Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoor dié boere se lied

In die geraas oor grondhervorming word die stemme van kleiner familieboerderye glad nie gehoor nie, skryf Theo de Jager.

In die geraas oor grondhervorming en transformasie wat op die oomblik heers, word familieboere se stemme nie hard en duidelik genoeg gehoor nie, omdat hulle grootliks ongeorganiseerd en versplinter is.

Na raming is sowat 75% van boere nie lid van enige landbou-unie nie en die ander 25% is lede van verskillende unies.

Dit is in hierdie konteks dat die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) aan die einde van verlede maand in Pretoria van stapel gestuur is. Saai bied iets nuuts omdat dit met die hulp van moderne kommunikasietegnologie en beweeglike netwerkstrukture hoop om vinnige optrede moontlik te maak om boere so vinnig moontlik by te staan as hulle hulp nodig het.

Saai het oorweldigende ondersteuning van sowel individuele familieboere (wit én swart) as landbou-ondernemings en -organisasies.

Daar is ook heelwat kritiek uitgespreek, veral oor Saai se verhouding met AfriForum en ander stemme uit die kultuur-, navorsings- en vakbondarena.

Die verdagmakery teen Saai het weinig met sy doelwitte of waardes te doen, maar gaan meestal oor ’n aanslag op organisasies waarmee Saai netwerkverhoudinge gesluit het.

Saai is egter nie ’n nuwe landbou-unie nie. Dit gaan nie boereverenigings of bedryfstrukture skep nie en is nie van plan om lede by ander landbou-unies af te rokkel nie.

Verdagmakery teen Saai het weinig met sy doelwitte of waardes te doen.

Aan boereverenigings wat na Saai wou “oorloop” is vriendelik verduidelik dat Saai eerder met hulle wil saamwerk wat spesifieke projekte betref, maar dat individue wel by Saai se nasionale netwerk kan aansluit. Saai is juis ’n netwerk van belangegroepe wat kapasiteit en vermoë saampoel om die gemiddelde familieboerdery ter wille te wees.

Die TLU is formeel by die aanloop tot en ontwerp van Saai betrek om ons waardes en beleidstandpunte te belyn en die grondslag vir beginselgedrewe samewerking vorentoe te lê.

Die belangrikste rede waarom Saai nie as ’n uitbreiding van die TLU ontstaan het nie, is eenvoudig: As familieboere wat Saai nou werf by die TLU tuis gevoel het, sou hulle lankal daar aangesluit het. Die feit dat hulle nie het nie, beteken dat die TLU onder dié boere ook ’n beeldprobleem het.

Die verhouding tussen Saai en Agri SA is egter meer kompleks, omdat dié twee organisasies se beleid en strategie nie altyd ooreenkom nie.

Tog dien sterk leiers soos Leon Borcherds (president van Limpopo-landbou), Meyer de Jager (dagbestuurslid van Mpumalanga-landbou) en ek (as ’n lid van ’n Agri SA-geaffilieerde boerevereniging) in die direksie van Saai.

Dit is lede en leiers – en nie opponente van Agri SA nie – wat die leemtes vul wat Agri SA se leierskap laat.

Die waterskeidingsoomblik vir baie Agri SA-lede wat nou ook by Saai betrokke is, was die Akkerland-geval toe Johan Steenkamp, ’n boer van Limpopo, in April 2018 onteien is en die staat net 25% van die markwaarde van sy plaas aan hom toegeken het.

Akkerland was bo-aan ’n lys van plase wat vir onteiening geoormerk is. AfriForum het dié lys in die hande gekry en gepubliseer.

Terwyl Agri SA vir AfriForum – onder luide applous van die ANC – daaroor in ’n spesiale mediakonferensie verguis het, het Limpopo-landbou elkeen van sy lede gevra of hulle by die saak betrokke moet raak.

Die reaksie was ’n eenparige “Ja!”

Tog het Agri SA geweier om betrokke te raak.

’n Vennootskap tussen Limpopo-landbou, die TLU, Solidariteit en AfriForum het uiteindelik daarin geslaag om die onteiening binne ’n week om te keer met kostebevele teen die minister, die grondeisekommissaris en die registrateur van aktes.

Akkerland is twee maande later teen vier maal hoër as die onteieningswaarde gekoop. Dit was dus duidelik dat boere wat slagoffers van plaasbesettings, -aanvalle, -onteiening of intimidasie is meer as Agri SA gaan nodig hê om in hul hoek te veg of om by aan te klop.

Op Limpopo-landbou se 2018-kongres is die leemte aan saakgerigte noodoptrede in die Agri SA-stal indringend bespreek en is oorweldigende steun gegee aan die stigting van so ’n nuwe “aanvullende funksie”.

Ná Agri SA se 2018-kongres was daar meer vrae as antwoorde oor sy verbintenis om vir markverwante vergoeding te veg.

Boere wil graag seker wees dat hulle nie die surplus op hul balansstate, wat hul pensioen moes wees, gaan verbeur omdat daar geen ysterklou in die grond geslaan is in die hamermeule van gee-en-neem-onderhandelinge oor markverwante vergoeding nie.

Agri SA het op dieselfde kongres by herhaling gesê dat daar op beleidsbeïnvloeding gekonsentreer word, en dat dit nie by “saakgerigte optrede” betrokke gaan raak nie.

Boere is nie besorg oor die werklike gevare van grondhervorming (en Agri SA se gebrekkige optrede) omdat AfriForum, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge of enige ander sinistere mag hulle beïnvloed of omgepraat het nie. Hulle bekommernis is geldig en leef in die harte van familieboere.

Hulle deel ook nie sommige joernaliste en politieke kommentators se woede jeens AfriForum, Solidariteit of ander organisasies in die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte nie. Dit is organisasies oor wie se standpunte daar geen verwarring is nie en wat daadwerklik intree om jou in ’n noodgeval by te staan.

Dit is juis vir hulle ’n vreemde teenstrydigheid dat die reg om kritiese vrae aan jou organisasie te vra of om in ’n demokratiese bestel vir jou burgerregte op te staan en op vryheid van spraak en assosiasie aan te dring so deur selfverklaarde liberale joernaliste en kommentators aangeval word.

Die geskree oor eenheid in landbou is eweneens ’n hersenskim. Daar is vier nasionale landbou-unies in Suid-Afrika, en ’n landbousakestruktuur wat ook primêre produsente verteenwoordig.

Agbiz en Agri SA ding mee om die lidmaatskap van landbouondernemings, megaboere en bedryfsorganisasies; die TLU en Agri SA ding mee om boerelede; Afasa, Nafu en Agri SA om swart lede en almal om dieselfde borge.

Agri SA het reeds in 2010 besluit om uit die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte te onttrek omdat daardie organisasies “te wit, te Afrikaans en te behoudend” is – soos min of meer 90% van sy boerelede!

In die omvangrykste burgerlike vennootskap vir eiendomsreg bied net die TLU en Limpopo-landbou ’n stem vir boere. Deur ’n struktuur te vestig wat juis ’n netwerkverhouding met alle organisasies tot stand bring, bring jy gom eerder as verdeeldheid na georganiseerde landbou.

Kritici hoef nie soveel moeite te doen om ’n landboustruktuur te bevorder of verdag te maak nie: Die mark sal bepaal hoe suksesvol, al dan nie, elkeen vorentoe sal wees. As Saai nie aan ’n behoefte voldoen nie, sal hy nie vlieg nie. En as hy wel ’n leemte vul, sal dit meer as ’n paar kritiese berigte vat om hom te stuit.

  • Dr. Theo de Jager is voorsitter van die Saai-direksie.
Meer oor:  Grondhervorming  |  Saai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.