Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Hul woede was aanvoelbaar' Max du Preez onthou 16 Junie

Die oggend van Woensdag 16 Junie 1976 was ’n yskoue wintersoggend in die Transvaal en die rookmis het dig oor Soweto gehang, het Max du Preez 40 jaar later aan Alet Janse van Rensburg vertel. 

Max du Preez

By die Protea-polisiekantoor in die weste van dié stad het die Casspirs en Nyalas douvoordag reeds in rye gestaan, gereed vir die aksie van die dag. Talle polisiemanne in kamoefleerdrag het soos miere saamgetrek.

Daar was die vorige dag gerugte dat leerlinge aan die stad se onderskeie hoërskole ’n optog beplan. Hulle was reeds vir ’n geruime tyd oproerig en die situasie wou-wou handuit ruk.

’n Polisiebeampte se voertuig is die Dinsdagmiddag omgekeer en die polisie was dus op ’n gereedheidsgrondslag.

Niemand was regtig seker hoekom nie, maar dit het ook nie saak gemaak nie – dit was misdadigheid en moes in bedwang gehou word.

“Daar was nie ’n gedagte in my kop dat ons ’n politieke krisis op hande gehad het en dat die dag hierdie groot politieke gebeurtenis sou oplewer nie,” vertel Max du Preez, wat ’n groentjie-misdaadverslaggewer by Beeld was.

Hy was dié oggend saam met ’n fotograaf in Soweto en toe die rits polisievoertuie omstreeks 08:00 in die rigting van Orlando-Wes begin ry het, het hulle agter die konvooi ingeval. Oral langs die pad het groepies skoolkinders saamgedrom.

Die konvooi het kort-kort gestop en dan het ’n bevelvoerder ’n megafoon gebruik om hulle te waarsku dat hulle uitmekaar moet gaan.

“Dit het ’n patroon geword. Die polisie het hulle elke keer gewaarsku dat hulle ’n paar minute het om uitmekaar te gaan,” vertel Du Preez.

“As hulle dit nie wou doen nie, is hulle met die sneeze machine gelooi en dan het hulle uitmekaargespat.”

Kinders vlug tydens die geweld van 16 Junie 1976. Foto: Bongani Mnguni / City Press

Die sneeze machine was een van die polisie se groot tegnologiese ontwikkelings in daardie tyd en was ’n masjien wat op een van die Casspirs gemonteer was en traanrook gespuit het.

“Die kinders het gou geleer dat as jy ’n nat sakdoek oor jou mond hou of ’n stuk koerantpapier aan die brand steek, dit die effek van die traanrook minder erg maak, maar dit was steeds ongelooflik sleg,” onthou Du Preez. “Ek het daardie oggend die eerste keer met traanrook in aanraking gekom. Dit het die hel uit my oë en neus gebrand. Ek het gedink ek gaan dood.

“Dit was op een so ’n toneel dat ek een polisiebeampte aan ’n ander hoor sê het dat ’n polisiehond elders doodgemaak is en dat daar groot drama was. Hulle het in hul voertuie gespring om daarheen te jaag en ons is agterna – na die Hoërskool Orlando.”

Teen ongeveer 12:00 was daar ’n skare van duisende leerlinge buite dié skool bymekaar, ondanks herhaalde pogings van die polisie om hulle uitmekaar te jaag.

Hul woede was aanvoelbaar – met vuiste in die lug en ’n gegil en geskree het hulle die polisie uitgedaag.

“Daar was plakkate met die woorde ‘Down with Afrikaans’daarop geskryf. Dis hoe ek die eerste keer besef het waaroor hul protes gaan,” vertel Du Preez.

“Die kinders was ongeorganiseerd. Oral het daar groepe losgebreek wat die polisie dan van alle kante af met klippe bestook het.”

'n Skoot het geklap en in die skare het ’n kind geval en bly lê.

Klippe, die “swart man se bom” soos dit in die volksmond bekendgestaan het. In Soweto is daar nie eintlik klippe nie en die betogers het hopies bymekaar gemaak sodat hulle genoeg ammunisie kon hê die oomblik wat dit nodig was. Van iets soos ’n petrolbom of vuurwapens was daar nie sprake nie.

“Dit was ’n helse lawaai. Die kinders het gegil en geskree en nou en dan het die groep gesing, maar nie getoi-toi nie. Die getoi-toi is eers later deur MK (Umkhonto we Sizwe) begin,” vertel Du Preez. “Dit was chaos.”

Deur die geraas en gekoes vir klippe het hy tussen die Casspirs opgekyk en gesien hoe ’n polisieman sy geweer oplig. ’n Skoot het geklap en in die skare het ’n kind geval en bly lê. Vir byna ’n minuut was daar ’n stomgeslaande stilte – skoliere en die polisie was ewe geskok. En toe storm die kinders.

“Die polisie het in hul Casspirs gespring en weggejaag. In daardie eerste dae was hulle maar self baie onseker en paniekerig. Dit was die eerste keer dat ek gesien het hoe word ’n kind geskiet. Om so iets te sien . . . Ek was self maar 25 jaar oud en dit was deel van die job, maar dis iets was jou altyd bybly,” sê Du Preez.

In die daaropvolgende dae en weke het die dodetal in Soweto gestyg.

“Ons kon nooit presies uitvind hoeveel mense in daardie tyd dood is nie, want die polisie het verskillende getalle gegee, maar dit moes honderde gewees het. Ek self het in daardie eerste maand 12 lyke gesien.”

Op 10 Augustus, byna ’n maand ná daardie noodlottige dag in Soweto, het die kabinet in ’n vergadering besluit dat die betogings “gebreek moet word” en dat die polisie harder teen betogers moet optree.

Beeld het in ’n hoofartikel gevra of die regering dan nie ander antwoorde op skoliere se vrae het as koeëls nie.

Dit sou nog drie jaar neem voordat die beleid wat bepaal dat alle leerlinge die helfte van hul vakke in Afrikaans moes neem, in 1979 deur die Wet op Onderwys en Opleiding herroep is.

Meer oor:  Jeugdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.