Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Inperking: Ander modelle was beskikbaar

Dit is duidelik dat redelike opsies vir ’n staat van inperking reg van die begin af beskikbaar was. Dit lyk nou of bangmaak-scenario’s gegrond op verdagte modellering besluite daaroor beïnvloed het, skryf Johannes Wessels en Mike Schüssler.

Pres. Cyril Ramaphosa voordat hy Sondagaand aangekondig het inperkingsmaatreëls gaan van 1 Junie af verslap word. Foto: GCIS

Daar is geen rasionele rede dat die lewe nie tot normaal kan terugkeer met die handhawing van higiëniese protokolle en beperking op byeenkomste van tot 50 mense in Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap buiten Kaapstad se metropolitaanse gebied en Stellenbosch se munisipale gebied nie.

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand dat die staat van inperking op 1 Junie van vlak 4 tot vlak 3 verslap word, openbaar dus steeds die regering se benadering van sentrale beheer. Die aankondiging het ook geen besonderhede bevat oor die presiese raamwerk waarbinne werk in sekere sektore hervat kan word nie. Daarby ontbreek die detail steeds oor die modelle waarop die regering sy inperking van die ekonomie grond.

Reeds van sy pad-vorentoe-na-vlak-3-van-inperking-toespraak-oor-aankondigings-wat-aangekondig-sal-word-wanneer-die-bevelsraad-gereed-is-om-dit-aan-te-kondig op 13 Mei waarin Ramaphosa erken het dat sommige foute begaan is en belowe het dat die regering dit sal regstel, het die bestuursghoeroe Russell Ackoff se f-wette ’n erger bedreiging geraak as Covid-19.

Russell Ackoff se f-wette

As jy ’n fout regmaak en die regte ding doen, word dinge beter.

As jy ’n fout regmaak en die verkeerde ding doen, word dinge al hoe meer verkeerd.

Dit is beter om die regte ding verkeerd te doen, as om die verkeerde ding reg te doen.

Die regstel van foute maak nie sake beter as dit ’n doeltreffender toepassing van ’n foutiewe strategie behels nie. ’n Verandering van rigting is noodsaaklik.

Dit herinner ook aan die Amerikaanse leiers wat vir meer toewyding en volharding gevra het terwyl hulle ’n oorlog gevoer het wat hulle geweet het hulle nie kan wen nie.

Mislei die regering Suid-Afrikaners oor die “Covid-19-pandemie” nes die regering van die VSA die Amerikaanse bevolking mislei het oor die oorlog in Viëtnam?

Wanneer daar volhard word met ’n beleid en strategieë welwetend dat dit onwaarskynlik is dat dit beter is as beskikbare opsies en daar ook toenemende getuienis is dat die aannames waarop die strategie gegrond is die bal ver misgeslaan het, is dit ’n stommiteit met rampspoedige afmetings.

In die middel van Februarie het sterfgevalle aan Covid-19 die internasionale aandag vasgevang. Die Imperial College in Londen het gesê volgens sy modellering sal 500 000 mense in Brittanje en 2,2 miljoen in die VSA doodgaan as die regerings nie drastiese stappe doen nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Covid-19 op 11 Maart tot ’n pandemie verklaar. Op 23 Maart het Brittanje ’n nasionale staat van inperking verklaar.

Suid-Afrika het dié voorbeeld die volgende dag gevolg.

Swede het nooit ’n staat van inperking gehad nie, terwyl Duitsland, Oostenryk, Suid-Korea en Switserland baie meer beperkte maatreëls ingestel het om infeksies te bekamp. Dit het gefokus op groot openbare byeenkomste en ondernemings wat in beperkte ruimte sake doen, maar het vryheid van beweging binne sulke ruimtes toegelaat en hul burgers kon oefen.

Ander lande het ’n geografiese onderskeid gevolg tussen gebiede met ’n hoë- en lae infeksiekoers.

Wees bevrees vir meer verbeterings van dié aard

Mense staan tou vir kospakkies by die Iterileng-informele nedersetting buite Laudium. Foto: AP

Ná vyf weke van ’n streng staat van inperking en die opskorting van basiese menseregte soos vervat in ons Grondwet en met wat volgens die Verenigde Nasies op ’n “toksiese inperkingskultuur” neerkom, het die Suid-Afrikaanse regering die staat van inperking “verbeter” deur ’n aandklokreël in te stel, deur te besluit wanneer burgers kan oefen en deur te besluit watter T-hemde kan gekoop word of nie en hoe die handelaars die klerasie mag vertoon.

Dit is verbeterings soos dié wat ’n mens beangs maak vir die president se beloftes om die foute wat hulle begaan het, reg te stel: “Sommige van die stappe wat ons gedoen het, was onduidelik, van dit was teenstrydig en van dit is swak verduidelik . . . Waar ons teleurgestel het, sal ons vergoed. Waar ons foute maak, sal ons aanhou om dit reg te stel,” het Ramaphosa op 13 Mei gesê.

Ackoff het gesê: “Jy sal jouself net verder van sukses wegneem deur jou vertoning te verbeter terwyl jy die verkeerde strategie volg.”

Kom ons kyk weer na die oorspronklike doel van die staat van inperking: Daar is geredeneer dat die verspreiding van die virus bekamp kan word “deur die kurwe af te plat” sodat die gesondheidsektor (openbaar en privaat) die kans kan kry om beddens en toerusting gereed te kry vir wanneer die virus in alle mag toeslaan.

Is die regering skaam om sy modelle bekend te maak?

’n Bejaarde vrou word vir koronavirus getoets in Katlehong. Foto: AP

Daar was nooit enige aanduiding – behalwe toe die president geklee in ’n kamoefleeruniform aan die weermag opdrag gegee het om die “virus dood te maak” – dat die siekte voorkom kon word nie.

Alles het gewentel rondom ’n voorkomingstrategie om tyd te wen sodat ons beter voorbereid kon wees vir die ergste.

Tot dusver weet ons dat 30 000 bykomende beddens vir kwarantyndoeleindes voorberei is, maar geen besonderhede oor die nodige personeel en ander ondersteuningstelsels wat dié geriewe nodig het om te funksioneer óf ’n aanduiding van hoeveel bykomende beddens in waakeenhede en ventilators beskikbaar is nie.

Enterprise Observatory of SA (EOSA) kon nog nie ’n volledige stel Suid-Afrikaanse data kry wat infeksies, sterftes en herstel volgens ouderdomsgroep aandui nie. Daar is wel op 20 Mei sterfgevalle volgens ouderdomsgroep bekend gemaak.

Hoewel die oorspronklike modellering van die Imperial College waarop die staat van inperking (minstens in Brittanje) gegrond was, vinnig onder die noukeurige bestudering van oorsigkundiges uitgerafel het, hou die Suid-Afrikaanse regering sy eie aannames en modellering oor die verspreiding van die siekte weg van sulke ondersoek.

Dit is asof die regering daarvan wegskram om die data en modellering bekend te maak waarop sy besluite gegrond word.

Hulle het ook nog nie gereageer op die aktuariële kundiges Nick Hudson en Peter Castleden se Panda-verslag wat bevind het dat die invloed van die staat van inperking veel erger sal wees as die gesondheidsinvloed van Covid-19 nie.

Daarby was die tesourie se voorlegging aan Skoor 14 dae gelede die enigste aanduiding van modellering oor die ekonomiese uitwerking van die staat van inperking, hoewel daar al verskeie keer kommentaar gelewer is oor die skade aan die ekonomie.

Dit is asof die regering daarvan wegskram om die data en modellering bekend te maak waarop sy besluite gegrond word. Die belaglike arbitrêre diktats van Ebrahim Patel (minister van handel, nywerheid en mededinging), die irrasionele besluite oor oefening, die lang verbod op e-handel en die verbod op sigarette en alkohol gee ’n mens genoeg rede om die geldigheid van die data en modelle waarop die regering sy kollektiewe besluit grond, te bevraagteken.

Terwyl die koste van die ekonomie wat stilstaan etlike miljard rand ’n dag beloop – daar is beraam dat die verliese oor die eerste vyf weke van die staat van inperking R7,5 miljard per dag beloop het vir altesaam R340 miljard of 6,5% van die bruto nasionale produk – is dit belangrik om weer te kyk na Covid-19 en die regering se strategie rondom dié pandemie.

Covid-19 se sterftesyfer baie laer as verwag

Die dodelikheid van Covid-19 is in dié stadium sowat 20 keer laer as wat aanvanklik deur die WGO aangeneem is.

Die Worldometer-data van die 46 lande wat op 17 Mei elk meer as 10 000 Covid-19-gevalle gehad het, dui op ’n sterftesyfer van 0,00553% van die bevolking.

Die lande het ’n gesamentlike bevolking van 5,665 miljard mense en het 94% van die wêreld se Covid-19-infeksies gehad en 97% van Covid-19-verwante sterftes.

Die hoogste persentasie sterftes is in België aangeteken, naamlik 0,0784% van die bevolking. Suid-Afrika se huidige sterftesyfers is slegs 0,00057% van die bevolking, tans slegs ’n tiende van die wêreldwye persentasie. Dit sal beslis toeneem met die verwagte piek tussen die einde van Junie en vroeg in Augustus.

As ’n mens kyk na die getal sterftes per 10 000 mense van die bevolking, is Covid-19 glad nie so dodelik soos hartsiektes, tuberkulose en selfs die Suid-Afrikaanse bedreiging van moord nie.

Gegewe dat die nuutste prentjie heeltemal anders lyk as dié wat aanvanklik deur die model van die Imperial College en die WGO geskets is, moet gevra word of ’n streng staat van inperking werklik nodig was, en indien wel, of dit nodig is om dit so lank uit te rek soos wat die regering doen?

Covid het ’n voet in ouetehuis en een in waaksaal

Van die begin af is gewaarsku dat Covid-19 dodelik is vir mense van alle ouderdomsgroepe.

Die jongste toename in sterftes tot 400 (kyk hier) en die grafiek van sterfgevalle soos op die Coronavirus Dashboard-webblad, lyk skrikwekkend.

Maar dit vertel net ’n deel van die verhaal. Statistieke is soos ’n bikini, dit is nie net belangrik om te sien wat dit met die eerste oogopslag wys nie, dit is belangriker wat dit wegsteek.

Die grafiek wys dat Suid-Afrika glad nie uit pas is met die situasie van ander lande nie. Suid-Afrika se persentasie van sterftes is so laag dat dit slegs in die 90 jaar-plus-kategorie op die grafiek wys.

As ons kyk na sterfgevalle, verskyn die ouderdomsgroepe onder 20 skaars op die radar. Verreweg die meeste sterfgevalle kom in die ouderdomsgroep van 70 jaar en ouer voor.

Terwyl data wat Covid-infeksies en sterftes in ouderdomsgroepe aandui nie al te geredelik beskikbaar is nie, is dit duidelik waar dit wel beskikbaar is dat die infeksies wel alle ouderdomsgroepe tref, maar met die laagste infeksiekoers vir die groep jonger as 20 jaar.

Maar as ons kyk na sterfgevalle, verskyn die ouderdomsgroepe onder 20 skaars op die radar. Verreweg die meeste sterfgevalle kom in die ouderdomsgroep van 70 jaar en ouer voor.

Die regering moet wat strategie betref duidelik wees oor waarom dit nie stappe gedoen het om mense ouer as 70 jaar te beskerm eerder as om die ekonomie te sluit nie.

Is dit gedoen in ooreenstemming met die ou struggle-oortuiging van “an injury to one is an injury to all”?

Dit is ’n feit dat die sluiting van skole (buite die aanvanklike tydperk van drie weke wat nodig was om vir die komende piek voort te berei) onnodig was. Die Wêreldbank het daarop gewys dat die sluiting van skole en die gevolglike uitwerking op onderwys tot groter ongelykheid sal bydra.

In Engeland is Covid-19 nie ’n moordenaar in eie reg

Volgens data van Brittanje se Kantoor vir Nasionale Statistieke was verreweg die meeste sterftes in die ouderdomsgroep van 90 jaar en ouer.

Boonop is Covid-19 op sy eie nie die hoofoorsaak van Covid-verwante sterftes nie.

Dit beklee slegs die vyfde plek met 9,6% ná demensie en Alzheimer (20,4%), iskemiese hartsiektes (10,8%), griep/longontsteking (10,3%) en chroniese laer respiratoriese siektes (10,2%).

Dié syfers is gegrond op alle Covid-verwante sterftes in Engeland en Wallis in Maart en April.

Dié insig maak dit duidelik dat bykomende maatreëls getref moet word ter beskerming van kwesbare mense in die ouderdomsgroep van 70 en ouer sodat ander sonder enige ernstige onderliggende kwale steeds hul lewens ten volle kan leef.

Is die ekonomie beskadig ondanks ander opsies?

’n Bus in Kaapstad word ontsmet. Foto: AP

Dit is duidelik dat redelike opsies reg van die begin af beskikbaar was. Dit lyk nou of bangmaak-scenario’s gegrond op verdagte modellering besluite oor ’n streng staat van inperking sowel as die voortdurende fel vlak 4-inperking beïnvloed het.

Barbara Tuchman, tweemalige wenner van die Pulitzer-prys vir niefiksie, het die VSA se oorlogsbeleid in Viëtnam beskou as een van die uiterste manifesterings van stommiteit.

’n Uiterste geval van hardkoppigheid?

Van Philip II van Spanje, wat beskou word as een van die hardkoppigste konings tot nog toe, het die Encyclopaedia Britannica gesê: “Geen ervaring van die mislukking van sy beleid kon sy geloof in sy essensiële uitmuntendheid skaad nie.” Hy het voortgegaan met sy mislukte beleide omdat hy nie kon onderskei tussen die belangrike en die onbenullige nie en sy onvermoë om dit te doen, probeer verbloem deur sorgvuldig te vra vir “meer inligting” en “nog raad”.

Is hardkoppigheid ook die rede vir die ANC se geloof dat die regering dié weldoener van die samelewing is? En is Cyril Ramaphosa se benadering van ’n uitgerekte proses van konsultasie ’n strategie om te verseker dat die blaam op die skouers van die “kollektief” gepak word en gedeel word deur diegene wat hy gekonsulteer het?



Jaar ná jaar, ondanks ’n groterwordende biblioteek van verslae en feitesendings wat daarop gedui het dat die VSA die oorlog nie kan wen nie, het die Amerikaanse regering meer en meer hulpbronne daaraan toegewy en, ter regverdiging, ander menings van raadgewers ingewin om hul beleid te regverdig.

Deeglik bewus van die futiliteit van die hardnekkige najaag van hul doelwitte, het hulle 58 000 Amerikaanse en 200 000 Viëtnamese lewens opgeoffer en ’n honderd duisend miljoen dollar (in vandag se geldwaarde) spandeer om die oorlogspoging aan die gang te hou. Daarmee is toekomstige geslagte opgesaal met ’n skuldlas.

Hulle het vir jare lank aangeploeter en gehoop op ’n uitslag wat nie vernederend vir hulle sal wees nie.

Is dit die geval met die Ramaphosa-regering? Hulle moet tog bewus wees van nuwe data en insigte? Ook van die skade aan die ekonomie wat die per capita bruto binnelandse produk terugneem na vlakke van etlike jare gelede? Of neem hulle nie kennis daarvan nie?

Die president is al verskeie keer voorheen “verras” of “was nie bewus van” dinge nie . . .

* Johannes Wessels is ’n direkteur van die Enterprise Observatory of SA en Mike Schüssler is hoofekonoom van economist.co.za. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.