Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
In die Covid-waaksaal: ‘As hulle sterf, sterf hulle alleen’

Sy was die dokter wat die heel meeste ure gewerk het in die Covid-19-waaksaal in die Tygerberg-hospitaal – nie omdat sy moes nie, maar omdat sy wou. Dr. Alexandra Buckley het aan Willemien Brümmer gesê sy kan die laaste snak onthou van elk van die pasiënte vir wie sy niks meer kon doen nie.

Dr. Buckley in die gang van A5, waar sy op 30 April, toe sy veronderstel was om in ‘n ivoorwit trourok op ’n strand in Kuba te trou, steeds “in die paadjie kon afstap”. Foto: Jaco Marais

Dit was die dag toe sy veronderstel was om in haar ivoorwit trourok met sy onmoontlike lang sleep op ’n strand in die Kubaanse hoofstad, Havana, te sê: “I do.”

Haar Raponsie-hare sou halflos gewees het en haar en haar Kubaanse bruidegom se familie sou van oor die wêreld heen ingevlieg het.

In plaas daarvan was dr. Alexandra (“Ally”) Buckley op bystand in A5, die Covid-19-waaksaal in die Tygerberg-hospitaal, waar die lewe net ’n asem lank is.

Sy was geklee in ’n blou hospitaaljurk en ’n wit plastiek-voorskoot, en haar lang rooiblonde hare was skaars agter die N95-gesigmasker en -skerm sigbaar.

Sy lag. “Wat lekker was, was dat my kollegas die ‘troudag’ op 30 April in iets ligters omskep het. Hulle het gesorg dat die huwelik steeds ‘voortgaan’ – nie in Kuba nie, maar in die gang van die waaksaal met verskeie mense wat onderskeie rolle soos dié van die seremoniemeester en predikant, ensovoorts, gespeel het.

“Ek kon steeds in die spreekwoordelike ‘paadjie’ afloop.”

Die enigste probleem was dat haar bruidegom, met wie sy reeds in 2016 op ’n siviele seremonie getrou het, tuis vir haar moes wag.

Slegs Covid-19-pasiënte en personeel word toegelaat agter A5 se swaar ysterhekke met die rooi hake op die internasionale lewensgevaar-teken.

Vir heelparty van die pasiënte hier – wat óf aan ventilators óf aan hoëvloei- nasale suurstof gekoppel is – is dit ’n eenrigtingstraat na ’n plek waar hulle hul families dalk nooit weer sal sien nie.

Buckley, wat in interne geneeskunde spesialiseer, sluit vir ’n oomblik haar bruin kykers. Sy is die dokter wat die afgelope vyf maande die meeste ure in die waaksaal deurgebring het.

Al wat ek kon doen, was om hul hande vas te hou en stil te bid.

“Ek het in hierdie kort tydjie talle, tálle sterftes gesien. Ek het in 2012 gegradueer en sedertdien het ek nog nooit so baie sterftes soos die afgelope vyf maande in hierdie waaksaal gesien nie.”

Haar stem is sag. “Ek dink ek kan elkeen van hulle onthou en in watter bed hulle gelê het. Met party is dit ’n baie intense herinnering aan waar ek langs ’n bed staan en dan kan ek nog die laaste oomblik en die laaste snak sien. Al wat ek kon doen, was om hul hande vas te hou en stil te bid.”

’n Adrenalienslaaf in die waaksaal

In plaas daarvan dat sy soos die ander kliniese assistente in haar veld elke drie maande roteer het, het sy verkies om in A5 te bly totdat die ergste verby is. Nie omdat sy moes nie, maar omdat sy wil – al het dit aanvanklik beteken dat sy vir 24 uur aaneen die enigste dokter aan diens was.

“Die 24-uur-skofte het ’n bietjie uitdagend geraak, en toe het hulle meer kliniese assistente begin inkorporeer totdat ons twee op skofte van twaalf uur lank was. En toe die getalle begin toeneem, het ons meer geword en uiteindelik was ons vier spanne van vyf kliniese assistente elk op bystand omdat daar so baie pasiënte was. En daar was dag en nag toesig en ongelooflike steun en leiding deur konsultante soos dr. Usha Lalla, dr. Coenie Koegelenberg en dr. Brian Allwood.”

Dr. Buckley (in rooi) staan saam met van die ander kliniese assistente in interne geneeskunde wat in die krisistyd in die pandemie in A5 gehelp het. Van links is dr. Jaco Cilliers, dr. Thabiet Jardine, dr. Caryn Burton en dr. Alistair Broadhurst. Buckley het verkies om nie gedurende die piektyd van die pandemie elke drie maande na ’n ander afdeling te roteer soos wat die geval onder gewone omstandighede sou wees nie. Foto: Jaco Marais

Gelukkig, sê sy laggend, is sy ’n adrenalienslaaf wat graag rekspronge van brûe af doen. “Ek was nie bekommerd daaroor om self siek te word nie, maar ’n mens is bekommerd oor familie en die mense om jou. Vir my was die probleem dat my man ’n Kubaan is (‘nee, hy is nie ’n dokter nie’) en nie by sy familie sou kon wees as hy sou siek word nie. Maar ons is albei jonk (sy is 33) met geen onderliggende siektes nie, so nie een van ons het te veel daaroor gestres nie.”

Wanneer hulle só moeg is dat jy hulle aan ’n ventilator moet koppel, vra hulle jou: ‘Sal alles oukei wees?’ En jy weet nie wat om vir hulle te sê nie.

Niks sou haar egter kon voorberei op ’n waaksaal wat van wes na oos oor ’n hele vloer sou strek met pasiënte wat nie een meer op hul eie kon asemhaal nie. Die ergste was dat hul families nie by hulle kon wees om te groet nie. “As hulle sterf, sterf hulle alleen. Jy kon die angs en die kommer in ’n pasiënt se oë sien. Wanneer hulle só moeg is dat jy hulle aan ’n ventilator moet koppel, vra hulle jou: ‘Sal alles oukei wees?’ En jy weet nie wat om vir hulle te sê nie.”

Sy vroetel met haar vlegsel wat byna tot op haar knieë hang. “Die aantal pasiënte wat aan ventilators gekoppel was en oorleef het, was aanvanklik werklik minimaal.

Sy glimlag dapper. “Maar ons moet wel dínk aan dié wat oorleef het. Ons het amper 200 mense se lewens gered (meestal diegene wat goed op hoëvloei- nasale suurstof gereageer het).”

Die kriteria vir intubasie was heeltemal anders as voor die tyd van Covid-19. “Ons het pasiënte gesien met suurstofvlakke van 70% (normale lesings op ’n pols-oksimeter is tussen 95 en 100%) wat nog steeds met jou kan praat asof niks fout is nie. Ons noem dit ‘happy hypoxia’. Voorheen was daar kriteria vir intubasie, maar tydens die pandemie het dit net by die venster uitgevlieg.

“Ons moes die pasiënte klinies evalueer en ons het geweet as hulle nie byhou nie, sou hulle waarskynlik geïntubeer moes word. Daar was baie, baie lae vlakke van suurstof-versadiging, en die vlakke het onakkuraat geword as dit minder as 50% was. Dit was regtig soms angswekkend omdat dit so anders was as wat ons voor Covid-19 by gewone longontsteking gesien het.”

Dr. Alexandra (“Ally”) Buckley is die dokter wat die meeste ure in die Covid-19-waaksaal in die Tygerberg-hospitaal deurgebring het. Sy het dit gedoen, nie omdat sy moes nie, maar omdat sy wou. Foto: Jaco Marais

Wanneer ’n pasiënt sterf, was dit meestal sy en die ander dokters wat die families moes bel. “Jy moet oor die telefoon vir die families sê ons kon nie hul geliefdes deurhaal nie – en dít moes vir die families die heel moeilikste wees. Al wat jy wil doen, is om hulle te laat inkom na die waaksaal, maar helaas kon ons dit weens infeksiebeheer nie doen nie.”

Pandora se boks

Die probleem is as jy klaar dié oproep gemaak het, moet jy dié gaan red wat nog lewe. “Jy kon letterlik net ’n paar keer diep asemhaal. Daar was nie eens tyd om in die badkamer te gaan huil nie.”

Sy kyk af na haar ligpers Crocs met die fyn blinkertjies waarop staan “Ally ICU”. Dié skoene wat ’n pandemie sien kom en sien kwyn het.

“Elke liewe kliniese assistent en suster en konsultant in die span in die waaksaal weet hoe jy voel. Hulle hoef dit nie vir jou te sê nie en jy hoef dit nie vir hulle te verduidelik nie, maar jy weet julle kan saamlag, saamhuil en saamgesels, want hulle verstaan waardeur jy gaan.”

Dr. Buckley in die kamertjie waar sy aan die begin van die pandemie tydens haar skofte van 24 uur lank kom gaan “rus”. Die naaste wat sy egter aan “rus” gekom het, was om op die bed te sit en aantekeninge oor haar pasiënte te maak. Foto: Jaco Marais

Selfs snags by die huis is dié dag se gebeure in die waaksaal al waaroor sy kan dink.

“Jy dink aan hoe dit gegaan het en jy hoop jy kon ’n verskil maak aan minstens een mens se lewe. Ek kan nog nie dink dat daar ’n tyd sal kom dat enige van ons sal ophou dink aan hoe ons dinge kan verbeter en hoe ons die uitkoms kan verander nie. Maar dit word ’n bietjie moeilik . . . jy probeer om aan ander dinge te dink, maar jy kan nie, want jy gaan eintlik net huis toe en dink aan die werk, en dan gaan jy weer werk toe.”

Was daar enigiets wat gehelp het om die stres te verlig?

Een van die prentjies wat dr. Buckley in die afgelope maande met blinkertjies beplak het om die stres te verlig. Foto: Verskaf
“By elke kode plak jy ’n individuele edelsteentjie om ’n prentjie vol lig en blinkertjies te skep,” sê Buckley. Foto: Verskaf

Sy bloos. “Dit gaan vreemd klink, maar ek het uiteindelik hierdie klein prentjies in rame begin kry waarin jy blinkertjies kan plak, so jy plak sekere kleure volgens ’n kode om ’n prentjie te skep. By elke kode plak jy ’n individuele edelsteentjie om ’n prentjie vol lig en blinkertjies te skep.”

Dit klink vir ’n oomblik of haar stem wil breek. “Wat ons as dokters geneig is om te doen is om ons emosies in ’n boks te stoor en bloot voort te gaan. Die hospitaal was fantasties en hulle het vir ons dienste aangebied om oor dinge te praat, maar die probleem is sodra die boksie oopgesluit word, dan tuimel alles net uit soos Pandora se boks.”

‘Jy hou maar hul hand vas’

Dit is onmoontlik om te doen wat sy doen sonder om ’n band met die pasiënte te vorm. “Jy het hulle gevra oor hul families, oor hul kinders, waar hulle werk, watter werk hul kinders doen . . . en dan is dit net jy wat in hul laaste oomblikke dáár is vir hulle. Jy hou maar hul hand vas as jy kan en in sommige gevalle het ek vir hulle musiek gespeel. In baie gevalle is hulle aan ’n ventilator en jy weet nie of hulle jou kan hoor nie, maar jy práát met hulle. Ons het ’n tablet-rekenaar in die eenheid en selfs as hulle aan ’n ventilator gekoppel is, maak ons soms video-oproepe na die families en ons sit die iPad langs die pasiënt se oor en hulle kan hopelik na hul families luister en die families kan hulle sien.”

Sy kyk by die venster uit na waar die bome reeds begin bot. “Wat ons dikwels doen is om die familie te bel voordat ons intubeer, want daarna kan hulle nie meer praat nie.”

Is daar spesifieke pasiënte wat haar altyd sal bybly?

En wanneer hulle huis toe gaan, is jy ’n bietjie hartseer, want jy dink: Kon hulle nie maar net ’n bietjie langer gebly het nie?

Sy knik. “ ’n Goeie persentasie van die pasiënte wat op hoëvloei- nasale suurstof was, het oorleef en ek kan onthou hoe hulle die waaksaal verlaat het en hoe gelukkig almal was. En ek kan elkeen onthou wat ons suksesvol van die ventilators kon afhaal. Van die susters tot die fisio’s en die dieetkundiges en spraakterapeute – almal is net merkwaardig gelukkig wanneer dit gebeur.”

Sy lag. “En wanneer hulle huis toe gaan, is jy ’n bietjie hartseer, want jy dink: Kon hulle nie maar net ’n bietjie langer gebly het nie?”

‘Sê vir my ma ek kom huis toe’

Maar dit was die ander wat sy in byna forensiese besonderhede kan onthou. “Ek kan onthou hoe ek met hulle gesels het en hulle geïntubeer het. Ek kan onthou hoe ek die vrees in hul oë gesien het en hoe hulle dit daarna nie gemaak het nie. Ek kan steeds daardie gesigte onthou . . .”

Dr. Buckley staan agter die hek van A5 met die rooi hake van die internasionale gesondheidsgevaar-waarskuwing. Geen familie of vriende is agter hierdie hek toegelaat nie – en vir haar was dit die heel moeilikste van die afgelope maande. Foto: Jaco Marais

Sy bly ’n oomblik stil. “Daardie pasiënte vir wie jy verduidelik jy gaan hulle nou intubeer en hulle bedank jou dan . . . dis húlle. Jy wil op ’n manier nie hê hulle moet jou bedank nie, en jy wil nie vir hulle verduidelik hóékom nie. Daar was hierdie jong man vir wie ek gevra het: ‘Is daar ’n boodskap wat ek aan jou familie kan oordra voordat ek jou intubeer?’ ”

Sy byt op haar lip. “Hy het gesê: ‘Sê vir my ma ek kom huis toe.’ ”

Sy kyk weg sodat jy nie haar oë hoef te sien nie. “En jy wéét net en dit maak jou letterlik dood van binne . . .”

Sy sal ook dié pasiënte onthou wat self besluit het hulle het genoeg gehad en dan die buise van die hoëvloei-suurstof uitgetrek het. “Jy weet nie of dit is wat hulle werklik op daardie oomblik voel en of dit die siekte is nie. Party van die pasiënte het deliries geraak – hulle raak baie deurmekaar.

Eerlikwaar, daar was oomblikke wanneer jy pas met iemand gepraat het – gepráát het – en hulle het vir jou ’n thumbs up gewys en alles gaan goed en dan gaan jy badkamer toe en kom terug en dan moet jy in ’n kits probeer intubeer.

“Die probleem is dat dit so vinnig gebeur. Dis een van die redes hoekom ons besluit het om heeltyd die beskermende kleredrag aan te hou sodat jy net jou masker hoef aan te trek, maar selfs dan is dit dikwels te laat wanneer ons eers in die kamer is.”

Haar stem is sag. “Dis nie ’n normale siekteproses nie. Eerlikwaar, daar was oomblikke wanneer jy pas met iemand gepraat het – gepráát het – en hulle het vir jou ’n thumbs up gewys en alles gaan goed en dan gaan jy badkamer toe en kom terug en dan moet jy in ’n kits probeer intubeer.

“Partykeer het hulle dit nie eens noodwendig uitgetrek nie. Hulle het dalk net omgedraai en dit het by hul neuse uitgeglip en hulle kan dit nie terugstoot nie omdat hulle so swak is, en dan kan hulle net nie voortgaan met die suurstof wat hulle het nie. Dis eerlikwaar uiters, uiters vinnig.”

‘Ek doen net wat ek gekies het om te doen’

Die dilemma met Covid-19 is dat daar steeds so baie onbekende faktore is. Vir dokters soos sy is dit ’n deurlopende leerproses van wéér leer, verander, aanpas en van vorige kennis afsien.

Dr. Buckley staan in een van die sale, wat nou leeg is, in haar volle beskermende toerusting. Dié klere was “uiters, uiters ongemaklik veral op warm dae wanneer die personeel van A5 kwistig gesweet het,” sê sy. Volgens die prosedures vir steriliteit moes die dokters ’n tweede jurk bo-oor die eerste aantrek. Foto: Jaco Marais

“Die probleem is dat daar nie ’n geneesmiddel is nie en dat jy bloot nie weet nie. Voor Covid-19 sou jy ’n pasiënt met longontsteking aan ’n ventilator koppel en antibiotika gee, en dan behandel jy hulle. Nou is daar nie regtig iets wat ons vir jou kan gee wat ons wéét jou gaan beter maak nie. Ons probeer met alles wat ons het, maar dis taai. Dis moeilik om te weet daar is niks wat ek kan doen wat noodwendig hier gaan werk nie en daar is niks wat 100% doeltreffend gaan wees nie.”

Maar die winter van ons onbehae is nou verby en die dae is helderder en die nagte korter.

“Toe ek vroeër met ’n kollega gesels het, was dit amper asof hierdie afgelope ses maande nooit gebeur het nie. Ons het in Januarie begin wonder of die virus hiernatoe sou kom of nie, en toe in April was dit baie duidelik dis nou met ons en in Junie en Julie het dit ’n chaotiese piek bereik. Op die oomblik het ons net ses pasiënte in die waaksaal en voorheen het ons minstens 35 op enige gegewe oomblik gehad. Toe hierdie eenheid nog net die mediese waaksaal was, was hier net sewe beddens, om jou ’n idee te gee.”

Sy asem diep in. “Vir my was dit ’n jaar van hoogtepunte maar ook van aaklige laagtepunte. Die hoogtepunte was beslis nuwe vriendskappe, die ondersteuning van kollegas wat soos familie geword het en die feit dat jy weet wat elkeen van jou kollegas moet deurmaak – van die junior dokters tot die senior dokters.”

Ek het regtig nie nodig dat mense weet wie ek is nie.

Sy kyk vir ’n oomblik na haar hande wat in die waaksaal twee pare handskoene moet dra. “Maar die laagste laagtepunt bly maar dat die pasiënte se families nie hier kon wees nie.”

En wat sou sy sê as iemand vir haar sê sy is ’n heldin?

Sy bloos dieprooi. “Ek het regtig nie nodig dat mense weet wie ek is nie. Ek wil nie stoïsyns klink nie, maar ek het ’n paar jaar gelede ’n eed afgelê dat ek na siekes sou omsien en die lydendes sou heel. Dis wat ek onder eed verklaar het en dis wat ek nog altyd wou doen.”

Sy staan op, gereed om weer in die lang gang met sy gepiep van hartmonitors en sy gesuis van asemhalingsmasjiene af te loop. Dié dokter met haar Crocs vol blinkertjies wat lig na die lydendes bring.

“Vir my is die werklike helde dié wat meer gedoen het as wat hulle normaalweg sou doen. Die skoonmakers en die portiere en die sekerheidswagte – húlle is die ware helde want sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie. Ek doen net wat ek gekies het om te doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.