Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘In English’, asseblief tog
Studente en leerlinge van Stellenbosch betoog verlede jaar op die kampus oor onder meer die universiteit se taalbeleid. Foto: Denzil Maregele

Hul onlangse navorsing onder dosente en senior studente aan die Universiteit Stellenbosch toon aan dat Afrikaanssprekende studente toenemend ’n voorkeur ontwikkel om in Engels te studeer, skryf Leon de Stadler en Christel Swart.

Met die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se onlangse Wêreldmoedertaaldag, wat sedert 21 Februarie 2000 elke jaar wêreldwyd op die kalender staan, vier ons die diversiteit van tale.

Dié dag herinner ook aan die vier studente in Bangladesj (tóé nog ’n provinsie van Pakistan) wat op 21 Februarie 1952 gesterf het omdat hulle vir die gebruik van hul taal, Bengali, betoog het. Dié opstand, ook gemik teen die gebruik van Urdu as enigste nasionale taal, het by die Universiteit van Dhaka plaasgevind, en die vier studente het gesterf toe die polisie op die betogers losgebrand het.

Vandag, 64 jaar later, sou ’n mens dink dat dit haas ondenkbaar is dat so iets op enige van ons Suid-Afrikaanse kampusse kan gebeur. Tog het ons reeds die eerste tekens van geweldadige protesaksie rondom taal gesien.

Die laaste paar maande hoor ’n mens byvoorbeeld weer hoe die taaldebat aan die US lewe kry.

Ons sal almal met mekaar saamstem oor die waarde en beskerming van ons moedertale, asook die belangrikheid van moedertaalonderrig, veral in ’n kind se eerste skooljare. Dit is egter ’n ope vraag – hoe ongemaklik ook al – of almal ewe geredelik die volskaalse gebruik van ons moedertale in hoër onderwys kan of wil propageer. En dit is nie ’n vraag wat net in Suid-Afrika gestel word nie, maar sekerlik ook in ander wêrelddele, soos Europa, waar die gebruik van Engels as internasionale akademiese taal steeds meer veld wen.

Die laaste paar maande hoor ’n mens byvoorbeeld weer hoe die taaldebat aan die Universiteit Stellenbosch (US) lewe kry, veral rondom die gebruik van steeds meer Engels, en die vrees – altans by sommige – dat Afrikaans as hoër-onderwystaal aan die US sal verdwyn. Nou is dit nie die doel van hierdie artikel om vir of teen ’n bepaalde taalbeleid standpunt in te neem nie, maar wel om te vra dat ons die gesprek op nugtere wyse voer, onder meer met verwysing na sekere werklikhede wat navorsing vir ons uitlig.

Talle kwessies maak meertalige taalbeplanning aan ’n universiteit soos die US kompleks, maar veral twee sake is tans bepalend vir die gesprek op Stellenbosch, en sekerlik ook vir die posisie van ons tale in die hoër onderwys: die groeiende en veral ook noodsaaklike diversiteit op ons eie en ander kampusse, en die veranderde en steeds veranderende houdings van ons studente en personeel.

Maar die houdings van veral ons Afrikaanse studente het ook begin verander.

Die laaste paar jaar het die US se studentegemeenskap byvoorbeeld al hoe meer divers geraak, veral na die mate waarin die Afrikaanse profiel begin verander het. Van 2015 se nuweling-eerstejaars was slegs 43,5% Afrikaanstalig, en in baie klasse is Afrikaanse studente nie meer die meerderheid nie. Ons het dus ’n groeiende getal studente wat nie voldoende vaardig­hede in Afrikaans het nie, en verkies om in Engels te studeer.

Hierdie profielverandering laat steeds meer situasies ontstaan waar daar, reg of verkeerd, ’n behoefte is aan ’n gemeenskaplike taal wat die akademiese en ander gesprekke op die kampus sal fasiliteer, en daardie taal is natuurlik Engels.

In Europa sien ons dit ook gebeur: Die internasionalisering van universiteite lei tot ’n groter behoefte aan ’n gemeenskaplike taal vir doeltreffende akademiese onderrig, en steeds meer Europese universiteite gebruik Engels as akademiese taal.

Maar die houdings van veral ons Afrikaanse studente het ook begin verander. Die skrywers hiervan het pas ’n ondersoek voltooi oor studente en dosente se houdings rakende die US se taalbeleid en aspekte soos meertaligheid. Ons het 308 dosente en 511 derdejaarstudente in 5 van die groter fakulteite gevra om ’n vraelys te voltooi waarin ons hul houdings oor verskillende aspekte van die US se taalbeleid getoets het.

Uiteraard kan ons nie binne die bestek van hierdie artikel oor ál die resultate rapporteer nie en fokus ons net eers op enkele aspekte rakende die houdings van studente.

In die studie het 59,49% hul huistaal as Afrikaans aangedui, 32,88% as Engels, en ’n kleiner persentasie het ander tale aangegee. Byna twee-derdes van die studente verkies Engels as akademiese taal, en slegs 33,66% verkies Afrikaans. Van die Afrikaanse studente het 43,09% hulle uitgespreek ten gunste van Engels as akademiese taal, terwyl 55,92% Afrikaans verkies.

As ons hierdie syfers met dié van vorige jare vergelyk, word dit duidelik dat Afrikaanssprekende studente toenemend ’n voorkeur ontwikkel om in Engels te studeer. By Engelse studente lê dit voorspelbaar anders: 98,81% kies Engels en 1,19% Afrikaans.

Ons resultate toon ook dat studente uiters positief is oor die bevordering van meertaligheid en die behoud van hul moedertale, maar nie as dit ten koste van effektiewe akademiese onderrig in ’n diverse omgewing is nie – wat maar net weer die kompleksiteit van die saak onderstreep.

Steeds meer Afrikaanse studente woon ook Engelse klasse by in ’n parallelmedium-opset omdat hulle dit onder meer interessanter vind – hulle wil nie afgesonder wees van die rykheid van ’n uitwisseling van diverse idees nie. Hulle skryf ook steeds meer hul opdragte in Engels en voel sterk oor die belang van vaardigheid in Engels vir studie en werk.

Nie-Afrikaanstalige studente is egter negatief teenoor Afrikaans, veral as dit deur beleid aan hulle opgedwing word en as hulle voel hulle word daardeur benadeel.

Wat beteken dit vir die bevordering van ons minderheidstale in hoër onderwys? Die antwoord is dalk dat ons moet afstand doen van die idee dat ons hulle kan bevorder deur beleid af te dwing, en eerder verbeeldingryke maniere vind om meertaligheid – waaroor studente wel positief is – te bevorder deur dit te herverpak vir diegene wat dit wel wil hê.

Aan die US werk ons baie hard om ’n selfleeromgewing te skep waar studente tale soos Afrikaans en Xhosa sal kan aanleer. Ons doen ook baie om Xhosa as akademiese taal te bevorder (soos blyk uit die aanlyn terminologie van 6 000 items wat onlangs bekendgestel is), en probeer ruimtes skep waar verskillende tale aangewend kan word op maniere wat vir student en dosent sin maak.

Die uitdagings om ons talige rykdom te beskerm is dus groot en vra verbeeldingryke mense om verbeeldingryke oplossings te vind, ook aan ons universiteite.

Dit is ’n uitdaging wat universiteite en ander tersiêre instellings moet aanvaar. ’n Verharding van posisies, soos dié wat ons tans op sommige kampusse en in sommige mediabydraes sien, bemoeilik egter die soeke na hierdie oplossings en doen geeneen van ons tale ’n guns nie, sekerlik ook nie wat Afrikaans betref nie.

Prof. De Stadler is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Swart is ’n magisterstudent en medewerker van die Taalsentrum. Hierdie artikel verteenwoordig hul eie afleidings, gebaseer op die ondersoek wat gedoen is.

Meer oor:  Bangladesj
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.