Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe vaar Cyril tot dusver in Covid-19-krisis?

Getuig pres. Cyril Ramaphosa se optrede tot dusver in die Covid-19-pandemie van ’n visioenêre inspirerende demokraat of ’n kwasi-demokraat met getemperde outokratiese kenmerke? vra Pieter Labuschagne.

’n Voorbeeld vir die res van die land. Pres. Cyril Ramaphosa met ’n gesigsmasker. Foto: Reuters

Pres. Cyril Ramaphosa moes tot dusver in sy ampstermyn as president vele uitdagings hanteer.

Daar is egter min twyfel dat die Covid-19-pandemie sy grootste uitdaging as leier was en sy leierskap en nalatenskap sal later aan die hantering daarvan getoets word.

Die hantering van ’n krisis en die vermoë om in die groter belang van die land op te tree, bly die ware toets vir ’n regeringsleier.

Winston Churchill, voormalige premier van Brittanje, het as sterk leier na vore getree in die Tweede Wêreldoorlog toe ander gehuiwer het. Hy het sy volk in die krisis gemotiveer, geïnspireer en gelei.

’n Ware leier het die vermoë om sy volgelinge te mobiliseer, te inspireer en te verenig om in dieselfde rigting te trek. ’n Ware leier het nie nodig om mense hardhandig te dwing nie, ’n ware leier het nie nodig om die weermag en polisie te mobiliseer om mense te dwing om in dieselfde rigting te trek nie.

In ’n tyd van krisis kan ’n leier dus of ’n demokraat wees wat lei, of ’n outokraat wees wat dwing.

Die vraag is in watter van dié twee kategorieë Ramaphosa se leierskap in die krisistyd tot dusver geplaas word? Was hy ’n visioenêre inspirerende demokraat of ’n kwasi-demokraat met getemperde outokratiese kenmerke?

Covid-19 en die integriteit van die staat

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week die veldhospitaal by Nasrec buite Johannesburg saam met David Makhura, premier van Gauteng, en Bandile Masuku, LUR vir gesondheid in Gauteng, besoek. Foto: Felix Dlangamandla

Die Covid-19-pandemie se impak was en is gelykstaande aan ’n fisieke aanval wat die land se sekerheid en integriteit bedreig het.

Ramaphosa as regeringshoof het geen ander keuse gehad nie as om op grond van art. 37 van die Grondwet op te tree deur ’n ramptoestand af te kondig nie.

Ramaphosa het Covid-19 saam met sy ministeriële taakspan in die spreekwoordelik voorste linies beveg.

In die teoretiese raamwerk van ware leierskap gaan dit in dié geval oor meer as net die instelling van inperkingsmaatreëls.

Dit is belangrik om in ’n demokratiese vennootskap en gees van vertroue volgelinge se samewerking te kry.

Ware demokratiese leierskap veronderstel ’n dwingende noodsaak om landsburgers, wie se grondwetlike regte soos die vryheid van beweging en ekonomiese vryheid drasties ingeperk word, te motiveer.

Dit is belangrik om in ’n demokratiese vennootskap en gees van vertroue volgelinge se samewerking te kry om in pas met die president en ministeriële taakspan te marsjeer.

Ware demokratiese leierskap is om die samelewing te verenig, om as ’n kollektief vir ’n gemeenskaplike doelwit te werk – in dié geval om die verspreiding van ’n virus hok te slaan.

Die vraag is of Ramaphosa en sy ministers in die demokratiese vereiste geslaag en ook visioenêre leierskap aan die dag gelê het?

Was daar visioenêre leierskap?

Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede week die verslapping van sommige inperkingsmaatreëls aangekondig het. Foto: GCIS

Die Covid-19-krisis kan met stygende water in ’n rivier vergelyk word. Aanvanklik word daar bloot van die reën hoër op in die opvangsgebied kennis geneem.

Die watervlakke begin dan stadig te styg, maar dit raak aanvanklik net diegene wat direk langs die rivier bly. Die inwoners hoër op teen die rivier is nie juis bekommerd nie. Maar dan begin die water vinniger al hoër te styg en is dit gewoonlik te laat om betyds op te tree.

Die verspreiding van die koronavirus het die mense in Suid-Afrika aanvanklik nie geraak nie. Die uitbreking was in ’n onbekende deel van China en het net sydelingse kennisname ontlok.

Dit was eers toe die virus met dodelike gevolge na Italië begin versprei het, dat daar onrustigheid ontstaan het. Kort daarna het die virus soos ’n dodelike veldbrand in Europa versprei en plaaslik het die besef ontstaan dat die “vloedwater” ook vir Suid-Afrika ’n bedreiging inhou.

Hoewel te laat, het Ramaphosa ware staatsmanskap getoon en met ferm bedaarde rustigheid die mense aan sy kant gekry.

Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, moes voortydig visioenêre leierskap getoon het. Hulle moes die moontlikheid dat die virus ook plaaslik verwoesting kan saai voorsien het en verkeer buite die grense na die land gereguleer het.

In die kritieke venstertydperk was daar ’n geleentheid om vroegtydig sandsakke te pak deur voortydige toetsing, meer hospitaalbeddens beskikbaar te stel en inkomende besoekers en terugkerende burgers van die buiteland deeglik te toets en te reguleer.

Die geskiedenis sal wys dat die vloedwater reeds gestyg het voordat die regering reageer het en dit kon maklik deur die onvoldoende sandsakversperrings breek – vir die eerste keer was daar paniek.

Hoewel te laat, het Ramaphosa ware staatsmanskap getoon en met ferm bedaarde rustigheid die mense aan sy kant gekry. Sy kalm mededeling van die inperkings het daarin geslaag om die mense in pas met hom te laat marsjeer.

Pres. Cyril Ramaphosa het volgens die bevindings van ’n onlangse peiling sterk steun onder Suid-Afrikaners.

Die graad en intensiteit van die inperkingsmaatreëls was natuurlik deels die gevolg van die regering se versuim om vroeër op te tree.

Dit is aan die ministeriële taakspan oorgelaat om met ferm maatreëls die situasie te probeer beheer – ’n kwessie van oor kompensasie ten einde vir die agterstand te vergoed.

Die plaaslike situasie en die optrede kan nie met dié in ’n land soos Swede vergelyk word waar voortydige optrede die streng inperkingsopsie onnodig gemaak het nie.

Die ministeriële taakspan het spoedig die gesig van die inwerkingstelling van die inperkingsmaatreëls geword.

Ons het veral te doen gekry met Mkhize, Bheki Cele, minister van polisie, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Die taakspan was aanvanklik ongekoördineerd. Mkhize het byvoorbeeld bevestig dat vryheid van beweging soos draf en stap met honde toegelaat sal word, maar dié toegewing is later teruggetrek.

Ramaphosa, met sy kalm aanslag en vermoë om suksesvol te kommunikeer, het ongelukkig in die agtergrond verdwyn terwyl die taakspan die woord oor inperkingsmaatreëls gevoer het.

Swart Suid-Afrikaners is volgens die bevindings van ’n onlangse meningspeiling nie so skepties teenoor Bheki Cele, minister van polisie, se optrede soos lede van minderheidsgroepe nie.

Cele, met sy gebrekkige outoritêre kommunikasievermoë, het duidelik getoon dat hy in dié outokratiese milieu floreer.

Die taakspan se kommunikasie het dit duidelik gemaak dat dit makliker was om mense te dwing en te dreig, as om deur ware leierskap te motiveer en te inspireer.

Hierdie hardhandige en irrasionele optrede het by die veiligheidsmagte inslag gevind wat nie geskroom het om hardhandig op te tree nie en verskeie klagtes is teen hulle ingedien.

Daar is min gedoen om die rasionaliteit van sekere inperkingmsmaatreëls te verduidelik en min oorweging is aan ’n genuanseerde benadering gegee – veral in gevalle waar minder beperkende maatreëls dieselfde gevolg sou hê.

Van die maatreëls was ook bloot drakonies, arbitrêr, diskriminerend en diskresionêr. Onder druk is tien mense byvoorbeeld in ’n minibustaxi toegelaat, maar net een mens per motor.

Die aankope van items soos sigarette is verbied, sonder om die rasioneel te verduidelik. Koerante kon aanvanklik by supermarkte gekoop word, maar nie tydskrifte nie, Samedromming is by pensioen-betaalpunte toegelaat, maar individue mag nie alleen vroegoggend gaan draf nie.

Is Ramaphosa ’n demokraat of outokraat?

Die Covid-19-pandemie is die grootste uitdaging waarvoor pres. Cyril Ramaphosa in sy tyd as staatshoof te staan gekom het. Foto: Getty Images

Die ramptoestand en die inperking het delikate hantering vereis omdat opeenvolgende noodtoestande in die apartheidsera misbruik is om mense se basiese regte te vertrap.

Ramaphosa se latere opdrag in die laaste week van die inperking dat die rol van die weermag uitgebrei en verleng word, is onrusbarend en stuur die verkeerde boodskap uit. Die stigting van die nasionale veiligheidsraad in die krisistyd versterk die vermoede dat die neiging om gesag te sentraliseer in die tydperk ná Covid-19 sal voortduur. Die gevaarligte flikker reeds vir die volhoubaarheid van substantiewe demokrasie in die land.

Hoe gaan die geskiedenis Ramaphosa ná Covid-19 evalueer?

Was hy ’n inspirerende demokratiese leier wat met visioenêre leierskap die krisis sien aankom het en die inpak daarvan op die samelewing versag het?

Bheki Cele, minister van polisie, het baie mense omgekrap met wat as sy militaristiese houding bestempel word. Foto: Argief

Die antwoord is bepaald negatief, omdat daar te veel dwang en dreigemente met outokratiese kenmerke was.

Die eerste krakie in Ramaphosa se demokratiese fasade met ideologiese sentimente wat deurgesyfer het, was sy onlangse skok toe hy die reeds bekende welvaartgaping tussen ryk en arm beklemtoon het. Dit kan tog nie wees dat hy as president nie van dié probleem bewus was nie? Waarom die ideologiese debat oor die gaping tussen ryk nou in ’n krisistyd ophaal?

Die sosiaal-ekonomiese hulppakket van R500 miljard is duidelik op kort termyn gemik en van dié geld, moet uiteraard by internasionale instellings geleen en met rente terugbetaal word.

Die R200 miljard vir klein ondernemings gaan klaarblyklik hand aan hand met swart ekonomiese bemagtiging, wat weer ’n ideologiese dimensie aan die hulpprogram gee.

Dit is verstaanbaar dat basiese lewensbehoeftes eerste moet kom, maar die private sektor wat welvaart en werkgeleenthede moet skep, word afgeskeep.

Beloftes van ’n ekonomiese model wat die land uit die ekonomiese moeras moet kry, bly steeds net beloftes en visioenêre en daadwerklike optrede ontbreek ook in dié geval.

Ramaphosa se aankondiging dat die inperkingsmaatreëls van vlak 5 tot vlak 4 verslap word, het egter getoon dat hy wyd gekonsulteer het en dat hy ook ietwat van sy kollegas se outoritêre styl afgewyk het.

Maar as ’n balansstaat vir die hele tydperk opgetrek moet word, is die debietkant swaar teen Ramaposa en sy span gelaai. Daar was net te veel onrusbarende tekens van outoritêre tendense in ’n jong delikate demokrasie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.