelukkig is veeltaligheid nie vir die regering ’n prioriteit nie, maar die waarheid is dis ook nie vir Afrikaanssprekendes ’n prioriteit nie.

Ons doen nie genoeg om ’n vriendelike Afrikaans te bevorder nie. Ons is altyd gereed om oor Afrikaans te baklei, maar ons is nie vriendelik wanneer ons dit bevorder nie. En jy bevorder dit wanneer jy die kleed van veeltaligheid aantrek.

As jy ’n oorlog van Afrikaans gaan maak, dan verloor jy fokus van die groot prentjie en jy sluit mense uit.

Hoe meer ruimte jy vir die ander ou skep, hoe meer ruimte wen jy vir jouself. En jy kan dit nie met geld doen nie. Jy moet iets van jouself gee.

AfriForum kan byvoorbeeld ’n veeltalige tak in Pretoria begin en sê by hierdie tak gaan ons Tswana leer en in die proses vertel ons mense van onsself. Dan is daar ’n wederkerigheid. Dié soort welwillendheid sal Afrikaans baie meer baat as wat ’n Afrikaanse instansie sê nou maar geld vir ’n Zoeloe-skool gee.

Die howe en beskerming deur die Grondwet is maar een pyl in jou koker. En as jy ’n oorlog van Afrikaans gaan maak, dan verloor jy fokus van die groot prentjie en jy sluit mense uit. Ons kan dit nie bekostig nie.

Dit pad van insluiting is meestal spanningsvry terwyl die pad van eksklusiwiteit en uitsluiting temperature net opjaag.

Wannie Carstens, afgetrede professor in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en mede-stigter van die Afrikaanse Taalraad:

Prof. Wannie Carstens.

Ons almal het al die jare onder die illusie gelewe dat die Grondwet ons taalregte waarborg. Nou besef ons daardie waarborg is eintlik maar in aanhalingstekens.

Dis ’n geweldige skok vir ouens soos ek wat my beywer vir Afrikaans. Die taalregte waarin ek nog altyd geglo het, staan nou op dryfsand.

Ons rolspelers in die taalbedryf moet dringend saam gaan sit en besluit hoe nou vorentoe. Daar moet ’n plan gemaak word. Regskenners sal ons moet adviseur. Hoe keer ons hierdie ding om?

Afrikaans moet ’n politieke oplossing kry. Maar hoe kry jy ’n politieke oplossing? Jy moet eers ’n klimaat skep dat mense met jou wíl praat. En as jy na Afrikaanse mense kyk, lyk dit of ons net wil baklei.

Ons Afrikaanssprekendes verwyder ons te veel van die res van die gemeenskap deur te veel aan te dring op ons absolute regte.

As elke Afrikaanse mens net ’n gesindheid van uitreik en samewerking wil toon in die wyse waarop ons met ander mense in die land omgaan. Dan kan ons oplossings begin bedink.

Sedert 2015 boer die Afrikaanse taalgemeenskap teen ’n skrikwekkende tempo agteruit.

Maar die klimaat is nou sodanig dat ons aanmekaar verloor. Sedert 2015 boer die Afrikaanse taalgemeenskap teen ’n skrikwekkende tempo agteruit. Dis nou 2018 en behalwe vir Akademia is daar nie meer ’n Afrikaanse universiteit nie.

As ons nie vinnig ’n klompie positiewe oorwinnings vir Afrikaans behaal nie, gaan mense begin moed verloor.

Want in hierdie stadium vervreem ons net. Hierdie ding by die Hoërskool Overvaal was vir die Afrikaanse gemeenskap sielkundig ’n oorwinning, maar nie moreel nie.

Kyk na daardie televisiebeelde van die Overvaal-konflik: Dit wys die betogers en dan gaan die kamera na die ander mense met strak, vyandige gesigte. Dis nie die beeld wat ons van Afrikaans moet uitdra nie. Ons trek te maklik ’n streep in die sand.

By die Afrikaanse Taalraad is daar een woord wat ons lei en dit is versoening.

Ons moet ’n stappie terugtree en sê: Is daar nie ’n beter oplossing hier nie? En dís waaroor die Afrikaanse gemeenskap moet praat. Ons moet mekaar in die oë kyk en vra: Hoe gaan ons maak dat die mense in die land ons respekteer?

Ja, dubbelmedium is ’n vinnige pad na verengelsing, maar die antwoord is nie om dit net van die tafel af te vee nie. Ons moet gaan sit en ’n plan beraam.

By die Afrikaanse Taalraad is daar een woord wat ons lei en dit is versoening.

Ons kán nie moed opgee nie, daar ís ’n oplossing. Ons moet net aanhou soek en intussen nie ons landgenote vervreem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.