Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Huishoudelike sake trek G20-leiers se aandag af

Het die onlangse spitsberaad van die leiers van die wêreld se 20 grootste ekonomieë die mensdom nader aan ’n oplossing vir sy probleme gebring? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk.

Die leiers van die G20, oftewel die wêreld se 20 grootste ekonomieë, hou elke jaar ’n spitsberaad. Dit bestaan uit 19 lande plus die Europese Unie (EU). Suid-Afrika is een van die lede.

Die doel is om finansiële stabiliteit te bevorder, maar in die praktyk word die meeste groot internasionale probleme daar bespreek.

Langs die kantlyn maak heelparty van die leiers van die forum gebruik om mekaar afsonderlik in die oë te kyk en verskille uit te stryk.

Vanjaar se beraad, wat gehou is in Buenos Aires, Argentinië, was veral in twee opsigte opvallend. Byna al die vernaamste leiers kon hul aandag slegs half by die beraad bepaal omdat hulle tuis groot probleme het, en die beraad het ’n interessante momentopname van die wêreld se magsewewig verskaf.

Wat die eerste betref, was dit opvallend hoe diep in die moeilikheid die belangrikste leiers by die huis is.

Theresa May, Britse premier.

Pres. Donald Trump het die meeste van sy tyd in Buenos Aires bestee aan die skryf van humeurige twiets. Daarin het hy die spesiale ondersoeker na die beweerde samespanning tussen die Trump-verkiesingspan en Rusland om die eleksie in sý guns te swaai gekap.

Dit raak al hoe duideliker dat die ondersoek van Robert Mueller nader aan sy ontknoping beweeg. Mueller, ’n nougesette en professionele speurhond, trek die net steeds stywer rondom die Withuis.

Wat uiteindelik binne die net gaan wees as dit toegetrek word, is onduidelik. Maar selfs die regsgeleerde prof. Alan Dershowitz, wat Trump gereeld verdedig, het onlangs gesê hy meen die finale Mueller-verslag gaan “polities vernietigend” vir Trump wees.

Niemand kan sê of hy reg is nie, maar dit vreet duidelik aan Trump. Vandaar sy Twitter­tirades en die enigsins bedrukte houding wat hy uitgestraal het.

Pres. Xi Jinping van China.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk se aandag is ook voortdurend afgetrek deur die gewelddadige onluste in Parys oor die verhoging van brandstof-aksyns.

Sy gewildheid onder die kiesers het dramaties afgeneem.

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, is ietwat van ’n flou makou sedert sy aangekondig het dat sy die leiding van haar Christen-Demokratiese Unie gaan afstaan en ook nie vir ’n verdere termyn beskikbaar as die hoof van die regering is nie.

Pres. Wladimir Poetin se gewildheid tuis is eweneens op ’n laagtepunt. Sy antwoord was om ’n buitelandse krisis te fabriseer in die vorm van ’n konfrontasie met die Oekraïne oor laasgenoemde se toegang tot die See van Azof.

Dit het hom ernstige veroordeling in Buenos Aires op die hals gehaal.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland.

Theresa May, premier van Brittanje, was druk aan die voorberei vir die uitgerekte laerhuisdebat oor Brexit, wat dié week begin het. Sy – en die ander aanwesiges – wis dat sy dit hotagter sou kry, wat ook háár krag op die internasionale toneel aangetas het.

Die leier met die minste sigbare probleme tuis is egter pres. Xi Jinping van China. Xi het die laaste jare byna al die politieke mag na homself getrek en ondervind binnenslands geen noemenswaardige teenstand nie.

Dit alles het beteken dat die G20-beraad minder as gewoonlik opgelewer het. Die belangrikste leiers was fisiek in Buenos Aires aanwesig, maar geestelik en emosioneel was hul aandag by hul probleme tuis.

Die beraad was ook ’n momentopname van die internasionale magsverhoudinge. Verskeie dinge het hier opgeval.

In die eerste plek is Amerika toenemend geïsoleer. In die slotverklaring was Trump die enigste wat nie ingestem het met ’n verwysing na die nadelige gevolge van klimaatsverandering nie.

Angela Merkel, Duitse bondskanselier.

Trump het kort voor sy vertrek in ’n onderhoud met The Washington Post sy houding aan sy eie “baie hoë vlak van intelligensie” toegeskryf.

Hy het ook sy eie administrasie se verslag van 1 600 bladsye oor die saak, waaraan meer as 300 wetenskaplikes gewerk het, summier verwerp.

Trump het voorts ’n formele gesprek met Poetin gekanselleer en slegs ’n kwartier lank eenkant met hom gepraat. Die rede was glo Poetin se aggressie teen die Oekraïne, maar al wat ’n waarnemer is, het dit toegeskryf aan Trump se moedeloosheid oor die Mueller-ondersoek.

Sigbare vordering is egter wel gemaak in die dreigende handelsoorlog tussen Amerika en China.

In ’n persoonlike gesprek tussen Trump en Xi het eersgenoemde ingewillig om die hoë handelstariewe wat hy op Chinese invoergoedere wou hef, met 90 dae uit te stel.

In dié tyd moet daar dan opnuut met China onderhandel word oor laasgenoemde se handelsoorskot. Dié oorskot is volgens die Amerikaners te wyte aan staatsubsidies vir uitvoergoedere om die prys kunsmatig laag te hou, iets wat Amerikaanse produsente benadeel.

In ruil het Xi beloof om meer Amerikaanse produkte in te voer en die lewering van

fentaniel, ’n dwelmmiddel, te staak. Die markte het onmiddellik positief gereageer, maar spoedig weer ingesak toe Trump dit in ’n twiet duidelik gemaak het dat hy “ ’n tariefman” is.

Met ander woorde, die gevaar van ’n handelsoorlog is steeds op die tafel.

Die ekonomiese geskiedenis van die 20ste eeu wys dat handelsoorloë nooit op ’n oorwinning vir een party uitloop nie.

Die pas afgelope G20-beraad was dus ’n verdere merker in ’n proses wat die wêreldpolitiek steeds meer onstabiel en vloeibaar maak.

Almal verloor altyd, maar dit lyk nie of Trump dit besef nie. Tog, die feit dat Trump bereid is om skiet te gee, al is dit ook hoe min, is meer as wat waarnemers vooraf voorspel het. Nog ’n effense sukses vir Trump was ’n verwysing in die slotverklaring dat die Wêreld-handelsorganisasie hervorm moet word.

Die oorweldigende internasionale reaksie op pres. George H.W. Bush se dood was ook in skrille kontras met hoe negatief die wêreld, reg of verkeerd, na Trump kyk.

Die beraad het verder bevestig dat China ’n mag is waarmee steeds meer rekening gehou moet word. Dr. Clay R. Fuller, ekonoom by die American Enterprise Insti­tute, wys in ’n artikel hoe ver China gekom het.

In 1992, skryf Fuller, het die Chinese ekonomie slegs 2,09% van die huidige G20 se bruto binnelandse produk opgelewer. Teen 2017 het dit tot 19,5% aangegroei. Dit wil natuurlik nie sê dat China se opkoms gaan voortduur nie.

Die geskiedenis wys dat ’n gesonde regstelsel, met behoorlike beskerming van besit, ’n vereiste vir duursame sukses is – en juis dít is in China betreklik swak gereël. Tog bestee China steeds meer geld aan die opbou van sy weermag, veral sy vloot, met die doel om sy mag ver buite sy grense te projekteer.

Sy eerste plaaslik geboude vliegdekskip het onlangs met sy eerste toetsvaarte begin, en verskeie ander word beplan – alles om Amerika se hegemonie in die omgewing uit te daag.

Europa sal nog lank ’n krag bly. Rusland en China beweeg steeds nader aan mekaar, en dié groeiende bondgenootskap kan ’n bron van groot onstabiliteit vorentoe word.

Die pas afgelope G20-beraad was dus ’n verdere merker in ’n proses wat die wêreldpolitiek steeds meer onstabiel en vloeibaar maak.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.