Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Identiteit: Aanvaar dat almal verskil

Die tameletjie van identiteitspolitiek in Suid-Afrika het gister aan die bod gekom in die eerste Rede-kabel-gesprek op Aardklop: “Afrikaner, bruin, Afrikaanssprekend, Afrikaan, Kleurling, Boer, Khoi-San, Suid-Afrikaner. Wie is ons? En maak dit saak?” Ilse Bigalke doen verslag.

Christo Davids en Raymond Willemse Woensdag by die eerste Rede-kabel-gesprek op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom.

Die kern van hierdie tema – dat alle lede van homo sapiens ’n gemeenskaplike faktor het in die vorm van “sowat ’n miljoen gene wat baie dieselfde is, maar effens verskil” – is aan die einde van gesprek geopper deur ’n lid van die gehoor, die afgetrede medikus dr. Christiaan le Roux.

Maar dat hierdie verskille, al is dit hoe klein, kulture en gemeenskappe definieer en dat dit gerespekteer moet word om eenheid in diversiteit in Suid-Afrika te skep, was die sleutelboodskap van al die gespreksgenote onder leiding van Heindrich Wyngaard, mede-aanbieder van kykNet Verslag en KLOP!

Suid-Afrikaners verkies om hulself te identifiseer, eerder as dat ’n identifikasie aan hulle opgedwing word.

Dit beteken ook dat die besluit van groepe bruin mense wat die term “Kleurling”, “Hessequa” of “Khoi-San” verkies, of die besluit van sommige Afrikaners soos dié van Koos Kombuis destyds om uit “Afrikanerskap” te bedank, gerespekteer moet word. ’n Standpunt wat sterk benadruk is, is dat Suid-Afrikaners verkies om hulself te identifiseer, eerder as dat ’n identifikasie aan hulle opgedwing word.

Hierdie konsep is goed geformuleer deur dr. Danny Titus, uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede van die ATKV: “In die huidige Suid-Afrika is daar tot die besef gekom dat Suid-Afrikaners nie ’n eenvormige groep hoef te wees nie. Ons moet ons verskille erken en gemaklik daarmee wees. Dán kom ons by eenheid in diversiteit uit. Suid-Afrikaners is nie met behulp van ’n koekievorm gedruk en lyk derhalwe almal dieselfde nie.”

Veelvuldige identiteite elders normale praktyk

Flip Buys, hoof van Solidariteit, aan die woord by die eerste Rede-kabel-gesprek.

Raymond Willemse, hoof van Beeld se Metro-projekte, het gesê talle jong mense soek in die huidige era na identiteit en aanvaarding. “Ons moet daaroor praat sodat ons mekaar kan vind en verstaan.

“Ek verstaan waar die term ‘Kleurling’ vandaan kom. Ek het grootgeword in ’n gemeenskap waar ons mekaar ‘Kleurling’ genoem het, terwyl ‘bruin’ ’n bietjie aanstoot gegee het. Ons is Suid-Afrikaners en tóg word ons gegroepeer. Eers is Trevor Manuel die eerste swart minister van finansies genoem en toe kom Nhlanhla Nene en hý word die eerste swart minister van finansies genoem. Ons suig dus aan die agterste speen, maar dit is wie ons is en ons is trots daarop.”

Flip Buys, hoof van Solidariteit, het verwys na Ivan Pavlov, die eerste Rus wat ’n Nobelprys verower het. Pavlov was bekend vir sy navorsing oor die kondisionering van gedrag en die Russiese regering het hom gevra om te help met proefnemings om mense se gedrag op groot skaal te help standaardiseer. “Sy antwoord was dat hy nie eens ’n padda se agterpoot vir dié soort maatskaplike eksperiment sou opoffer nie.”

Ek is bekommerd dat die owerhede die multikulturele werklikheid van Suid-Afrika wil omskep in hul beeld van ’n monokulturele land.
Flip Buys

Buys het gesê veelvuldige identiteite is ’n normale demokratiese praktyk in die wêreld: In België is die Belge ook Vlaminge; in Brittanje het inwoners ’n Britse paspoort, maar is ook Skotte; in Namibië is Ovambo’s ook Namibiërs, ensovoorts.

“Ek is bekommerd dat die owerhede die multikulturele werklikheid van Suid-Afrika wil omskep in hul beeld van ’n monokulturele land, met ander woorde dat hulle die mensdom op ’n sekere wyse wil standaardiseer.

“Ek wil ’n voorbeeld noem: Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, gebruik woorde soos inklusiwiteit en ‘ons moet saamwerk’ onder die dekmantel om eenvormigheid af te dwing. Dít terwyl lidmaatskap van ’n kultuurgroep ’n demokratiese mensereg is . . . en as iemand jou wil ontneem van instellings waarvan jy afhanklik is om kultuur na die volgende geslag oor te dra, is die doel om daardie kultuur te vernietig.”

Flip Buys, hoof van Solidariteit: Veelvuldige identiteite is ’n normale demokratiese praktyk in die wêreld.

Hy sê identiteit kom neer op selfdefiniëring en die aanvaarding van die geskiedenis in die praktyk: “My mense het partykeer goed gevaar en partykeer nie, maar dit is my mense.”

Hy meen mense moet die ruimte gegun word om hul kultuur en identiteit uit te leef – dan sal hulle die beste Suid-Afrikaners wees wat hulle kan wees. Wedersydse erkenning en respek is belangrik, soos dié wat onlangs tussen Solidariteit en die Zoeloes betoon is.

Hulle stem nie saam oor grondeienaarskap nie, maar erkenning is gegee oor dit waaroor hulle wel saamstem.

Apartheid se mure het geval

Heindrich Wyngaard, gesprekleier van die eerste Rede-kabel-gesprek op vanjaar se Aardklop-kunstefees in Potchefstroom.

Volgens Christo Davids, bekende akteur en skrywer, is die struggle teen apartheid as ’n “swart” struggle gedefinieer en is nie erkenning gegee aan lede van al die ander bevolkingsgroepe se bydrae nie.

“Ek is uit die post-apartheid generation en besef dit het nie net ’n uitwerking op een groep gehad nie, maar op verskillende maniere op verskillende groepe. Ons moet dit verstaan en begryp. Net omdat jy wit, bruin of Indiër is, beteken dit nie jy word nié deur die verlede geraak nie.

“Hoe gouer ons begin respekteer dat ons almal van mekaar verskil, hoe beter. As ek na ’n swart of ’n wit ou kyk en sê ek sien nie sy kleur nie, I’m denying his past. Ons moet respekteer dat ons verskillend is. Dan is daar unity in our diversity. Onthou, ons is die enigste land met elf amptelike tale.”

Eenvormigheid word nie op ons afgedwing nie – ons het ’n keuse.
Dr. Danny Titus

Davids het bygevoeg dat dit waarvoor mense staan, ’n groot uitwerking op hul identiteit het.

Oor die vraag of dit saak maak hoe ons onsself identifiseer, het Titus gesê in sy gemeenskap was dit jare lank ’n verdelende kwessie.

“Om dit op mense af te dwing het mense verdeel, maar in die nuwe Suid-Afrika besef ons dinge lyk anders. Eenvormigheid word nie op ons afgedwing nie – ons het ’n keuse. Apartheid het soveel mure geskep, maar dit het geval. Die onus is op ons om juis rustig met mekaar gesprek te voer, want die mure en stereotipes sit nog in ons koppe. Ons het hierdie gesprekke nodig om mekaar te verstaan.”

Dr. Danny Titus van die ATKV (heel regs): “Apartheid bly die vyand en verdelende faktor.”

Titus het daarop gewys dat die Gelofte deur ’n bruin man, Jan Gerhard Bantjes, geskryf is. “Ons geskiedenis is ’n klomp liegstories en ons moet dit begin afleer en . . . in ruimte en vryheid met mekaar in gesprek tree om te bou aan hierdie land. Ons het die ANC, die Zoeloes en Afrikaners nodig. Voorts moet ons kan selfidentifiseer, soos (Flip) Buys sê.”

Volgens hom leef talle Suid-Afrikaners in die verlede en het nog nie van apartheid afskeid geneem nie. “Ek dink nie ons kan in die verlede vassit nie. Apartheid bly die vyand en die verdelende faktor. Hoe gouer ons daarvan ontslae kan raak, hoe gouer kan ons vorentoe kyk en die land laat groei en Cyril Ramaphosa help om die Zuma-faksies die nek in te slaan.”

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, het uit die gehoor gesê Suid-Afrika moet waak teen die Brasiliaanse eenvormigheidsresep, soos deur Lesufi voorgestaan, om tale en kulture te vernietig en alle skole en universiteite te verengels.

Willemse het bygevoeg dat Suid-Afrikaners groter waardering vir andersheid moet openbaar: “In ’n pakkie Jelly Tots is daar verskillende geure, wat almal lekker is. Ons moet dink aan ons medemens en hoe ons mekaar kan ophef.”

* Die Rede-kabel-gesprekkereeks word aangebied in samewerking met Beeld, asook kykNET-verslag, Prontuit en KLOP!

* Bigalke is Beeld se meningsredakteur.

Meer oor:  Aardklop  |  Danny Titus  |  Flip Buys  |  Christo Davids  |  Potchefstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.