Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Spesialis: Wat hou Covid-19 vir SA in?

Om paraat te wees vir ’n virus wat (konserwatief geraam) 50% van volwassenes kan plattrek, is nie kinderspeletjies nie. Dr. Jantjie Taljaard het met Willemien Brümmer gepraat oor hoe Suid-Afrikaners hulle op Covid-19 kan voorberei.

’n Gesondheidswerker agter die toe deur van die isolasie-eenheid van die Tygerberg-hospitaal – een van die 13 hospitale landwyd wat deur die nasionale regering aangewys is om pasiënte wat moontlik die nuwe koronavirus het te isoleer en behandel. Foto: Jaco Marais

Dit lyk soos iets uit ’n wetenskapsfiksieprent: twee gesondheidswerkers met duikbrilagtige maskers, plastiekhandskoene en -voorskote en blou hospitaaljurke. Hulle staan agter die toe deur van die isolasie-eenheid van die Tygerberg-hospitaal met sy groot blou-en-rooi plakkaat oor die koronavirussiekte Covid-19.

Buite stamp en stoot ’n geroesemoes van joernaliste en TV-spanne om ’n kykie te kry in die binnewerkinge van saal D10, waar drie siek pasiënte wat vir die dodelike virus getoets is lê en wag op die uitslag van ’n genetiese diagnose.

Sedert Woensdag is dit amptelik: Die Wes-Kaap het sy eerste Covid-19-pasiënt (hy is tuis in isolasie) en die Tygerberg-hospitaal, wat deur die nasionale regering aangewys is as een van 13 hospitale om die virussiekte in die land te behandel, is aan’t oorskakel na vierde rat.

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by dié hospitaal, is al sedert Januarie betrokke by die pogings om pasiënte in dié eenheid te toets en te isoleer en voor te berei vir verskillende fases van ’n moontlike uitbreking.

Joernaliste op ’n mediakonferensie by die Tygerberg-hospitaal waartydens hulle op ’n toer van die isolasie-eenheidby dié hospitaal geneem is. Foto: Jaco Marais

Dié eenheid is in die 1970’s opgerig tydens ’n uitbreking van die Kongokoors maar indien Covid-19 hier doen wat hy in die noordelike halfrond gedoen het, sal dit ’n eerste wees vir Tygerberg.

“Die fase waarin ons nou is, is die inperkingsfase of containment phase waar ons probeer keer dat die virus nie verder versprei nie,” sê dié spesialis wat hard probeer om gemoedere te kalmeer en die korrekte wetenskaplike inligting oor te dra te midde van ’n kakofonie van histerie en fopnuus.

“Deel van die respons is nou om moontlike pasiënte se nabye kontakte te identifiseer deur middel van opsporingspanne wat uitgaan en met die mense kommunikeer en vir hulle sê wat om te doen.”

Dis nog net ’n tros hier en ’n tros daar. ’n Uitbreking is wanneer dit in die gemeenskap versprei sonder dat jy weet wie mense se kontakte is.

Taljaard sê ons het nog nie ’n uitbreking hier nie.

“Dis nog net ’n tros hier en ’n tros daar. ’n Uitbreking is wanneer dit in die gemeenskap versprei sonder dat jy weet wie mense se kontakte is, soos in Italië. Sodra die virus wydverspreid raak soos elke winter se griep, dan bevind jy jou in die temperingsfase of mitigation phase waar jy die skade moet begin beperk – maatskaplik, polities en ekonomies,” sê hy.

“Ná hierdie temperingsfase kry jy die postpandemiese fase waar jy die skade probeer beperk totdat dit verby is. Maar al hierdie fases en prosesse loop parallel. Jy kan nie net in die temperingsfase ingaan en jou arms in die lug gooi nie.”

’n Griep op steroïede

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal, langs hoogwaardigheidsbekleërs by die Tygerberg-hospitaal. Foto: Jaco Marais

Om paraat genoeg te wees vir ’n virus wat konserwatief geskat (volgens nasionale ramings) 50% van die volwasse bevolking kan plattrek, is natuurlik nie kinderspeletjies nie.

Die “goeie nuus” is dat die siekte tot dusver die meeste kinders gespaar het. In China was net 2,4% van die aangemelde gevalle kinders en slegs 0,2% van hulle het baie siek geword. Geen jong kinders het gesterf nie.

Hoe ouer jy word, hoe groter is jou risiko egter.

“Onthou net, sowat 80% van mense internasionaal word nie ernstig siek van Covid-19 nie,” sê Taljaard.

“Hulle het ’n verbygaande siekte wat soms soos griep is en soms minder erg is as griep. Hulle kan natuurlik die siekte versprei, so ’n mens wil hê hulle moet by die huis bly, maar jy wil hulle ook nie by hospitale en ander gesondheidsdienste hê nie, want dan kan hulle die gesondheidswerkers aansteek.”

Taljaard sê tans het gemiddeld 3% van mense wat tot dusver internasionaal positief getoets het aan die siekte gesterf – maar dit is baie moeilik om hiervolgens ’n sterftekoers te voorspel.

“Ons moet onthou die pasiënte wat hulle eerste voordoen is die baie siek pasiënte, so dis ’n wanvoorstelling van die ware sterftekoers. Dit sal aanvanklik altyd hoër wees en dan afplat.”

Baie mense sê dis net nog ’n griep – dit is nie. Maar dis ook nie ’n Ears of ’n Ebola wat mense op enorme skaal kan afmaai nie.

As jy die sommetjies maak is dit steeds ontstellende getalle.

“Dis hoekom ons dit so hard probeer inperk, want ons wil nie ’n uitbreking hê nie. Baie mense sê dis net nog ’n griep – dit is nie. Maar dis ook nie ’n Ears of ’n Ebola wat mense op enorme skaal kan afmaai nie. Dis ’n griep op steroïede met ’n hoër mortaliteit as die normale griep. Dis op dieselfde vlak as die Groot Griep van 1918, so dit het beslis ’n enorme invloed, maar ’n mens moet nou ook nie paniekerig raak en sê almal gaan doodgaan nie.”

Hy glimlag.

“Ek is nie ’n epidemioloog nie, maar ons moet darem aanneem die wêreld het aanbeweeg sedert 1918. Daai tyd was niemand in ordentlike mediese fasiliteite nie en mense het doodgegaan weens sekondêre bakteriële infeksies,” sê Taljaard.

“Ons het nou antibiotika daarvoor, en so aan. Ons het ook baie meer higiëniese omstandighede. Ons kan dalk binnekort selfs ’n middel of twee hê om dit minder erg te maak, so ek dink nie dis regverdig om te sê ons moet die syfers van 1918 nou begin toepas nie.”

Die misteriepakket: TB en MIV/vigs

’n Gesondheidswerker by saal D10 by die Tygerberg-hospitaal waar die isolasie-eenheid is. Foto: Jaco Marais

Namate die nagte langer en kouer word in die suidelike halfrond kan die risiko vir die virus egter vererger.

“Dis nog nie bekend of jy makliker in die winter kan siek raak nie, maar dit lyk asof hierdie koronavirus in die winter uitbreek in die kouer lande,” sê Taljaard.

“Ons weet nog nie wat die winter vir ons gaan inhou nie, maar daar is sommige kenners wat sê die virus hou nie van temperature warmer as 25 °C nie. Ek weet nie hoe gegrond dit is in die wetenskap nie, maar ons weet daar is koronavirusse wat verkouevirusse is. In die winter is ons ook natuurlik nader aan mekaar, so dis nie net die temperatuur wat kan maak dat jy makliker siek word nie.”

Wat ons weet, is dat die ouens met TB ’n hoër risiko het om siek te word.

Die “misteriepakket” is natuurlik dat ons in Suid-Afrika van die hoogste MIV/vigs en tuberkulose (TB)-syfers ter wêreld het – met sowat 13% van alle Suid-Afrikaners wat met die MI-virus leef. Sowat 322 000 Suid-Afrikaners het na raming in 2017 aktiewe TB gehad en volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is 78 000 in dié jaar dood aan tuberkulose. Die meeste van hulle was MIV-positief.

Dis nog te vroeg om te sê hoe Covid-19 dié bevolking kan beïnvloed.

“Wat ons weet, is dat die ouens met TB ’n hoër risiko het om siek te word, want hul reserwe is reeds minder en hulle het reeds skade aan hul longe,” sê Taljaard.

“In die gebiede waar dit tot dusver uitgebreek het, was daar nie baie mense met MIV/vigs nie, maar die aanname is dat veral diegene wat nie op antiretrovirale medisyne is nie, ’n groter risiko kan hê vir Covid-19. Ons maak die aanname gegrond op wat ons weet van seisoenale griep: As jy nie op medikasie is nie, is jy beslis in die groep mense wat ’n hoër risiko het om ’n ernstiger siekte te ontwikkel.”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, kondig Woensdag te midde van groot mediabelangstelling aan dat die Wes-Kaap sy eerste bevestigde Covid-19-pasiënt het.Foto: Jaco Marais

Soos dikwels sien hy egter ’n geleentheid hierin.

“As jy dink jy is in ’n hoërisikogroep vir MIV, moet jy jou dadelik gaan toets en behandeling kry.”

Volgens Taljaard het baie Suid-Afrikaners ook rookverwante siektes soos emfiseem, asma en longsiektes.

“En dan het ons ook ’n groot probleem met hoë bloeddruk (hipertensie) in Afrika oor die algemeen.”

En alle rokers – veral aktiewe rokers – het ook natuurlik ’n hoër risiko om sieker te word van Covid-19. "Mense wat rook, moet onmiddellik ophou rook. Sodra jy ophou rook, verbeter jou longkapasiteit en jou vermoë om die virus te hanteer eksponensieel.”

Beskerm gesondheidswerkers

Ingang vyf by die Tygerberg-hospitaal is spesiaal aangewys as die ingang wat deur pasiënte gebruik moet word wat dink hulle het moontlik die koronavirus. Daar is ook ’n spesiale hyser vir dié pasiënte se gebruik. Foto: Jaco Marais

Die ander deel van die legkaart in ons wye en droewe land is dat die geskiedenis bewys het armer mense het ’n hoër risiko vir enige siekte.

“Ek wil nie ’n blanket of alarmistiese stelling maak nie, maar die ding wat ’n mens moet sê, is mense in armer gebiede woon nader aan mekaar, hulle maak meer gebruik van openbare vervoer en hulle het dikwels nie die opsie om by die huis te bly nie. Hoe selfisoleer jy ’n pasiënt wat in ’n een-slaapkamer-huisie bly saam met drie familielede? En selfs al kan hulle selfisoleer, wat is hul ondersteuningstelsel?

“Die regering en die provinsiale regering praat reeds baie oor hierdie probleme. Ons het klaar so ’n geval gehad van ’n pasiënt wat haarself nie kon isoleer nie en toe sê ons ons het plek op die oomblik, jy kan bly totdat jy huis toe gaan.”

Indien pasiënte enigsins kan, word hulle egter aangeraai om tuis te bly.

“Jy het nie ’n hoogs gespesialiseerde isolasie-eenheid nodig soos hier by ons nie. Enige hospitaal kan dit hanteer. Jy het net ’n aparte kamer nodig.”

Om pasiënte se simptome te behandel, is ook nie vuurpylwetenskap nie, sê Taljaard.

Die beheer wat die Chinese het oor hul samelewing is deel van hul sukses. Dis hoekom Italië ook nou toegemaak het.

“Indien iemand nie ernstig siek is nie, moet jy net die reëls volg. Daar is reeds bladsye en bladsye riglyne oor die hele wêreld versprei. Dis net ’n gewilligheid om deel te wees van die reaksie op die probleem, soos die dokter in KwaZulu-Natal. Sy het onmiddellik inisiatief geneem en die persoon getoets en nie gesê: ‘O hel, jy moet êrens anders heen gaan nie.’ ”

Hy knik.

“Almal is bekommerd dat die gesondheidstelsel oorweldig gaan word bykomstig tot die feit dat jou gesondheidswerkers in kwarantyn geplaas moet word en uit diens moet onttrek. Jy het dan die potensiële ramp dat jy minder gesondheidswerkers het vir meer pasiënte. Dis ’n groot deel van ons boodskap: Beskerm die gesondheidstelsel. Mense moenie onnodig na gesondheidsdienste gaan nie, maar as hulle voel hulle moet, moet hulle betyds skakel sodat ons ons kan voorberei en nie onnodig blootgestel word nie.”

Sy ander boodskap is eendrag maak mag.

Al is ons nie ’n Kommunistiese land soos China met byna drakoniese beheer en bewaking van die samelewing nie, is daar lesse wat ons by hulle kan leer, sê hy.

“Die beheer wat die Chinese het oor hul samelewing is deel van hul sukses. Dis hoekom Italië ook nou toegemaak het. Hulle het probeer kyk wat het China reg gedoen en deel daarvan was om die Hubei-provinsie (die episentrum van die pandemie waar die virus vinnig besig is om af te plat) onmiddellik af te kordon,” sê Taljaard.

“Dit gaan natuurlik moeiliker wees in ’n vryer samelewing – veral in Suid-Afrika waar inwoners nie graag ander mense glo nie en maklik in samesweringsteorieë glo. Dis hoekom die boodskap hier is dat ons verantwoordelike burgers wil hê wat saamstaan met die regering en gesondheidswerkers.”

’n Krisis?

Dokters is tans bekommerd dat die gesondheidstelsel oorweldig gaan word deur Covid-19. Pasiënte word dus aangeraai om nie sonder waarskuwing by dokters of hospitale op te daag nie.Foto: Jaco Marais

Sy slagspreuk is dus: Pas aan om aan te neem of adapt to adopt.

“Dit help nie ons sê ons kan dit nie doen nie. Ons moet sê wat is hierin wat vir ons belangrik is en wat ons dink ons kan doen – en dan doen ons dit so goed as wat ons kan.”

Is paniek geregverdig?

Hy aarsel.

Dis geregverdig dat ons reageer, maar dis nie geregverdig dat daar paniek is nie.

“Dis ’n moeilike een, want die siekte maak meer mense dood (as gewone griep) en die weerlose mense in ons samelewing is die kwesbaarste, so ek dink dis geregverdig dat ons reageer, maar dis nie geregverdig dat daar paniek is nie. Sosiale media help nie baie hiermee nie. Die grappies is nog oukei, maar die vals inligting dra by tot angs en mense wat begin om dinge op te gaar.”

Maar ons sal moet begin besef dit is ’n krisis, sê hy.

“As dit hier by ons gebeur wat in Italië gebeur het, sal ons moet begin maak soos die Italianers maak. Hulle staan saam.”

En nee, dinge kan beslis nie voortgaan soos vantevore nie. “Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios) het vroeg begin reageer, so ons het nou ’n voorsprong. Maar ons moet daai voorsprong gebruik om nog beter te reageer op die slegter scenario’s wat binne weke of moontlik binne maande kan begin ontvou,” sê hy.

“Van nou af sal Suid-Afrikaners moet begin wyer dink as net hul eie gesondheid.”

Meer oor:  Jantjie Taljaard  |  China  |  Suid-Afrika  |  Tygerberg-Hospitaal  |  Italië  |  Pandemie  |  Ebola  |  Griep  |  Ears  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.