Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hóékom wil cowboys nie huil nie?

Aansienlik meer mans as vroue sterf aan selfdood. Maar depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie en ook cowboys moet dit verstaan, skryf Lizette Rabe op Wêrelselfdoodvoorkomingsdag.

Ter illustrasie.Foto: Rudi Louw, Grafika24

“Real Men. Real Depression” was die naam van ’n veldtog ’n klompie jare gelede in die VSA om bewusmaking van depressie onder mans te kweek.

Dit dra, nog steeds, geen vrugte nie. Inderwaarheid het selfdood onder mans in die VSA sedert 2000 toegeneem. Meer as vier keer soveel mans as vroue daar sterf aan selfdood. In 2010 was presies 79% van alle selfdoodgevalle manlik.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) het mans ’n vyf keer groter kans om aan selfdood te sterf . . . en hulle sal skynbaar eerder sterf aan hul siekte as om daaroor te praat.

In Suid-Afrika is die prentjie omtrent dieselfde. Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) het mans ’n vyf keer groter kans om aan selfdood te sterf . . . en hulle sal skynbaar eerder sterf aan hul siekte as om daaroor te praat. Of om vir behandeling te gaan. Immers: “Cowboys don’t cry.”

Hulle sal simptome afmaak as niks ernstigs nie, terwyl hulle eintlik stoei met ’n meedoënlose vyand wat hulle van binne verteer.

Maar depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie en ook cowboys moet dit verstaan. Ook dat dit ’n behandelbare siekte is. Veral ook dat die antwoord eintlik eenvoudig is, want om “taf” te wees, gaan nie jou siekte beter maak nie. Inteendeel, jy gaan swaarder kry. Jy kan dalk selfs doodgaan.

Maar dan, die siekte is natuurlik nie net akuut onder mans nie.

Hierdie was ’n Kanadese rolprentdrama wat in 1988 verskyn het, gegrond op ’n boek deur Marilyn Halvorson.Foto: DVD-omslag

23 mense per dag

Selfdood is nie kieskeurig nie.

Soos ander siektes, maai hy onder manlik en vroulik, arm en ryk, alle rasse, alle klasse. En oud en jonk. Ook diegene op die drumpel van hul drome word slagoffers van hierdie wrede monstersiekte. Elke dag, genadeloos.

In Suid-Afrika verloor 23 mense per dag hul lewe aan selfdood, met ongeveer 230 pogings per dag – die gelukkiges wat oorleef. Wat ’n tweede kans kry om met behulp van professionele behandeling – sielkundig en psigiatries – hul siekte, dikwels as chroniese metgesel, te bestuur.

Wat kan elkeen van ons doen om ’n verskil te maak?

...die lewens wat jaarliks deur selfdood verloor word, (is) veel meer as sterftes weens oorlog en moord saam.

Die antwoord is in die slagspreuk vir Maandag se Wêreldselfdoodvoorkomingsdag: “Saam kan ons selfdood voorkom.” Daarom is so ’n dag nodig om bewusmaking te kweek dat selfdood voorkombaar is omdat die oorsaak behandelbaar is.

Volgens prof. Murad Khan, president van die International Association for Suicide Prevention (IASP), ’n groepering van navorsers, professionele mense en belangegroepe gesetel in Washington, is die lewens wat jaarliks deur selfdood verloor word, veel meer as sterftes weens oorlog en moord saam. 

Die IASP se boodskap is daarom vanjaar spesifiek dat deur saam te staan, hierdie dodelike sluiper van ’n siekte oorkom kan word.

Om simptome te herken en iets daaraan te doen, is die eerste stap na behandeling en ’n beter lewe, want depressie – die oorsaak van meer as 90% van selfdoodgevalle – is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie.

Foto ter illustrasie: Meer as vier keer soveel mans as vroue in Amerika sterf aan selfdood. In 2010 was presies 79% van alle selfdoodslagoffers mans. Foto: Foto24

Soveel vrae, so min antwoorde

Volgens die IASP het hulle die “Saam kan ons selfdood voorkom”-slagspreuk gekies omdat dit die mees noodsaaklike bestanddeel vir selfdoodvoorkoming bevat: dat elkeen van ons – ook jy wat hier lees – kan saamwerk om selfdood te voorkom.

Psigiese siektes raak vroue en mans, maar vroue is veel meer bereid om oor hul emosies te praat en om hulp te soek. Mans se depressie word byvoorbeeld eerder onderdruk en kom uit in aggressie en woede, terwyl vroue eerder hartseer sal wees. Mans gebruik ook dikwels alkohol as “selfmedikasie”, wat natuurlik die situasie vererger.

Soms is die simptome van ’n psigiese siekte eerder fisieke simptome, soos hartkloppings, ’n benoude bors, hoofpyn en spysverteringsprobleme.

Dan het ons ook nog nie eens geraak aan die oorsake van depressie wat ons samelewing toenemend so verlam nie, soos ons konstante 24/7-“altyd aan”-kultuur. Of dat navorsing vir ons meer lig kon werp op veel méér soorte depressies en ander gemoedstoornisse as wat ons vandag van weet.

As gemeenskap verstaan ons eintlik nog so min van die omvang en voorkoms van hierdie siektes wat mense se lewe verwoes.

So is daar verskillende soorte depressies onder kinders, tieners en jong volwassenes. Watter genetiese, kliniese en psigososiale snellers kan so ’n jong brein so laat wanfunksioneer dat selfdoodgedagtes ontwikkel en dan, uiteindelik, die skynbaar onvermydelike?

Soveel vrae. So min antwoorde. As gemeenskap verstaan ons eintlik nog so min van die omvang en voorkoms van hierdie siektes wat mense se lewe verwoes. En ons onkunde – om nie te weet hoe om daaroor te praat nie, en nie hulp te soek nie – lei elke dag tot nóg meer tragedies. Nóg mense wat hul lewe verloor. Nóg families wat ’n geliefde verloor. Om verslae en verslaan tussen die brokstukke van hul lewe agter te bly.

Daardie verskrikking van die swart hond wat besig is om sy kake vernietigend om jou te slaan, is onverstaanbaar vir diegene wat gelukkig genoeg is om nie in daardie kake van die monster te moet kyk nie. Maar buiten die onvoorstelbare persoonlike lyding wat hierdie soort gemoedstoornisse – wérklike, kliniese siektes – meebring, is daar ook die groter koste van verhoudings wat dikwels in die slag bly.

Prof. Bongani Mayosi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, het op 27 Julie sy eie lewe geneem.
Lizette RabeFoto: Denzil Maregele

Byna 6% van die BBP

Daar is natuurlik ook die vraagstuk van wat die werkplek aan ’n reeds seer en siek psige doen. Want dis een van die redes hoekom veral mans nie daaroor kan praat nie: Hulle vrees daar sal teen hulle gediskrimineer word.

Amper 10% van Suid-Afrikaners ly aan depressie.

’n Studie in 2016 het bevind depressie kos die Suid-Afrikaanse ekonomie meer as R232 miljard – of 5,7% van ons Bruto Binnelandse Produk. Dis weens verlore produktiwiteit, afwesigheid van werk, óf om by die werk te wees terwyl jy siek is.

Volgens dr. Sebolelo Seape, voorsitter van die Psychiatry Management Group, ly amper 10% van Suid-Afrikaners aan depressie. Die kanse dat dit jou kollega langs jou in die kantoor is, is dus groot. Volgens die navorsing oor depressie in die werkplek is Suid-Afrikaners ook meer geneig om te werk terwyl hulle siek is omdat hulle bang is hulle kan hul werk verloor, dat hulle deur kollegas as swakkelinge gesien sal word of dat hul werkgewers teen hulle gaan diskrimineer.

Die Suid-Afrikaanse arbeidswet bepaal egter dat ’n werknemer met ’n psigiese siekte ’n grondwetlike reg het tot gelykheid, menswaardigheid, redelike behandeling en regverdige arbeidspraktyke. Dis ongelukkig vir die meeste werknemers net woorde op papier.

Tog: Kyk watter verskil jy vandag kan maak. Want jy kan. Dalk kan jy selfs ’n lewe red. Dalk selfs jou eie. Praat. Gaan soek hulp. Begin vandag. Dis die eerste dag van die res van jou lewe.

*Lizette Rabe is stigter van die Ithemba-stigting wat jaarliks die Hoop Hike en Hoop Bike aanbied vir bewusmaking van depressie. Skryf hier in vir die Kaapse Hoop Hike en Hoop Bike op 14 Oktober by Blaauwklippen en die noordelike een op 28 Oktober by Van Gaalen’s, Skeerpoort.

Tekens dat jy hulp nodig het

* Woede, irritasie of aggressie

* Merkbare veranderinge in jou gemoedstoestand en energievlakke

* Aptytveranderinge: Eet te min of te veel

* Algehele moegheid: Slaap te veel of te min

* Moeite om te konsentreer of om detail te onthou

* Algemene rusteloosheid

* Kommer of om gestres te voel

* ’n Behoefte aan alkohol

* Hartseer of hopeloosheid

* Negatief oor alles

* Gebrek aan seksuele begeerte of vermoë

* ’n Behoefte aan hoë-risiko-aktiwiteite

* Chroniese hoofpyn, spysverteringsprobleme of ander pyn

* Gedagtes wat negatief inwerk op jou gesin, werk of sosiale lewe

* Obsessiewe gedagtes of kompulsiewe gedrag

* Selfdoodgedagtes

Doen iets, sommer nou

*Doen hier ’n toets vir onder meer depressie, bipolêr, angstigheid en posttraumatiese stresstoornis.

* Laai die Afrikaanse slagspreuk vir vandag van hierdie webwerf af en gebruik dit op jou sosiale media om bewusmaking te kweek.

Kry hier hulp

* Lifeline se 24-uur-noodlyn: 0861 322 322

* Sadag-hulplyn: 0800 567 567 of SMS 31393 of www.sadag.org

* Wêreldgesondheidsorganisasie

* SA Federation for Mental Health: safmh.org.za

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.