Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Huiwering, besluitloosheid dodelik vir die ekonomie

Die regering moet weens die Covid-19-pandemie moeilike besluite oor die toekoms neem. Onder hierdie omstandighede is huiwering en besluitloosheid dodelik – minstens vir die ekonomie, skryf Theuns Eloff.

’n Vrou stap in Ivory Park met ’n bondel hout verby ’n soldaat en polisieman. Foto: Deaan Vivier

Ons is in die negende week van die staat van inperking. Die aanvanklike doel van die inperking, soos dit agt weke gelede gestel is, was om die infeksiekurwe te laat afplat en gereed te maak vir die onafwendbare piek later in die jaar. Dié doelwit is volgens die meerderheid mediese kenners reeds bereik.

Trouens, lede van pres. Cyril Ramaphosa se mediese advieskomitee het dit al drie weke gelede gesê. En tog, vyf weke later, het ons basies steeds dieselfde inperkingstatus waarin die ekonomie kwalik sy kop bo water kan hou.

Ná die aankondiging op 13 Mei dat ons na vlak 3 op pad is, word daar nou amper al twee weke gepraat, gekonsulteer en regulasies geskryf. Op sosiale media is selfs allerhande samesweringsteorieë oor die vraag of die president steeds in beheer is en of die ANC met opset die “wit ekonomie” doodwurg.

Dit is waar dat daar al talle oproepe vir ’n ander opvolgstrategie ná die eerste drie weke se inperking was. Sedert die middel van April vra talle kommentators dat daar ’n groter balans tussen die mediese en ekonomiese faktore van die Covid-19-strategie moet wees.

Die vraag wat baie Suid-Afrikaners vra is: Hoekom gebeur daar so min op die ekonomiese front en waarom gebeur dit so stadig?

Einde Maart het 76 ekonome ’n ope brief aan Ramaphosa geskryf waarin gevra word dat die ekonomie beter ondersteun word en gouer oopgemaak word. Op 14 April het ’n groep invloedryke ekonome en gesondheidskenners gevra dat die inperking opgehef word.

Op 5 Mei het ’n konsortium bestaande uit dokters, ekonome en aktuarisse, gewaarsku dat die sosio-ekonomiese gevolge van die inperking baie erger as die gevolge van Covid-19 self sal wees.

Op 10 Mei het prof. Shabir Madhi, ’n lid van die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, se mediese advieskomitee, herhaal dat ’n voortgesette inperking nie die golf van gemeenskapsinfeksies kan keer nie en dat dit die meegaande (ekonomiese skade) net sal vererger.

Die vraag wat baie Suid-Afrikaners vra is: Hoekom gebeur daar so min op die ekonomiese front en waarom gebeur dit so stadig?

As ’n mens aanvaar dat Ramaphosa ’n intelligente mens is wat die werking van die ekonomie verstaan en ’n wye kring raadgewers het, hoekom is ons steeds op vlak 4 – en hoekom gaan die verwurging van die ekonomie nou al langer as agt weke voort?

Daar is verskeie moontlike antwoorde.

Hoeveel waarde het ekonomiese getuienis?

Mense staan tou vir kospakkies in die Iterileng- informele nedersetting in Laudium. Foto: Deaan Vivier

Die eerste is die skynbare monopolie wat mediese raadgewers – en Mkhize en Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat mediese dokters is – in die regering se strategie het.

Die strategie word gelei deur die eendimensionele oproep dat “lewens gered moet word” en daarmee saam die oproep dat dit (eintlik) net deur ’n staat van inperking kan gebeur.

Internasionale advies van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word gevolg. Dié organisasie se ses voorwaardes vir die opheffing of verligting van die inperkings is egter só streng dat min lande in die wêreld en geen ontwikkelende land aan al ses sal kan voldoen nie.

Voorwaardes soos dat “siekte-oordrag in bedwang is”, moet wees, dat “elke infeksie nagespoor, getoets en geïsoleer moet word en elke kontak opgespoor moet word”, is nog ver buite Suid-Afrika se bereik.

As al ses hierdie voorwaardes eers nagekom moet word voordat die ekonomie oper gemaak kan word, is daar geen kans dit sal kan gebeur voordat die piek van infeksies verby is nie. En almal stem saam dat ons nie daarvoor kan wag nie.

Die tweede moontlike rede vir stadige vordering is die min waarde wat skynbaar aan ekonomiese getuienis geheg word.

Die WGO se voorwaardes kan dus nie op Suid-Afrika (en op ander ekonomies gestremde lande) van toepassing gemaak word nie.

Die tweede moontlike rede vir stadige vordering is die min waarde wat skynbaar aan ekonomiese getuienis geheg word.

Daar is nie ’n sakemens of ekonoom te vinde wat steeds die inperking in amper enige vorm steun nie. En dit is hulle wat werkgeleenthede en welvaart skep.

Miskien dink Ramaphosa dat die ekonomiese hulppakket van R500 miljard die skade aan die ekonomie sou neutraliseer, amper soos wat ’n mens ’n regmerkie in ’n blokkie maak. Die probleem is dat baie min van daardie hulp al by die ontvangers uitgekom het.

Daarby is die werklike ekonomiese ondersteuning baie minder as R500 miljard, en waarskynlik nie meer as R100 miljard nie. ’n Groot deel gaan aan sosiale toelaes, munisipaliteite en die gesondheidsektor, wat geen regstreekse ekonomiese voordeel te weeg gaan bring nie.

R200 miljard is slegs ’n gewaarborgde leningskema, dit voorkom nie dat ’n maatskappy of onderneming ondergaan nie. Die R70 miljard se belastingverligting veronderstel dat ’n onderneming ’n inkomste het – daarsonder (en baie ondernemings is gedwing om nie te werk nie) is dit van geen nut nie. Daarby mag die R500 miljard na baie geklink het toe dit aangekondig is, maar is dit prakties veel minder.

As selfs R300 miljard regstreeks in die ekonomie teruggesit word, is die hulppakket maar 6% van die land se jaarlikse bruto nasionale uitgawe. Dit is soos om vir iemand wat R100 000 per jaar verdien en in finansiële moeilikheid is, elke maand R500 te leen – of selfs te gee!

Konsultasies rek proses uit

’n Leë wandelgang in Kaapstad se V&A Waterfront-winkelsentrum. Foto: Jaco Marais

Dan is daar in sommige regeringskringe en sekere politieke partye die siening dat dié wat vir die oopmaak van die ekonomie pleit, dit doen omdat hulle gierig is en net wil “geldmaak”. Dat net die rykes en geldgieriges die ekonomie oper wil hê, is egter ’n mite.

Daar het onlangs uit die pen van GG Alcock (skrywer van die Kasinomic Revolution en kenner op die gebied van die informele ekonomie) ’n artikel verskyn wat daarop wys dat daar basies twee groepe in die townships en landelike gebiede is.

Volgens sy navorsing en eie ervaring is daar eerstens dié wat voor die inperking werkloos was en volkome afhanklik van maatskaplike toelaes is. Die tweede groep is dié wat óf ’n werk het óf in die informele sektor ’n inkomste verdien. Die eerste groep, wat nou breedweg 50% per maand meer aan maatskaplike toelaes ontvang, wil nie hê dat die inperking opgehef word nie omdat hulle bang is dat hulle daardie ekstra geld sal verloor.

Die ander groep, wat ’n formele werk het (maar nie op die oomblik mag werk nie en dalk werkloosheidsversekering kry) of wat ’n eie informele onderneming bedryf, maar dit (eintlik) nie mag bedryf nie, wil hê dat die inperking onmiddellik opgehef word.

Want benewens die gewig wat aan die mediese sienings geheg word, het die sekurokrate, burokrate en beheervrate ook op die ongebreidelde inperkingswa gespring.

’n Derde moontlike rede is Ramaphosa se konsulterende styl. Dit neem per definisie langer om tot ’n besluit te kom oor die tydsduur van ’n spesifieke vlak van inperking.

Eers moet die interne kamerade oortuig word. En dit is opsigself nie maklik nie. Want benewens die gewig wat aan die mediese sienings geheg word, het die sekurokrate, burokrate en beheervrate ook op die ongebreidelde inperkingswa gespring.

Dit is duidelik dat die leiers en sommige lede van die SAPD en die SANW groot behae daaruit put om gewone mense te hiet en te gebied en selfs te kriminaliseer.

Die burokrate wat die regulasies moet uitdink en die beheervrate – vir wie daar niks lekkerders is as om voor te skryf wat mense mag koop en wanneer hulle mag stap nie – is in hul element.

Die interne konsultasies kan daarom nie maklik en vinnig wees nie. Daarna volg die eksterne konsultasies met allerhande groepe: vakbonde, sakemense, kerke en politieke partye. Dit alles veroorsaak dat die ekonomie letterlik daagliks agteruitgaan.

Gebrek aan ’n breër perspektief

’n Man in Katlehong aan die Oos-Rand gebruik ’n plastieksak as ’n masker. Foto: AP

’n Vierde saak – en miskien op die oog af onbeduidend – is hoe lank dit duur om elke vlak se burokratiese regulasies te skryf. Ook daaroor moet natuurlik gekonsulteer word.

Só was Dlamini-Zuma onlangs nie beskikbaar om voor ’n parlementêre oorsig-subkomitee te verskyn nie, omdat sy na berig word, besig was met die vlak 3-regulasies.

As die basiese riglyne vir die onderskeie vlakke reeds amper ’n maand gelede gepubliseer is, hoe lank kan dit vat om dit net verder uit te brei? Die antwoord is waarskynlik “hoe meer beheer, hoe meer en ingewikkelder die regulasies”. En dit vreet nog ’n paar dae op.

Die vyfde en laaste moontlike rede vir stadige vordering is deels ’n gebrek aan ’n breër perspektief en deels die regering se eie maaksel.

Dit beteken dat die maatstaf vir ’n verandering van vlakke van inperking nie óók die ekonomie, die verligting van werkloosheid, honger en swaarkry is nie, maar slegs die mediese riglyne en die mantra van 'lewens spaar'.

Aanvanklik het die mediese adviseurs (onder andere prof. Salim Abdool Karim) aangedui dat die inperking slegs ten doel gehad het om die infeksiekurwe af te plat en die land tyd te gee om vir die “onafwendbare” piek van infeksies voor te berei (soos intensiewe eenheid en gewone hospitaalbeddens, ventilators en gesigsmaskers).

Wanneer hierdie voorbereidings gereed was, sou die inperking aansienlik verslap word en kon die ekonomie begin om te herstel. Die punt was: Verdere inperking kan nie die onafwendbare infeksiekoers beïnvloed nie.

Maar in die afgelope drie weke het iets verander. Die nuwe strategie van risiko-aangepaste vlakke (in beginsel ’n goeie plan) is ingebring, maar die vlakke is nie in terme van die herstel van die ekonomie gedefinieer nie, maar slegs in mediese en gesondheidsterme: die infeksiekurwe. Die waarskuwing (van veral die twee ministers wat mediese dokter is) was dat as die kurwe weer opwaarts beweeg (wat volgens die aanvanklike siening onafwendbaar was), sal ons nie na die volgende vlak kan beweeg nie – en bedêm die ekonomie.

Dit beteken dat die maatstaf vir ’n verandering van vlakke van inperking nie óók die ekonomie, die verligting van werkloosheid, honger en swaarkry is nie, maar slegs die mediese riglyne en die mantra van “lewens spaar”.

Jongste modelle bemoeilik sake

’n Soldaat neem ’n man se koors by ’n taxi-staanplek in Alexandra. Foto: AP

En om sake vir Ramaphosa te bemoeilik is die sluier oor die jongste Covid-19-voorspellings in die laaste paar dae gelig.

Hierdie modelle voorsien dat Suid-Afrika teen November tussen 40 000 en 48 000 sterftes kan hê, dat aktiewe infeksies van begin Maart tot dan meer as 1 miljoen kan wees, en dat intensiewe sorgbeddens en gewone hospitaalbeddens heeltemal te min sal wees om die aantal gevalle te hanteer. Dit is die onafwendbare golf en piek waarvan Karim vroeër gepraat het.

Daar is twee moontlike reaksies op hierdie slegte nuus. Die een is “ons het dit verwag en voorspel, en moet net harder werk om die golf van infeksies te bestuur, en meer beddens en ventilators te voorsien”.

Dit sou die reaksie wees as die eerste strategie nog in plek was.

Onder hierdie omstandighede is huiwering en besluitloosheid dodelik – minstens vir die ekonomie.

Die ander reaksie kan wees: “Maak nie saak wat voorheen gesê is nie, ons kan nie die inperking nou enigsins verslap nie, want ons moet lewensverlies voorkom.” En bedêm die ekonomie – en al die honger, werkloosheid en smart wat dit gaan veroorsaak.

Watter een van die twee dit gaan wees, is nie seker nie. Hierdie dilemma is waarskynlik die belangrikste rede waarom dit solank geneem het om selfs net ekonomiese beweging aan te kondig. Die regering het op grond van mediese advies voorspel dat daar ’n onafwendbare piek gaan wees en het dus gesê dat die ekonomie oopgemaak moet voordat dit gebeur.

Maar omdat die regering te lank gewag het om die ekonomie oop te maak, en die golf nader kom, kan die ekonomie nie nou opgemaak word nie, aangesien dit die infeksiekoers hoër gaan dryf.

Theuns Eloff

Hierdie vyf moontlike redes vir die stadige vordering na vlak 3 mag dalk nie volledig wees nie, maar dit gee ten minste ’n paar antwoorde op die vraag “hoekom so stadig?”.

Dit dui op die moeilike besluite wat geneem sal moet word. Onder hierdie omstandighede is huiwering en besluitloosheid dodelik – minstens vir die ekonomie. As hierdie huiweringstrategie nie vinnig verander nie, sal die ANC-regering nooit weer apartheid of witmonopolie-kapitaal die skuld vir die uiters hoë vlakke van werkloosheid kan gee nie.

Dit sal sy eie maaksel word, en dit sal oor ’n paar maande duidelik wees dat die meeste werkloosheid as gevolg van die inperking op en die verwurging van ekonomiese aktiwiteit gedurende die Covid-19-tyd ontstaan het.

Die ou SA Lugdiens se advertensie “Ons het nie vlieg ontdek nie, net vervolmaak”, sal eersdaags ook op die ANC van toepassing wees: Hy het werkloosheid nie ontwerp nie, net deur die verwurging van die ekonomie vervolmaak.

* Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.