Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ich bin ein Berliner

Die Berlynse muur se val 30 jaar gelede – op 9 November 1989 – was deel van die herskikking van die wêreldorde wat ook tot hervorming in ons land bygedra het, skryf Gert Coetzee.

Die langste stuk muur van 1,3 km is vandag die Oostelike Galery in Mühulenstrasse met latere kunswerke.

Op besondere plekke tel ek ’n klip as aandenking op, maar vir die spesiaalste een moes ek betaal.

“R200 vir ’n klip. Jy’t ’n skroef los,” dink ek toe die graffiti-pers stuk beton vol grys skrootklippers plegtig oorhandig word.

Die Fräulein agter die toonbank van Berlyn se Checkpoint Charlie-museum stem oënskynlik saam.

Danke schön,” sê sy.

Dit was in 2001 toe ek ’n Londen-korrespondent van Media24 was en ’n naweek Berlyn toe is.

Die klip is ’n vuisgrootte brok van die Berlynse muur wat Wes- en Oos-Berlyn van 1961 tot 1989 verdeel het.

Die herdenking op 9 November van die val van die berugte muur 30 jaar gelede herinner my aan die winskopie-klip. In ’n opvolgbesoek in 2014 het ek dele van die muur gaan naloop en my die belewenis probeer verbeel in November 1989 toe dit verswelg is deur honderdduisende mense wat dit – met hamers en beitels – begin aftakel het.

Die Mauer ist offen! ’n Opgewonde Duitser met ’n eksemplaar van Bild in Berlyn, 1989. Foto: Gallo

Dit het die val ingelui van die Mauer wat verrys het as ’n simboliese vergestalting van die Koue Oorlog.

Die verslane Duitsland is ná die Tweede Wêreldoorlog (WWII) op vredeskonferensies in Jalta en Potsdam in vier geallieerde besettingsones tussen Frankryk, Brittanje, die VSA en Rusland verdeel.

Berlyn, sowat 160 km vanaf die grens, was in die Russiese sone, maar is van Junie 1945 ook verdeel in die oostelike sone wat aan Rusland en die westelike sone wat aan die geallieerde magte toegeken is.

As ’n kapitalistiese vesting in die hart van kommunistiese Oos-Duitsland, het Wes-Berlyn “soos ’n graat in die Sowjet-keel vasgesteek”, het Nikita Chroesjtsjof, leier van die Unie van die Sowjet-Sosialistiese Republieke (USSR), gesê.

In 1948 het Rusland probeer om Wes-Berlyn van die buitewêreld af te sny maar die VSA en sy bondgenote het gereageer met die Berlynse lugbrug waartydens 2,3 miljoen ton kos, brandstof en goedere ingevlieg is.

Die stroom vlugtelinge van Oos-Duitsland (die Duitse Demokratiese Republiek, wat van 1949 tot 1990 bestaan het) deur Berlyn na die Weste was vir die kommunistiese regering ’n verleentheid.

Die muur: Nóú en tóé.

Op 12 Augustus 1961 het Chroesjtsjof opdrag gegee dat die grens gesluit word en die muur van beton en doringdraad met wagposte het verrys.

Deurgang kon by drie grensposte verkry word – Alpha by Helmstadt, Bravo by Dreilinden en Charlie in Friecrichstrasse in die hartjie van Berlyn.

Steven Spielberg se Bridge of Spies (2015) met Tom Hanks wys hoe die muur oornag twee wêrelde geskep het.

Geliefdes is geskei. Wagte met masjiengewere en waghonde het dit bewaak.

Die Mauer was ’n simbool van verdeeldheid en die absolute heerskappy se verdrukking van persoonlike vryheid.

Dit het ook die geopolitieke en ideologiese magstryd – met die ruimte-wedloop en mededinging oor kernwapens as deel daarvan – tussen die kommunistiese Sowjetunie en die VSA vergestalt.

In 1961 het Amerikaanse en Russiese tenks mekaar by Checkpoint Charlie in Friedrichstrasse aangegluur.

Mure perk nie die menslike gees in nie.

Oos en Wes van aangesig tot aangesig in November 1989. Foto: gallo

In die Checkpoint Charlie-museum – wat in 1962 in ’n woonstelletjie begin is – word die verhale van die ontsnappings van meer as 5 000 Oos-Berlyners van die Duitse Demokratiese Republiek na Wes-Duitsland oor, deur én onderdeur die muur vertel. Hul- le het per tonnel, piepklein motors, hangsweeftuie, lugballonne en met geprakseerde lere ontsnap.

Op 17 Augustus 1962 was die jong Peter Fechter die muur se eerste slagoffer toe hy hom voor die oë van die wêreld doodgebloei het nadat Oos-Duitse wagte hom geskiet het. Nóg sowat 80 mense het in mislukte ontsnappings omgekom.

’n Ry plate van leiklip (soos snye roosterbrood in ’n staanhouer) staan voor die Duitse Ryksdag naby die Brandenburg-hek ter herinnering aan slagoffers. John F. Kennedy en Ronald ReaganDele van die muur staan nog. Daar is nog ’n kort stuk naby Checkpoint Charlie in Niederkirchnerstrasse. Dié straat was vroeër Prins Albertstrasse, waar Hitler se hoofkwartier, die Gestapo­ en die SS was.

Weg met die muur!Foto: Gallo

By die Brandenburg-hek het pres. John F. Kennedy van Amerika op 26 Junie 1963 sy Ich bin ein Berliner-toespraak gelewer.

Die Brandenburg-hek aan die Russies beheerde kant was toegespan sodat die Oos-Berlyners nie per ongeluk met Kennedy oogkontak kon maak nie.

Later is gespot dat Kennedy se woordkeuse verkeerd was en hy homself eintlik ’n “jelly doughnut” – ’n oliebol met ’n konfytvulsel – genoem het. Dié uitsprake is weer as verkeerd afgemaak.

In die 1980’s het die druk opgebou. By Checkpoint Charlie het pres. Ronald Reagan van die VSA in 1987 ’n boodskap aan sy Russiese eweknie, Michail Gorbatsjof, oorgedra. Hy het uitgeroep: “Mnr. Gorbatsjof, sluit die hek in belang van vrede oop!’’

Die muur tuimelAan die einde van die dekade wankel die Sowjetunie. Die ekonomie is op die randjie van ineenstorting en die Oosblok verbrokkel. Die verkiesing van 1989 bring nuwe onsekerheid. Verskeie USSR-republieke dreig om af te stig. Oos-Duitsland se Friedliche Revolution volg.

Hongarye lig die Ystergordyn op sy grens met Oostenryk; Oos-Duitsers stroom deur Hongarye en Oostenryk na Wes-Duitsland. Die Oos-Duitse regering kon nie keer nie en Erich Honeker, staatshoof, het in Oktober bedank.

Met hamer en beitel. Só het Berlyners die muur in November 1989 toegetakel. Die muur is op 9 November daardie jaar oopgestel. Foto: gallo

Van 4 November het mense op Alexanderplatz saamgetrek.

Ein Berlin, ein Deutschland!” is aan weerskante gedreunsing. Diegene wat wou gaan: “Wir wollen raus!” Diegene wat wou bly: “Wir bleiben hier!

Teen 9 November het ’n halfmiljoen mense saamgetrek. Destydse foto’s wys opgewonde Duitsers wat ná jare van skeuring en verdeeldheid na die muur opruk.

Die swart, rooi en goud van die Bundesrepublik Deutschland se driekleurvlag met die Middeleeuse arend wapper. Jong mense, bejaardes, huisvroue en werkers het deelgeneem. Punk-kleredrag, gekleurde hare, oorpakke, tatoeëermerke en netjiese klere is te sien.

Berlin muss Hauptstadt bleiben”, “Freiheit kann man nicht kaufen” en “Wir sind das Volk” het die baniere verkondig.

Vroegaand het ’n gejuig opgeklink. Die boodskap is met ’n gedruis aangestuur. Die nuwe Oos-Duitse reisregulasies geld onmiddellik, het Günter Schabowski, partybaas van die Politburo, noodgedwonge laat weet.

“Af met die muur, af met die muur!”

Nog ’n stuk van die Oostelike Galery teen die Spreerivier in Berlyn.

Die skare het gevorder tot by die kennisgewings “Achtung! Sie verlassen jetzt West-Berlin”.

Mense het die muur vol graffiti-kunswerke met hamers begin afkap. Die stukke is agtertoe aangegee. Toe was die hekke oop en feesvierendes stroom deur die niemandsland aan die Oos-Berlynse kant van die muur. Van die aankomende Ossis is deur Wessis met blomme ingewag. Hulle val mekaar om die hals.

Die muur was vernietig en Duitsland was ’n verenigde volk!

Prof. Theo Neethling, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studie en regeerkunde, sê Gorbatsjof se poging in die 1980’s om die ekonomiese­ stagnasie van kommunisme­ met glasnost en perestroika te stuit, was te min te laat. Die Sowjetunie het as ’n politieke unie verkrummel.

In dié konteks het die Berlynmuur geval en die hereniging van Duitsland uitgespeel. “Die val van die muur het die einde van die ideologiese konflik tussen twee supermoondhede en van die wapenwedloop tussen die VSA en die Sowjetunie meegebring.”

Die herenigde Duitsland is opgeneem in die Europese Unie, waar dit nou ’n leidende staat is. Voormalige Sowjetstate het by die EU aangesluit. Moskou het internasionale aansien verloor, dele van Europa is herskik en bloedige oorloë het in Oos-Europa en die Balkan uitgebars.

Heinz Cyrus het in 1965 hier van die Berlyn-muur geval toe hy van Oos na Wes wou vlug. Hy is die volgende dag aan beserings dood.

Volgens Neethling het die magsvakuum wat in Afrika (as speelterrein van die supermoondhede) ontstaan het, tot bloedige oorloë in Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo/Groot Mere-gebied, die Horing van Afrika en elders bygedra.NP-hervormings word moontlik

Die einde van kommunisme – wat deur die val van die muur bevestig is – het ook verandering in Suid-Afrika aangespoor.

“Daar was nie meer ’n Sowjetunie wat die ANC, ook finansieel, gesteun het nie. In Afrika is die post-koloniale orde inbegelei en verstewig,” sê Neethling.

My stuk van die Berlyn-muur. Foto’s: Gert coetzee, tensy anders vermeld

Die vroeëre ondenkbare hervormings van FW de Klerk, as leier van die NP-regering, is moontlik gemaak. In 1994 het die tydvak van demokratiese orde in Suid-Afrika aangebreek en die ANC die eerste (en sover al) bewindsparty geword.

De Klerk het aan CNBC gesê: “Ek sou dit nie kon doen . . . as die Berlynse muur nie geval het nie. Ek is gehelp daardeur dat die bedreiging van ekspansionistiese USSR-kommunisme weggeval en ons die venster van geleentheid raakgesien het . . .”Grenslose vryheidIn Berlyn is die hekke nou oop, die muur is weg en Duitsland is ’n verenigde volk. Aan die ou Oos-Berlynse kant bloei die kapitalisme ook nou.

By die Brandenburg-hek en in die boulevard Unter den Linden kan besoekers hulle steeds aan die breë ruimtelikheid, selfversekerdheid en skoon lyne van ou Berlyn se neo-klassieke argitektuur verkyk. Maar ook aan rye winkels met ontwerpersware.

Grenzenlose freiheit,’’ was die slagspreuk van T-Mobile, ’n selfoonmaatskappy van Duitsland, wat in 2001 in groot letters op ’n rooi reklamebord bo-op die Brandenburg-hek gepryk het.

Dit en baie ander dinge vertel die stuk pers skrootbeton my. “Ich bin ein Berliner,’’ sê dit.

  • Coetzee is Volksblad se redakteur.

Ander bronne: Volksblad-rubrieke 2001, 2014; “Why did the Cold War Arise, and Why Did It End?” deur Raymond L. Garthoff, in Diplomatic History (Oxford Journals, 1992); history.com; “Did the Fall of the Berlin Wall Help End Apartheid” (Katy Barnato, CNBC, 2015).

Meer oor:  Duitsland  |  Berlyn  |  Geskiedenis  |  Berlynse Muur  |  Val Van Die Berlynse Muur  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.