Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoekom die ‘nannies’ ons nie haat nie

Die liefde wat huiswerkers nie vir hul eie gesinne kon gee nie, het hulle vir hul werkgewers en dié se kinders gegee, sê Myrtle Witbooi, 'n vegter vir die regte van huiswerkers. Murray La Vita doen verslag.

Ena Jansen (middel) se boek Like Family is in ’n volgepakte Book Lounge in Kaapstad bekend gestel. Haar gespreksgenote was Sindiwe Magona (links) en Myrtle Witbooi. Foto: Izak de Vries

“Daar was nooit enige haat in ons harte teenoor ons werkgewers nie. Ons was lief vir daardie families, ons was lief vir die kinders asof hulle ons eie was. Ons het hulle selfs gerespekteer,” het Witbooi gesê.

“En al het ons menige aande gesit en huil in ons kamertjies; en al kon ons dikwels nie uitgaan nie omdat daar vir ons gesê is bediendes moet in hul kamers bly en word nie op straat toegelaat nie, was daar steeds geen haat nie.

“Ek probeer verstaan hoekom ek nie my werkgewer gehaat het nie, daardie mense wat gesorg het dat my man in hegtenis geneem word omdat hy te donker is om in ’n wit gebied te bly. Hoekom? Omdat die liefde wat ons nie vir ons eie gesinne en ons eie kinders kon gee nie, het ons aan hierdie gesinne en hierdie kinders gegee,” het Witbooi, wat vir jare lank ’n huiswerker was, bygevoeg.

Jy bly lief vir die kind al haat jy die ma. Om ’n kind, enige kind, groot te maak, raak jou hart.
Sindiwe Magona

Witbooi, algemene sekretaris van die South African Domestic Service and Allied Workers Union (Sadsawu), was in Kaapstad in gesprek met die skrywer en akademikus Ena Jansen en die skrywer Sindiwe Magona oor Jansen se boek Like Family.

Die boek, waarin die posisie van huiswerkers in Suid-Afrika verken word, het aanvanklik in Afrikaans verskyn as Soos familie en is intussen ook in Nederlands vertaal. Like Family, wat deur Jansen self vertaal is, het pas by Wits University Press verskyn.

Jansen dui onder meer in die boek aan hoe huiswerkers hulleself bevind “tussen stedelike en landelike omgewings, arm en ryk, wit en swart; en hoe hierdie vroue tegelyk intiem verbind is met die gesinne en families wat hulle dien, maar ook van hulle verwyderd is”.

‘Jy bly lief vir die kind’

Witbooi: “As julle ons met respek behandel, sal ons werk en ons sal na jul kinders omsien.” Foto: Izak de Vries

Magona het by Witbooi aangesluit deur te sê toe sy die eerste keer oorsee gegaan het, het mense vir haar gevra: Hoekom vergiftig huiswerkers nie net hul base nie? Hoekom maak hulle hulle nie dood nie? Sy het gesê: Néé.

“En ek sê nie huiswerkers het groter harte as ander mense nie. Maar die feit dat ons kwaad word vir die ma’s van kinders beteken nie dat ons die kinders sleg behandel nie.

“Jy bly lief vir die kind al haat jy die ma. Om ’n kind, enige kind, groot te maak, raak jou hart. ’n Volwasse vrou se instink is altyd om ’n kind te beskerm.”

Die gesprek het begin met Jansen wat Magona gepols het oor haar ervaring as ’n huiswerker.

Jy kan nie ’n huiswerker wees en jou kinders is ook huiswerkers nie.
Sindiwe Magona

“Daar is niks fout met enige werk nie. Om ’n behoorlike inkomste te verdien, om ’n dag se eerlike werk te doen, behoort ’n voorreg te wees wat álmal wat wil werk, kan geniet.

“Ek het egter ’n groot probleem daarmee wanneer ’n vrou in haar twintigs by ’n familie begin werk en vir 50 jaar of langer daardie werk bly doen; by daardie familie opeindig . . .

“Ek glo nie ’n mens moet jou hele lewe lank ’n huiswerker wees nie; jy moet van ander moontlikhede bewus gemaak word. Dit is niemand se aspirasie om ’n huiswerker te wees nie. Nie eens ’n huiswerker wil as huiswerker werk nie. Dit verwoes jou siel om ’n huiswerker te wees. Indien jy nie daarin kan slaag om uit so ’n werk te ontsnap nie, moet jy sorg dat jy jou kinders dit laat vryspring.

“Jy kan nie ’n huiswerker wees en jou kinders is ook huiswerkers nie. Ék het besef as ek aanhou om as ’n bediende te werk gaan dit ook my kinders se lot wees. Ek was in my twintigs en het ouer vroue ontmoet wat fisiek gesukkel het om op die bus te klim om te gaan werk, en dít het my laat besluit om ander werk te soek; ek wou nie óók in hierdie werk oud word nie,” het Magona gesê.

‘Huiswerk het ons sterk gemaak’

Magona: “Ek glo nie ’n mens moet jou hele lewe lank ’n huiswerker wees nie.” Foto: Izak de Vries

Witbooi het vertel haar kind was twee maande oud toe sy haar vir haar ma moes gee omdat sy nie toegelaat is om haar by haar te hê waar sy as huiswerker in diens was nie.

“So, ek het daardie kindjie in my arms geneem en ek het op ’n bus geklim en haar vir my ma gaan gee. Ek het haar eers ’n jaar later weer gesien.

“Tot vandag toe het ek nie die verhouding met my dogter wat ek sou wou gehad het nie, want toe sy uiteindelik by my kom bly het, was sy nie seker of sy my Myrtle of Ma moet noem nie.

“Maar wat ek wil sê, is: Huiswerk het ons baie sterk gemaak. Ek is nie daaroor skaam dat ek ’n huiswerker was nie. Hier is vanaand huiswerkers hier saam met my: Christine, Gladys, Susan . . . Dit het my die vrou gemaak wat ek vandag is. Ons het almal ’n innerlike krag, en daardie krag het in my ontwaak toe ek ’n huiswerker was.

“Die vrou vir wie ek gewerk het – ons was ewe oud – het vir my gesê: ‘Daar is nie wette wat jou kan beskerm nie.’ Toe sê ek vir haar: ‘Kom ons maak die wette hier in hierdie kombuis.’ Sy sê toe: ‘Reg.’ En ek sê: ‘Jy het ’n dagboek en ek het ’n dagboek.’

“Toe begin ek notas maak van wat gebeur . . . En toe het ek besef sy is ’n vrou net soos ek; sy mag dalk my meerdere wees; sy gee dalk vir my opdragte, maar ek het die reg om vir haar ja en nee te sê.

Maar daar is steeds onderdrukking. Steeds verdien ons minderwaardige lone.
Myrtle Witbooi

“En vandag sit ek hier voor julle as iemand wat al 50 jaar vir die regte van huiswerkers baklei. Nie veel het vir ons verander nie. Ja, ons is nou vry. Ja, ons mag nou in die strate loop. Ja, ons mag in dieselfde winkels as julle koop. Ja, ek mag in ’n vliegtuig vlieg. Ja, ons mag ál die dinge doen, maar daar is steeds onderdrukking. Steeds verdien ons minderwaardige lone. As jy na die nasionale minimum loon kyk, sal jy vind huiswerkers is nie daarby ingesluit nie. Waarom? Gaan ek nie na die winkel toe en betaal presies dieselfde as jy vir kos nie?

“Ek wil, soos jy, vir my kinders die beste gee. Dit is waaroor dit vandag gaan in die lewe van huiswerkers: Ons wil net vir ons kinders die beste gee.”

‘Tuna, nie pilchards nie’

Sy onthou toe dit met haar beter begin gaan het en sy een dag saam met haar dogter winkel toe gegaan het.

“My dogter sê toe: ‘Kom ons koop dít.’ Toe sê ek: ‘Nee, ek wil koop wat ek moes koop toe ek in daardie wit kombuis gewerk het – ek het tuna gekoop, so moenie vir my sê ek moet nou pilchards koop nie.’

“Dít is wat dit aan ons gedoen het; dit het ons laat besef dat ons kán. Al drie my kinders het ’n opvoeding ontvang. En vandag sit ek voor julle en ek sê vir my medewerkers: Ons sal nooit skaam wees dat ons huiswerkers is nie. Ál wat ons vra, is dat ander vróúe ons respekteer, want selfs in ons eie gemeenskappe sien vroue neer op ons as huiswerkers. Ál wat ons vra, is dat ons werkgewers ons respekteer. As julle ons met respek behandel, sal ons werk en ons sal na jul kinders omsien.”

Die eerste ‘nanny’

Jansen: “Hierdie boek probeer om soveel stories as moontlik te vertel.” Foto: Izak de Vries

Jansen het gesê haar boek begin met die storie van Krotoa wat die eerste “nanny” in Suid-Afrika was – vir die Van Riebeeck-gesin – maar ook ’n belangrike tolk.

“Toe ek een keer van Amsterdam af terugkeer, het ek skielik besef dit was nie net Krotoa/Eva wat ’n tolk was nie; élke huiswerker is ’n tolk. Sy is in jou huis, maar jy het nie ’n benul wat in háár huis aangaan nie.

“So, die eerste deel van my boek is oor Krotoa en dan oor slawevroue en hoe hul posisies die kultuur geskep het waarin wit mense verwag dat swart hande die werk vir hulle moet doen. Dít is waar die hele kultuur in hierdie land begin het wat swart mense daartoe verdoem het om die vermoeiende en harde werk te verrig.

“Persoonlike verhale deur mense soos Sindiwe en Es’kia Mphahlele, maar ook deur wit skrywers waarin hulle vertel hoe hulle hul jeug onthou, is baie belangrike dele van die boek waardeur ek ’n kaleidoskopiese blik probeer kry het op, soos ek dit noem, die biografie van huiswerkers.

“Hierdie boek probeer om soveel stories as moontlik te vertel. Dit is hoekom ek begin by die swart vroue wie se stories versamel is deur byvoorbeeld die Black Sash en Ravan Press.

“Ek kyk ook na literêre tekste, want ek beskou literatuur as ’n argief waarin representasies van huiswerkers en natuurlik allerhande families gedokumenteer is. Die huiswerker het dikwels ’n baie klein rolletjie in ’n roman, soos in ’n roman van Ingrid Winterbach [Landskap met vroue en slang] waarin sy praat oor Faith Mbatha wat leef ‘op die grens tussen skaarste en oorvloed’.

Die kind leer: Dít is nie wat ek wil wees nie.
Ena Jansen

“Dit is net een sin, maar dit gryp jou aan wanneer jy hierdie vrou sien in haar baie klein teenwoordigheid in die roman. Dit aksentueer die reuse-verskille tussen mense [ryk en arm].

“En dan is daar natuurlik Marlene van Niekerk se ongelooflike roman Agaat, wat na my mening die mees omvattende en monumentale verkenning is van die meester-kneg-verhouding in Suid-Afrika.”

Sy het daarop gewys dat teoretici meen die praktyk van huiswerkers perpetueer rassisme, want dit is die eerste plek waar ’n wit kind ’n swart mens van naby beleef, en die enigste verskil tussen ’n “nanny” en die kind se ma is dat die ma uitgaan en ’n suksesvolle loopbaan mag hê terwyl die swart vrou klaarblyklik afhanklik is.

“Die kind leer: Dít is nie wat ek wil wees nie. Hoe lief ek ook al vir Sophie is, ek wil nie soos sy wees nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.