Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoekom ons Cyril ’n kans moet gee

Mense is verward: Enersyds is hulle opgewonde oor pres. Cyril Ramaphosa, maar andersyds is daar die ANC se plan om grond sonder vergoeding te vat. Murray La Vita doen verslag.

Pres. Cyril Ramaphosa maak die name van sy nuwe kabinetslede bekend. Foto: Felix Dlangamandla

Dít is een van die kwessies wat op die eerste van die gesprekke in die Frederik Van Zyl Slabbert-gespreksreeks op die Stellenbosse Woordfees aan die bod gekom het.

Joel Netshitenze, onder meer lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en beleidshoof onder oudpres. Thabo Mbeki, het gesê die uitkoms van die ANC se nasionale kongres in Desember bevestig dat Suid-Afrikaanse politiek na links beweeg het.

“Na my mening kan ons slegs ekstreme linksgesinde retoriek oorbodig maak as ons tasbare vordering daarmee maak om armoede en ongelykheid te takel.”

Die enigste wyse waarop ons die kongres kon red, was om die formulering met sekere kwalifiserings te aanvaar.

Hy het ’n kykie gegee in hoe daar by die kongres omgegaan is met die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding.

“Daar was talle sterk argumente daarteen, maar diegene wat ten gunste van daardie benadering was, het ontwrigtend en selfs gewelddadig begin optree. Die enigste wyse waarop ons die kongres kon red, was om die formulering met sekere kwalifiserings te aanvaar, naamlik dat dit nie ’n negatiewe uitwerking op voedselsekerheid moet hê nie en nie die landbousektor en die ekonomie as geheel moet benadeel nie.”

Hoe moet ons op hierdie verandering in die politieke klimaat reageer?

“Dit is ons almal se verantwoordelikheid om die groen lote van vernuwing in die Suid-Afrikaanse politiek te koester. Dit is onder meer nodig om die ekonomie vinniger te laat groei. Maar hierdie positiewe optrede moet gepaard gaan met waaksaamheid om seker te maak dat daardie impuls vir selfkorreksie wat ons by pres. Cyril Ramaphosa sien, volgehou kan word.”

Dit is ons almal se verantwoordelikheid om ’n verskroeide-aardebeleid te vermy deur saam te werk en saam ons lot as ’n verenigde nasie te omarm.

Hy het gemaan teen ’n burgerlike samelewing wat nou eufories is, maar mettertyd weer passief kan word.

“En die bevoorregte deel van die gemeenskap, veral die sakegemeenskap, behoort hierdie uitkoms en die opkoms van Ramaphosa te vier wat beleggings, empatie vir die armes en inklusiwiteit betref.

“Dit is ons almal se verantwoordelikheid om hierdie matig optimistiese scenario te skuif na ’n werklik optimistiese een . . . En dit is ons almal se verantwoordelikheid om ’n verskroeide-aardebeleid te vermy deur saam te werk en saam ons lot as ’n verenigde nasie te omarm.”

Katastrofies vir DA

Melanie Verwoerd, politieke kommentator en oud-ANC-LP, meen ons moet verstaan in welke moeilike posisie Ramaphosa hom bevind.

“Sy probleme gaan nie van die opposisie af kom nie . . . Wat nou aan die gang is, is katastrofies vir byvoorbeeld die DA. Hul peilings wys dat hul steun onder swart mense verlede jaar met bykans 20% gedaal het. Van Desember tot Januarie het dit met omtrent 6% geval.

Tim du Plessis, Joel Netshitenzhe, Melanie Verwoerd en Theuns Eloff tydens vanjaar se eerste gesprek in die Frederik Van Zyl Slabbert-gespreksreeks op die Stellenbosse Woordfees. Foto: Murray La Vita

“Cyril se probleem is die feit dat hierdie Zuma-faksie verswak is, maar hulle is nie weg nie. Dis hoekom ons dan goed sien soos wat met die kabinetskommeling gebeur het; dat daar kompromieë aangegaan móés word.”

Ramaphosa se tweede probleem is dat ons ’n verkiesingsjaar tegemoet gaan.

“Die meeste van die ANC se steun lê steeds onder mense bo 45. As jy vir hulle vra: ‘Is ras vir jou ’n probleem?’ dan sê die meeste volgens peilings: ‘Nee, dit is nie meer nie.’ Die tweede ding wat ons vir hulle gevra het, is: ‘Wat dink julle gaan die grootste verskil maak in jul lewens: radikale ekonomiese transformasie of ’n besigheidsvriendelike benadering?’ dan sê hulle ’n besigheidsvriendelike benadering.”

Hierdie reënboognasie-ding is verby, ons soek nou geregtigheid en dinge moet terugkom na ons toe.

Die probleem is dat die ANC tans sukkel om jong lede te lok en daardie jong mense sê presies die teenoorgestelde as die oueres.

“As die ANC in 2024 wil wen, moet hulle daardie jong mense inkry, hulle wat sê: ‘Ras is ’n groot probleem en ons soek radikale ekonomiese transformasie; hierdie reënboognasie-ding is verby, ons soek nou geregtigheid en dinge moet terugkom na ons toe.’

“So aan die een kant het hy sy party en die onderstrominge (Zuma-faksie) wat hy moet dophou, en aan die ander kant is hierdie ideologiese probleem. Hy gaan die heeltyd moet wydsbeen staan en albei kante moet rustig hou.

“Dit verklaar miskien van die verwarring van mense wat sê: ‘Ons is só opgewonde oor Cyril, maar nou raak ons deurmekaar.’”

Verdeelde party

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerk-stigting en oudrektor van die Noordwes-Universiteit, was dit met die ander sprekers eens dat die ANC ’n verdeelde party is.

“Cyril het by die ANC-kongres die opdrag gekry om eenheid en versoening in die ANC te bou met die oog op die verkiesing. Sy eie handves vir sy verkiesing was anti-korrupsie, anti-staatskaping, goeie regering. Maar jy kan nie eenheid hou en staatskaping beveg nie. Dít is waar al die kompromieë vandaan kom.”

Hy meen die ANC beweeg nie nou links nét as gevolg van die gebrek aan sosio-ekonomiese ontwikkeling nie.

Wat is die rol van minderhede in die land en hoe moet ons veiligheid vir almal bewerkstellig?

“Vir baie mense in die ANC is die Vryheidsmanifes belangriker as die Grondwet; die ANC staan in ’n gespanne verhouding met die Grondwet, onder meer oor artikel 25. Die grondliggende filosofie is maar altyd nog die nasionale demokratiese revolusie (NDR) wat oor mag gaan – ons moet ál die hefbome van mag kry, nie net in die staat nie. En om dit te doen het hulle ’n baie eenvoudige en doeltreffende meganisme geskep. Hulle het gesê: ‘Ons moet net sorg dat álle organisasies in die land die nasionale demografie weerspieël.’”

’n Stryd wat nou nuwe momentum gekry het, is die stryd oor wat is ware diversiteit, wat is die rol van minderhede in die land en hoe moet ons veiligheid vir almal bewerkstellig?

“Ek steun vir Cyril, maar die meeste van die kere wat hy is sy staatsrede gepraat het van ‘our people’, het hy my uitgesluit en hy het júlle [die oorwegend wit Stellenbosse gehoor] uitgesluit. Met ‘our people’ het hy bedoel ‘our black people’. Daardie balans het ons nog nie gevind nie.”

Glimlagte vir die kamera, maar oudpres. Jacob Zuma het talle probleme vir sy opvolger, pres. Cyril Ramaphosa geskep om op te los. Foto: Argief

Hy meen daar is ’n “klomp positiewe goed” betreffende die ANC, soos die verkiesing van Ramaphosa en “ons moet hom ’n kans gee”.

“Maar ek is bekommerd oor onteiening sonder vergoeding. Ons beweeg na links omdat ons sosio-ekonomies nie gegroei het nie, maar wie se skuld is dit? Dit moet vollédig voor die deur van die ANC gelê word . . . As die ANC grondhervorming van die begin af beter hanteer het, dan was dit nie nou so ’n probleem nie.”

Volgens Verwoerd moet baie van die skuld inderdaad voor die ANC se deur gelê word.

“Maar ons moenie historiese geheueverlies begin kry nie. Ons moet báie versigtig wees, veral ons as wit Afrikaners. As ons nie sensitiwiteit aan die dag lê in die debatte oor die historiese konteks en die emosies en die pyn wat daaragter sit nie, gaan ons in ’n baie gevaarlike plek in.”

Ons moet Cyril ’n kans gee, maar ons moet ook kritiseer.

Tim du Plessis, gespreksleier en hoof van nuus en aktualiteit by kykNET, het gevra of dit nie ’n probleem is dat daar nie genoeg waardering is vir die opregte pogings van georganiseerde landbou en wit Suid-Afrika nie.

Eloff het saamgestem en bygevoeg: “Ek dink ons moet vir Cyril ’n kans gee [met betrekking tot grondonteiening] maar ons moet ook kritiseer.”

Uit sy gesprekke met sakemense is dit duidelik dat beleggings klaar gestop het.

“Hulle gaan nie wag tot Augustus nie; hulle gaan nie wonder wat gebeur nie – dis kláár, klaar gestop. Eers as dit in Augustus uitkom ons sal nié grond vat sonder vergoeding nie, sal beleggings weer begin. Ek dink daar is nie altyd begrip by die ANC dáárvoor nie.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Melanie Verwoerd  |  Anc  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.