Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoeveel tyd het Afrikaans op kampusse oor?

Is dit waansin om Afrikaans op universiteit af te skaf, of is dit ’n “apartheidstaal” wat aanhou om net sekere studente te bevoordeel? Hannes Kruger het met kenners, dosente en studente gepraat.

Studente raak slaags tydens verlede jaar se #AfrikaansMustFall-veldtog op die hoofkampus van die Universiteit van Pretoria (UP). Foto: Deaan Vivier

Die toekoms van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal lyk donkerder as ooit. Tukkies en Kovsies sal binne die volgende twee jaar volledig verengels, Maties in die volgende vier jaar en Pukke tussen vyf en agt jaar, het dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), die afgelope week gewaarsku.

AfriForum het in dieselfde week gesê die stryd om Afrikaans as tersiêre onderrigtaal te behou, het nou so desperaat geraak dat hy geen keuse het as om hom tot die howe te wend nie.

Kenners met wie Netwerk24 gepraat het, is dit eens dat dit rampspoedig sal wees as Afrikaans wel as onderrigtaal op tersiêre vlak verdwyn. Volgens hulle is meertaligheid al wat Suid-Afrikaanse tersiêre onderrig gaan red.

’n Onlogiese argument

Dit is “lafhartig” van universiteite om te sê hulle kan nie ander tale ontwikkel nie en móét daarom ’n slegs-Engels-taalbeleid in werking stel.

So sê prof. Wannie Carstens, direkteur van die Skool vir Tale op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die Skool vir Tale op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.Foto: Liza van Deventer

“Begin om vakgebiede se terminologielyste in ál die tale op te stel. ’n Slegs-Engels-taalbeleid sal studente verhoed om nuwe uitvindsels te maak,” sê Carstens.

“Universiteite moet hul energie daarin sit om nog tale te ontwikkel en nie net te fokus op Engels nie. Om aan te voer Engels gaan almal akkommodeer, is ’n onlogiese argument,” sê Carstens.

Volgens hom is een van die groot belonings van demokrasie die vryheid om in jou moedertaal onderrig te ontvang. Hy sê ’n mens dink die skerpste in jou moedertaal. “Dit stel jou beter in staat om konsepte te formuleer en te begryp. Dit is hoe jy sukses gaan behaal.”

Sodra jy konsepte in jou moedertaal gesnap het, is dit veel makliker om in ’n Engelstalige wêreld sukses te behaal.

“Om meertaligheid by universiteite in werking te stel, is ’n baie dapper besluit. Dit verg baie stap-vir-stap-prosesse en werk. Engels en Afrikaans is reeds ontwikkelde akademiese tale. Die ander Afrikatale moet nou ontwikkel word. Behou die gevestigde akademiese tale en bou aan die ander tale.”

Gespook met Engels

Dr. Francois Smith, skrywer en ’n lektor by die departement Afrikaans en Nederlands; Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê studente se grootste uitdaging deesdae is nie meer die vakinhoud self nie, maar eerder om die taalhindernis te oorkom. “Hulle sukkel met Engels. Dit bly ’n gespook om Engelse begrippe vas te lê. Dit is die skolestelsel se skuld. Studente word nie op skool in hul moedertaalonderrig nie en daarom sukkel hulle steeds met Engels,” sê Smith.

As jy op skool in jou moedertaal onderrig word én terselfdertyd Engels leer, gaan jy beter op universiteit vaar, sê Smith.

Dr. Francois Smith, skrywer en ’n lektor by die departement Afrikaans en Nederlands; Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat.Foto: Liza van Deventer

Volgens hom moet universiteite deeglik kyk hoe ’n taalbeleid studente kan bevoordeel óf benadeel. Hy is bekommerd dat universiteite hul taalbeleid te vinnig verander en só die meeste van hul studente strem.

“Word die knie vir politieke heethoofde gebuig deur ’n slegs-Engels-taalbeleid by universiteite? Word daar agter misplaaste skuldgevoelens aangestorm? Word daar na ’n politiek korrekte slagspreuk gehaas?”

Sy moedertaal, Tswana, bepaal wie hy is, sê Amla Monageng, EFF-leier aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy beaam wat Carstens gesê het: Onderrig in Tswana stel hom inderdaad in staat om konsepte beter te begryp en te formuleer.

“Daar is egter nie die hulpbronne in my taal om dit behoorlik in werking te stel by universiteite nie,” sê Monageng.

Aan die ander kant reken hy ’n slegs-Engels-taalbeleid sal sosiale kohesie bevorder.

Maar Smith sê dit is juis nié die geval nie.

“ ’n Slegs-Engels-taalbeleid word in dié stadium baie fascisties by universiteite afgedwing. Daar is ’n taalpolisie in koshuise om seker te maak jy praat nie jou moedertaal nie. Dit kan tot geweldige spanning lei.”

Dr. Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. Foto: Denzel Maregele

Daarom moet ander Afrikatale opgehef word sodat dit op dieselfde vlak as Afrikaans, ook ’n Afrikataal, en Engels kan wees, sê dr. Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.

“Met net Engels en Afrikaans as onderrigtaal kan die indruk gewek word dat ander Afrikatale nie goed genoeg is nie en dít is wat tot spanning lei,” sê Cronjé. “Dit skep konflik omdat ál die tale in Suid-Afrika nie op dieselfde vlak gehanteer word nie.”

Dit is volgens hom baie belangrik dat alle kultuurgroepe voel hul onderskeie moedertale is waardig. Die ideaal is dat elke kind kan kies om in sy moedertaal onderrig te word. “Dan sal daar outomaties minder rassespanning wees.”

’n Slegs-Engels-taalbeleid is “gevaarlik”, sê Christoff Odendaal, voormalige studenteleier aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“So ’n beleid sal ongelykheid skep, want een groep se moedertaal word bo ’n ander s’n bevoordeel. Ek dink daar is plek vir inheemse denke en inheemse tale by universiteite, spesifiek wat die oordrag van kennis betref,” sê Odendaal.

Amla Monageng, EFF-leier by die Universiteit van Pretoria (UP). Foto: Deaan Vivier

Michelle Peens, AfriForum Jeug se leier by die UV, sê ’n enkeltalige taalbeleid sal meer verdeeldheid tussen studente saai. “Afrikaanse studente word ontneem van die geleentheid om in Afrikaans te studeer en dit kan veroorsaak dat hul onderdruk voel.

“Hulle sal dan eerder by ander Afrikaanse instellings gaan studeer. Ek dink Sotho-studente sou ook graag in hul moedertaal wou studeer,” sê Peens.

Monageng sê ’n slegs-Engels-taalbeleid sal juis eerder die rassespanning verminder.

“Totdat alle tale tot volwaardige akademiese tale ontwikkel, moet alle onderrig slegs in Engels geskied ter wille van regverdigheid.” Volgens hom bevorder Afrikaans nie meertaligheid nie – dit sluit eerder ander groepe uit.

“As ’n universiteit Afrikaans as onderrig wil voorstaan, sluit dit studente uit wat nie Afrikaans is nie. Ons verstaan nie Afrikaans nie. Dit voel dan daar is ’n kans dat ons iets kan misloop.”

Volgens hom is ’n slegs-Engels-taalbeleid bloot ’n tydelike oplossing omdat dit prakties uitvoerbaar is.

‘Voeg eerder by’

Een van die praktiese oorwegings is die mark wat deur die betrokke universiteit bedien word, sê Cronjé.

“Universiteite moet kyk watter tale in hul gebiede gepraat word.”

Almal moet veg om in hul moedertaal onderrig te ontvang.
Francois Smith

Meertaligheid ís prakties uitvoerbaar, sê Carstens. “By die Noordwes-Universiteit wil ons modules en kursusse in ander tale, benewens Afrikaans en Engels, aanbied.”

Daar is byvoorbeeld baie Sotho- en Xhosa-moedertaalsprekers in Noordwes en daarom wil die NWU op sy kampusse in Mahikeng en die Vaaldriehoek ook klasse in dié tale gee. “Daar moet dan ook tolkdienste na Afrikaans en Engels beskikbaar wees.”

Nes dit baie dekades gelede die geval met Afrikaans was, sal dit baie deursettingsvermoë en duidelike prosesse verg om ander Afrikatale tot vaktale te verhef, maar dit ís doenbaar, sê Carstens.

Die oplossing is dus nie om ’n taal weg te neem nie, maar eerder om ander tale toe te voeg, sê Smith. “Almal moet veg om in hul moedertaal onderrig te ontvang. En dan moet almal sorg dat dit behoue bly en bevorder word.”

Uitvloeisel van kolonialisme

Dít is een van die grootste hindernisse in die weg na meertaligheid: In dié stadium is dit hoofsaaklik Afrikaanses wat vir hul taal baklei. “Daar is nie naastenby genoeg ander taalgroepe wat vir hul taal veg nie,” sê Smith.

Mense, insluitend Afrikaanssprekendes, aanvaar Engels heeltemal te maklik as onderrigtaal. “Dit is ’n negatiewe uitvloeisel van kolonialisme.”

Carstens sê hy sal baie graag vir ander taalgroepe wil veg, maar hy meen dit is nie sy plek nie. “Die Afrikataalgroepe moet nou aandring op die ontwikkeling van hul taal. Moenie praat nie. Doen.”

Ons moet nou veg om te sorg dat ’n taal nie voorkeur kry wat ons aan apartheid herinner nie.
Amla Monageng

Smith het “gemengde gevoelens” oor AfriForum se hofaansoeke om die afskaffing van Afrikaans by sekere universiteite tersyde te stel. “Aan die een kant is dit bemoedigend dat daar darem ’n groep is wat vir hul moedertaal opstaan, maar aan die ander kant skep dit ’n ons-hulle-kwessie.”

Die hofstryd behoort volgens hom eerder vir meertaligheid te wees as net vir Afrikaans. “Ek verstaan egter AfriForum het hul eie mandaat en dien ’n spesifieke groep.”

Monageng sê ander Afrikatale kan nie hofstryde van hul eie begin nie omdat daardie tale nog nie vaktale is nie.

“Ons moet nou veg om te sorg dat ’n taal nie voorkeur kry wat ons aan apartheid herinner nie. Ons moet sorg dat die huidige ongelykheid nie in stand gehou word in ’n demokratiese samelewing nie. Ons veg nou om slegs in ’n taal onderrig te word wat ons darem ’n bietjie verstaan.”

Om sy taal tot ’n volwaardige akademiese taal te ontwikkel, gaan lank neem, sê Monageng. “Vir nou moet ons almal in Engels onderrig word totdat almal gelyk behandel kan word. Engels is immers die taal wat ná universiteit gepraat word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.