Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoekom prof meen Trump gaan dié keer verloor

Vir baie speel meningspeilings ’n beduidende rol in die voorspellings oor wie die Amerikaanse presidentsverkiesing gaan wen. Daar is wel een man wat die kwessie van ’n heel ongewone hoek benader. Leopold Scholtz kyk na dié dwars akademikus se voorspelling.

Daar is nog byna drie maande oor voordat die Amerikaners in November ’n president moet kies. Menings oor wie gaan wen, lê soos dubbeltjies oor ’n kaal veld gesaai.

Maar daar is een man wat die uitslag nou reeds met wiskundige sekerheid voorspel – ’n oorwinning vir Joe Biden, kandidaat van die Demokratiese Party. Jy sou sê só iemand is óf dapper óf van sy sinne beroof.

Prof. Allan Lichtman is daardie man. Hy is ’n historikus aan die American University in die stad Washington wat die uitslag van elke enkele presidentsverkiesing sedert 1984 korrek voorspel het.

Toe almal in 2016 gemeen het dat Hillary Clinton op ’n oorwinning oor Donald Trump afstuur, was Lichtman omtrent die enigste wat gesê het, aikôna, Trump gaan die pyp rook.

Lichtman sê sy benadering is om glad nie na meningspeilings te kyk nie. Vir hom geld die “groter prentjie”.

Daardie “groter prentjie” berus op ’n teoretiese model wat hy op grond van alle presidentsverkiesings sedert 1860 opgestel het. Dit bevat 13 “sleutels”, en wie die meeste van dié 13 punte wen, wen ook die verkiesing. En daarmee het hy alle verkiesings sedert die een in 1984 korrek voorspel.

Pres. Donald Trump van die VSA is vasbeslote om dié land vir nog vier jaar te regeer. Foto: Reuters

Die geskiedenis wys, sê hy, dat die kiesers nie om die bos gelei word deur die “truuks van die veldtog” nie. Hulle stem eerder pragmaties op grond van hul oordeel oor hoe hulle meen die party in die Withuis die land geregeer het.

Die 13 “sleutels” (eintlik stellings, wat met ja of nee beantwoord word) is die volgende:

• Die party in die Withuis wen die tussentydse kongresverkiesings. Hier is die antwoord nee, want die Demokrate het die meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers geword.

• Daar is geen stryd vir die kandidaatskap in die party in die Withuis nie. Ja, want Trump se greep op die Republikeinse Party is absoluut, en daar was prakties geen voorverkiesingstryd nie.

• Die sittende president wil herkies word. Omdat die sittende president vanweë sy hande op die hefbome van mag altyd ’n voordeel het, is dit belangrik. Die antwoord hier is ja.

• Daar is geen uitdager van ’n derde party wat stemme kan verdeel nie. Kanye West se kandidaatskap is betekenisloos. Dus: ja.

• Die korttermyn-ekonomie is sterk. Weens die Covid-19-pandemie is die ekonomie in ’n ernstige resessie. Gevolglik: nee.

• Die langtermyn-ekonomie is sterk. Ook hier het die pandemie sake op sy kop gekeer en ’n uitstekende ekonomiese vooruitsig het in ’n katastrofe verander. Nee.

• Die president het grootskaalse beleidsveranderings teweeggebring. Hier het Trump belangrike aspekte van die Obama-beleid omgekeer. Ja.

• Daar is geen maatskaplike onrus in die voorafgaande presidentstermyn nie. Daar wás egter aansienlike onrus en selfs voldoende geweld om die maatskaplike orde te bedreig. Nee.

• Daar was geen skandaal in die Withuis nie. Omdat Trump in die kongres formeel in ’n staat van beskuldiging gestel is, sy talle seksskandale en sy poging om die Oekraïne te betrek om Biden swart te smeer, is die antwoord op dié sleutel nee.

• Daar was geen buitelandse of militêre mislukkings nie. Ondanks “baie moeilike oomblikke” onder Trump is die antwoord hier nietemin ja.

• Die Withuis het ’n groot buitelandse sukses. Ofskoon Trump geen groot buitelandse mislukkings gehad het nie, het hy ook geen suksesse behaal nie. Nee.

• Die sittende president is charismaties. “Donald Trump is ’n groot showman, maar hy spreek net ’n klein segment van die bevolking aan.” Nee.

• Die uitdager is oncharismaties. “Biden is ’n ordentlike, empatiese man, maar hy is nie charismaties nie.” Ja.

Van die 13 sleutels is ses ten gunste van Trump en sewe téén hom. Dus kom Lichtman tot die gevolgtrekking dat Trump op 3 November gaan verloor.

Trump het pandemie-krisis onderskat

Joe Biden, die Demokratiese Party se kandidaat vir die Amerikaanse presidentsverkiesing, is volgens prof. Allan Lichtman ’n “ordentlike, empatiese man, maar hy is nie charismaties nie”. Foto: AP

Hy het, soos dit ’n goeie akademikus betaam, wel enkele voorbehoude. Sekere kragte buite die sleutels kan ook ’n rol speel – pogings om waarskynlike Demokratiese kiesers te keer om te stem, Russiese inmenging, ensovoorts.

In verskeie onderhoude het Lichtman gesê tot die Covid-19-krisis uitgebreek het, was Trump onkeerbaar op pad terug na die Withuis.

Maar hy het die krisis ernstig onderskat: “Eerder as om die krisis aan te pak, het hy gemeen hy kan hom uit die krisis uitpráát.”

Ons weet die Russe sal weer probeer inmeng, dalk met meer krag, want hulle het baie sedert 2016 geleer.
Prof. Allan Lichtman

Bowendien, sê hy, is die Republikeinse ondersteuningsbasis “ou wit manne soos ek – en dit is die vinnigste krimpende deel van die kieserskorps. Die Republikeine kan nie nuwe ou wit manne vervaardig nie, maar wat hulle wel kan doen, is om die stemme van die groeiende Demokratiese basis van minderhede en jong mense te onderdruk. Dit maak my bekommerd.”

Wat die Russe betref: “Ons weet die Russe sal weer probeer inmeng, dalk met meer krag, want hulle het baie sedert 2016 geleer. En ons weet verseker dat Donald Trump opnuut enige Russiese inmenging wat hom na sy mening sal help wen, sal verwelkom en uitbuit.”

Al neem Lichtman die peilings glad nie in ag nie, is dit weliswaar relevant om te vermeld dat Trump se agterstand in die peilings die laaste week of anderhalf effens gekrimp het. Waar hy in ’n stadium meer as tien persentasiepunte in die gemiddelde van alle peilings agter was, is dit nou 6,9 punte by RealClearPolitics en 8,3 punte by FiveThirtyEight.

Kan Trump weer wen?

Pres. Donald Trump het in die laaste tyd ’n effens gematigder toon aangeslaan. Foto: Reuters

Die rede hiervoor, gis kenners, is die feit dat Trump in die laaste tyd ’n effens gematigder toon aangeneem het en dat hy sy daaglikse nuuskonferensies hervat het. Maar ook daar struikel hy soms.

Vandeesweek het hy beweer dat hý sekere voordele vir militêre veterane verseker het. Maar toe ’n joernalis hom daarop wys dat dit al in 2014 deur sy voorganger gedoen is, het Trump summier sy papiere gevat en geloop.

Ook die uitgebreide televisie-onderhoude wat Chris Wallace op Fox News en Jonathan Swan van Axios met hom gevoer het, het rampspoedig verloop. Hy het maklik bewysbare leuens kwytgeraak, en die twee het hom onmiddellik daaroor gekonfronteer. Dit is sleg ontvang.

Trump sal ook onbeskofte en barse openbare uitsprake moet temper, want dis nie die manier om vriende te wen nie.

Dis ook relevant om te vermeld dat sen. Mitch McConnell, uiters invloedryke Republikeinse leier in die senaat, sy party se kandidate toestemming gegee het om politieke afstand tussen hulle en die president te skep.

Baie van hulle is bevrees dat dit hul verkiesingskanse kan benadeel as hulle te na aan Trump beweeg – en dit sê ook iets van die stemming in die land.

Kan Trump nog die verkiesing wen? Ja, hy kan beslis. Maar dan sal hy moet ophou om dieselfde taktiek as in 2016 te gebruik en slegs vir sy eie ondersteuners te preek; hy sal sy basis moet uitbrei.

Hy sal ook onbeskofte en barse openbare uitsprake moet temper, want dis nie die manier om vriende te wen nie.

Maar dít is nou eenmaal Donald Trump in al sy glorie. Hy is wie hy is en klaar.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.