Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Identiteitskrisis die gevolg van historiese denkfout
Foto ter illustrasie.

Verlede week vra Jacob Rooi in sy rubriek die vraag of bruin mense hulself moet sien as deel van ’n bruin groep of net as Suid-Afrikaners. In sy artikel haal hy ook vir Lionel Adendorf aan wat beweer dat sommige bruin mense nog wonder oor hulle identiteit en posisie in die samelewing.

Adendorf is ook van mening dat bruin mense nog nie bevry is van die apartheidsjuk nie en dat hulle ’n “tweede bevryding” benodig.

Dit is ’n mondvol, maar ongelukkig tog baie waar. Hierdie onbevryde posisie van bruin mense het ’n lang geskiedkundige aanloop.

In Suid-Afrika was een van die fundamentele historiese foute om velkleur tot die enigste identiteitsbepalende faktor te verhef. Wanneer ras aan identiteit gekoppel word asof ras die enigste komponent is wat identiteit bepaal, bevorder dit gemarginaliseerdheid.

Identiteit in Suid-Afrika word te maklik omskryf deur middel van velkleur. ’n Mens se velkleur is net een komponent van jou identiteit. Hierdie eng definisie van identiteit het veroorsaak dat opeenvolgende maghebbers mense kunsmatig saamgroepeer het.

Die kompleksiteit rondom kleur en ras in Suid-Afrika bestaan dus vandag as gevolg van ’n verwronge historiese siening van kleur en ras.

Daar is en was baie meer aan die identiteit van bruin mense as net die kleur van hul vel.

Hierdie verwronge siening het ook gelei tot die term “kleurling”.

Die benaming bruin mense of kleurlinge is ’n historiese benamingsfout wat moeilik, indien ooit, reggestel sal word. Dis ’n ongelukkige term, wat as gevolg van historiese redes in omloop gekom het, en by gebrek aan ’n beter Afrikaanse woord ’n direkte vertaling van die Engelse woord “coloured” is. Die term “coloured” of “bruin” in Suid-Afrika veronderstel mense met gemengde bloed, asof die swart mense en wit mense in hierdie land se bloed almal suiwer is.

Die historikus dr. Hans Heese is jare gelede in wit geledere verklaar tot ’n persona non grata toe hy in sy boek Groep sonder grense (1985) histories korrek aangedui het dat wit mense in Suid-Afrika ook gemengde bloed het. Wat is die definisie van suiwer bloed in elk geval en watter ras in Suid-Afrika kan aanspraak maak op suiwer bloed?

Die benaming bruin mense/kleurlinge was regdeur die geskiedenis ’n politieke identiteit wat op velkleur en ras gegrond was. Daar is en was baie meer aan die identiteit van bruin mense as net die kleur van hul vel. Bruin mense het ’n veelkantige identiteit. Identiteit is die somtotaal van al die ­kenmerke wat ’n individu of groep se mensheid omskryf.

Dit het ook ’n maatskaplike dimensie. Dus is identiteit nie ’n statiese toestand nie. Dit is ’n voortdurende proses waardeur die individu of groep tot selfwording en menswording kom, geslyp deur tyd, omstandighede en verhoudings.

Die volle identiteit van bruin mense vandag word gestereotipeer as die agtergeblewe, agterplaasbewoners wat sukkel met tienerswangerskappe, dronkenskap en dwelmafhanklikheid. Dit het die norm van hul identiteit geword. Bruin mense se geskiedenis en kultuur was altyd uitgebeeld as agterlik en primitief. So ’n uitbeelding van mense se geskiedenis het altyd ’n negatiewe invloed op hul identiteit en hul spiritualiteit.

Dit is hierdie historiese denkfout en benamingsfout wat gelei het tot die huidige identiteitskrisis onder bruin mense. Daar word geredelik maklik verwys na bruin mense as ’n etniese groep wat afstammelinge is van die Khoi, die San en die slawe. Dit is op hierdie punt dat die historici gedwaal het. Daar was baie meer inheemse stamme as net die Khoi en die San. Bruin mense is histories beskryf as ’n gemeenskaplike groep in die wetboek.

Bruin mense hoef nie te wonder oor hul identiteit in Suid-Afrika nie, en oor hulle posisie hoef hulle ook nie te wonder nie. Hulle moet self iets daaromtrent doen. Hulle moet hul identiteit en posisie opeis, want hulle is ten volle Suid-Afrikaners, soos die swart mense en die wit mense. Bruin mense is nie minder Suid-Afrikaners as die ander groepe nie, trouens hulle is histories meer Suid Afrikaans as al die ander rasse. Die rasseklassifikasie gaan ook nie môre uit Suid-Afrika verdwyn nie.

Dus is my oproep tot bruin mense: Transendeer die gemarginaliseerdheid en neem jou regmatige posisie in, nie as bruin mens nie, maar as ’n volwaardige Suid-Afrikaner. As jy jouself aanhou sien as ’n gemarginaliseerde mens word jy ’n gevangene van jou eie denke. Moet dus nie toelaat dat ander jou klassifiseer en daardeur kondisioneer om te glo dat jy net ’n agtergeblewe bruin mens is, eerder as ’n volwaardige Suid-Afrikaner nie. Maak jou bydrae, hetsy op die sportveld, kultuurgebied of in die akademie, eerstens as ’n Suid-Afrikaner, en nie soseer as ’n bruin mens nie.

*Dr. Charles Flaendorp is tentmakerleraar by die VGK gemeente Macassar en voorsitter van die

paroolraad in die Overberg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.