Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
FAK: Ideaal jammerlik verskraal
Universiteitsbesture ‘leuenagtig’

Afrikaanssprekendes het by ’n skeidingsoomblik aangekom. Indien daar voortgegaan word om universitêre Afrikaans af te breek, sal groot getalle van ons mense slegs een gevolgtrekking daaruit maak: dat ons nie welkom is aan die bestaande universiteite nie en dat ons voortaan vir Afrikaans ’n eie universitêre toekoms moet skep, sê prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK-direksie, oor die aanslag teen Afrikaans by universiteite: 

Die FAK wil sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word.

Tydens die afgelope dekades het die een ná die ander universiteitsbestuur plegtig belowe dat universitêre Afrikaans nie in gevaar verkeer nie. Ter ondersteuning is talle mooi klinkende taalbeleide in dié tyd voor die neuse van die Afrikaanse taalgemeenskap geswaai. Daarin word plegtig belowe dat Afrikaans se plek aan die universiteite veilig is.

Vandag blyk hierdie beloftes toenemend niks anders te gewees het as ’n paaiboelie-strategie nie en ten diepste ’n leuenagtige voorstelling van sake. Universiteitsbesture het oor jare openlik vir die Afrikaanse taalgemeenskap gelieg.

Universiteitsbesture moet nie verontwaardig reageer as die Afrikaanse wêreld hul voortaan met die grootste denkbare min­agting hanteer nie. Dit sal enkel en alleen hul eie skuld wees.

Van die UV-studente wat dié week op die kampus betoog het, is hier besig om die standbeeld van oudpres. C.R. Swart te verwoes. Die hele opstand op kampusse is onder die rookskerm van teenstand teen Afrikaans deur partye soos die EFF gevoer. Miljoene rand se skade is aan kulturele erfenis, soos die beeld, en geboue aangerig. Universiteite is ook vir dae gesluit. Die UV het reeds Afrikaans in ’n eensydige, omstrede stap afgeskaal en die Universiteit van Pretoria het ook feitlik met Afrikaans weggedoen toe veral EFF-lede die kampus stormgeloop het. Foto: CONRAD BORNMAN

Daar word tot vervelens toe aangevoer dat die getal Afrikaanssprekende studente afgeneem het, en dat Afrikaans daarom afgeskaf moet word.

Die werklike toedrag van sake is dat die absolute getalle van Afrikaanse studente nie dramaties afgeneem het nie, en dat hulle steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op kampusse soos die US, die UP en die NWU is.

In hierdie verband mag nie vergeet word nie dat toe Engelssprekende studente slegs 14% van die totale bevolking by UP uitgemaak het, was die aanbod van klasse in beide tale klaarblyklik “ekonomies regverdigbaar”.

Noudat Afrikaanssprekendes 30% van die totale bevolking van dieselfde universiteit uitmaak, is dit skielik nie meer haalbaar nie.

Hierdie feit skep by Afrikaanssprekendes onwillekeurig die indruk dat daar met twee maatstawwe gewerk word. Van ’n sin vir regverdigheid is daar, ondanks mooi klinkende beloftes, kennelik geen sprake nie.

Die afgelope jare het dit ook mode onder universiteitsbesture, hul akademiese meelopers en raserige populiste geword om aan te voer dat Afrikaans op ons kampusse uitsluitend werk.

Inderwaarheid bestaan daar nie ’n enkele bewys daarvoor dat Afrikaanse klasse aan “ons” universiteite per definisie teen enige anderstalige student diskrimineer nie. Inteendeel, eertydse Afrikaanse universiteite het bykans tot die dood toe (blyk dit nou) agteroor gebuig om anderstaliges (lees: veral Engelssprekendes) ter wille te wees.

Hoe is dit moontlik dat dié agteroorbuig ten gunste van anderstaliges nou met diskriminasie téén hulle gelyk gestel word? Enigeen wat dit doen, ly aan kwaadwilligheid, misplaaste haat, kollektiewe selfontkenning, werklikheidsvreemde denkbeelde oor ’n wêreld sonder taalgrense of al hierdie patologieë tegelyk.

Die afgelope dekades het dit mode in veral die geesteswetenskappe geword om aan te voer dat daar nie iets soos die

“werklikheid” is nie, maar dat alles deur ons “gemaak” of “geskep” word.

Ironies hiervan is egter dat verskeie akademici wat so dink, baie gou is om aan te voer dat ons onsself, wat Afrikaans betref, by die sogenaamde harde werklikheid van getalle moet neerlê.

Skielik vergeet hierdie einste akademici dat daar (ingevolge hul eie denke) planne gemaak en nuwe uitweë gesoek kan word om die agteruitgang van Afrikaans te verhoed.

’n Tweede ironie wat hieraan knoop, is dat dit ook hierdie einste akademici is wat so graag na buite voorgee om in opstand teen “die bestaande ordes” te wees, terwyl hulle inderdaad die eerstes is wat hulle by die diktate daarvan neerlê.

Van opstand is daar hoegenaamd geen sprake nie.

’n Onlosmaaklike deel daarvan is dat studente eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou is as hulle hul wêreld met behulp van ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) oop kan maak.

Een van die grootste gekhede van vandag is die verwagting by populistiese groepe (nagepraat deur leunstoel-akademici) dat die verwydering van Afrikaans uiteindelik daartoe sal bydra om hul ekonomiese en sosiale nood te verlig.

Die tragiese ironie hiervan spreek vanself: Die grootse prestasie wat universitêre Afrikaans is, is juis ’n voorbeeld wat deur dié groepe nagevolg en nie afgebreek behoort te word nie.

Afrikaans se ontwikkeling tot op die hoogste vlak het daartoe meegewerk dat talle Afrikaners in staat gestel is om ook ekonomies suksesvol te wees. Indien universitêre Afrikaans afgebreek word, word ’n belangrike voorbeeld en selfs bondgenoot vernietig.

Afrikaanssprekendes word tot vervelens toe daaraan herinner dat Afrikaans nie sal uitsterf solank as wat ons dit praat nie. Hieruit word die gevolgtrekking gemaak dat ons moet ophou om oor die stand van Afrikaans aan ons universiteite te kla.

Ook hierdie punt is ongegrond. Afrikaans sal inderdaad, soos beweer word, nog lank sonder universitêre Afrikaans kan oorleef. Maar blote oorlewing is juis nie waaroor dit in die taalgesprek gaan nie. Die vraag is eerder “hoe” Afrikaans in die toekoms sal oorleef.

Sonder haar aanwesigheid op universiteit loop Afrikaans die wesenlike risiko om haar status as taal van die intellek, die verbeelding en die morele bewussyn prys te gee. En tot ’n informele taaltjie van die sypaadjie en die kombuis gereduseer te word.

Apologete vir Engelse eentaligheid voer dikwels aan dat die beskerming van tale (en kulture) nie die taak van ’n universiteit is nie. Ook hierdie stelling is louter bog. Dit strook eenvoudig nie met die werklikheid nie.

By verre die meeste universiteite in die moderne ontwikkelde wêreld is nie net tot stand gebring om studente vir die beroepslewe voor te berei nie, maar ook om hulle in die breë sin van die woord op te voed. En ’n onlosmaaklike deel daarvan is dat studente eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou is as hulle hul wêreld met behulp van ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) oop kan maak.

Die kultivering van moedertale aan universiteite staan nie in spanning met die akademiese lewe nie, maar verteenwoordig eerder ’n onontbeerlike deel daarvan. Die oppervlakkige Engels wat vandag as normatief aan ons universiteite beskou word (en op ’n ondemokratiese wyse aan almal opgedwing word), verteenwoordig ’n ernstige verskraling van dié opvoedingsideaal. Die volle ontwikkeling van ons moedertale op universiteit kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek aan ons universiteite te gee.

Meer oor:  Afrikaans  |  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.