Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoekom kyk ons sepies?

Sepies word lankal nie meer net deur vroue gekyk nie, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Verlede Dinsdagaand op Bellville-stasie se taxi-staanplek hardloop ’n man ’n vrou byna disnis om voor haar by die taxi te kom.

“Hei, djy vra nie iens sorry nie!” skreeu sy agterna terwyl sy opstaan en die stof van haar klere afskud.

“Néé, wiet ma dan nie . . . daai ou is ’n ‘soapie-kop’. Hy hatloep om vi’ Siewende Laan te gat kyk!”

Ek glimlag.

’n Vriendin van die verontwaardigde vrou, wat net-net die hardlopende man ontduik het, sê vir my as sy my glimlag sien: “Wiet Menee’, ek’t gedink dis net vrouens wat mal soe is oo’ soapies, maar is mans . . . hulle is erger. Sorg dat hulle eerste innie taxi’s kom. Wyl o’s die mense is wat moet gan kosmaak!”

Verkeerd is sy nie. Volgens die historikus Bill Jaker het die Amerikaners die eerste radiodrama of sepie, A Rural Line on Education, in 1921 oor ’n Pittsburghse radiostasie uitgesaai. Dié radiodrama was uitsluitlik vir huisvroue geskryf.

Sepies op televisie sou eers later volg en was aanvanklik in swart-wit. Heel gepas is na radiodramas as “theatre for the mind” verwys.

En televisie? Wel dan seker maar “theatre for the mindless!”

Dis ’n soap opera genoem omdat die radiostasie advertensies vir seep- of waspoeier van maatskappye soos Procter & Gamble, Colgate, Palmolive en Lever Brothers op strategiese tye uitgesaai het.

Van daai beskeie begin tot vandag slaag sepieskrywers steeds in hul doel; naamlik om huisvroue eintlik ’n kansie te gee om vir ’n wyle van hul sleurtake weg te breek en na eksotiese plekke weggevoer te word.

Maar deesdae is mans ’n kortkoppie agter hulle.

Radiosepies word rolprente

Painted Dreams van Irna Phillips is op 20 Oktober 1930 in Chicago as die eerste sepie op televisie uitgesaai. Dit was gedurende die dag gebeeldsend.

Plaaslik word steeds met groot nostalgie gepraat van radiotrefferreekse soos Die Du Plooys van Soetmelksvlei, Die Geheim van Nantes, Dans van die Flamink, Die Banneling en Wolwedans in die Skemer.

Hierdie sepies was so gewild dat hulle ook groot lokettreffers in die bioskope was.

Bekendes verskyn van tyd tot tyd in sepies, soos wyle André P. Brink wat in 7de Laan te sien was. Foto: Argief

Die Britte het van die Amerikaners se suksesse gehoor en hul voorbeeld gevolg. Ander lande het ook nie op hulle laat wag nie.

Kyk ’n mens terug na die tradisies van sepies, kom jy agter dat baie, soos Coronation Street, East Enders, All My Children en selfs Days of Our Lives, oorleef het omdat hulle die perfekte resep gevolg het.

Een bestanddeel was/is dat elke episode op ’n hoogtepunt of krisis moet eindig.

Om verdere skuim by die sepies te voeg maak politici, sporthelde, sangers en selfs bekende skrywers kortstondige verskynings om dit so relevant as moontlik te hou.

En aan die einde van ’n seisoen is dit met ’n cliffhanger (spannende einde) afgesluit.

Wie sal die toneel in Dallas vergeet waar JR Ewing van agter geskiet is en die vraag “Who shot JR?” wat in die lug gehang het?

Of die grusame vliegongeluk waarop die tiende episode van Grey’s Anatomy geëindig het en die landing in ’n ruie onherbergsame gebied.

Om verdere skuim by die sepies te voeg maak politici, sporthelde, sangers en selfs bekende skrywers kortstondige verskynings om dit so relevant as moontlik te hou.

Elizabeth Taylor het dalk hierdie saadjie geplant toe sy, op eie versoek nogal, gevra het om as ’n gas na die huweliksonthaal van Luke Spencer en Laura Webber in General Hospital, ’n immergewilde Britse sepie, genooi te word.

Karakters in sepies gehaat en geliefd

In feitlik alle sepies is daar ’n karakter of twee wat met ’n verterende passie gehaat word. Wie sal Rich Man Poor Man se Falconetti met die een oogklap vergeet? En die massa-histerie toe hy hier aangekom het en die polisie op die lughawe moes bontstaan om ’n skare haters van hom af weg te hou!

En nader aan die huis was niemand so gehaat soos Gita McGregor van 7de Laan-faam of Cherelle de Villiers van Isidingo: The Need nie.

Moet ook nie van JR Ewing vergeet nie. Hy het dikwels gesê: “I don’t get ulcers . . . I give them!”

Nadat hy in die rug geskiet is, het ’n ongekende gevoel van verlies onder verskeie kykers posgevat, amper asof hulle iemand in hul eie familie verloor het.

Christo Davids wat die rol van Errol in 7de Laan vertolk het. Foto: Argief

’n Suster van ’n sekere kerk het haar dit so aangetrek dat sy met swart klere, kompleet met mantillatjie, na die daaropvolgende Woensdagaand-biduur is. Daar sou sy “in besonders vir JR, wat vanaand daar in ’n hospitaal in Southfork se intensive kêr joenit, lê, buitenshoop en onder drippe en pype, Here!”, bid.

Speedo Wilson, ’n akteursvriend van my van Marabastad, Pretoria, wat Dan Williams in Generations vertolk het, vertel: “Man, ek het die vorige aand my vrou, Matty Williams, gespeel deur Sharleen Surtie-Richards, ’n taai klap gegee.

“Die volgende middag sit ek in ’n kroeg en teug aan ’n bier toe iemand my van agter ’n geweldige kopklap gee dat my bier dáár trek. Toe ek omkyk en vra wat aangaan, was dit so ’n groot boerseun wat sê: ‘Ek donder jou, want ek het gesien hoe jy vir Matty slaan!’ Die kroegman moes omtrent verduidelik dat dit nie regtig was nie!”

Christo Davids (Errol in 7de Laan) vertel ook soms, as teken van selfspot, dat as hy by ’n plek opgemerk word, vra kykers kliphard: “Wiet auntie Charmaine lat djy hieso is?”

Dit belig natuurlik weer ’n ander kwessie, naamlik dat sepiesterre, soos sporthelde, volksbesit word en soms glad nie op privaatheid in openbare plekke kan aandring nie.

Diegene wat jou nie net aanstaar nie, sal soms, in ’n restaurant selfs oorleun om te sien watter kos op jou bord is.

Mense wil wegkom van hul eie probleme en is altyd op soek na ander wat slegter of beter as hulle daaraan toe is.

Hoekom kyk mense sepies?

Wel, sielkundiges meen dat mense wil wegkom van hul eie probleme en altyd soek na ander wat slegter of beter as hulle daaraan toe is.

Solank daar dus arm én ryk mense is, sal sepies waardeer word . . . en vroue soms deur mans uit die pad gehardloop word vir ’n sitplek in die minibus-taxi!

* Fransman jr. is ’n skrywer en vryskutjoernalis.

Meer oor:  Willem Fransman Jr  |  Jr Ewing  |  Sepies  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.