Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hou op namens my haat saai

Die hele vlag-herrie is ’n verleentheid vir die meeste Afrikaners, skryf Azille Coetzee.

Die ou én die nuwe vlag word in 2009 by die Adelaide-sewestoernooi geswaai. Foto: Wessel Oosthuizen, Gallo Images

Ek hou die hele storie met die ou vlag net so van ver af dop – dit is te pynlik. Ek skaam my dood vir daai neerhalende twiet van Ernst Roets.

Ja, verdomp Ernst, dis haatspraak.

Vroeër hierdie maand verklaar die gelykheidshof dit so. Die vertoon van die ou nasionale vlag, in die openbaar of privaat, is diskriminerend, rassisties, skadelik, en is van nou af verbode, buiten as dit vir opvoedkundige of akademiese doeleindes gebruik word.

Die Nelson Mandela-stigting het die aansoek by die hof ingedien in reaksie op die manier waarop die ou vlag in Oktober 2017 by die Swart Maandag-betogings teen plaasmoorde vertoon is.

AfriForum het die aansoek teengestaan op grond van die tegniese argument dat ’n vlag volgens die Gelykheidswet nie haat­spraak kan wees nie (omdat dit ’n simbool is, en nie woorde of spraak nie), asook op grond van die reg op vryheid van spraak.

Dit sein dat ons hunker na ’n verlede waar die wit Boer onaantasbaar is en almal anders “maklike prooi”: swart mense, gay mense, vroumense.

Wat beteken dit as Afrikaners die ou landsvlag swaai? Of as ou Steve voor ’n paar van hulle sit en grinnik?

Die hof lê dit geduldig vir ons uit: die ou vlag is ’n simbool van apartheid wat vir die meeste mense in hierdie land groot pyn en vernedering verteenwoordig. Die regsgeleerde Elmien du Plessis het dit al twee jaar gelede treffend uiteengesit: simbole dra gewig.

Die vlag is ’n simbool vir die idee dat een ras meer geregtig is op beskerming as ander rasse, dat wit mense meer menslik is as ander. Dit is verdelend, nie versoenend nie, retrogressief eerder as aspirerend, verduidelik Max du Preez.

Die kenners van konstitusionele reg herinner ons oor en oor dat vryheid van spraak geen onbeperkte reg is nie, dat die Grondwet duidelike grense daaraan stel.

Dit val my op dat Johannesburg Pride namens die LGBTQI+ gemeenskap ook hul betoë teen die vertoon van die ou vlag by die hof ingedien het. Die ou vlag verteenwoordig nie net ’n wit Suid-Afrika nie, maar ’n onbeskaamd patriargale en homofobiese een.

Wat beteken dit dus as ons die vlag by die Swart Maandag-betogings swaai? Dit sein dat ons hunker na ’n verlede waar die wit Boer onaantasbaar is en almal anders “maklike prooi”: swart mense, gay mense, vroumense. Dat ons terugverlang na ’n regime waar die meerderwaardigheid en voorreg van die wit minderheid met geïnstitusionaliseerde en vernietigende geweld teenoor swart en bruin mense afgedwing word.

Is dít wat ons as wit Afrikaners, as ’n groep, vandag wéér wil hê?

Nee, natuurlik is dit nie.

Ons is nie meer so nie.

Die meeste van ons probeer nie meer ontken dat apartheid moreel en polities onregverdigbaar was nie. Die meeste van ons wil nie deel wees van ’n nasie wat swart en bruin mense minderwaardig ag en onderdruk op grond van velkleur nie. Baie van ons ervaar gevoelens van skuld en skaamte oor Suid-Afrika se apartheidsverlede en die meeste van ons probeer op ons eie manier om by te dra tot die bou van ’n ander soort toekoms.

Ons doen nie genoeg nie en ons leef nog steeds met onregverdige bevoorregting en allerhande onbewuste vorme van rassisme, maar onder die meeste van ons is daar die behoefte om te probeer om vandag dinge beter te doen, om nie die verlede te herhaal nie.

Ek sien dit elke dag by die meeste wit Afrikaners met wie ek te doen kry. In die gelykheidshof erken die FAK (wat AfriForum ondersteun het in die saak) dat die vertoon van die ou vlag afkeer ontlok by die meeste mense, ook in die Afrikanergemeenskap. Daar gaan ’n kollektiewe rilling van verleentheid deur ons wanneer daar in die naam van Afrikanerskap geveg word vir die reg om daardie vlag te swaai. Ons laat ons koppe in skaamte sak vir ons eie mense en die pyn wat hulle ander veroorsaak.

Suid-Afrika kan darem seker duidelik sien dat dit net ’n klein groepie wit Afrikaners is wat hulle skuldig maak aan hierdie apartheidsnostalgie, hoop ons dan.

Ons is nie almal so nie, wil ek verduidelik aan ons mede-Suid-Afrikaners.

Maar dit klink hol. Wie gaan ek oortuig?

Hoekom sê julle dan niks nie? sal ons mede-Suid-Afrikaners wonder – en hang die vraag tussen ons. Hoekom laat julle toe dat hierdie paar mans so hard skynbaar namens almal van julle praat?

Hoekom bly ek stil? Is dit vir my heimlik gerusstellend dat iemand in die naam van Afrikanerskap vir wit meerderwaardigheid veg?

Of is dit eenvoudiger, is ek bloot bang om aandag op myself te vestig, bang vir die Orania-trolle wat op elke “volksverraaier” toesak? Hoekom laat ons toe dat hierdie paar ekstremiste die diskoers oor Afrikanerskap so beheer?

Wel, laat ek dan namens myself ’n ding hardop sê.

Ek is ’n wit Afrikaner, maar asseblief moenie dink ’n ou landsvlag word geswaai om mý onthalwe nie. Ek wil niks daarmee te doen hê nie. Die Afrikaner waarvoor AfriForum hom beywer, is nie ék nie. Hierdie stryd vir die reg om die simbool van apartheid te mag vertoon, geld nie in mý belang nie. In teenstelling, dit doen my taal en kultuur skade aan. Ek bou nie my kulturele identiteit op die vernedering en verkleinering van ander Suid-Afrikaners nie.

My vlag is die nuwe vlag, ek wil ’n Suid-Afrikaner wees saam met al die ander Suid-Afrikaners. Ek betreur saam met al my medeburgers die onreg en die pyn van die verlede, wat in die naam van my identiteit, taal en kultuur gepleeg is.

Ek is bekommerd en hartseer oor die geweld wat Suid-Afrikaners van alle rasse elke dag ervaar. Ek wil nie meer leef in ’n wêreld waar mý lewe, bloot op grond van my velkleur en taal, meer werd is as die lewens van ander nie. Ek wil nie leef in ’n land waar vryheid van spraak as verskoning aanvaar word vir die skaamtelose saai van rassehaat nie.

Ek is ’n wit Afrikaner in verhouding tot alle ander mense in hierdie land, my taal en kultuur bestaan en floreer as gevolg van hierdie verbondenheid, nie ten spyte daarvan nie.

Meer oor:  Ernst Roets  |  Ou Vlag  |  Afriforum  |  Twitter  |  Haatspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.