Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe ‘Q’ Amerika op hol geneem het

Die identiteit van een van die grootste komplot-teoretici in die moderne wêreld, bloot bekend as “Q”, is waarskynlik bekend. Leopold Scholtz kyk hoe “Q” Amerika met sy bewerings op hol geneem het.

’n Aanhanger van “Q” waarsku mense op ’n byeenkoms van Donald Trump in Tampa, Florida, in 2018 oor die storm wat toe nooit losgebars het nie. Foto: Getty Images

Moderne kommunikasiemiddels, soos die internet, e-pos en allerlei digitale kletsruimtes, maak die wêreld vir die gemiddelde mens in sekere opsigte aansienlik makliker. Maar dit vergemaklik ook drasties die verspreiding van leuens.

In aanloop tot die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016 is e-posse van John Podesta, Hillary Clinton se verkiesingsbestuurder (sy was toe Donald Trump se teenstander in die eleksie) gesteel en aanlyn geplaas. Komplot-denkers het in sekere van die e-posse bedekte verwysings gelees na ’n groep hooggeplaaste Demokrate wat kinders ontvoer, verkrag, en selfs eet.

’n “QAnon”-ondersteuner op ’n byeenkoms in Nevada. Foto: Getty Images

Op ’n dag het ’n goedgelowige Amerikaner dus na ’n pizzeria in New York gegaan en met ’n geweer in die hand ingebars, vas onder die indruk dat Demokratiese pedofiele ’n groep kinders in die kelder aanhou. Daar wás geen kinders nie, geen pedofiele nie, selfs geen kelder nie.

Pizzagate, soos dié affêre bekend geword het, was ’n voorloper van die reeks komplot-teorieë wat in 2017 in ’n digitale kletsruimte begin verskyn het.

Die skrywer van die boodskappe het homself bloot “Q” genoem, en spoedig het dit tot ’n omvattende veldtog met die naam QAnon (“Anon” synde die afkorting van anoniem) gelei.

“Q” se teikens het vinnig duidelik geword. Naas Hillary Clinton het hy sy pyle op Robert Mueller, die man wat Trump se beweerde medewerking met Rusland om sy verkiesing tot president te verseker moes ondersoek, asook die liberale Hongaarse miljardêr George Soros gerig. Eintlik enigiets en enigiemand buite die uiterste regtervleuel van die Republikeinse Party.

Die storm kom nader

Jake “The Q Shaman” Angeli, ’n ondersteuner van Donald Trump en “QAnon”, het op ’n byeenkoms in Washington D.C. in Desember 2020 duidelik gemaak wie hom soontoe gestuur het. Foto: Getty Images

Die naam “Q” is duidelik met opset gekies. In die Amerikaanse departement van energie, wat ook vir kernmateriaal verantwoordelik is, is “Q clearance” ’n aanduiding dat die draer daarvan toegang tot hoogs geheime inligting het. Waarmee “Q” te kenne gegee het dat hy ’n hoë regeringsamptenaar is wat alle diepste geheime van die regering weet.

Die eerste pos van “Q” was op 28 Oktober 2017, in ’n reeks boodskappe onder die titel “Calm before the storm”. Dié begrip “storm” het daarna die kern van “Q” se propaganda geword, eers op die digitale kletsruimte 4chan, maar sedert 2018 op 8chan.

’n “QAnon”-aanhanger op ’n betoging in Berlyn. Foto: Getty Images

’n Amerikaanse joernalis wat uitvoerig navorsing oor die verskynsel “Q” gedoen het, Travis View, het “Q” se boodskap só in ’n onderhoud met die tydskrif Salon opgesom:

“QAnon is gegrond op die gedagte dat daar ’n wêreldwye kabaal van Satan-aanbiddende pedofiele is wat die wêreld regeer. Hulle beheer glo basies alles – van politici tot die media, asook Hollywood, en hulle steek hul bestaan weg. En hulle sou voortgegaan het om die wêreld te regeer as dit nie vir die verkiesing van pres. Donald Trump was nie.

“In dié samesweringsteorie weet Trump glo alles van dié bose kabaal se oortredings. En een van die redes waarom hy glo verkies is, is om ’n einde daaraan te maak. En ons sou niks geweet het van dié stryd agter die skerms van Trump en die Amerikaanse weermag nie as dit nie vir ‘Q’ was nie.

“ ‘Q’ is die man wat die besonderhede van dié geheime geveg agter die skerms openbaar, en ook van die geheime oor wat die kabaal alles doen en die massa-inhegtenisnemings wat kom.”

Die dag kom nader waarop die “storm” sal losbars. Dan gaan Trump, die weermag en die FBI al die liberalistiese pedofiele aankeer en vir goed neutraliseer, selfs teregstel. Tienduisende liberale politici, Hollywood-sterre en joernaliste gaan in hegtenis geneem en voor militêre tribunale aangekla word.

Die dag van die ‘Storm’

’n Vrou met ’n “Q”-pet luister na Donald Trump op ’n byeenkoms in Cincinnati in 2019. Foto: Getty Images

“Q” se boodskap is in ’n mindere of meerdere mate deur regs-ekstremistiese politieke kommentators soos Sean Hannity en Alex Jones versprei. Waardeur “Q” se gereelde posse op 8chan deur honderdduisende, dalk miljoene, mense gretig gevolg is.

Maar daar was ’n groot probleem met die “waarhede” wat “Q” versprei het. Trump, wat die redder moes wees, het die verkiesing verloor, waardeur die boodskap basies in duie gestort het.

Trump en sy ondersteuners het kliphard geskreeu dat die uitslag vervals is, dat hy inderwaarheid gewen het. “Q” het beweer dat die masjinerie waarmee die stemme getel is, deur die maatskappy Dominion Voting Systems verander is om ’n Biden-oorwinning moontlik te maak.

En dus het “Q” sy volgelinge voorgehou dat 6 Januarie die dag van die afrekening sou wees.

Op dié dag moes die Kongres byeenkom om die verkiesingsuitslag formeel te bekragtig – normaalweg eenvoudig ’n seremoniële handeling. Maar “Q” het dit uitgeroep tot die dag van die “Storm”, die dag waarop Trump en die weermag die mag sou gryp, al die liberaliste in hegtenis neem en opsluit.

Inderdaad, op dié dag het ’n ordelose gepeupel die Kongresgebou bestorm en beset. Maar omdat dit ’n spontane, ongerigte karakter had, het dit nie die regering omvergewerp nie, en Trump se nederlaag is bekragtig.

Wat nou?

Maar “Q” het nóg ’n verdedigingslinie gehad – 20 Januarie, die dag waarop Joe Biden as president beëdig sou word, sou die dag van die “Storm” word.

Maar 20 Januarie het gekom, Biden het die eed afgelê, 20 Januarie het gegaan. En niks het gebeur nie.

“Q” se geloofwaardigheid het ’n yslike knou gekry. Geeneen van sy voorspellings het waar geword nie.

Wie is ‘Q’?

’n Betoger op ’n byeenkoms in Londen wat deur aanhangers van die “QAnon”-beweging bygewoon is. Foto: Getty Images

Dis interessant dat “Q” sedertdien byna heeltemal stil geword het. ’n “Q”-agtige video het wel onlangs beweer dat die vragskip Ever Given, wat die Suezkanaal onlangs geblokkeer het, vol ontvoerde kinders was wat met dwelms en boeie in bedwang gehou is, aan die Clinton-stigting behoort.

Hoe ook al, die Amerikaanse televisiesender HBO se dokumentêre filmmaker Cullen Hoback is daarvan oortuig hy weet wie “Q” is. Die man is ene Ron Watkins, wat saam met sy pa, James, glo vir die “Q”-posse verantwoordelik is. Hy was tot onlangs bestuurder van die kletswerf 8chan, wat dit logies maak dat hy “Q” is.

Om regverdig te wees, Watkins ontken dit. Daar is ’n teorie dat “Q” aanvanklik iemand anders was, maar dat Watkins die persona oorgeneem het.

Leopold Scholtz

Die kletsruimte 8chan, waar “Q” se posse verskyn het, is regs-ekstremisties en versprei gereeld rassistiese haatspraak en neo-Nazistiese propaganda. Watkins woon saam met sy pa in die Filippyne.

“Q” het groot invloed in Amerika, en in ’n mindere mate selfs in Brittanje, Frankryk en Spanje. Trump het hom verskeie kere in sy Twitter-boodskappe aangehaal.

Wat nou? Rita Katz, direkteur van die Site Intelligence Group, wat linkse en regse ekstremistiese aanlyn propaganda en terrorisme ondersoek, het aan die Vlaamse dagblad De Morgen gesê die aanduidings dat Watkins inderdaad “Q” is, is sterk, maar daar is geen “onomstootlike bewyse” nie.

“QAnon het ’n groot gif vir die samelewing geword, wat alles van misleidende inligting oor entstof tot politieke agendas versprei. Dus is die persoon agter ‘Q’ – of dit nou Ron Watkins of iemand anders is – nie die enigste wat verantwoordelik gehou moet word nie.”

Bowendien het hooggeplaaste Trump-bondgenote soos Michael Flynn en Roger Stone fluks met die verspreiding van QAnon-propaganda gehelp. “Hoekom was ander so terughoudend om hulle daarvan te distansieer? Wie het gehelp by die finansiering van die reusagtige aanlyn infrastruktuur van QAnon?” vra Katz.

Dis in elk geval duidelik dat die laaste woord oor die verskýnsel “Q” nog lank nie gespreek is nie. Die wyse waarop hy sy leuens kon versprei, en die gretigheid waarmee honderdduisende liggelowiges dit opgeslurp het, is iets wat behoorlik ondersoek moet word.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.