Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Informele eerste minister van swart SA’

Daar is een huis wat van Middledrift in die Oos-Kaap ’n merkwaardige plek maak, die huis van Davidson Don Tengo Jabavu. Andries Bezuidenhout skryf oor drie generasies Jabavu’s.

JT Jabavu, stigter van die eerste Xhosa koerant, en sy seun, DDT Jabavu, bekend as die informele eerste minister van swart Suid-Afrika. Foto: Wikimedia

Dis heel tipies vir plekke in die Oos-Kaap om verskillende name te dra – een Afrikaans, een Xhosa en een Engels.

Op die pad tussen King William’s Town en Alice is só ’n klein dorpie met drie name. Die padtekens beweer die plek se naam is Middledrift – waarskynlik ’n verengelsing van die oorspronklike Nederlandse naam.

Mense wat hier rond langs die pad vir saamrygeleenthede wag, verwys na die plek as Xesi. Die dorpie het in 1853 ontstaan en is aanvanklik Beaconsfield genoem.

Middledrift het ’n tronk, ’n paar winkels en ’n vulstasie. Die stasie buite die dorp is vervalle langs ’n leë spoor.

Die middedorp is in formele strate uitgelê en oorkant die hoofpad is ’n meer onlangse HOP-styl nedersetting. Meestal lyk Middledrift maar soos tradisionele huise op heuwels wat toevallig naby aan mekaar gebou is.

Daar is egter een huis wat van Middledrift ’n merkwaardige plek maak, naamlik die huis van ene Davidson Don Tengo Jabavu, of DDT Jabavu.

DDT Jabavu was eens bekend as die informele eerste minister van swart Suid-Afrika. Sy pa was die stigter van die eerste Xhosa koerant en sy dogter was ’n wêreldburger en skrywer wat die redakteur van ’n literêre tydskrif in Engeland was.

Hierdie huis in die plek met drie name vertel ’n interessante storie oor drie generasies van die Xhosa middelklas. Vir my is die interessantste een die jongste van die drie generasies – ’n vrou genaamd Noni Jabavu.

Intellektuele elite

Daar is een huis wat van Middledrift ’n merkwaardige plek maak, naamlik die huis van DDT Jabavu. Foto: Andries Bezuidenhout

Die Jabavu-familie is deel van die eerste formeel opgeleide Xhosa middelklas wat die gevolg was van Britse sendingskole.

John Tengo Jabavu is in 1859 gebore en het naby Healdtown grootgeword. Healdtown, ook later Nelson Mandela se skool, is deur die Metodistekerk bedryf en is aanvanklik gebou om die Mfengu-mense te beloon vir hul ondersteuning in die grensoorloë teen ander Xhosas.

Die Mfengu’s, of Fingo’s, soos hulle onder die Engelse bekendgestaan het, was ’n groep vlugtelinge wat hulle vanuit die destydse Natal in die Oos-Kaap gevestig het.

Die Britse koloniale bewindhebbers het hierdie groep mense as bondgenote geïdentifiseer, omdat hulle ’n minder gevestigde tradisionele leierskapstruktuur as ander Xhosa-sprekende groepe gehad het.

Die gevolg is dat baie van die eerste generasie Xhosa-sprekende intellektuele elite uit hierdie groep gekom het, wat toevallig ook die Mbeki-familie insluit.

As iemand vanuit ’n eerste generasie middelklas is JT Jabavu gesien as iemand wat nog te veel na die koloniale meesters opgekyk het.

Jabavu het sy opleiding by Healdtown voltooi en ’n onderwyssertifikaat verwerf. Hy en sy broer, wat ook aan Healdtown studeer het, was vriende met Olive Schreiner.

JT Jabavu het aanvanklik as onderwyser in Somerset-Oos gewerk, maar later die redakteur van ’n Xhosa koerant geword, Isigidimi Sama Xhosa, wat vanuit Lovedale gepubliseer is.

As koerantredakteur het hy aansienlike nasionale roem verwerf en ’n belangrike politieke figuur geword.

Van die ander swart politieke leiers het gemengde gevoelens oor hom gehad. Om die waarheid te sê, daar was ernstige spanning tussen Jabavu se politieke beweging, Imbumba, en Solomon Plaatje se South African National Native Congress (SANNC), wat later die ANC sou word. Jabavu is as ’n Mfengu nasionalis gesien. Hy het ook by tye die Afrikanerbond ondersteun en ’n minder kritiese houding teenoor die Naturelle Grond Wet van 1913 as ander swart politieke figure ingeneem.

As iemand vanuit ’n eerste generasie middelklas is JT Jabavu gesien as iemand wat nog te veel na die koloniale meesters opgekyk het.

DDT Jabavu

Dié huis vertel die verhaal van drie generasies van die Xhosa middelklas. Foto: Andries Bezuidenhout

JT Jabavu se oudste seun, DDT Jabavu, is in 1885 gebore. Hy was ’n vurige swart nasionalis.

Sy skoolopleiding het by die Morija-sendingskool in Lesotho begin en later het hy ook aan die beroemde Lovedale College in Alice skoolgegaan. Lovedale is Healdtown se susterskool wat deur die Presbiteriaanse sendelinge in Suid-Afrika gebou is en vanuit Skotland befonds is.

Wat onderwys betref het tye verander. Die familie wou die beste vir hul kinders hê. DDT Jabavu is Brittanje toe om sy hoërskoolopleiding te voltooi, omdat hy dit nie aan die topskole in King William’s Town kon doen nie.

Hy het die eerste swart Suid-Afrikaner geword wat ’n graad aan die Universiteit van Londen ontvang het. Hy het ook ’n onderwysdiploma aan die Universiteit van Birmingham verwerf.

Tydens ’n toer in Amerika het hy ’n aantal swart universiteite en kolleges besoek, onder meer Booker T. Washington se Tuskegee Institute.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1916 was hy die eerste aanstelling van die nuutgestigte South African Native College, wat later as die Universiteit van Fort Hare bekend sou staan. Hy het Afrikatale en Latyn doseer.

Jabavu is in 1959 oorlede.

Rassisme van alle kante van die spektrum

Die aanwysings na Jabavu-huis. Foto: Andries Bezuidenhout

Vir my is die interessantste en mees enigmatiese van die drie generasies beroemde Jabavu’s die derde een, naamlik Noni Jabavu, DDT Jabavu se dogter.

Haar volledige name is Helen Nontandu Jabavu en sy is in 1919 gebore, kort ná haar pa se aanstelling as dosent by Fort Hare. Sy het in die huis in Middledrift grootgeword.

Soos haar pa is Noni Brittanje toe om haar skoolopleiding te voltooi. Sy het uiteindelik aan die Royal Academy of Music studeer.

Anders as haar pa het sy in Engeland aangebly. Sy is later met Michael Cadbury Crosfield, ’n Engelse rolprentregisseur, getroud. Hulle het meestal in Engeland gewoon, maar ook vir ’n tyd lank in Uganda en Jamaika.

Jabavu het die wêreld vol gereis en is in die 1960’s as die redakteur van die Londense literêre tydskrif The New Strand aangestel.

Die pad na Middledrift en Jabavu-huis van Alice se kant af. Foto: Andries Bezuidenhout

Sy het beroemd geword vir haar twee boeke, Drawn in Colour (wat in 1960 gepubliseer is) en The Ochre People (in 1963 gepubliseer). Albei is outobiografiese memoires, waarin sy skryf oor haar familie en haar besoeke aan Suid-Afrika. Drawn in Colour moes in die eerste jaar wat dit gepubliseer is, vyf keer herdruk word.

Die “oker mense” verwys na tradisionele Xhosas wat die rooierige modder aan hul lyf smeer – in die boek skryf sy oor haar eie identiteitsverhouding, as moderne vrou, met haar eie mense.

Weens Suid-Afrika se ontugwet kon haar man Suid-Afrika nooit saam met haar besoek nie.

Waar haar pa ’n swart nasionalis was, skryf Noni Jabavu oor rassisme van alle kante van die spektrum.

In 1980 het sy in Zimbabwe gaan bly en het uiteindelik na Suid-Afrika teruggekeer. Sy is in 2008 in die ouderdom van 88 dood en is in Oos-Londen begrawe.

’n Ware wêreldburger

As ek tussen Alice en Oos-Londen of King William’s Town moet ry, besoek ek elke nou en dan die Jabavu-huis in Middledrift. Vandag is daar weer ’n kouefront op pad. Mooi wolke.

Die huis word duidelik aan toeriste uitgewys, maar my indruk is dat min mense hier stilhou. Die huis is in private besit en oor die jare is daar ’n heining opgerig. Wasgoed hang aan ’n draad en ’n hond op die erf hou my dop, maar blaf nie.

Ek wonder soms oor die drie generasies Jabavu’s. Die eerste neem ’n kritiese houding teenoor koloniale Suid-Afrika in, maar word uit eie geledere gekritiseer as iemand wat te sterk met die Engelse identifiseer.

Die tweede is ’n vurige nasionalis wat sy lewe daaraan wy om swart onderwys en landbou te ondersteun en op te bou.

Die derde word ’n ware wêreldburger, ’n beroemde literêre figuur, maar wat nie juis in haar eie land geken word nie. Wat identiteit betref beskou sy haarself as Afrikaan en Europeër.

Uiteindelik is Noni Jabavu ’n historiese figuur wat nie lekker by stereotipes inpas nie, baie soos ’n plek met ’n naam soos Middledrift, vir my veel interessanter as die alledaagse en alombekende.

Meer oor:  Nasionalisme  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.