Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoop in die hel

Elmari Rautenbach skryf hoe Auschwitz se tatoeëerder ’n debuutskrywer, ’n nie-Jood van oor die 60, gekies het om sy storie te vertel.

Lale en Gita Sokolov in 1946 op hul wittebrood in Slowakye. Lale was in Bratislawa in ’n perdekarretjie op pad na die Rooikruis, wat as aanmeldpunt gedien het vir Jodeslagting-oorlewendes, toe hy amper in Gita vasgery het.

Dis ’n “green room” soos honderde wêreldwyd.

’n Kleurskema in gedempte juweelkleure. ’n Konferensietafel wat strek tot in die skemer uithoek van die vertrek, bakkies wit pepermente en botteltjies water met glase op drupmatjies daarop. ’n Mat so dik jy sak daarin weg.

Maar Heather Morris is tuis hier. Haar jas is oor een van die stoele se rugleunings gegooi, ’n halfgedrinkte koppie koffie staan eenkant en sy sit, elmboë op die tafel, verdiep in die skerm van haar silwer Samsung.

“Kom ek wys vir jou iets,” sê sy nadat ons gegroet het en die uitgewersassistent met ’n vermaning oor “beperkte tyd” by die deur uitglip. ’n Gemanikuurde voorvinger (die “gelish”-naellak dieselfde dieprooi as die rose op haar swart sybloes) swiep oor die skerm.

“Die Farsi-voorblad. Mooi, nè? Die Koreaanse voorblad is ook baie anders, maar ek hou die meeste hiervan.” Tevrede sit sy terug.

Dit was duidelik hy wóú sy storie vertel.

Heather is ’n maatskaplike werker van Melbourne, Australië. Sy’s ook ietwat van ’n uitgewersfenomeen. Sy was 64 toe haar debuutroman verlede jaar verskyn het. Op sigself nie so vreemd nie, behalwe dat die storie gegrond is op die ware verhaal van iemand na wie historici al meer as 50 jaar gesoek het: die jong Slowaakse Jood wat bekend was as die tatoeëerkunstenaar van Auschwitz, Lale Sokolov.

The Tattooist Of Auschwitz is deur die klein Australiese uitgewer Echo, ’n druknaam van die Britse Bonnier Books, gepubliseer, en van dag een af het dit opslae gemaak. Publikasieregte is aan 46 lande verkoop, dis in 17 tale vertaal insluitende Farsi (Iran), Katalaans (Sardinië), Esties (Estland) en Singalees (Indië), en verkope wêreldwyd is reeds verby die driekwartmiljoen-kerf. Net in Engeland was die boek 13 agtereenvolgende weke boaan die topverkoperslys. Dis met die Nielsen Goue Prys 2018 bekroon vir verkope oor 500 000 en was een van Apple se top-vyf e-boekverkopers van die jaar.

Heather is ook op die kortlys van die nuutgeskepte Paul Torday- literêre prys van die Britse Skrywersvereniging vir debuutskrywers ouer as 60 “op voorwaarde dat ek ’n afskrif van my paspoort stuur om te wys ek’s ouer as 60!”, terwyl ’n mini-reeks van ses episodes tans vir die BBC vervaardig word vir uitsending in Januarie 2020 om saam te val met die 75ste herdenking van die bevryding van Auschwitz.

Op haar Facebookblad deel sy foto’s van ’n volgepakte gehoor by die onlangse Kaapse Joodse fees, drink sy “slivovitz” op die berg by Krompachy in Slowakye, Lale se tuisdorp, saam met die burgemeester en onderburgemeester, en poseer sy op die rooi tapyt in Warschau, Pole, of agter ’n radio-mikrofoon in die BBC-ateljees.

Jode in Auschwitz, waar die 25-jarige Lale Sokolov in 1942 as Ludwig Eisenberg aangekom het.

Maar hoe groter die bohaai oor die boek – veral noudat Heather aangekondig het in Oktober verskyn ’n opvolgstorie wat óók gegrond is op ’n ware Jodeslagting-verhaal; trouens, dié van die jong Cilka wat Lale se lewe gered het – hoe groter word die gramskap van haar kritici.

Veral die Israelse blogger Danny Bloom sukkel om sy venyn in toom te hou oor wat hy noem “ ’n empatiese debuutskrywer met goeie bedoelings, in haar laat 60’s, wat nie self Joods is nie”, wat deesdae “soos ’n literêre rock-ster rondrits” en wie se “klein boekie” ten beste beskryf kan word as “ ’n liggewigstorie oor ’n swaargewig-onderwerp”.

Dit skeel die joviale Heather min.

“Ek het nooit voorgegee ek skryf dié Holocaust-storie nie. Ek het ’n storie geskryf, dié van Lale en sy Gita. Dit was my onderneming aan hom op sy sterfbed, en dit was sy keuse om sy storie aan my toe te vertrou. Die res laat ek oor aan die historici.”

                                                                        ***

Die ontmoeting met Lale, wat op 28 Oktober 1916 as Ludwig Eisenberg in Korompa in die keiserryk van Oostenryk-Hongarye (vandag Krompachy in Slowakye) gebore is, was blote toeval.

“ ’n Vriendin het gesê ’n vriend van haar se pa het ’n storie wat hy wil vertel – hy het pas sy vrou verloor en omdat sy weet ek het ’n paar jaar vantevore ’n kursus in draaiboekskryf gedoen, het sy voorgestel ek ontmoet hom.”

Dit is wat Lale vertel het. En dit is my storie.

Sy het in daardie stadium by die Monash Mediese Sentrum in Melbourne gewerk.

“Dit was in 2003. Lale was 88 en só broos en bedroef. Dis al waaroor hy kon praat: Dat hy saam met sy Gita wou wees en dan druk hy haar foto so teen sy bors vas. Ek het later begin dink ek doen hom meer skade as goed!

“Maar tussen al die gerammel deur was daar vonke van ’n groter verhaal, maar dan was dit of hy hom bedink. Kyk, ek het van die begin af geweet hy was in Auschwitz. Sy nommer, toe al verbleik, was steeds sigbaar aan die binnekant van sy arm: 32 407. In ’n stadium het ek hom selfs reguit gevra of dit hom pla dat ek nié Joods is nie; trouens my ma se nooiensvan is Schwartfeger. Sy enigste reaksie was: ‘Ons kies nie ons ouers nie.’

“Dit was eers nadat ek hom een aand na my huis genooi het vir aandete saam met my gesin dat hy my begin vertrou het. En toe op ’n dag sê hy: ‘Weet jy wie ek is?’ En hy gebruik die Russiese woord: ‘Ek was die tetovierer van Auschwitz...’

“Ek het koue rillings gekry. Niemand buite sy familie het dit geweet nie of praat daaroor nie. Maar dit was duidelik hy wóú sy storie vertel. Syne en die vrou s’n wat hy daar ontmoet het, die liefde van sy lewe: Gita Furman of Gisela Fuhrmannova.”

In ’n video wat Heather van Lale geneem het twee jaar voor sy dood op amper 90 in 2006 sê hy emosioneel en in Engels: “I tattooed her number on her left hand, and she tattooed her number in my heart.”

Drie jaar lank het Heather Lale daagliks ontmoet en het eers wanneer sy by die huis kom, notas gemaak.

“Dit was asof die herinneringe uit hom gespoel het. By tye was hy verskriklik emosioneel, en dan het die trane oor sy wange gestroom. ‘Waar’s Gita?’ sou hy ween. Soms was hy volkome helder en amper saaklik, wat die stories wat hy vertel het des te verskrikliker gemaak het.

“Ek glo dit is juis oor dié onmenslike gruwels wat hy moes meemaak – en waarvan hy déél was – dat hy met ’n nie-Jood wou praat. Iemand sonder gevestigde belange in die storie, ’n besluit wat sy beste vriende, met wie ek ook later bevriend geraak het, ‘wys’ genoem het. Die gebeure in die kampe het familie dikwels geweldig ontstel.

“In ’n stadium het Lale se seun, Gary, iets bevraagteken oor die kontak tussen Lale en Gita in die kamp. Ek het hom daaroor gevra, maar hy het bevestig dis hoe dit was. Dit moet so in. Vir Gary was dit ondenkbaar dat sy ouers byvoorbeeld voor hul troue saam kon wees sonder ’n chaperone.

“Lale was verskeie tale magtig: Slowaaks, Duits, Frans, Russies, Engels. Soms sou hy ’n láng storie vertel en wanneer hy uiteindelik stilbly – want jy het hom nie onderbreek nie – sou ek vra: ‘Lale, herhaal asseblief wat jy nou net vertel het in Engels?’ En hy: ‘Maar watter taal het ek dan gepraat?’ waarop ek net kon antwoord: ‘Ek het geen idee nie.’

Die skrywer Heather Morris.

“Dit het hom in die kamp goed te pas gekom, want hy kon verstaan wat die SS-offisiere vir mekaar sê sonder dat hulle dit besef het, en hy kon vriende maak met gevangenes van ander lande. Soos die Roemeense sigeuners met wie hy ’n barak moes deel. Die groep se uitwissing in die gaskamers nadat hulle een donker nag – vroue en kinders inkluis – met honde, flitsligte en knuppels uitgejaag en weggevoer is, het hom byna geknak.”

Lale was 25 toe hy in Auschwitz aangekom het. Kort hierna het hy dodelik siek geword aan tifus, maar oorleef danksy die ekstra stukkies kos en geheime bystand van sy barak se groep medegevangenes, asook ene Pepan, ’n Frans-Joodse akademikus wat toe die tatoeëerwerk gedoen het.

Ná Lale se herstel neem Pepan hom in diens as sy leerjonge, maar verdwyn dan self. Hierna is Lale aangestel as die nuwe Tätowierer – ’n taak wat hy vir drie jaar sou uitvoer met ’n assistent, ’n bottel groen ink en ’n “dubbel-naaldtoestel”, wat die metaalstempel van 1941 vervang het.

“Die feit dat Lale as Ludwig Eisenberg vir sy kampnommer geregistreer is en sy naam ná die oorlog na die meer Russies-klinkende Lou Sokolov verander het, het dit bykans onmoontlik vir navorsers oor die Joodse volksmoord gemaak om hom op te spoor, al was dit net in Auschwitz en sy subkampe, Birkenau en Monowitz, waar die tatoeëerpraktyk toegepas is.”

As amptelike tatoeëerder was Lale boonop “in diens” van die gevreesde SS, of Schutzstaffel, onder wie se bestuur die Jodekampe geval het.

“Ek was verlede jaar in die Auschwitz-museum en kon die dokument sien waarop Lale se oorspronklike naam en nommer gelys word. Boaan het gestaan Politische Abteilung – Aufnehmer Schreiber, Prämienauszahlung. Hy was dus ’n toelatingsklerk in die politieke afdeling van die SS.

“Om dié rede was Lale tot sy dood toe vreesbevange iemand sou hom eendag aankla van samewerking met die Nazi’s. Hy het meer vir Gita se waardigheid gevrees as sy eie, en het nadat hulle ná die oorlog Australië toe geëmigreer het, nooit die land verlaat nie.

“En tog het hy die paar voordele van sy ‘amptelike’ posisie – ’n enkelkamer, bietjie meer kos en vrye omgang in die kamp – begin gebruik om medegevangenes te help. Hy het juwele en geld wat van aankomelinge afgeneem en deur die sorteringsmeisies vir hom uitgesmokkel is, by plaaslike bouers van die vier gaskamers in Birkenau vir kos, veral wors en brood, en soms medisyne geruil.

“Dit is ook hoe hy sy geliefde Gita kon help om ’n administratiewe pos te kry en kontak met haar te behou deur die teensinnige bemiddeling van sy SS-wag, Stefan Baretski.”

                                                                        ***

Dit was egter die optrede van Baretski, wat in 1963 tydens Frankfurt se Auschwitz-hofsake tot lewenslange tronkstraf vir sy wreedheid gevonnis is, wat van die vrae laat ontstaan het oor die juistheid van die feite in The Tattooist.

Heather het die storie aanvanklik as ’n rolprentdraaiboek geskryf en ’n draaiboekwedstryd gewen, waarna Film Australia die opsie op die rolprentregte verkry het. Hulle het twee heeltydse navorsers wat in Europa navorsing gaan doen het tot haar beskikking gestel, maar toe finansiering vir die fliek nie ’n werklikheid word nie, het sy ’n Kickstarter-skarefinansieringsinisiatief begin om dit as ’n roman te ontwikkel en só by die uitgewer Echo uitgekom.

Sy hou vol as daar ’n feit in Lale se storie nie deur ’n tweede bron geverifieer kon word nie, het sy dit nie gebruik nie. Nietemin het ’n lywige verslag deur die Auschwitz-Gedenknavorsingsentrum heelparty onwaarskynlikhede en verkeerde inligting uitgelig, waarvan die belangrikste was dat Gita ’n verkeerde kampnommer gegee is.

Heather het nie met Gita self kon praat nie, maar het na haar getuienis as deel van die USC Shoah Foundation gekyk. Tog sê die Auschwitz-sentrum haar nommer was veel kleiner omdat heelwat minder vroue as mans aanvanklik ingeneem is en dat Gita se regte nommer, wat sy glo self in haar getuienis bevestig het, nie 34 902 is nie, maar 4 562.

Die ander groot twispunt is die “onwaarskynlike lang” verhouding tussen Cilka, ’n vrouegevangene en die hoofkarakter in Heather se nuwe boek, Cilka’s Journey, en Johann Schwarz­huber, die kamp se SS-Obersturmführer. So ’n verhouding, noem die verslag, sou ’n opperoffisier blootstel aan die baie ernstige aanklag dat hy die Ariese ras onteer.

Vir Heather is dit bloot kant-aantekeninge. (Sy sê die 19-jarige Cilka is inderdaad ná die oorlog van “prostitusie met Nazi-offisiere” aangekla en na die Sowjet-goelags in Siberië gestuur).

“Dit is wat Lale vertel het. En dit is my storie. Dis ook hoekom ek dit nie as memoires geskryf het nie, al het ek een dag se memoires-klas bygewoon. Ek wou kon inkleur, ek wou dialoog hê; kortom, ek wou ’n roman skryf. Ja, een gegrond op ’n ongelooflike ware verhaal – ’n historiese roman dus.

“Want hoe anders kan jy skryf oor twee mense, weg op verskillende tye uit Auschwitz – Gita per trein, Lale vlugtend te voet kort voor die einde van die oorlog. In Bratislawa soek hy oral. Hy loop van huis tot huis, vind sy suster maar nie vir Gita nie, wag weke lank by die stasie, totdat die stasiemeester sê gaan Rooikruis toe – dis waar die oorlewendes aankom.

“En op pad, in ’n geleende perdekarretjie, loop ’n bekende meisie amper voor hom in . . .”

Die wenner van die Paul Torday- literêre prys word Maandagaand aangewys.

  • Torday het op 60 gedebuteer met die roman Salmon Fishing In the Yemen.
Meer oor:  Holocaust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.