Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe politici se koppe werk

Hoe werk politici se koppe? En waarom tree hulle voor verkiesings anders as gewoonlik op? Theuns Eloff soek na antwoorde.

Hoewel baie van pres. Cyril Ramaphosa se teenstanders saamgestem het met wat hy in sy staatsrede gesê het, kan hulle dit nie in die openbaar erken nie.

In ’n vorige artikel het ek geskryf oor hoe politici sakemense moet verstaan – “Belegging 101 vir politici”. Vandag gaan dit oor die omgekeerde: hoe moet sakemense (en gewone mense) politici verstaan? Dit is veral belangrik in die aanloop tot die algemene verkiesing wat in Mei gaan plaasvind. Vir gewone mense is dit inderwaarheid soms moeilik om politici te verstaan – selfs dié in die party waarvoor hulle stem!

Wat ons ken as die “politiek”, is ’n stelsel wat binne ’n veelparty-demokrasie bestaan. Volgens die Grondwet van Suid-Afrika bestaan die “staat” uit drie afsonderlike dele: die uitvoerende gesag, die wetgewende gesag en die regsprekende gesag.

Die “politiek” is die manier waarop die wetgewende gesag verkies en bedryf word en waarop die uitvoerende gesag die land regeer deur wette en regulasies toe te pas.

Die eerste belangrike reël is dus dat politici binne ’n stelsel werk wat hulle nie self geskep het nie. As jy besluit om “in die politiek in te gaan”, moet jy verkies word, en daarom moet jy mense kry om vir jou te stem. Op munisipale vlak kan jy dit as enkeling of onafhanklike doen; op provinsiale en nasionale vlak het jy nodig om lid van ’n geregistreerde politieke party te word, en jou party moet ’n verkiesingsmanifes hê en daarin moet dinge staan wat mense sal oorreed om vir jou party en daarom vir jou te stem.

Politici moet dus binne hierdie stelsel werk. Hulle moet in hulle party werk, aanvaar word en deur die party op die lys vir parlementêre of provinsiale kandidate geplaas word. In daardie opsig is die “politiek” soos enige loopbaan. Jy begin klein en onder en moet jouself opwerk. En dis waarom hul pensioene aan die einde van hulle loopbaan vir politici belangrik is.

Alle partye het faksies

Interne geskille in ’n kleiner party soos die EFF is nie altyd duidelik nie omdat Julius Malema met ’n ysterhand regeer. Foto: Lindile Mbontsi

’n Tweede saak is dat daar in elke party groepe en faksies is wat oor seker sake soms nogal heftig van mekaar verskil. Binne breë partybeleid is daar klemverskille en soms groter verskille.

’n Leier in die party moet dit in gedagte hou dat hy/sy deur een van die groeperinge ondersteun word, en as hy praat, met hy weet dat die ander faksies hom fyn dophou. In die ANC is daar byvoorbeeld deesdae die Ramaphosa-mense en die Zuma-mense. Daar is ook dié wat die Grondwet volledig onderskryf en ander wat voel dat dit verander moet word. In die DA sal 'n mens historiese verdelingslyne kry – soos die ou Progs (voormalige lede van die Progressiewe Federale Party), die ou Nattes (die voormalige Nasionale Party) en die “nuwe swartes” (wat nie aan een van daardie partye behoort het nie). Daar is ook ideologiese verskille oor die ekonomiese stelsel en regstellende aksie.

Soms gebruik groepe konferensies en besluite om ander dele van die party in ’n hoek te dryf.

In ’n kleiner party soos die EFF is die verskille nie so duidelik van buite af nie – veral omdat die opperbevelhebber Julius Malema dit met ’n ysterhand regeer. Ook Cope en die VF Plus sal minder interne verskille hê as groter partye, maar dit sal wel voorkom.

As politieke leiers dus in die openbaar praat, praat hulle soms nie met die publiek nie, maar met een van die groepe in die party. Soms praat hulle met een groep “deur” ’n ander groep. Soms gebruik groepe konferensies en besluite om ander dele van die party in ’n hoek te dryf. Dit is wat die Zuma-faksie by Nasrec met die besluit oor onteiening sonder vergoeding gedoen het. Baie maal is sulke besluite wat onder sekere omstandighede afgedwing word, nie die hele party se standpunt nie, en ook nie al die leiers s’n nie.

In ander gevalle laat die leierskap van partye (en van groepe binne die party) sulke groepe toe om op partykongresse stoom af te blaas en ’n ietwat ander standpunt te laat hoor. Dit is wat onlangs met die kwessie van die Reserwebank in die ANC gebeur het.

Verkiesingspraatjies klink anders

Pres. Cyril Ramaphosa spreek ’n ANC-byeenkoms in Kimberley toe. Politici beklemtoon dikwels voor verkiesings verskillende sake voor verskillende gehore. Foto: Charne Kemp

’n Derde saak is dat politici baie keer, maar veral voor verkiesings, verskillende sake voor verskillende gehore moet beklemtoon – want hulle wil hê dat almal vir hulle moet stem. Hulle moet ook deur wat hulle sê, hul oog hou op hul eie toekoms in die party: bevordering, leiersposte en invloed.

In hierdie proses word hulle byna “gedwing” om vae beloftes te maak oor sake (soos werkskepping) waaroor hulle nie direkte beheer het nie en waarvan hulle soms weet dat hulle nie beloftes sal kan nakom nie.

As hulle dit egter nie doen nie, sal mense nie vir hulle stem nie. Wat hiermee saamgaan, is dat al probeer politici om soveel mense moontlik vir hulle te laat stem, ’n party uiteindelik op ’n spesifieke (breë) groep en sy belange sal fokus. In die ANC se geval is dit volgens hul eie dokumente “swart mense in die algemeen en Afrikane in die besonder” – ’n rassevoorkeur. In baie ander demokrasieë fokus partye op mense wat ideologies saamstem, soos voorstaanders van kapitalisme of sosialisme.

Geen blywende vriendskappe in politiek

Mmusi Maimane, leier van die DA, lewer repliek op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Foto: Jaco Marais

Vierdens (en dit klink dalk teenstrydig) is politici se “leefwêreld” baie klein, al is “die politiek” breed en wyd. Want dit gaan meestal (en veral voor ’n verkiesing) meer daaroor om spesifieke punte aan te teken ten koste van ander partye of ’n groep binne die party, as wat dit oor die groter prentjie gaan. Daarom is dit raar vir politici om die “groter prentjie” en ’n breër perspektief aan hul volgelinge te gee.

Die partybeleid, die korrektheid daarvan en die foute in ander partye se beleide en optrede moet altyd sentraal wees. Daarom kan politici nie – en dit was duidelik in die kritiek op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede vanjaar – toegee dat ’n teenstander ’n goeie punt beet het nie, al dink hulle persoonlik anders. Hulle moet breedweg by die party se standpunt bly.

Teen hierdie agtergrond is daar vir sakemense en gewone mense ’n paar dinge om in gedagte te hou wanneer hulle politieke leiers beoordeel en probeer verstaan.

Moenie randfigure in partye se soms radikale standpunte vir soetkoek opeet en op grond daarvan beleggingsbesluite neem nie.

* Politici en politieke partye se hoofdoel is om aan bewind kom en aan bewind te bly. Slegs wanneer hulle in die regering of in opposisie is, kom gedagtes van diens aan die publiek (soms) na vore. Dis hoe die stelsel werk.

* Verstaan dus die stelsel en die konteks waarin politici werk. Voor ’n verkiesing is daar ander spelreëls. Neem alles wat hulle sê, met ’n knippie sout.

* Verstaan groeperinge binne partye, waar leiers staan ten opsigte daarvan, en hoe hulle dit moet hanteer. Vertolk wat politici sê binne hierdie verband.

* Moenie randfigure in partye se soms radikale standpunte vir soetkoek opeet en op grond daarvan beleggingsbesluite neem nie. Standpunte op partykonferensies is nie noodwendig partybeleid nie en partybeleid is nie altyd volledig regeringsbeleid nie. Die ander kant van die munt is egter ook waar: moenie dat mooi woordjies en versekerings oor byvoorbeeld ekonomiese sake jou blind laat vir ’n party se ware beleid nie.

* Onthou, politici praat gewoonlik eerste met hul eie ondersteuners en sê wat húlle wil hoor – hulle praat nie met jou nie.

Theuns Eloff

* Verstaan dat daar in die politiek (soos in die sakewêreld) nie blywende vriendskappe is nie, maar net belange. My vyand se vyand is (slegs tydelik) my vriend. Bly dus effe sinies oor mooi woorde wat politici oor mekaar sê.

* Verstaan dat politici soms die stelsel moet “speel”. Soos in ander organisasies, moet hulle soms saamgaan met goed waarmee hulle nie noodwendig saamstem nie. Hulle moet dit doen om in die party te oorleef, en eers wanneer hulle ’n senior pos binne die party bereik, kan hulle begin om die party se siening oor daardie sake van binne te verander. Hul enigste hoop is dat dit nie noodlottig vir hulle eie moraliteit en integriteit sal wees nie.

* Verstaan dat in ’n politikus se kleiner en groter wêreld, jou hartskwessie (soos Afrikaans) nie noodwendig ’n prioriteit is nie. Selfs politici wat sterk voel oor sulke sake, moet binne die party hul “gevegte’ en kwessies kies. En hulle kies eers dié wat hulle kan wen.

As sake- en gewone mense dink die bogenoemde is sinies, vra ek om verskoning. Maar pas dit gerus toe. Dit sal jou politici en die stelsel waarbinne hulle moet werk, beter laat verstaan.

As politici dink ek kom hulle te na, vra ek ook om verskoning. Daar is natuurlik uitsonderings onder politici – beginselvaste mense wat werklik ’n verandering ten goede wil maak. Maar hulle sal self moet erken: hulle is in die minderheid. Want dis hoe die stelsel werk . . .

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. Menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.