Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ideoloë blind vir ekonomiese skade van onteiening

’n Mens moet (ideologies) blind wees om nie die verband tussen die beskerming van eiendomsreg en belegging, ekonomiese groei en welvaart raak te sien nie, skryf Theuns Eloff.

Onteiening sonder vergoeding kan voedselsekerheid in die gedrang bring. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Die spertyd vir kommentaar op die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet (die sogenaamde Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp) kom vinnig nader.

Talle organisasies is besig om hul kommentaar op skrif neer te pen. Die meerderheid sal hulle daarteen uitspreek, terwyl hulle hul verbintenis tot die noodsaak van grondhervorming in terme van die Grondwet sal bevestig.

Die wetsontwerp stel die volgende veranderings aan art. 25 (2) en (3) voor:

* Ondanks die huidige bepaling dat onteiening aan vergoeding onderworpe is, mag ’n hof bepaal dat vir grond en enige verbeterings daarop wat ter wille van grondhervorming onteien word, die vergoeding nul mag wees.

* Nasionale wetgewing moet, onderhewig aan subartikels (2) en (3), spesifieke omstandighede bepaal wanneer ’n hof mag beslis dat die bedrag van vergoeding nul is.

Die feit dat die voorgestelde wysiging die gesag van die hof behou (en daarmee die oppergesag van die reg bly erken) en dat onteiening beperk word tot grond, is in ’n mate positief.

Maar dat alle verbeterings op grond ongekwalifiseerd ook met nul vergoeding onteien kan word, en dat wetgewing (wat met ’n gewone meerderheid van 50% plus een aanvaar kan word) die howe kan bind met betrekking tot die omstandighede waaronder vergoeding nul kan wees, is uiters negatief en kommerwekkend.

Waar is die voorwaardes nou?

Bloot net planne om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak het landbouproduksie al nadelig beïnvloed. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Onteiening sonder vergoeding (OSV) het formeel ANC-beleid geword op die Nasrec-konferensie van Desember 2017. Die Ramaphosa-groep, onder druk van die aanslag van die Zupta-groep oor OSV, het dit reggekry dat daar vier voorwaardes vir die implementering van OSV aanvaar is.

Die wysiging van art. 25 moes nie só in werking gestel word dat dit landbouproduksie, voedselsekerheid, toekomstige belegging in die ekonomie en ander sektore van die ekonomie skaad nie. Die parlementêre mosie oor onteiening sonder vergoeding vroeg in 2018 het ’n ander klem gehad: die wysiging aan art. 25 moet só geïmplementeer word dat dit landbouproduksie vergroot en voedselsekerheid versterk.

Ondanks hierdie twee besluite, word daar in die voorwoord en die teks van die wysigingswetsontwerp geen woord gerep oor landbouproduksie, voedselsekerheid en toekomstige belegging in die ekonomie nie.

Trouens, die ekonomie speel klaarblyklik geen rol in die wysiging en die doel daarvan nie. Die regerende party het dus van sy eie Nasrec-besluit afgewyk, en die parlement van sy eie mosie.

Daar is bewyse dat selfs net die planne om onteiening sonder vergoeding in werking te stel, die ekonomie skade gedoen het.

Die klem in die voorwoord is uitsluitlik op die regstelling van historiese onregte, en moet verseker dat daar billike toegang tot grond is wat die meerderheid van Suid-Afrikaners sal bemagtig om produktiewe deelnemers in eienaarskap, voedselsekerheid en landbouhervormings-programme te wees.

Hoe edel hierdie doelstelling ook al is, sal dit opsigself geen snars verskil maak aan meer landbouproduksie en voedselsekerheid nie, en nog minder aan nuwe belegging in die ekonomie en ekonomiese groei.

Trouens, daar is reeds tekens dat selfs die planne om onteiening sonder vergoeding te laat gebeur, landbouproduksie en voedselsekerheid negatief beïnvloed het. Dit kan gesien word aan die groot aantal landbouplase wat in die mark is.

Erger nog: Daar is bewyse dat selfs net die planne om onteiening sonder vergoeding in werking te stel, die ekonomie skade gedoen het. Ons ekonomiese groeikoers die afgelope twee jaar is die swakste sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Blote sprake van onteiening skaad reeds

Pres. Cyril Ramaphosa se ondersteuners in die ANC moes die aftog blaas oor onteiening sonder vergoeding. Foto: Sarel van der Walt

Die onlangse publikasie van die World Heritage Foundation se Indeks van Ekonomiese Vryheid in 2019 is ’n verdere bewys hiervan. Die indeks meet vier faktore in elke land wat geëvalueer word: die oppergesag van die reg (insluitend eiendomsreg), die grootte van regering, regulatoriese doeltreffendheid en die openheid van die mark.

Die indeks evalueer die mate waarin ’n land se regstelsel individue toelaat om private eiendom te bekom, te besit en te gebruik, en tot watter mate daardie reg deur die staat beskerm word. Die indeks voorsien ’n meetbare maatstaf oor die doeltreffende beskerming van eiendomsreg deur ’n land se wetgewing, en evalueer die waarskynlikheid dat eiendom onteien kan word.

Die indeks van ekonomiese vryheid plaas 180 lande in ’n rangorde in vyf kategorieë:

* Ekonomies vry (agt lande, met ’n indekspunt van 100-80);

* Ekonomies meestal vry (29 lande, met ’n indekspunt van 79.9-70);

* Ekonomies matig vry (59 lande, indekspunt 69.9-60);

* Ekonomies meestal nie vry nie (64 lande, indekspunt 59.9-50); en

* Ekonomies onderdruk (22 lande, indekspunt 49.9-40).

Dit is ’n dramatiese val in een jaar en kan slegs deur die planne om onteiening sonder vergoeding te laat gebeur, verklaar word.

Suid-Afrika is vir 2019 as nommer 102 uit 180 lande geplaas, met ’n indekspunt van 58.3 en in die kategorie “meestal nie vry nie”.

Belangriker is egter die feit dat Suid-Afrika as ’n land 4.7 indekspunte in een jaar geval het, en nou nie meer in die kategorie “meestal vry” val nie.

Volgens die Indeks is die belangrikste rede vir dié terugsakking die verswakkende persepsie oor eiendomsreg in Suid-Afrika.

In 2018 was die indekspunt vir spesifiek eiendomsreg 67.7. In een jaar – die jaar waarin die proses oor die verandering van art. 25 vorm begin aanneem het – het die indeks met 8.9 indekspunte of 13% tot 58.8 geval.

In dieselfde jaar het die wêreldgemiddeld vir eiendomsreg van 51.5% tot 52.3% gestyg, en het selfs dié van Afrika suid van die Sahara van 38.3 tot 38.9 gestyg.

Dit is ’n dramatiese val in een jaar en kan slegs deur die planne om onteiening sonder vergoeding te laat gebeur, verklaar word.

Suid-Afrika se agteruitgang in ekonomiese vryheid (lees: eiendomsreg) is die derde grootste in die indeks. Slegs Tonga (5.4 punte) en Vanuatu (13.1, ’n eiland in die Stille Oseaan) het swakker gevaar. Die ander lande wat teruggeval het, is ook nie die beste geselskap nie: Tadjikistan (2.7), Tunisië (3.5); Zimbabwe (3.6), Sierra Leone (4.3), Kuba (4.1) en Kiribati (3,5).

‘Waar belê ek?’

Theuns Eloff

Hoekom is hierdie ranglys belangrik in die konteks van onteiening sonder vergoeding? Belegging, ekonomiese groei (insluitend landbouproduksie en trouens enige ekonomiese bedrywigheid) en die daarmee gepaardgaande werkskepping is in die eerste plek ’n kwessie van persepsie.

Die belegger of sakemens vra: “Sal my belegging groei?” en “Is my belegging veilig?” Indien daar die geringste twyfel is, word eerder elders belê.

En op die vraag of ek my belegging na die land sal neem waar ekonomiese vryheid en die persepsie van eiendomsreg met 13% in een jaar geval het (en die derde meeste wêreldwyd), is die antwoord ’n besliste “nee”.

Dit veroorsaak dat Suid-Afrikaanse besigheidsmense (insluitend boere) nie vertroue het om te belê nie en op miljarde rand se kontant sit.

Die 35 toplande (vry en meestal vry) het die beste beleggings en ekonomiese groei en die laagste werkloosheid in die wêreld.

Daar is ’n verband van byna 100% tussen ekonomiese vryheid (waarvan eiendomsreg ’n baie belangrike aspek is) en belegging, ekonomiese groei en welvaart.

Die 35 toplande (vry en meestal vry) het die beste beleggings en ekonomiese groei en die laagste werkloosheid in die wêreld. En dit sluit nie slegs die ontwikkelde lande soos Switserland (nr. 4) en Singapoer (nr. 2) in nie, maar ook ontluikende markte soos Georgië (16), Chili (18) en Rwanda (32).

Daarteenoor het die onderste tien lande (ekonomies onderdruk) die hoogste werkloosheid, die laagste groeikoers en die minste belegging. Hieronder tel Zimbabwe (175), Eritrea (177), Kuba (178) en Venezuela (179).

Hierdie agteruitgang in ekonomiese vryheid en eiendomsreg het reeds gebeur terwyl die beplanning vir onteiening sonder vergoeding nog net aan die gang was. ’n Mens sidder om te dink wat sal gebeur as dit ’n werklikheid word.

‘Net ’n gat in die grond’

In sy verslag van 2019 oor Suid-Afrika skryf die Wêreldbank dat groei “anemies” was en tot 0.4% geval het. Dit word onder meer toegeskryf aan “volgehoue beleidsonsekerheid” en “onderdrukte besigheidsvertroue”. Die planne om onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid te maak, speel hierin ’n beslissende rol.

’n Mens moet (ideologies) blind wees om nie die verband tussen die beskerming van eiendomsreg en belegging, ekonomiese groei en welvaart raak te sien nie. Dit is duidelik dat die regerende party (en veral sy linkervleuel) en die EFF-narre aan sy linkerkant geen benul het hoe ’n moderne ekonomie werk nie. Die uitgansgpunt is om grond gelyk te stel aan welvaart. Maar soos wat wyle Harry Oppenheimer aan die jong Cyril Ramaphosa gesê het: “ ’n Myn is slegs ’n gat in die grond” (sonder die kundigheid om iets meer daarvan te maak).

Net so is ’n plaas slegs ’n dooie stuk grond sonder die kundigheid om iets daarop te produseer.

Grondliggend hieraan is eiendomsreg om die grond te benut en te verbeter en daarmee saam die beskerming van daardie eiendomsreg deur die staat.

Dit skep beleidsonsekerheid (oor veral eiendomsreg), voorkom beleggings en skaad die ekonomie.

Ondanks hierdie internasionale inligting en wetenskaplike bewyse, word die Grondwet Agtiende Wysigingswetsontwerp deur die regerende party deur die parlement gedruk om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Dit skep beleidsonsekerheid (oor veral eiendomsreg), voorkom beleggings en skaad die ekonomie. Dit gáán landbouproduksie en voedselsekerheid skade berokken. Dit gáán Suid-Afrika dekades terugsit én ons in die geselskap van Zimbabwe en Venezuela plaas. Maar miskien is dit wat die ideologies blindes wil hê.

* Dr. Eloff is voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Zimbabwe  |  Venezuela  |  Kuba  |  Ekonomie  |  Onteiening Sonder Vergoeding  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.