Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Inentings: Dís wat ons by ander lande kan leer

Suid-Afrika se entstofprogram ervaar tans elke geboortepyn in die boek. Hoe vergelyk ons met ander lande? wil Jana Marx weet.

’n Ortodokse Jood word ingeënt. Israel se entstofprogram is baie suksesvol. Foto: Getty Images

Emosies soos woede, kommer en onsekerheid loop hoog nadat die regering Dinsdagaand die toediening van die Johnson & Johnson-entstof tydelik gestaak het en dis ’n ope vraag wanneer die entstofprogram weer sal voortgaan.

En die syfers het ook nie ’n suksesverhaal vertel toe inentings aan die gang was nie.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het verlede week aangekondig dat hy ’n klag deur die DA oor die stadige pas van inentings gaan prioritiseer. Daar sou soms dae verbygaan dat min tot geen mense ingeënt word nie.

Teen verlede Sondag is nog net 288 406 van 1,2 miljoen gesondheidswerkers ingeënt.

Die afgelope Maandag was die gemiddelde tempo van inentings volgens ’n datawebblad nog 6 707 mense per dag. Daarvolgens sou Suid-Afrika vir die volgende 16 jaar, drie maande en 25 dae nog besig gewees het as hy 67% van die bevolking wil inent.

Met die doelwit van 67% hoop die regering om kudde-immuniteit te bewerkstellig. Hy was van plan om dit teen Kersfees af te handel.

Teen verlede Sondag is nog net 288 406 van 1,2 miljoen gesondheidswerkers as deel van fase 1 (die Sisonke-studie) ingeënt.

Kort voor die tydelike opskorting van die Johnson & Johnson-inentings Dinsdag, het die regering nog beoog om fase 1 in Mei af te handel, waarna die massa-inentings (fase 2) in dieselfde maand sou begin.

sterftes

Nog altesaam 90 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof het Maandag uit Europa in Suid-Afrika aangeland.

Prof. Linda-Gail Bekker, medehoof van die Sisonke-studie en bedryfshoof van die Desmond Tutu-gesondheidstigting. Foto: Witness Media

’n Verdere besending van 110 000 dosisse het volgens prof. Linda-Gail Bekker, medehoof van die Sisonke-studie en bedryfshoof van die Desmond Tutu-gesondheidstigting, Woensdag in die land aangekom.

Bekker troos darem dat hulle ná die “pouse” slegs twee weke sal nodig hê om hierdie 200 000 dosisse toe te dien.

Dit sal die getal fase 1-inentings op byna 500 000 te staan bring.

Toe Netwerk24 Bekker vra waarom daar byvoorbeeld die afgelope naweek net 38 mense landwyd ingeënt is, het sy gesê: “Jy kan nie entstowwe toedien wat jy nie het nie . . . Ons het nie enige entstowwe oor die naweek gehad om te versprei nie.”

Dit lyk dus of nie net die tempo van inentings ’n probleem is nie. As voorraad op is, is dit op, totdat ’n volgende besending arriveer.

’n Paar lande word tans as die wêreld se supersterre in die entstofverhaal uitgesonder. Drie hiervan is Brittanje, Chili en Israel. Tog is Chili onlangs terug in ’n staat van inperking. Hoe het hulle die entstofprogram aangepak? Wat kan ons by hulle leer?

Israel die voorloper

Israel se suksesvolle inentingsprogram maak hom een van die voorlopers in die wêreld. Hierdie mobiele inentingsentrum is in Februarie in Tel Aviv afgeneem. Foto: Getty Images

Teen 10 Desember, toe Suid-Afrika uiteindelik lid word van die humanitêre Covax-program om entstowwe te bekom en die Amerikaanse voedsel-en-dwelmadministrasie (FDA) Pfizer-BioNTech vir sy burgers goedkeur, het Israel reeds kontrakte in plek gehad vir honderdduisende entstofdosisse.

Volgens ’n Israeliese wetenskapjoernaal het die land binne enkele dae sy eie interne goedkeuringsproses (soos ons Sahpra) afgehandel en op 20 Desember begin om ongeveer 8 000 mense per dag van sy bevolking van 9,3 miljoen in te ent.

Inentings per dag het teen 24 Desember toegeneem tot 70 000 per dag en teen 29 Desember het 150 000 mense per dag hul inentings ontvang.

israel

Israel was met sy doeltreffende entstofprogram vinnig 'n voorloper in die wêreld, met 'n dramatiese daling in infeksies, hospitaalopnames en Covid-19-sterftes.

Teen 31 Desember het hy byna 11 dosisse per 100 mense toegedien, teenoor Bahrein in die Midde-Ooste met 3,5 uit 100 en Brittanje met 1,4 uit 100. Ander lande is nie eens in aanmerking geneem nie omdat hul ratio minder as 1 per 100 was.

Dit het Amerika 57 dae en Brittanje 45 dae geneem om 10% van hul bevolkings in te ent  – iets wat Israel binne twee weke gedoen het, berig die gesaghebbende Amerikaanse tydskrif Time.

Israel se uitdagings en suksesse

Dosisse van die Johnson & Johnson-entstof wat deur die Janssen- farmaseutiese groep versprei word. Foto: AP

Maar die “land van melk en heuning” het wél sy uitdagings gehad: In die tyd wat sy entstofprogram begin het, het hy volgens die wetenskapjoernaal ’n erge toename in Covid-19-infeksies ervaar.

Talle gesondheidswerkers is in hierdie tyd dood.

Die entstofprogram het ook maar met rukke en stote begin. Volgens die joernaal was daar heelwat tegniese probleme met aanlyn registrasies of afsprake.

Op 11 April het byna 60% van die bevolking reeds hul eerste dosis Pfizer-entstof ontvang.

Sommige dae het daar nie genoeg mense by plekke opgedaag waar entstof toegedien is nie, wat beteken baie dosisse het hul vervaldatum bereik en moes óf weggegooi word óf mense wat nie deel van ’n spesifieke teikengroep was nie, is ingeënt, sodat die dosisse nie vermors is nie.

Soms is daar sommer doelbewus besluit om gesondheidswerkers se familielede of invloedryke persone in te ent, hoewel hulle nie deel van ’n spesifieke teikengroep was nie.

Die getal inentings het dus indrukwekkend toegeneem, maar baie ouer mense en mense met onderliggende siektes – die eintlike teikengroep – moes tot later wag vir hul beurt.

Ondanks die uitdagings het Israel steeds kop bo water gehou.

israel

In middel Januarie het hy sy piek in sterftes bereik en skielik het dit geleidelik begin afneem.

Op 11 April het byna 60% van die bevolking reeds hul eerste dosis Pfizer-entstof ontvang en 53% hul tweede dosis (Pfizer vereis twee dosisse).

Die land het intussen sy inperkingsmaatreëls verslap en sy ekonomie, met reëls soos die dra van maskers en 'n beperking op die aantal mense op byeenkomste, oopgemaak en is nou 'n gevallestudie vir 'n "ingeënte samelewing" post-inperking.

Bekker is baie beïndruk met Israel. "Israel is 'n klein landjie en het 'n uitstekende gesondheidstelsel. Hy het vinnige toegang tot entstowwe (die boodskapper-RNA-entstowwe soos Pfizer inkluis) bekom en sy geleenthede uitstekend benut. (Dis) indrukwekkend en het reeds 'n fantastiese impak. 'n Suksesverhaal!"

Chili terug in inperking

Polisiebeamptes patrolleer ’n plein in Chili gedurende die inperking. Foto: AP

Dis egter 'n heel ander storie in Chili.

"Chili staan naas 'n aaklige Covid-19-pandemie in Brasilië. Hy vaar nie so goed nie," meen Bekker.

Dit was egter nie altyd so nie. Die New York Times het berig Chili was ver voor enige ander land in die Amerikas met sy inentingsprogram.

Die Chilene het nes Israel al vroeg miljoene der miljoene Pfizer-BioNTech- en van China se Sinovac Biotech-entstofdosisse in die hande gekry en was sterk op pad om een van die eerste lande te word om kudde-immuniteit te bereik.

Dit het so goed gegaan dat Chili verlede jaar in November al sy grense geopen het en Chilene toegelaat het om met vakansie te gaan, berig The Guardian.

chili

Maar twee weke gelede het pres. Sebastian Piñera ’n verklaring getwiet waarin hy ’n spesiale kommissieverkiesing met vyf weke uitstel omdat infeksies toeneem en op 9 April het Chili volgens Our World in Data die hoogste getal daaglikse infeksies (9 151) aangemeld sedert die pandemie verlede jaar begin het.

Op 15 April was daar 'n totaal van byna 1,1 miljoen infeksies in Chili. 

Volgens die Amerikaanse ambassade in Chili geld 'n aandklokreël weer van 21:00 tot 05:00 en die land is steeds in 'n noodtoestand, wat tot Junie verleng is.

Ondanks stygende infeksies vorder die entstofprogram met rasse skrede.

Reisigers word gewaarsku dat reëls op kort kennisgewing strenger kan word en mense kan deur boetes of inhegtenisnemings in die gesig gestaar word as hulle die reëls oortree.

Ondanks stygende infeksies vorder die entstofprogram met rasse skrede. Our World in Data het op 12 April berig die inenting van bykans 25% van Chili se bevolking van bykans 20 miljoen is al heeltemal afgehandel, en amper 40% het reeds een van hul entstof se twee dosisse ontvang.

Prof. Lawrence Young, 'n viroloog verbonde aan die Warwick Medical School in Amerika, het so ver gegaan om aan The Guardian te sê Chili is ’n sprekende voorbeeld dat inenting alleen nie genoegsaam is om ’n epidemie in ’n land hok te slaan nie.

Medici stem saam dat Chilene ook te veel “ontspan” het toe dit verlede jaar so goed met hul entstofprogram gegaan het. Maatreëls soos om ’n gesonde afstand te handhaaf was net nie meer ’n prioriteit nie en die oop grense en die feit dat daar nie meer regtig infeksienasporings gedoen is nie, het die virus vrye teuels gegee.

Brittanje moet ligloop

Londenaars haal weer asem nadat Engeland Maandag sy baie streng inperkingsmaatreëls begin verslap het. Foto: Getty Images

Brittanje het hopelik ’n paar lesse by Chili geleer, want Engeland het Maandag sy uiters streng inperkingsmaatreëls begin verslap.

’n Suid-Afrikaner wat in Londen woon, het aan Netwerk24 gesê inwoners is oorstelp, want “vir die eerste keer in weke mag huishoudings by mekaar kuier en die klerewinkels is uiteindelik weer oop!”

Daar mag glo ook ses persone op ’n slag in ’n kroeg kuier.

brittanje

Die Britse regering het Dinsdag in ’n verklaring bekendgemaak dat hy tot die volgende fase van sy entstofprogram sal beweeg nadat hy almal wat vir fase 1 geprioritiseer is (32 miljoen), klaar ingeënt het.

Die tweede fase teiken mense tussen die ouderdomme van 45 en 49.

Die grootte van Brittanje se bevolking is volgens Bekker ’n groot uitdaging.

Waar laat dit Suid-Afrika?

sa

Aan die een kant baat Suid-Afrika waarskynlik daarby om uit die foute te leer van lande wat reeds ver met hul inentings gevorder het. Maar volgens Bekker hou ons agterstand eerder “baie nadele in.

“Dis nie ideaal nie. Maar ons benodig toegang tot entstowwe om dit te kan toedien, nè?”

Wat is die kans dat Suid-Afrikaners natuurlike immuniteit teen die virus sal opbou as ons maande lank wag om ingeënt te word?

“Sommige voorkomingstudies dui sterk daarop dat ons reeds ’n redelike groot voorafbestaande immuniteit of blootstelling in die land het. Dit is goed, aangesien dit minstens ’n mate van beskerming in die afwesigheid van ’n entstofprogram bied. Ons sal maar moet sien of dit goed genoeg is om ’n derde vlaag te voorkom . . . Maar uiteindelik sal ’n mengsel van voorafbestaande immuniteit en entstof-immuniteit op groot skaal beskerming bied – solank daar nie ’n ander variant uitspring en dit ondermyn nie.”

ent

Meer oor:  Johnson & Johnson  |  Pfizer-Biontech  |  Suid-Afrika  |  Brasilië  |  Amerika  |  Brittanje  |  Israel  |  Covid-19-Pandemie  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.