Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die kuns van kommentaar in Afrikaans

Afrikaanse sportkommentators het luisteraars nie net vir bykans 80 jaar voor die radio vasgenael gehou nie. Hulle het ook baie gedoen vir die ontwikkeling van Afrikaans, skryf Gert van der Westhuizen.

Jack van der Schyff se kop hang ná sy mislukte doelskop in die eerste toets van 1955 se reeks teen die Britse Leeus. Die Leeus het met 23-22 gewen. Foto: Gallo Images

Sportkommentaar oor die radio was nog in sy spreekwoordelike kinderskoene toe die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK op 27 Oktober 1937 met uitsendings begin het, vertel die gesoute omroeper en sportkommentator Johan Russouw op die stoep van sy huis naby die Hartbeespoortdam.

Hy was die man met die “ontsettende moeilike” taak om agt dekades se Afrikaanse sporthoogtepunte vir RSG in vier programme van sowat 26 minute elk saam te vat as deel van die vierings van die 80-jarige bestaan van Afrikaanse radio.

Johann Russouw het vier programme van 80 jaar se sporthoogtepunte uit die SAUK se klankargiewe saamgestel.

Die eerste sportuitsendings oor radio het in April 1921 begin; vier jaar voordat Afrikaans ’n amptelike landstaal geword het, sê Russouw.

“Die boksgeveg tussen Johnny Ray en Johnny Dundee is tóé deur die KDKA-radiostasie in Pittsburgh in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië uitgesaai. Dit is die eerste uitsending waarvan ons weet. Ek weet nie of dit ’n verslag of ’n regstreekse uitsending was nie, maar die kommentator was Florent Gibson.”

Die Cape Peninsula Broadcasting Association was eerste met ’n radio-uitsending van ’n sportwedstryd in Suid-Afrika. Hy het in 1924 ’n rugbywedstryd regstreeks van Nuweland uitgesaai, sê Russouw.

“Dit was in Engels gewees en daar word beweer dat dit lopende kommentaar was, maar ek kan dit nie bevestig nie. Dit is gedoen deur die voorsitter van die Kaapse reklamevereniging van destyds, ’n ou met die naam van Jimmy Dunn, wat terloops ook hoof van die nuusagentskap Reuters se Suid-Afrikaanse kantoor was. Hulle sê hy was nou nie eintlik ’n kenner van die spel nie. Hy was ook nie eens 100% seker van die spelers se name nie.”

Afrikaanse radio gou uit wegspringblokke

Die nuwe Afrikaanse Radiodiens het nie op hom laat wag wat sport betref nie en “letterlik onmiddellik” met uitsendings begin nadat dit vir die eerste keer op 27 Oktober 1937 oor die lug gehoor is.

Gideon Roos, seun van die bekende Springbok-kaptein Paul en later direkteur-generaal van die SAUK, het verslag gedoen oor die toer van Sam Walker se Britse Leeus-rugbyspan wat Suid-Afrika in 1938 besoek het.

“Dit is die eerste Afrikaanse sportuitsendings waarvan ek bewus is. Daar was ’n ou met die naam van Nic van Rensburg wat spesifiek regstreekse verslae oor die toer gedoen het, maar ongelukkig is daar nie opnames van nie.

“Die eerste stukkie regstreeks sportkommentaar wat ek in die SAUK se klankargief kon opspoor was van die rofstoeigeveg in 1940 tussen Johannes van der Walt (die Gemaskerde Wonder) en die Amerikaner Bobby Bruns. Jannie Fourie was die kommentator.”

Bobby Bruns hou sy kp vas nadat Johannes van der Walt hom uit die kryt gegooi het. Foto: Die Gmeaskerde Wonder

Die einste Fourie het luisteraars ses jaar later vertel hoe St Pauls’s die Durban July-perdewedren gewen het. Dit was toentertyd nie net sy omroepers wat veelsydig was nie; die Afrikaanse Radiodiens het ook ’n groot verskeidenheid sportsoorte uitgesaai.

Dana Niehaus het krieket en tennis uitgesaai. Dawid Fuchs het verslag gedoen van 1948 se Olimpiese Spele uit Londen. Kosie Jooste het boks uitgesaai. Paul Bothma het vertel van die reekssege oor die All Blacks in 1949. Johan de Bruyn het selfs sy hand aan netbal gewaag hoewel hy meer bekend was vir sy rugbykommentaar.

Hy was die man wat Suid-Afrikaners een van hul grootste rugbyteleurstelling oor die lug moes meedeel: Die mislukte doelskop van Jack van der Schyff wat die Britse Leeus ’n naelskraapse sege van 23-22 oor die Springbokke in die eerste toets van 1955 se reeks besorg het. En dit nadat hy so opgwonde was oor Theuns Briers se drie net voor die doelskop.

Later het ander bekende radio-name (en hoogtepunte) gevolg.

Steve de Villiers, Nic Naudé, Danie van Eeden, Danie Erasmus, Werner Barnard en Thinus de Villiers. Wie sal ooit Awie Labuschagne se beskrywing van Mannetjies Roux se drie in 1962 teen die Britse Leeus in Bloemfontein vergeet?

Die name hou net nie op nie. Die enigste gevaar is dat jy dalk van iemand kan vergeet. Daar was ook Edwill van Aarde, Johannes van der Walt, Retief Uys, Hendrik de Bruyn, Heinrich Marnitz, Jan Snyman, Kotie Grové, André Coetzee, Chris van Onselen, Christo Olivier, Andries Cornelius, Chris Swanepoel, Niekie van den Berg, Pieter van den Berg en Johan Rademan.

En natuurlik Gerhard Viviers, oftewel Spiekeries, wat vir jare lank die stem van veral Suid-Afrikaanse rugby was hoewel hy ook oor ander sportsoorte soos krieket en boks kommentaar gelewer het. Hy word vandag veral onthou vir sy beskrywing van Syd Nomis se onderskepdrie teen die All Blacks op Loftus Versfeld in 1970.

Baanbrekers wat nuwe woorde moes skep

Russouw sê hy wou met sy reeks programme ook wys op die bydrae wat al dié kommentators tot die Afrikaanse taal gelewer het.

“Min mense besef dat Dana Niehaus en Steve baanbrekers was wanneer dit kom by krieketuitsendings. Hulle moes woorde skep vir terme soos mid on en silly mid on. Hulle het met woorde soos vlakby en regby en daai soort van goed vorendag gekom net. En ’n wicket, hulle het dit paaltjies gemaak. Die bails het hulle dwarsbalkies genoem. Ons het daarmee grootgeword, maar daai mense moes dié woorde uitdink.

“Hoe het hulle nie woorde geskep nie,” mymer Russouw. “In gholf het ou Johannes vorendag gekom met woorde soos putjies en setperk vir ’n putting green. Almal praat deesdae van ’n drywer, maar die mooi Afrikaanse woord daarvoor is bofstok.

“Dit wys jou net hoe veelsydig is hierdie wonderlike taal van ons. Rough het sukkelveld geword en ’n back-spin in tennis ’n trutol.”

Gerhard Viviers was vir jare ’n geliefde sportkommentator onder Afrikaanse radioluisteraars. Foto: Argief

Wie sal ook nou Viviers se Afrikaanse skepping vir die first aid-personeel langs rugbyvelde vergeet? Die pynpolisie.

Russouw is natuurlik self iemand wat nuut in Afrikaans oor sport moes begin dink. Hy het immers in 1996 die eerste volledige sokkerwedstryd ooit in Afrikaans oor radio uitgesaai toe Bafana Bafana Tunisië met 2-0 geklop het om die Afrikabeker te wen.

Hy het agter die sokker-mikrofoon beland toe hy iets ekstra ná die atletiekseisoen wou doen. Hy het gedink hy sal kan help met rugbykommentaar, maar moes hoor daar is reeds genoeg rugbykommentators. Hy kon wel gaan sokker uitsaai as hy wou.

“Ek het eers gedog dis ’n grap, want ek het niks van sokker geweet nie. Ek het toe maar besluit ek sal dit doen. Ek het niks gehad om te verloor nie en dit was buitendien ’n uitdaging.”

Ná bykans 60 jaar van Afrikaanse sportkommentaar, moes Russouw weer met nuwe woorde vorendag kom. Soms het hy die luisteraars gevra om te help. Hy wou byvoorbeeld by hulle weet wat om ’n floater te noem.

“Dis ’n bal wat nie vinnig trek nie; hy krul so deur die lug en hy hang so as ’t ware in die lug. Ek kon nie dink aan ’n woord daarvoor nie en vra toe vir die luisteraars tydens ’n wedstryd tussen Orlando Pirates en Kaizer Chiefs.

“Met rustyd hoor ek een het sweefbal voorgestel. En van toe af is dit ’n sweefbal. Dit is mos ’n mooi beskrywing in Afrikaans vir ’n floater, ’n sweefbal.

Toe pas die taal hom by sokker aan

Die eerste sokkerwedstryd wat volledig op radio in Afrikaans uitgesaai is. Neil Tovey, kaptein van Bafana Bafana, hou die Afrikabeker in 1996 omhoog nadat Suid-Afrika Tunisië met 2-0 in die eindstryd in Johannesburg geklop het. Foto: Gallo

“Dit is natuurlik die wonder van hierdie pragtige taal wat ons praat. Dit is ’n taal wat ontwikkel, maar dit is ’n taal wat homself by enige situasie kan aanpas,” sê Russouw.

“Vir die spelers se posisies het ek by rugby gaan leen. Die twee wing defenders aan die kante het ek flanke gemaak.

“ ’n Flank in rugby is ’n ou wat verdedig en hulle beweeg baie op en af, so dit sê vir jou van wie ek praat.

“Midvelder is my skepping. Ons skryf van middelveldspelers, maar ek het nie tyd om op radio te sit en karring nie, ek moet ’n vinnige woord kry. Ek moet vinnig praat en spel op ’n sokkerveld beweeg baie vinnig. Daarom het midvelder vir my makliker gesê as middelveldspeler,” verduidelik Russouw voor hy uitbrei oor die kuns van kommentaar lewer.

Al wat jy het, is woorde.

“Sportkommentaar oor die radio is ’n baie moeilike ding om te doen, want jy moet vir jou luisteraar ’n prentjie skep wat hy in sy kop kan vorm en al wat jy het, is woorde. Maar saam met daai woorde kom emosie, kom uitdrukking, kom tempo, kom kleur. Jy kan mos jou stem kleur. Jy moet met al daai fasette vir luisteraars ’n prentjie skets wat ook moet beweeg. Wanneer jy radiokommentaar lewer, moet jy vir daai ou sê waarheen gaan die bal, Jy moet dit op so ’n manier doen dat hy die bal kan volg.”

Wie dink hy was die kommentator wat al dié dinge die afgelope 80 jaar die beste kon doen? Russouw se antwoord sal baie mense verbaas, maar hy huiwer nie vir ’n oomblik nie: Johan Rademan.

Johan Rademan. Foto: RSG

“Ek wil nie enige ander kommentator te na kom nie, maar daar is niemand wat naby Johan Rademan kom nie. Hy is ’n veelsydige man wat baie, baie deeglik voorbereid is vir elke wedstryd wat hy uitsaai. Hy het die vermoë om die ongelooflikste prentjie vir jou in klank en in Afrikaans te kan skilder en inkleur.

“Weet jy, as jy na daai man luister, is dit is soos ’n Rembrandt van Rijn-skildery wat begin lewe en van die muur af klim en met jou kom praat. Min mense het die vermoë om soos Johan Rademan te kan uitsaai.”

Russouw behoort te weet waarvan hy praat. Sportkommentaar het hom al as kind geprikkel toe hy Saterdaemiddae in die sitkamer saam met sy pa voor ’n groot Philips-radio na rugbyuitsendings geluister het. Hy was eers onderwyser, maar die rol van sportkommentator het bly wink.

Hoogtepunte was volop in sy loopbaan. Hy moes in 1984 in die jare van Suid-Afrikaanse sportisolasie inderhaas na Los Angeles vertrek om (sonder akkreditasie) verslag te doen oor die Olimpiese Spele waaraan Suid-Afrika se Zola Budd in die klere van Brittanje deelgeneem het.

Nog Spele het gevolg, ook Statebondspele, ’n Afrikabeker-sokkertoernooi en die 1998 Wêreldbeker-sokkertoernooi – die eerste waarin Suid-Afrika gespeel het.

Van oefen kan jy nooit genoeg kry

Russouw raak skoon bewoë as ’n mens hom vra wat sy grootste hoogtepunt was. Hy bly vir ’n rukkie stil. “Weet jy, hoe kies jy tussen jou kinders? Maar,” probeer hy die trane wegsluk, “ek is nou nog hartseer. Ek raak baie emosioneel daaroor en dis vir my ’n verskriklike verleentheid.

“In 1994 toe die Suid-Afrikaanse span (vir die Statebondspele) in daai stadion instap in Victoria op Vancouver Island en die vlag word gedra deur Hezekiel Sepeng, het ek op die lug gehuil. Dit was vir my eintlik ’n verleentheid, maar dit was so ’n emosionele belewenis,” vertel Russouw.

Sepeng se silwermedalje in die 800 m op dié spele en sy tweede plek wat hy losgehardloop het op die Olimpiese Spele van 1996 tel onder Rossouw se ander hoogtepunte. “Ek was so buitengewoon bevoorreg om goed te kon beskryf wat ander mense nie beskore was nie. En dit was een van hulle. Penny Heyns se dubbele Olimpiese goud in 1996 in die swembad is ook een van die goed wat my sal bybly. Mark Williams se twee doele in die Afrikabeker-eindstryd, die mans-aflosspan se goue medalje in swem op die Olimpiese Spele van 2004, Mbulaeni Mulaudzi se silwer in die 800, Hestrie Cloete se hoogspring-medalje . . . watter wonderlike voorreg was dit nie om in 2002 daai Statebondspele in Manchester te kon doen nie en te beskryf hoe Natalie du Toit in die 800 m sesde eindig. ”

Sy loopbaan as kommentator het harde werk geverg, sê Rossouw. Uiteraard moes hy ook baie oefen. Hy sal ook nooit kan ophou oefen nie.

“As ek vandag as ek alleen in die kar ry, sal ek byvoorbeeld ’n denkbeeldige atletiekbyeenkoms uitsaai. Ek kry deesdae min geleentheid om sokker regstreeks uit te saai as gevolg van die geweldige klomp rugby. Maar omdat ’n mens in oefening moet bly, sit ek baie dikwels en sokker uitsaai in die kar.

“As mense verbyry en sien my lippe beweeg op en af, dink hulle seker alles is nie pluis nie,” lag Russouw.

“Maar ek moet bly oefen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.