Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Buitelanders kanselleer nou reise oor SA stadig inent

“Is my masseur ingeënt?” of “Is my kelner ingeënt?” en “Wat is die inentingstatus van die toergids saam met wie ek rondry?” is die soort vrae wat Heidi Monsma, reisbeplanner, daagliks kry. Jana Marx het met haar gesels.

’n Reiskonsultant se nuwe uitdaging met buitelandse toeriste is nie meer net inperkingsmaatreëls nie, dis ook die feit dat so baie Suid-Afrikaners nog nie ingeënt is nie, of nie ingeënt wil word nie. Foto: Unsplash

Asof die Covid-19-pandemie nie genoeg skade aan die toerismebedryf veroorsaak het nie, moet inkomende toeroperateurs nou ’n volgende probleem hanteer: Toeriste wat op strepe hul reise kanselleer omdat Suid-Afrikaners nie vinnig genoeg (of glad nie!) ingeënt word of wil word nie.

Monsma (44), ’n reisbeplanner, werk al 20 jaar in die toerismebedryf en is tans werksaam by een van die grootste inkomende toeroperateurs in Suid-Afrika.

“Ons het ons eie helse reis sedert die begin van die pandemie,” vertel sy.

“Eers was van die grootste uitdagings al die kansellasies en uitstelle, met geen duidelikheid of vooruitsig wanneer die grense weer sou oopmaak en toeriste kon terugkeer nie. Die drankverbod en inperkings wat konstant verander, is deel van die talle uitdagings wat ons daagliks hanteer. Toeriste kan nie verstaan dat hulle duur vir ’n reis na Suid-Afrika betaal en nie eens ’n glasie wyn in hul hotelkamer mag geniet nie. Dan moet hulle voor 21:00 in die hotelkamer wees, en dan mag hulle weer nie gaan uiteet nie. Mense sou reise uitstel of kanselleer omdat hulle nie sekerheid het oor ons inperking nie.”

Maar noudat die bedryf stelselmatig begin herstel, kry hy ’n volgende vuishou in die maag: Suid-Afrika se vordering met inentings is nie vir dié buitelanders na wense nie.

Volgens data wat die Bhekisisa-sentrum vir gesondheidsjoernalistiek verwerk het, was 7,7% van Suid-Afrikaners teen Dinsdag volledig ingeënt.

Ons in toerisme het ons eie helse reis sedert die begin van die pandemie.
Heidi Monsma

Te min ingeëntes kos SA miljoene rande

Monsma verduidelik die maatskappy waarvoor sy werk, “verkoop” as’t ware Suider-Afrika en Oos-Afrika aan die buiteland.

“Suid-Afrika is verskriklik gewild. Al die buitelanders wil die een of ander tyd ’n Afrika-safari kom doen. Dis ook een van die mees bekostigbare vakansies.

“Ons kry die toeriste uit Amerika, Brittanje, Europa en Australië. Ons is soos ’n groothandelaar. Ons werk nie direk met die publiek nie. Ons kliënt is ’n agent en ons is dan verantwoordelik om die pakkette saam te stel en die toerprogram uit te werk,” verduidelik sy.

“Ons is verantwoordelik vir die toeris vandat hulle hier land totdat hulle weer by die vliegtuig afgelaai word om terug te vlieg.”

Heidi Monsma, ’n reisbeplanner wat al 20 jaar in die toerismebedryf werk, sê die Covid-19-pandemie het vir ’n 'helse reis' in die toerismesektor gesorg. Foto: Anena Burger

Die toeriste vir wie hulle pakkette saamstel, is “enigiets van ’n enkelpersoon, ’n wittebroodspaartjie tot daardie ultimate Afrika-safari, waarvoor Oupa en Ouma die hele familie na Suid-Afrika bring”.

’n Afrika-safariprogram kan van ’n week in die Krugerwildtuin tot ’n besoek aan die Victoria-waterval op die grens tussen Zimbabwe en Zambië, asook ’n draai in Mauritius insluit.

“Dis groot pakkette en mense begin al twee of drie jaar beplan. Dis mense wat daardie ‘Afrika-droom’ kom soek – die laaste ding wat Oupa en Ouma vir die familie doen. Hulle spaar gewoonlik jare daarvoor.”

Een so ’n pakket ter waarde van R1,7 miljoen staan op die punt om gekanselleer te word – een van vele kansellasies as gevolg van Suid-Afrika se inentingsituasie waarmee Monsma die afgelope ruk te doen gekry het.

Luidens ’n verslag deur Statistieke Suid-Afrika in April vanjaar het die getal buitelanders wat Suid-Afrika besoek, met 71% afgeneem – van 15,8 miljoen in 2019 tot minder as 5 miljoen in 2020.

Die getal toeriste wat hier kom vakansie hou, het met 72,6% afgeneem – van 10,2 miljoen in 2019 tot 2,8 miljoen in 2020.

Toerisme se regstreekse bydrae tot die bruto binnelandse produk was R130,1 miljard in 2018 (byna 3% van die totale BBP). Die toerismesektor het in 2018 ook vir 4,5% van die land se werksgeleenthede gesorg.

Data toon dat 74,8% van alle toeriste wat in 2020 hier was, burgers van lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) was. 1,5% was van “ander” Afrika-lande. Buitelandse toeriste het 23,6% van die totale getal uitgemaak.

Kliënte vra dieselfde vrae

“Elke liewe kliënt met wie ek werk, het dieselfde bekommernisse . . . Hoe ver is ons inentingsprogram? Wie is al almal ingeënt? Is die toergids ingeënt? Is die kelner ingeënt? Is die masseur ingeënt? Ek is al so moedeloos om my e-posse soggens oop te maak!

“Ek het ’n groep Amerikaners wat in Maart 2020 sou kom. Dis uitgestel tot Maart 2021 en nou weer tot September/Oktober 2021. Hulle wil by my weet hoe ver ons ingeënt gaan wees teen daardie tyd. Dis mos nou nie vrae wat ek kan beantwoord nie. Hierdie mense voel net hulle het nou hul deel in hul land gedoen om die virus te beveg en hulle laat inent, hoekom kan ons nie dieselfde doen nie? Daar is kliënte wat daarop aandring dat ek vir hulle weekliks ons Covid-19-statistieke moet stuur.”

En hoe paai jy hulle? “Ag, ek steun maar op die Covid-19-protokolle soos die feit dat almal moet maskers dra . . .”

Vrees om in SA ‘vas te sit’

Buitelandse toeriste het volgens Monsma tans twee vrese: ekstra koste waarvoor hulle nie begroot het nie sou hulle siek word, en om “vas te sit” in Suid-Afrika.

Elke liewe kliënt met wie ek werk, het dieselfde bekommernisse . . . Hoe ver is ons inentingsprogram? Wie is al almal ingeënt? Is die toergids ingeënt? Is die kelner ingeënt? Is die masseur ingeënt? Ek is al so moedeloos om my e-posse soggens oop te maak!
Heidi Monsma

“Onthou, mense spaar jare lank vir hierdie groot reise en hulle het net ’n sekere getal verlofdae. Aangesien ons programme reise na byvoorbeeld die Victoria-waterval en Mauritius insluit, moet elke toeris ’n polimerasekettingreaksie- (PCR) toets (die Covid-19-keel- en -neustoets) doen elke keer as hy ’n nuwe land wil besoek. Dis verpligtend.

Suid-Afrika se toerismebedryf is steeds op sy knieë. Foto: Unsplash

“Nie net is daardie toetse vir toeriste ontsaglik duur nie (dit kos enigiets van R600 tot R3 500 per persoon per toets), as hulle in enige stadium positief toets, moet hulle tien dae in kwarantyn bly. Dan moet die toeris op eie onkoste in ’n hotel gaan bly en die familie moet besluit of hulle sonder die persoon gaan aanbeweeg en die toer afhandel, of ook agterbly. Dikwels besluit die familie om te bly, dan moet ons inderhaas ook vir hulle ’n hotel soek wat hul sakke pas.”

Uitstel en afstel

Uitstel is dalk beter as afstel, maar ook dít bring sy eie uitdagings, vertel Monsma.

“Niemand wat ’n reis wil uitstel, sal dit met drie maande uitstel nie. Dis gewoonlik sommer ’n jaar later, maar ons penaliseer hulle nie, so hulle betaal dan dieselfde tarief as die vorige jaar. Dit val ook in ons volgende boekjaar, waarop ons vanjaar al staatgemaak het.”

Toeriste is volgens Heidi Monsma baie lief vir die Krugerwildtuin, maar as hulle die wildtuin besoek nadat hulle byvoorbeeld eers in Mauritius was, moet hulle weer eens ’n PCR-toets doen. Hierdie toetse kos die toeriste baie geld, want volgens Monsma word koste soos ’n suster wat ingebring moet word, ingereken. Foto: Unsplash

Dan het al wat ’n lugdiens is hul kansellasiebeleide “geskrap”, wat nog meer administrasie veroorsaak. “Jy kan nie meer sonder reisversekering reis nie,” sê sy.

En waar daar nog wel kansellasiegeld betaalbaar is wanneer reise uitgestel word, sê Monsma: “Ons wil so graag nie daardie bespreking verloor nie, dat ons soms maar net die hotelle se kansellasiegeld absorbeer.”

Daar is egter talle wat nie kans sien om uit te stel nie en bloot kanselleer. “Dit gebeur gewoonlik met hierdie multi-geslag-familievakansies. Ouma en Oupa is nóú gesond en gereed om te kom. Hulle wil nie commit tot iets wat eers oor ’n jaar gebeur as hulle nóg ouer of dalk sieklik is nie. Dis die situasie waarin ons nou is met daardie pakket ter waarde van R1,7 miljoen wat op die punt staan om te gekanselleer te word.”

Heidi Monsma sê toeriste het ’n vrees om in Suid-Afrika 'vas te sit' en weens Covid-19 nie te kan huis toe gaan nie. Foto: Anena Burger

Hoeveel daarvan verloor julle dan? “Ons verloor alles. Weet jy, ek is een van 70 reiskonsultante by die maatskappy. Dit raak moeilik om die moreel hoog te hou as jy aanhoudend moet veg vir besigheid.”

Volgens Monsma bel hotelle, boetiekhotelle en gastehuise haar gereeld en “smeek vir reisigers. Plekke wat R16 000 per nag gevra het, is nou so desperaat, hulle vra net R2 500 per nag.

“Ek kan nie vir jou vertel hoeveel van ons gewildste hotelle vir buitelanders toegemaak het nie. Ek wou hierdie week 20 kamers by een van die bekendste hotelle by die OR Tambo-lughawe vir November 2022 bespreek. Hulle het laat weet hulle is tans toe en weet ongelukkig nie of hulle teen daardie tyd al gaan oop wees nie. Restaurante soos Test Kitchen – ’n instelling in die Kaap – het laat weet hulle maak einde September toe en kan nie meer besprekings neem nie.”

‘Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor SA’

“Ek weet daar is mense wat weens gesondheidsredes hulself nie kan laat inent nie. Ek weet dit. Maar dié wat ’n video op WhatsApp kyk en besluit hulle weier ’n inenting: Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor die res van Suid-Afrika om jouself te laat inent. Jy, wat as ’n kind ingeënt is en niks daarvan dink om jou malariapil te drink of jou travel shots te kry voordat jy reis nie, wil nie die inenting vat wat moontlik jou eie lewe en Suid-Afrika se ekonomie kan red nie? Dit gaan nié net oor jou nie.”

Dis nou nodig om mense oor inentings op te voed of op te lei.
Dawie Roodt

Rosemary Anderson, president van Fedhasa, die liggaam wat die toerismebedryf verteenwoordig, sê: “Daar is geen syfers wat die volslae verwoesting in die toerisme- en gasvryheidsbedryf die afgelope 16 maande behoorlik beskryf nie.”

“Dit neem ongelukkig ook nie af nie, soos aangedui in Statistieke Suid-Afrika se syfers verlede week, waar likwidasies in die tweede kwartaal van 2021 met 46,2% gestyg het vanaf 2020 se reeds sorgwekkende syfers. As die gasvryheid- en toerismebedryf wil oorleef, sal ons dringend op die vlak van die buitelandse hooftoerismemarkte moet kom wat ons entstofprogram betref.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê dis die belangrikste “om mense nou oor inentings op te voed of op te lei”.

“Die stadige tempo van inentings kan natuurlik inperkingstyd verleng, en hoewel ek besef toerisme is teen die grond en besonder kwesbaar, is die effek van Suid-Afrika se stadige inentingsprogram selfs groter: ’n Langer inperkingstyd benadeel die héle ekonomie.”

Meer oor:  Fedhasa  |  Suid-Afrika  |  Krugerwildtuin  |  Toeriste  |  Buitelanders  |  Covid-19  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Pandemie  |  Toerismebedryf  |  Gastehuise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.