Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uit Volksblad-argief, 1998
Hy mag maar - hy is Mannetjies Roux

Mannetjies Roux se rugbywysheid tydens ’n destydse onderhoud in Victoria-Wes geld steeds. Hier is die artikel deur Gert Coetzee wat op 9 Julie 1998 in Volksblad verskyn het.

Mannetjies Roux se legendariese duikdrie teen die Leeus in die Vrystaat-stadion in 1962. Foto: Argief
’n Mannetjies Roux-duikslag.Foto: Argief
Mannetjies Roux van Griekwas. Foto: Great Moments in Currie Cup History

VICTORIA-WES lê in ’n kom in die middel van die Karoo se oopte. In die middel van dié dorp by ’n kruising op die N12 is die Mannetjies Roux-rugbymuseum. Hier loop ’n mens soms dié rugbylegende raak.

“Vir ons is hy maar net Mannetjies. Ons terg hom altyd dat hy eers tien kilometer buite die dorpsgrense begin beroemd raak,” sê mev. Ina Krugel in dié museum.

Francois Du Toit Roux (gebore 12 April 1939), boorling van die dorp, was kleintyd so woelig dat sy oppasser hom die hele tyd “mannetjie” hier en “mannetjie” daar gekeer het.

Hy was drie toe sy pa dood is en sy ma Noblesfontein, die familieplaas uit die vorige eeu, verhuur en die gesin Strand toe getrek het. Die naam “Mannetjies” het bly steek in die Hoër Jongenskool Paarl, die Lugmag-Gimnasium waar hy vegvlieënier geword het, Maties waar hy B.Sc. (Landbou) verwerf het, en by Charlotte (gebore Jooste, van Britstown, suster van oud-sen. Attie Jooste), ’n Jökl-student, begin kuier het.

Maar dit is as rugby-genie dat die naam “Mannetjies Roux” onsterflik geword het.

Hy het in 1962 daai duikdrie teen die Leeus in die Vrystaat-stadion gedruk en ook die arme Richard Sharpe se kakebeen uit lit geplettervat. Rugby-ondersteuners het in 1970 radio-teen-die-oor geluister hoe Roux ’n Britse betoger onder die sitvlak skop.

Vir 1970 se Curriebeker-eindstryd teen Noord-Transvaal in Kimberley het afrigter Ian Kirkpatrick vir sy spelers een raad gehad: “As Mannetjies die bal kry, moet julle sorg dat julle so gou moontlik by hom kom. Julle gaan nie weet wat hy gaan doen nie, maar Noord-Transvaal gaan ook nie weet wat hy gaan doen nie.”

Vurige, vreeslose, onvoorspelbare Mannetjies, lui ’n koerantberig in die museum.

Mannetjies Roux in sy jong dae (vermoedelik 1962) in ’n Springbok-ruygbytrui. Foto: Argief

Die voordeur gaan oop. ’n Kort, stewige gryskopbuks in ’n denimbroek en dik blou baadjie hou sy hand uit en sê: “Mannetjies Roux.”’

Die Roux’s se huis is net oor die straat. “Dag, buurvrou!’” roep hy. In die kombuis is ’n klomp potte op die stoof aan’t prut.

Roux (59) ontdooi stadig, maar vat vlam oor rugby. Hy praat lui-stadig, die oë flits ondeund en die bekende humorsin slaan deur.

Hy en Charlotte het in 1964 Noblesfontein toe getrek en tussen die skaapboerdery deur het hy van hier af vir Suid-Afrika gespeel.

“Vir ’n Griekwa-wedstryd maar op ’n Vrydag deurgery en gou die aand geoefen. Ons was mos goed genoeg gewees,” lag hy.

Daardie drie in die Vrystaatstadion was ’n hoogtepunt. “Dis nou behalwe vir die duikslag. Iemand vra my anderdag of ek my nie morsdood geval het nie.”

En hy is bly hy kon sy loopbaan met Griekwas se oorwinning oor Noord-Transvaal afsluit.

“Sharpe was ’n laagtepunt. Dit was ’n ongeluk dat hy sy kakebeen gebreek het. Ná die bohaai is ek as ’n boelie beskou.”

En die storie oor die betoger? “Dit was een van die min wedstryde wat nie gestop is nie. Die ou het ‘wesenlik’ in my pad gekom, en ek het hom per ongeluk raakgeskop. Sê maar so . . .”

Oor 15-man-rugby is hy uitgesproke. “Ons het vir Griekwas so goed gevaar omdat ons mekaar goed geken het, en nie bang was om van enige plek op die veld te begin hardloop nie. Ons voorspelers was lig, maar beweeglik.”

Die rugbylegende Mannetjies Roux en sy vrou, Charlotte, kort voordat hulle in 2013 Kaap toe verhuis het.Foto: Wikus de Wet

Hy meen die era van skoprugby met Naas Botha, Gerald Bosch en Robbie Blair het die spel skade berokken omdat te veel op dié losskakels staat gemaak is.

“Die afgelope paar jaar gaan dit beter, maar ons het steeds nie senters wat die lyn kan reguit maak nie. Dit is een ding om deur ’n laagvat te hardloop, ’n ander om jou teenstander te klop.

“Die All Blacks is ons hier ver vooruit. Hul senters maak reguit, en hul vleuels druk die drieë.”

Vir hom gaan dit, soos dok Craven destyds gesê het, oor balvaardigheid en nogmaals balvaardigheid.

Dit is ook belangrik dat spelers eers hul primêre taak verrig, voordat hulle elders probeer uitblink. “Vaste voorspelers moet in die skrum druk en in lynstane spring, anders sit hulle hul losvoorspelers onder druk. In die agterlyn breek voorspelers net die ritme.”

Hy meen Suid-Afrika het nie diepte aan skrumskakels nie. “Joost wil altyd eers kyk wat hy met die bal kan doen. In ander posisies begin ’n lekker klomp jong spelers soos Stefan Terblanché, Gaffie du Toit en Lourens Venter deurkom.”

Op provinsiale en nasionale vlak is dissipline ’n afrigter se belangrikste werk. André Markgraaff, Nick Mallet en Ian McIntosh is die beste afrigters.

Buddy Swartz, Deneys Vorster en Jannie van Aswegen was onderskatte spelers in sy tyd, terwyl Frik du Preez een van die natuurlikste rugbyspelers nog was. Hy dreig al lank om vir Frik te gaan kuier.

Oud-Springbok Mannetjies Roux in 2013.Foto: Edrea du Toit

Van die geld in vandag se rugby sou hy “nogal” gehou het. “Dit moet egter vir dié spelers ’n ontsettende geestelike en liggaamlike spanning wees. G’n mens kan vier toetse in vier weke speel nie. Ons het maar so twee provinsiale wedstryde per maand gespeel,” sê hy.

Die manier van betaling is ook verkeerd. “Die kontrak móét bepaal dat die spelers hul kant moet bring. Jong spelers moet hulle ook bekwaam vir ’n toekoms ná rugby.”

Hy is ook hartseer oor sport in die platteland wat weens televisie besig is om dood te loop.

Die telefoon lui. Suid-Afrika se eens beste rugbyspeler antwoord. “’n Wit bekertjie met ’n blou randjie?” sê-vra hy, sit die telefoon neer, krap in ’n rak en haal ’n bekertjie uit. Met ’n effens swaaiende linkerbeen stap hy stoof toe, gooi ’n bekertjie water in die pot.

Wat doen Mannetjies Roux deesdae? “As ek nie kwaad doen nie,” spot hy.

Hy boer steeds met skaap op Noblesfontein waar hulle tot drie jaar gelede gebly het, verkoop versekering, speel tennis en rig die skool se eerste rugbyspan en die dorpspan, wanneer daar een is, af.

Hy en Pietie, sy seun en vroeër Springbok-paalspringer, het ’n onderneming wat gebottelde Karoo-fonteinwater verkoop. Sy vrou het ’n gastehuis in die dorp, terwyl “Mannetjies se stasie’” op Noblesfontein syne is. Die stasie Biesjespoort is in gastehuisies omgeskep.

Met die gesondheid gaan dit goed, net soms bietjie artritis, maar hy speel darem nog saam met die seuns raakrugby.

“Ek dink ’n mens kan met die ouderdom saam baie eensaam raak. Baie mense stop hier en praat met groot nostalgie oor die ou dae. Dit is goed as mense in jou belang stel en dink jy het iets vir die land beteken.”

Oud-Springbok Mannetjies Roux tydens ’n onderhoud met Murray La Vita in 2013. Foto: Edrea du Toit

Hy onthou Keith Oxlee, Springbok-losskakel van tóé, se woorde oor rugby as ’n lewenswyse. “Rugby leer jou baie dinge hoe om te wen én te verloor, terugslae te verwerk en hoe om met andere saam te werk.”

Op die TV-stel het die rugbytoets tussen die Springbokke en Engeland begin en hy gee vir “ma” ’n harde tyd om die blik lekkers in die hande te kry. “Ek moet dit mos altyd vir hom wegsteek.” sê sy.

Hul kleinkind Charlotte woel. “Jy vra mos waar ek my naam gekry het,” beduie hy.

Charlotte se ouers, Theo en Francette Coetzee van Kaapstad, kyk saam rugby. Francette, die Roux’s se dogter, was voorheen ’n diplomaat.

Een van die Springbokke skop die bal naby die Engelse doellyn weg. “Wat se simpel skoppie is dit?” raas die oupa met sy kleindogter op sy skoot.

Hy mag maar. Sy naam is Mannetjies Roux.

  • Die Rouxs het sedertdien na Kaapstad verhuis.


Onderskrifte van destydse foto’s (ongelukkig verlore) by die artikel:

In rugbymuseum: Mannetjies Roux in die Mannetjies Roux-rugbymuseum in Victoria-Wes, sy tuisdorp. Die museum is vol aandenkings, rugbyklere, koerantknipsels en geskenke uit sy dae as Springbok-rugbyspeler. “Vandag se spelers het televisie, maar ons het vir Gerhard Viviers gehad om mense te vertel hoe goed ons was. Gelukkig het hulle ons nie sien speel nie.” lag Roux.

Mannetjies Roux en sy vrou, Charlotte, met hul kleinkind Charlotte. Sy is die dogter van Theo en Francette Coetzee van Kaapstad. Francette, die Roux’s se dogter, was voorheen ’n diplomaat. Die Roux’s se seun, Pietie, voorheen ’n Springbok-paalspringer, en sy vrou woon ook in Kaapstad.

Terwyl hy eerste minister was, het mnr. John Vorster op ’n vergadering vertel ’n seuntjie het hom by geleentheid gevra om sy naam drie keer op ’n stuk papier te teken. Toe mnr. Vorster vra waarom juis drié keer, het die seuntjie glo gesê: “Sodat ek dit vir een van Mannetjies Roux kan ruil . . .” Só teken die oud-Springrugbyspeler deesdae sy naam vir ondersteuners.


Meer oor:  Mannetjies Roux  |  Gert Coetzee  |  Volksblad  |  Uit Die Argief  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.