Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoekom g’n opposisie in kabinet?

Vir die eerste keer sedert 1994 is daar geen opposisielede in ’n Suid-Afrikaanse kabinet nie, skryf Jan-Jan Joubert.

Met die onlangse kabinet­skommeling het pres. Cyril Ramaphosa stilweg ’n einde gemaak aan ’n tradisie wat reeds ’n kwarteeu terug strek – dat ’n Suid-Afrikaanse kabinet altyd ’n minister of adjunkminister van ’n opposisieparty het.

Sedert Februarie is dit egter net ANC-lede. Die redes daarvoor kan velerlei wees, soos ons hieronder sal sien.

Oudpres. Nelson Mandela se opneem van nege opposisieministers in sy kabinet in 1994 was nie net uit die goedheid van sy hart nie. Die oorgangsgrondwet, wat van 1994 tot 1996 gegeld het, het bepaal dat enige party wat meer as 5% stemme in die 1994-verkiesing trek, proporsioneel geregtig was op kabinetsverteenwoordiging. Die Nasionale Party (NP) het dus ses (plus ’n adjunkpresident, omdat hulle meer as 20% van die stemme gekry het) en die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) drie ministers in die 1994-kabinet gehad.

Dit was wel waar dat Mandela graag meer bekwame opposisieleiers in sy kabinet wou hê. Hy het byvoorbeeld later in sy termyn Tony Leon, leier van die destydse DP, gevra om in die kabinet te dien, maar Leon het nee gesê, omdat hy en die DP gemeen het dis belangriker om ’n sterk opposisie tot die ANC te vorm.

Die oorgangsgrondwet se waarborg van kabinetsverteenwoordiging het nie in die finale Grondwet van 1996 voorgekom nie. Die NP het dus in 1996 hul ministers en adjunkpresident onttrek met die doelwit om op hul taak as opposisie te fokus, hoewel die IVP hul ministers tot 1999 laat dien het.

Hul les is geleer oor wat met hul ondersteuningsvlak gebeur as hulle met die ANC saamwerk.

Ná die 1999-verkiesing het pres. Thabo Mbeki drie IVP-ministers in sy kabinet behou, al was hy nie meer onder die verpligting om dit te doen nie. Hoewel die ANC en die IVP dit ontken het, is Mbeki se besluit waarskynlik beïnvloed daardeur dat geen party in 1999 ’n volstrekte meerderheid in die KwaZulu-Natalse provinsiale verkiesing behaal het nie en die IVP ’n koalisievennoot in die provinsie gesoek het. Die IVP het die ANC as provinsiale koalisievennoot gekies en IVP-leiers het tot in 2004 in die nasionale kabinet bly dien.

In 2004 het Mbeki die IVP-ministers uit die kabinet gelaat, maar twee ander opposisiepartye betrek. Mosibudi Mangena van Azapo het minister van wetenskap en tegnologie geword (en bedank toe Mbeki in 2008 bedank het), en die UDM van Bantu Holomisa het verseker dat die ANC ’n werkbare meerderheid in KwaZulu-Natal kry deur saam met die ANC te stem in die wetgewer. Terselfdertyd het die UDM se onderleier, Ntopile Kganyago, ’n adjunkminister in die Mbeki-regering geword (en tot en met sy dood in 2012 dit onder presidente Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma gebly).

In 2009 het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, ’n adjunkminister in die Zuma-regering geword en dit gebly tot 2014. In 2014 het Zuma vir Mulder uitgelaat, maar die Nasionale Vryheidsparty (NVP) se leier, Zanele Magwaza-Msibi, as adjunkminister ingesluit (ná die NVP se besluit om in KwaZulu-Natal op munisipale vlak met die ANC saam te werk).

Dié lankgevestigde tradisie is egter nou deur Ramaphosa verbreek.

Hiervoor kan daar vier moontlike redes wees. Die eerste twee redes is generies eerder as uniek, en geld in enige politieke stelsel: Dit kan wees dat Rama­phosa meen dis gewoon nie ’n goeie idee om opposisielede in die kabinet te hê nie of dat die opposisielede nie juis ’n bydrae te lewer het nie.

Die twee ander redes is egter interessanter en meer waarskynlik.

Eerstens is dit duidelik dat Ramaphosa kompromieë aangegaan het by die aanstel van sy kabinet in Februarie. Dit was trouens Rapport wat onthul het in watter mate Ramaphosa polities gyselaar gehou is deur adj.pres. David Mabuza. Dit verklaar hoekom ministers soos Bathabile Dlamini (vrouesake), Malusi Gigaba (binnelandse sake) en Nomvula Mokonyane (kommunikasie) in die kabinet oorleef het.

Dit verklaar ook hoekom Ramaphosa sy kabinet met so ’n begrafnisgesig aangekondig het en hoekom daar voorlopig dadels gekom het van sy belofte om die hoeveelheid kabinetslede te verminder.

Die laaste rede waarom ons nou met ’n volkome ANC-kabinet sit, kan wees dat opposisiepartye nie saam met die ANC in dieselfde span wil trek nie. Dit geld beslis die DA en die ACDP.

Wat baie mense tans in hul verstaanbare en gegronde kommer oor die grondkwessie miskyk, is die swak verhouding tussen die ANC en die EFF oor ’n veelheid kwessies.

Omdat die EFF-leier, Julius Malema, se rasgedrewe stellings in sy toespraak twee weke gelede in Port Elizabeth al die aandag en nuusdekking getrek het, het die meeste mense sy opruiende stellings teen die ANC en Ramaphosa misgekyk.

Dit is dalk goed om te onthou dat die EFF met die ewige probleem van derde grootste partye wêreldwyd sit: Hulle moet tegelykertyd stry en relevant bly teen twee groter opponente – en ’n stryd aan twee fronte verswak intensiteit.

Ander groterige opposisiepartye het al hul les geleer oor wat met hul ondersteuningsvlakke gebeur as hulle met die ANC saamwerk. Hieronder tel die IVP, die UDM en die VF Plus.

Wat interessant was van die onlangse pogings tot ’n mosie van wantroue in Nelson Mandelabaai was dat twee klein partye wat eintlik maar altyd hul gewig by die ANC ingooi – die bruin nasionalistiese Patriotic Alliance (PA) van Gayton McKenzie, en die Matatiele-gewortelde African Independent Congress (AIC) – hierdie keer die onderneming gegee het om teen die ANC te stem.

Duidelik is daar dinge in die ewig veranderende opposisie-kookpot aan’t roer wat samewerking tussen die ANC en opposisiepartye bemoeilik. Dit lyk dus in die huidige omstandighede waarskynlik dat ons tot in 2019 vir die eerste keer met ’n volkome ANC-kabinet gaan sit. Daarna hang dit af van wat die kiesers besluit en is koalisies of samewerkingsooreenkomste meer waarskynlik as wat dit tans is.

* Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer. Sy boek Wie gaan regeer in 2019? verskyn eersdaags.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.