Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Hoekom moet seksualiteit jou van band met God weerhou?’

Baie gelowiges het nog ’n lang pad om te stap voordat hulle hul naaste so liefhet soos hulself, skryf Renaldo Schwarp in hierdie uittreksel uit Skeef: Alles wat jy van LGBTIQ-wees wil weet.

Indien jy gewonder het, die goeie nuus van Jesus is dat jy Hom kan volg en aanbid en ook ’n toegewyde gay­verhouding kan geniet. Die twee is nie wedersyds eksklusief nie. Iets waarvoor Laurie Gaum, seun van Frits Gaum, al meer as 15 jaar veg.

Laurie is ’n gay proponent van die NGK en hy het by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad en by die Hartford-seminarie in Connecticut studeer. Hy’t vroeër twee gemeentes bedien, maar deesdae konsulteer hy en bied werksessies aan, onder meer in genderversoening. Ek het Laurie die eerste keer in 2019 ontmoet, by die jaarlikse kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai. Dit was toe Skeef uitgekom het, en as deel van die fees is ek genooi om deel te neem aan ’n paneelgesprek oor my dokkie en Adam Heyns se Exorcist of Apartheid, wat ook by die fees gedraai het.

Die onderwerp vir ons gesprek: “In die ou bedeling het die apartheidsbeleid die NG Kerk skerp verdeel en nou dreig die gay-debat om die kerk te skeur.”

Daar is steeds baie pushback hieroor, want daar is homofobe wat weerstand bied in die kerk en ook buite.
Laurie Gaum

Dit was die eerste keer dat ek so openlik oor my posisie en ervaringe met geloof gepraat het, en dit nogal voor die who’s who van die plaaslike mediabedryf. Laurie was ook in die paneel en dit is hier waar ek die “gay-kwessie” in ’n veel groter konteks begin sien het.

“Daar is steeds baie pushback hieroor, want daar is homofobe wat weerstand bied in die kerk en ook buite,” sê Laurie.

Hy noem dat die weerstand eintlik maar net ’n vrees vir die onbekende is. Die vrees is by hulleself, wat gays tot elke prys net wil uithou omdat hulle so ongemaklik daarmee voel. Dit is deel van die vernuwing wat hulle nie kan aanvaar nie, en dis gewoonlik heteroseksuele mans wat bedreig voel en dan dit op weerlose mense, soos queer mense, projekteer.

Vir baie is die kerk nog die laaste outpost van die bekende waar ons beheer kan toepas, is dit die een plek wat “suiwer” gehou moet word en dit is wanneer die Bybel gebruik word, letterlik gebruik word.

Deur gebed op die ‘straight and narrow’

renaldo
Renaldo Schwarp: “Ek het grootgeword in ’n godvresende gesin, dus het die kerk ’n groot rol gespeel in my onsekerhede oor myself en my seksualiteit."

Die letterlike interpretasie van die Bybel binne ’n konteks wat nie meer van toepassing is nie, moet verwerp word. Die kerk moet homself vra waar hy ten opsigte van die gay-kwessie staan. Mense wat die Bybel ken, weet dat Jesus, en God self, Hom gewoonlik skaar by dié op die rand van die samelewing.

Ek het grootgeword in ’n godvresende gesin, dus het die kerk ’n groot rol gespeel in my onsekerhede oor myself en my seksualiteit.

My moeilike verhouding met Christenskap, en gepaardgaande anti-LGBTIQ+-uitkyke, het telkens in my kinderjare opgeduik: In die ekonomieklas in my gr. 10-jaar, toe my onderwyser voor ons les oor inflasiekoerse ’n tien minute lange preek oor Levitikus afsteek. Of toe my tannie, verontwaardig oor ’n gay TV-­karakter, te kere gegaan het oor hoe die wêreld agteruitgaan en ons almal weer Jesus moet vind.

Die meeste LGBTIQ+-Christene wat ek teëkom, het soortgelyke verhale, of erger. Talle is deur die kerk en kerkmense verniel.

Die laagtepunt was in my eerste jaar toe ek ’n koshuismaat in my vertroue neem oor my seksualiteit. Hy het my beleefd meegedeel dat my gevoelens nie van God af kom nie, en het my die volgende week na sy selgroep genooi om my deur gebed op die straight and narrow te kry.

Ek kan aangaan.

Die meeste LGBTIQ+-Christene wat ek teëkom, het soortgelyke verhale, of erger. Talle is deur die kerk en kerkmense verniel.

Ons sien steeds “God haat gays”-plakkate by Pride-optogte, omskakelingsterapie is steeds ’n konsep wêreldwyd, en politici gebruik steeds geloof en die Woord van God om anti-LGBTIQ+-wetgewing te proklameer. Waarom doen ons, as gays, dan die moeite om terug te gaan na plekke en mense wat ons seergemaak het?

Dit is belaglik om te dink dat mense se seksualiteit en identiteit hulle van ’n verhouding met ’n god moet weerhou. Dit is nog belagliker om te dink dat hierdie tipe besluit deur ’n paar hooggeleerdes in ’n kerk ge­maak word.

’n Gay predikant by die NGK

Dr. Louis van der Riet tydens een van sy eerste preke by die Parke-gemeente van die NG Kerk in Kraaifontein. Hy het die eerste openlike gay proponent geword wat hier deur die NGK as leraar beroep is. Foto: Jaco Marais

Hoewel uiters frustrerend, moet ons ’n lansie breek vir die NGK – dit was immers een van die eerste kerke wat moedig ’n gesprek hier­oor begin voer het.

Op 17 Februarie 2019 is daar binne die NGK geskiedenis gemaak. ’n Week ná sy dertigste verjaarsdag het dr. Louis van der Riet (die predikant wat Donovan en Tim se troue bevestig het) die eerste openlik gay proponent geword wat deur die NGK as leraar beroep is.

Sy aanstelling was natuurlik voorbladnuus: “Gay predikant by NG­ gemeente verwelkom,” met ’n foto van hom op die kansel met sy blougrys oë en stoppelbaard.

In vergelyking met die Laurie Gaums van die wêreld wat deur die kerk verstoot is, het Louis van der Riet minder trauma en pyn ervaar toe hy in 2016 die eerste keer op Facebook oor sy seksualiteit geskryf het.

Dr. Louis van der Riet stap na die kansel vir een van sy eerste preke by die Parke-gemeente in Kraaifontein. Hy werk nie meer by dié kerk nie. Foto: Jaco Marais

Ek onthou Louis van universiteitsdae. Hoewel tokkelokke en dramastudente soms aan wyd uiteenlopende kante van die spektrum val en meestal min met mekaar te doen het, was Louis een van daardie studente van wie jy gewéét het. ’n Toppresteerder: hoofseun van die Hoërskool Stellenberg in Bellville, ondervoorsitter van die studenteraad, huiskomiteelid van sy koshuis, top-meestersgraadstudent aan die fakulteit teologie, ensovoorts.

Hy het vanaf ’n jong ouderdom ’n goed gebalanseerde lewe gelei. Hy het in ’n huishouding van vier broers grootgeword waar hy tot sy reg gekom het. Sy pa, dr. Fred van der Riet, is ’n dokter in funksionele genees­kunde en sy ma, Marita, is ’n kliniese sielkundige. Sy ouers het hom baie ruimte gegun en het begrip vir wie hy is.

Toe hy 18 was, het hy die vrymoedigheid gehad om met sy ouers oor sy seksualiteit te gesels. Hy onthou min van daardie gesprek en het nog ses jaar daardie deel van sy lewe relatief privaat gehou.

Gesprekke ‘gaan oor mag en beheer’

Laurie Gaum en sy ma, Henda, in die hooggeregshof in Pretoria op 8 Maart 2019, toe die hof bevind het die NG Kerk moet sy beleid oor selfdegeslag-verhoudings wysig. Foto: Facebook

Ek het geweet ek moes myself beskerm, want ek het nie veilig gevoel in die samelewing nie. Dit het tyd gevat om daardie ontwikkelingsfase van wie ek is te vind – voordat ek dit aan die groot klok kon hang.

Ek wou my roeping met integriteit uitleef, maar daar was nie ruimtes daarvoor nie.

Sy studie van teologie het hom die belangrikheid van ondersteuning geleer. Dit was nie maklik te vinde nie, veral vir ’n gay Christen.

“In daardie stadium, weens my blootstelling, het ek nie die taal gehad om te praat oor my geloof en my seksualiteit nie. So, die slow progression het my gehelp om die konneksies te sien tussen patriargie, gender en ras in die kerk.”

Louis meen daar was altyd ’n openlikheid oor seksualiteit by dosente, maar ongelukkig, as gevolg van kerkpolitiek, was dit nie die geval in die kerk nie.

“Die gesprekke in die NGK tussen middeljarige mans gaan oor mag, dit gaan oor beheer. Die kerklike gesprek is amper nie eerlik genoeg nie.”

Laurie Gaum by die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit, waar hy destyds gewerk het. Hy’t vroeër twee gemeentes bedien, maar deesdae konsulteer hy en bied werksessies aan, onder meer in genderversoening. Foto: Michael Hammond

Op 17 Februarie 2019 het sy lewe onherroeplik verander, syne en dié van gay NGK-lidmate wat vertroue in die kerk en sy boodskap verloor het. Hy sien homself glad nie as ’n aktivis nie en wou ook nie ’n statement maak nie; tog onderskat hy nie die waarde van sy aanstelling nie. Vir hom is die aanvaarding van alle mense die hoofsaak.

“Mense, meestal van die platteland, het boodskappe gestuur toe ek bevestig is. Dit was vir hulle ’n verligting, want dit wys die kerk sê dit is oukei.”

Die gevegte oor gay-wees in die kerk het veral oor die laaste vyf jaar van fokus verander – vanaf “welkom voel” tot die insluiting van LGBTIQ+­mense, hul lewensmaats en gesinne tot verteenwoordiging op alle vlakke van die kerk, ook op bestuursvlak.

Daar is reeds baie vordering op eie bodem gemaak, maar ek wens ek kon hier skryf oor hoe welkom LGBTIQ+-mense voel wanneer hulle kerk toe gaan of daaraan dink. Die werklikheid is egter dat baie gelowiges nog ’n lang pad het voordat hulle hul naaste so liefhet soos hulself.

Aanvaarding moet nog daadwerklik geskied in bykans alle gelowe, nie net onder Christene of in die NGK nie.

Geloof is iets waaraan mense kan vashou. Dis emosioneel en kosbaar en om dit uit te daag, is moeilik. Gooi daarby nog die kwessie van openlik gay wees, dan is die gort behoorlik gaar.

‘Dit is wie ek is’

Dr. Louis se heel eerste taak as leraar was om die vertroue van die kerk te wen.

“Daar is gevrees dat ek die kerk sal verdeel. Ek wou net hê hulle moes luister na my as gay. Dit is my realiteit. Wat die kerk nog nie verstaan nie, is dat hy moet leer om aan te sit by die tafel van gays.

“Ek het net gesê dit is wie ek is, en ek gaan nie ’n geheim daarvan maak nie. Dit het ’n groot impak op die gemeente gehad. Mense wat ongelukkig was, het eenvoudig geloop. As jy vir mense sê jy is gay, is daar ’n lys stereotipes waaraan hulle dink, soos jy is losbandig, jy dink net aan seks. Sommige mense dink dus Saterdagaande is jy losbandig en Sondae preek jy vir ons. Dis vir hulle onversoenbaar en sonde.”

Georganiseerde godsdiens en seksualiteit was nog nooit goeie bedmaats nie.

Om met integriteit en heelheid met seksualiteit saam te leef, is ’n stryd.

Georganiseerde godsdiens en seksualiteit was nog nooit goeie bedmaats nie: Interpretasies van godsdienstige tekste, van die Bybel tot die Koran, word gebruik om aan te voer dat dit sonde is om gay te wees.

Die onus berus egter nie net by die kerk nie, maar ook by ons en ons bondgenote. Ons gaan op die een of ander manier saam moet werk om verandering te bring. Dit is dus noodsaaklik dat LGBTIQ+-mense wat daarmee gemaklik is, hul stories binne geloofsgemeenskappe deel. Dit bied dan die geleentheid vir die geloofsgemeenskap om ons taal aan te leer. Ons kan nie van inklusiwiteit en gasvryheid praat wanneer geloofsgemeenskappe nie die regte taal het nie.

Skeef: Alles wat jy van LGBTIQ-wees wil weet, word deur Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa-uitgewers, uitgegee en kos R195.

Meer oor:  Laurie Gaum  |  Fritz Gaum  |  Renaodo Schwarp  |  Louis Van Der Riet  |  Christenskap  |  Bybel  |  Gay Regte  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.