Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe SA Suid-Korea se pad na ekonomiese sukses kan volg

Die Suid-Koreaanse ekonomie het dié van Suid-Afrika in die 1980’s al verbygesteek en is ons ver voor. Sal ons die Suid-Koreane ooit weer kan inhaal? vra Pieter Labuschagne.

Kantore in Geoje in Suid-Korea. Foto: Getty Image

Die ekonomiese groei in Suid-Afrika word tot ’n groot mate deur die gebrek aan tegniese innovasie, entrepreneurskap en die afwesigheid van aanvaarbare vlakke van werketiek gekniehalter.

Die afwesigheid van dié noodsaaklike elemente verklaar waarom ons ekonomies agtergeraak het.

In die 1960’s was Suid-Korea en die Ivoorkus se ekonomieë min of meer ewe groot. In dieselfde tyd was Suid-Afrika reeds ’n jong opkomende nywerheidsreus, met ’n veel groter ekonomie – sy fabriekswese se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het byvoorbeeld in 1963 van 23% tot 30% gestyg. Die waarde van die BBP teen konstante syfers in 1963, het vanaf R5 324 miljoen tot R7 052 miljoen in 1965 en R9 171 miljoen in 1970 gestyg.

In 1980 het Suid-Korea Suid-Afrika egter ingehaal en dié voormalige landbouland het in net twee dekades sterk gegroei en die verwoestende gevolge van die Koreaanse oorlog afgeskud.

In 2019, drie dekades later, het Suid-Korea tot die 11de sterkste ekonomie in die wêreld gevorder. Sy BBP is 2% groter as dié van Suid-Afrika met per capita inkomste wat drie keer groter is.

Vergelyking van ekonomiese aanduiders

Hyundai-motors wat vir uitvoer bestem is, by dié vervaardiger se aanleg in Ulsan. Foto: Getty Images

Suid-Korea (51,6 miljoen) en Suid-Afrika (57,8 miljoen) se bevolkings is amper ewe groot, maar dit is waar die ooreenkoms eindig.

Iemand wat in Suid-Korea eerder as Suid-Afrika bly, sal 30 jaar langer lewe, sy of haar kanse om ’n werk te kry sal 86% beter wees, sy of hy sal die geleentheid hê om vyf keer meer te verdien en die kans om nie vermoor te word nie, is boonop 97% beter.

Die gaping tussen die twee lande is skokkend groot ondanks Suid-Afrika se minerale rykdomme.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se BBP-syfers vir dié twee lande en die Ivoorkus en hul posisies op die wêreldranglys is as volg: Suid-Korea: $1 777 659 (11de), Suid-Afrika $386 853 (36ste) en die Ivoorkus $52 979 (52ste).

Suid-Korea moet die bykomende finansiële las van hoë militêre uitgawes dra.

Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is 27%, wat beteken dat 6,1 miljoen mense werkloos is. In Suid-Korea is die werkloosheidsyfer net 4,4% met net meer as ’n miljoen werkloses. Terwyl Suid-Afrika sukkel om sy ekonomiese groeikoers bokant ’n vlak van 1% te lig is Suid-Korea se ekonomiese groeikoers ’n stewige 2,4%.

Die gemiddelde salaris in Suid-Korea is $30 000, wat amper vyf keer hoër as die gemiddelde salaris in Suid-Afrika is. ($6 160).

Suid-Afrika se buitelandse skuld is 53% van sy BBP en steeds besig om te styg, met nog geld wat geleen moet word. Die vergelykende syfer in Suid-Korea is 39,7%.

Suid-Korea moet die bykomende finansiële las van hoë militêre uitgawes dra met Noord-Korea, wat ’n groot militêre bedreiging inhou. Waar Suid-Afrika net 2,9% van sy begroting aan verdediging bestee, moet Suid-Korea 12,3% van sy begroting aan verdediging toewys.

Daar is verskeie redes vir die ekonomiese sukses in Suid-Korea maar drie faktore staan uit: hoë werketiek, ’n voordelige sake-omgewing en ’n gesonde beleid rakende huishoudelike investering en vernuwing.

Hoë werketiek

In Suid-Korea is die werketiek van die gemiddelde werker baie hoog en min stakings vind plaas. Foto: Getty Images

Die afwesigheid van aanvaarbare vlakke van werketiek in Suid-Afrika is by herhaling gesien, soos weer tydens die onlangse week lange staking van Tshwane se munisipale werkers wat op ’n salarisverhoging van 18% aangedring het.

Die staking het vinnig gewelddadig geraak, met vuilis wat in die strate gestrooi, besighede wat gevandaliseer en noodsaaklike dienste wat nie verrig is nie.

Die paar nie-stakende werkers wat die elektrisiteit in ons woonbuurt wou herstel, is met die dood deur die stakers gedreig.

Die Suid-Koreaanse werketiek is in die Confuciaanse filosofie gegrond dat die groep belangriker as die individu is.

Die stadsraad se oplossing om die onbeskermende onwettige staking te beëindig, was om bonusse van R10 000 vir die laags besoldigde werkers aan te bied wat inkrementeel met die verskillende vergoedingsvlakke sal styg. Daar was geen berigte van optrede teen die vandale of dié wat skade aangerig het nie.

In Suid-Korea is die werketiek van die gemiddelde werker baie hoog en min stakings vind plaas. Dit Wêreldbank se indeks vir “die gemak om met ’n land sake te doen”, plaas Suid-Korea vierde ter wêreld.

Die Suid-Koreaanse werketiek is in die Confuciaanse filosofie gegrond dat die groep belangriker as die individu is. Dié werkfilosofie is ingebed in die belang van die groter groep en die land, met die gemiddelde werker wat die belang van die groter en belangriker kollektiewe eenheid dien.

Verbetering van werkomgewing

’n Stakende munisipale werker onlangs in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die Wêreldbank en die IMF publiseer gereeld tabelle en syfers oor “die gemak om met ’n land sake te doen”.

Dit is gegrond op faktore soos hoe moeilik dit is om met ’n nuwe onderneming te begin (aansoekprosedure, regulasies en burokratiese rompslomp), die probleme om elektrisiteitsvoorsiening te reël, plaaslike krediet te verkry, handel oor landsgrense, afdwinging van kontrakte en plaaslike arbeidsmark.

Suid-Korea se vierde plek as een van die “mees aantreklike bestemmings om mee sake te doen of om ’n onderneming te begin” is selfs twee plekke beter as die VSA se sesde posisie.

Dit is algemene kennis dat die streng arbeidswetgewing en arbeidsregulasies Suid-Afrika nie ’n gewilde ekonomiese bestemming maak nie.

China het heelparty meer beperkende vereistes en is 34ste op die lys. Suid-Afrika is nog laer, in die 82ste plek, en die Eskom-krisis kan sy posisie verder negatief beïnvloed.

In Afrika is selfs die eilandstaat Mauritius hoër op die lys in die 20ste plek, met Rwanda 29ste en Kenia 61ste wat ook hoër plekke as Suid-Afrika beklee.

Dit is algemene kennis dat die streng arbeidswetgewing en arbeidsregulasies Suid-Afrika nie ’n gewilde ekonomiese bestemming maak nie. Die lae vlakke van werketiek en voortdurende arbeidsonrus met stakings wat maklik in geweld oorkook, is bydraende faktore.

Onlangs het geskille in die vervoerbedryf byvoorbeeld vinnig tot die uitbrand van vragmotors gelei. In die meeste gevalle het die polisie en vervolgingsgesag nie die vermoë om teen oortreders op te tree nie.

Beleid rakende investering en belegging in ontwikkeling

Suid-Korea is ’n voorloper op die gebied van tegnologie met Samsung-slimfone wat oral ter wêreld gewild is. Foto: Getty Images

Suid-Korea se ekonomiese beplanning is daarop ingestel om nie net die sake-omgewing te verbeter nie, maar ook om die plaaslike markte te ontwikkel om buitelandse en binnelandse beleggers te lok.

Suid-Korea belê ’n al hoe groter gedeelte van sy BBP aan nuwe tegnologiese ontwikkelinge en volg ’n innoverende benadering om die uitvoer van hoë-tegnologie-ware na die buiteland te verseker. Dit verteenwoordig reeds 29% van alle uitvoere.

Dit sluit bekende handelsmerke soos Samsung en Hyundai-voertuie in. Suid-Korea is nou die vyfde grootste uitvoerder van motorvoertuie in die wêreld.

Daar word ook ’n geweldige hoë premie op opvoeding van gehalte geplaas.

Dié land is een van die top-tien-uitvoerders in die wêreld met ’n positiewe handelsbalans van 6,2%, terwyl Suid-Afrika met ’n negatiewe handelsbalans van -3,57% spook.

Suid-Korea bestee inkrementeel meer van sy BBP aan nuwe tegnologiese ontwikkeling; tussen 1996 en 2015 het dit van 2,24% van die totale begroting tot 4,23% toegeneem.

Daar word ook ’n geweldige hoë premie op opvoeding van gehalte geplaas en 24% van die begroting word aan onderwys toegewys. In Suid-Afrika is dit 18%. Die verskil in geldwaarde is groot vanweë die grootte van die Suid-Koreaanse begroting en die effens kleiner bevolking.

Kan Suid-Afrika sy ekonomiese skip omdraai?

Is daar nog tyd vir Suid-Afrika om ook ’n ekonomiese wonderwerk te beleef? Die oplossing is in die teorie eenvoudig, maar in die praktyk is die land in ’n komplekse politieke situasie vasgevang.

Die ekonomiese omdraaiplan moet ekonomies aan die inset- en die uitsetkant kragdadig hanteer word.

Daar moet sterker teen korrupsie opgetree word met oortreders wat vervolg word.

Aan die uitsetkant is dit belangrik dat ’n plan gemaak word met die voortdurende mors van geld met ’n groot lomp staatsdiens, talle ministers en ander openbare ampsdraers wat hiper-salarisse verdien.

Semi-staatsinstellings, soos Eskom en die SAL, wat bodemlose geldputte geword het, moet gerasionaliseer word of in die geval van SAL gelikwideer word. Daar moet sterker teen korrupsie opgetree word met oortreders wat vervolg word.

Aan die insetkant moet Suid-Afrika in ’n veilige hawe vir investering en nuwe ondernemings omskep word. Die beleggersvertroue in die land moet herstel word. Daar moet soos in Suid-Korea geld aan navorsing en opleiding bestee word, sodat ons ook hoë-tegnologie-ware kan vervaardig en uitvoer.

Dit is ’n groot uitdaging maar kan gedoen word!

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.