Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hulde aan ’n vrou alleen op die treinspoor
Charles Smith

Dis die enigste advertensie onder die hofie “Sterfgevalle” in Volksblad op Valentynsdag: Catharina Cecelia Orpa (Rina) van der Berg (60).

’n Paar dae tevore was daar die kort berig onder die opskrif: Die berig het my in die woorde van Gert Vlok Nel in sy digbundel om te lewe is onnatuurlik soos ’n trein getref. Wie was die vrou? Die polisie het dit gehad dat sy van die Stillerus-aftreeoord in Watkeystraat is.

Ek het soontoe gery. Die oumense het my na ’n tant Meisie verwys, maar sy was uit. Hulle het wel geweet “die vrou van die treinstorie” is nie ’n inwoner nie. Sy sou eersdaags dalk hierheen trek. Probeer by die Lentelus-huise langs die spoorlyn, het ’n oom gesê. Ek het na die Lentelus-huise gery. Maar nee, sy het nie hier gewoon nie. Maar ’n tante het geweet van die voorval. Die twee treindrywers moes traumaberading kry, het sy gesê. Ek is na die vervalle Hamilton-stasie. Op die voetoorbrug na Mangaung is daar bó die spoorlyn geskryf: God bless you, thanks. Wolke het donker bo die leë spoorlyne saamgepak.

By die advertensie onder “Sterfgevalle” was daar ’n foto van Rina van der Berg. Ek het die aanwysings na haar roudiens in die AGS kerk Sentraal in Hilton gevolg, waar die familie buite by ’n wit kis met ’n mooi, groot ruiker vol pers en pienk blomme op gestaan het.

Ek moes net kom hulde bring aan ’n onbekende vrou in ons berigte, het ek vir pastoor Bosch gesê: Aan Rina van der Berg, ’n ma, ouma, tante, vriendin en vrou.

In die begrafnisbrief was die afskeidswoorde vir Rina: Mis my – maar laat my gaan. Ek het geluister hoe die familie en vriende “Amazing Grace” sing. Die son het deur die gekleurde vensters op die wit kis met die ruiker op voor in die kerk geval.

Pastoor Deon Bosch het sy roerende trooswoord uit 1 Johannes 11 gebied oor die dood van Lasarus. Jesus het die steen voor Lasarus se graf weggerol en net só het Hy die steen vir Rina weggerol. Hy was bewus dat Rina in haar lewe ’n stryd gehad het. Ons moet verby foute en tekortkominge kyk en kyk na ’n leë graf en wat Jesus vir my en jou gedoen het.

Rina se seun, Wimpie, het hulde gebring aan ’n wonderlike ma, ouma, suster en tante. Hy het veral die oom bedank wat haar ’n dak oor die kop en ’n bord kos gebied het. Sy het hom van kleintyd van die Here geleer, het hy gesê.

Die pastoor het kom groet toe ons die wit kis uit die kerk volg. Hulle vermoed Rina het in die donker op pad na familie in Wilgehof moeg geraak en op die spoorlyn gaan sit. Sy het dalk nooit die trein sien kom nie.

Ek moes net kom hulde bring aan ’n onbekende vrou in ons berigte, het ek vir pastoor Bosch gesê: Aan Rina van der Berg, ’n ma, ouma, tante, vriendin en vrou.

Meer oor:  Gert Vlok Nel  |  Sterfgevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.