Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe veg jy vir Afrikaans?
Danie van Wyk, dr. Danny Titus en dr. Theuns Eloff by die vyfde gesprek in Die Burgerse Praat Saam-gesprekreeks by die KKNK, Maak jy vyande van of vriende vir Afrikaans?.Foto: Jaco Marais

Hoekom sien sekere Suid-Afrikaners, soos Julius Malema, Afrikaans nog as ’n simbool van witheid?

Ivor Price, gespreksleier van Die Burger se Praat Saam-gesprekreeks by die KKNK in Oudtshoorn, het dié vraag aan dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede, gestel.

“Ons kan mekaar so lekker warm broei en onder mekaar praat oor Afrikaans, maar die res van Suid-Afrika weet nie daarvan nie; die res van Suid-Afrika wág nog om te hoor oor Afrikaans.

“Daar is miljoene ander Suid-Afrikaners wat graag met ons in gesprek wil tree. En dan: Die meerderheid Afrikaanssprekers is bruin mense – 50%; 45% is wit mense; 9% is African-mense en 1% is Indiërs.

“Sover as wat ek kom, herhaal ek: 602 000 African- Suid-Afrikaners het in die sensus van 2011 gesê: ‘Afrikaans is my moedertaal.’

“En ons skat daar is 20 of 21 miljoen niemoedertaalsprekers van Afrikaans. Ons het daar buitekant ’n verantwoordelikheid om Afrikaans aan mense oor te dra; mense soos regter Mogoeng Mogoeng, wat in sy uitspraak duidelik wys hoe hy nié Afrikaans verstaan nie.

“Dis óns verantwoordelikheid om dit vir hom duidelik te maak.”

602 000 African- Suid-Afrikaners het in die sensus van 2011 gesê: ‘Afrikaans is my moedertaal.

Afrikaans is onder beleg

Dr. Theuns Eloff, direkteur van die FW de Klerk Stigting, het op sy beurt gesê daar is van binne en buite druk op Afrikaans.

“Daar is druk van regeringskant en politieke leiers soos Malema, maar ook van ons eie mense by universiteite en van ouers af by skole.

“Natuurlik moet ons presies doen wat Danny sê – ’n vriendelike gesig van Afrikaans wys, maar jy staan hier en ’n ou slaan jou met ’n sambok van agter af en jy moet vriendelik bly . . .

“Jy kan nie veg op ’n versoenende manier nie. As jy veg, moet jy veg . . . En daar ís ’n geveg aan die gang. As daar nie meer Afrikaanse skole is nie, is dit tien jaar en dan is hierdie kunstefees in sy dinges in. En dís die gevare wat ek sien.

“Ons word met ’n sambok geslaan op party plekke en daarom moet ons nie nét die vriendelike gesig wys nie, anders gaan ons met ’n vriendelike gesig in die graf in.”

Moet ons nie, gegee die plek van Afrikaans in die geskiedenis, minder baklei en meer vry nie? het
Price aan Danie van Wyk, bestuurder van die Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, gevra.

Volgens Van Wyk moet daar be- sin word oor waarom sekere mense Afrikaans sien as ’n vyand. Hy het verwys na die NP onder dr. D.F. Malan wat bruin mense van die kieserslys verwyder het; en bruin mense se vervreemding van Afrikaans weens gedwonge verskuiwings.

“Is Afrikaans nie dalk sy eie grootste vyand nie? Ons as mede-Afrikaanssprekers moet met mekaar tot ’n vergelyk kom en praat oor die verlede, maar ook oor die toekoms: Wat gaan ons doen om hierdie taal te herposisioneer in die toekoms van Suid-Afrika?

“En wat gaan ons doen om die taal te destigmatiseer? Daar word te veel politiek gekoppel aan die taal.”

Hy het gesê die tyd het aangebreek dat Afrikaanssprekers moet praat oor die moontlikheid van ’n waarheids-en-versoeningsgesprek oor Afrikaans; dat ons eers onder mekaar sekerheid en duidelikheid kry voordat ons die vyand daar buite takel, want in 2018 ís Afrikaans onder beleg . . .

“Ons is nie hier soos ou Dale Carnegie se boek How to Win Friends and Influence People nie. Ons is verby daai tyd! Ons sal tot ’n vergelyk moet kom oor hoe ons voortaan ons taal gaan verdedig en ook die taal gaan verduidelik met betrekking tot waar ons in 2018 staan.”

Titus het saamgestem dat Afrikaans onder beleg is, maar meen ons moet nie noodwendig terugbaklei nie.

Steek hand in eie boesem

Titus het saamgestem dat Afrikaans onder beleg is, maar meen ons moet nie noodwendig terugbaklei nie.

“Ons moet kyk na oortuiging en na mense vir jou saak oorwen. Daar is geleenthede wat ons kan aangryp deur anders na dinge te kyk, deur meer tasbaar te wees in Suid-Afrika, in ons parlement, binne in die ANC; ons moet daai gesprekke strategies met mense aangaan en probeer om mense te oortuig.

“Regter Froneman (van die konstitusionele hof) sê baie duidelik aan AfriForum: ‘Julle moet ook hand in eie boesem steek, want as julle nie die kompleksiteite van Afrikaans aan ons as regters kan oordra nie, gaan ons ’n perspektief hê van ’n karikatuur van ’n Afrikaner en van hardvogtigheid – maak dit oop.’

“Dít is vir my die geleenthede wat daar vir ons vandag in 2018 bestaan. Ja, onder moeilike omstandighede, maar ons kan nie wil gaan slagoffers bly vir ewig nie.”

Eloff het gesê as dit gaan oor veg in Afrikaans, is daar eintlik net hofsake en optogte wat oorbly.

“Hofsake by die universiteite en optogte by die skole . . . Ons sal moet kyk na onafhanklike Afrikaanse skole en onafhanklike Afrikaanse universiteite, want ons gaan nié die geveg op institusionele vlak wen nie.”

Hy het verwys na die twee universiteite waar Afrikaans nog “ ’n bietjie gebruik word”: Noordwes-Universiteit en Universiteit Stellenbosch. By laasgenoemde word studente wat in Afrikaans onderrig wil hê, glo kwaai geïntimideer.

“Die intimidasie in Stellenbosch van ander studente, van personeel en indirek van die bestuur, om nié op Afrikaans aan te dring nie, is ontsaglik groot. So, ek gee Afrikaans nog drie jaar in Stellenbosch en dan is dit uit.”

Wat skole betref, is daar in die noordelike provinsies ’n aktiewe, politieke beweging om Afrikaans uit skole te kry, het hy gesê.

Volgens Eloff het die Trust vir Afrikaanse Onderwys, waarvan hy voorsitter is, saam met ander belanghebbendes pas die Afrikaanse Onderwysnetwerk begin.

“Dis ’n organisasie wat enige skool wat Afrikaans as onderrigtaal wil behou, sal ondersteun op ’n stoflike en niestoflike wyse.

“So daar is besig om uit die Afrikaanse gemeenskap mét Afrikaanse geld ondersteuning te kom sodat jy nie net na buite toe nie, maar ook na binne toe sê: Kom ons bly góéd en ons bly Afrikaans.”

Daar is tans ’n tekort aan 20 000 onderwysers in Suid-Afrika.

‘Afrikaans moet brûe bou’

Van Wyk het gesê Afrikaans kan gebruik word om ander inheemse tale te versterk.

“Afrikaans moet ’n brugbouer wees. Hoe kan ons ander inheemse tale versterk deur die Afrikaanse ervaring aan te wend om seker te maak dat op ’n dag isiXhosa, isiZulu, isiTswana, en ander ook, aangewend kan word sodat leerlinge in hul moedertaal kan studeer?”

Hy het verwys na die nypende tekort aan goed opgeleide onderwyspersoneel.

“Daar is tans ’n tekort aan 20 000 onderwysers in Suid-Afrika.

“Ek stel voor die regering moet dit ernstig oorweeg om onderwyskolleges te heropen, want die meeste onderwysers wat nog daar opgelei is, staan nou op aftreeouderdom en daar ontstaan nou ’n vakuum.

“Daar is dan ook ’n geleentheid vir Afrikaanse onderwys om versterk te word binne daai tipe opleidingskolleges.”

Die digter Poem Mooney het uit die gehoor laat weet dat die eerste inheemse mense en die Khoi-mense van Suid-Afrika brugbouers van die taal was.

“Ons moet teruggaan daarna sodat ons kan weet hoe is die taal geskep op die rûe van die vroue wat gewerk het in die kombuise en die kinders wat hulle op hul rûe gedra het. Hulle moes ’n middeltaal skep, ’n brugtaal.

“En vandag is Afrikaans die brugtaal. Ons het deur die medium van Afrikaans Nama geleer praat.

“Laat ons opstaan vir onse regte. Daar’s mos regte; dis nie net kinders wat regte het nie. Ons wat Afrikaans praat, het ook ’n rég om te praat in die taal wat vir ons die gemaklikste is.

“Ons moet opstaan vir Afrikaans en ons moet die boelies in die regering en die boelies wat op hoë stoele sit by die universiteite . . . Ons moet dáái mense begin vasvat en sê: ‘Op grond van my rég wíl ek hê Afrikaans moet bevorder word sodat daar ’n toekoms kan wees vir onse kinders in hierdie land.’ ”

  • Die onderwerp van vanoggend se laaste gesprek is: Hoe kry ons volpunte vir onderwys? Kom praat om 09:00 vir oulaas saam in die Netwerk24-feeskafee op die hoek van Baron van Rheede- en Voortrekkerstraat.
Meer oor:  Danny Titus  |  Taal  |  Afrikaans  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.