Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Inperking: Dít pla oor maatreëls

Dit lyk of Suid-Afrikaners oor die algemeen gehoor gee aan die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die Covid-19-virussiekte te bekamp. Tog het baie van hulle ’n probleem met hoe die maatreëls toegepas word, skryf Pieter Labuschagne.

’n Man stap verby ’n kennisgewing in Kaapstad wat die staat van inperking in twee woorde opsom. Foto: Reuters

Die toepassing van die beheermaatreëls om die verspreiding van die koronavirus te beperk het ’n buitengewone situasie vir die meeste Suid-Afrikaners geskep.

Die algemene reaksie van mense wie se bewegingsvryheid drasties ingeperk is, was egter grootliks positief. Daar is ’n stilswyende aanvaarding van die noodsaak van die inperking.

Die besware wat geopper word, is nie oor wat toegepas word nie, maar eerder hóé die inperkings toegepas word.

Suid-Afrikaners moes hul lewens drasties aanpas. Die inperkingsmaatreëls beperk hul reg op vrye handel, werkbedrywighede, reis en die vrye beweging.

Ná die eerste tien dae is daar steeds vrae en verwarring oor sekere aspekte. Dit word deur die oënskynlik wisselende en diskriminerende toepassing van sommige beperkinge vererger.

Ten einde die inperkingsmaatreëls en veral die beperkinge op bewegingsvryheid te beoordeel, is die grondwetlike konteks belangrik.

In wese gaan die beperking fundamenteel oor een basiese aspek – die skepping van voldoende ruimtelike afstand tussen individue om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Die toepassing van die maatreëls kon volgens twee benaderings plaasgevind het:

* Die outoritêre benadering – maatreëls wat op drakoniese en militaristiese wyse deur dreigemente, inhegtenisnemings en boetes afgedwing word.

* Die vennootskapsbenadering – waar beheermaatreëls ferm en duidelik neergelê word om op die erns te wys, gevolg deur ’n beroep op mense om dit te gehoorsaam in die groter belang van die samelewing. Met dié benadering word basiese vryhede (soos draf en stap) toegelaat, solank die maatstaf van ruimtelike afstand gehoorsaam word.

Ten einde die inperkingsmaatreëls en veral die beperkinge op bewegingsvryheid te beoordeel, is die grondwetlike konteks belangrik.

Waarop grond die president en die uitvoerende gesag hul optrede?

Waarom maatreëls nodig is

Mense in Khayelitsha handhaaf sosiale distansiëring terwyl hulle wag om vir die koronavirus getoets te word. Foto: Reuters

Die Grondwet, art. 37(1), magtig die president om ’n noodtoestand te verklaar wanneer die land deur oorlog, binnedringing, algemene onrus, ’n natuurramp of enige ander openbare noodgeval bedreig word.

Daar is wel beperkingsmaatreëls by art. 37(2) van die Grondwet ingebou om die oorskryding van mag deur die parlement te beperk.

Só kan ’n noodtoestand net vir 21 ná die afkondiging daarvan geld. As die president ’n noodtoestand wil verleng, moet die meerderheid van die lede van die nasionale vergadering dit goedkeur.

As ’n verdere verlenging van 21 dae versoek word, moet meer as 60% van parlementslede daartoe instem.

In die apartheidsera is noodtoestande dikwels vir politieke redes misbruik.

Die howe is ook met grondwetlike magte beklee om op grond van art. 37(3) te beslis oor die geldigheid van die verklaring van ’n noodtoestand en die verlenging daarvan.

Die beperkings in die Grondwet op ’n noodtoestand is geregverdig. In ’n diep verdeelde en diverse samelewing soos dié van Suid-Afrika is daar altyd die sluimerende moontlikheid van burgerlike onrus.

Die Handves van Menseregte in die Grondwet van 1996 het aanvanklik wye magte met betrekking tot die uitroep van ’n noodtoestand bemoeilik.

In die apartheidsera is noodtoestande dikwels vir politieke redes misbruik. Daar is vele voorbeelde uit dié tydperk van magsoorskryding en menseregtevergrype wat deur die uitroep van ’n noodtoestand gelegitimiseer is.

’n Soldaat by ’n padversperring in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die beheermaatreëls waarmee ons nou te doen het, is ingevolge die Wet op Rampbestuur ingestel.

Die gevaar van die verspreiding van die koronavirus wat die dodelike Covid-19-pandemie veroorsaak, regverdig die inperking van die publiek en die handhawing van ruimtelike afstand tussen mense.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die maatreëls daarop gemik moet wees om die verspreiding van die virus te bekamp en nie om mense te manipuleer en te onderdruk nie.

Basiese grondwetlike vryhede soos bewegingsvryheid word wel geraak omdat die grense van individuele vryhede bepaal word deur die regte van ander en die legitieme belange van die samelewing.

Die beperking van ’n individu se bewegingsvryheid weeg gevolglik nie swaarder as die legitieme belange van die samelewing – om die verspreiding van die virus te keer – nie.

Die basiese fundamentele grondwetlike regte en vryhede van individue is gevolglik nie absoluut nie.

Art. 12(1)(a) beskerm egter duidelik individue teen die ontneming van hul vryheid (soos die vryheid op beweging) op arbitrêre wyse of sonder goeie rede.

Opsommend beteken dit dat die beperkinge wat die staat op beweging plaas nie arbitrêr mag wees nie en dat daar ’n rasionele verwantskap tussen die inperking en die gewenste oogmerk moet wees.

Die noodtoestand (art. 37) magtig wel die opheffing van individuele regte soos vryheid van beweging (sien ook art. 36).

Die ontneming van regte gesien in die algemene gees van die Grondwet bepaal egter duidelik dat dié beperking redelik en regverdig in ’n oop en demokratiese samelewing en op menslike waardigheid, gelykheid en vryheid gegrond moet wees.

Wanneer bogenoemde artikels saamgelees word met art. 12(1)(a), is dit duidelik dat:

* daar ’n duidelik ewewigtige samehang tussen die stappe (beperking van bewegingsvryheid) en die einddoel (beperking van die verspreiding van die virus) moet wees;

* dieselfde einddoel (beperking van die verspreiding van die virus) nie deur minder beperkende maatreëls bereik kan word nie; en dat 

* die maatreëls nie arbitrêr of diskriminerend toegepas mag word nie – dieselfde beperkinge moet vir almal geld.

In regspraak (De Lange v Smuts NO) is die substantiewe aard van vryheid aan die hand van art. 12(1)(a) behandel. Regter Laurie Ackermann het in sy minderheidsuitspraak bevind dat arbitrêre optrede beteken dat daar ’n rasionele samehang tussen die stappe en die einddoel moet wees. Regter Kate O’Regan het in dieselfde saak die vereiste vereenvoudig met die kernvraag “of die gronde waarop die vryheid beperk word, aanvaarbaar is?”

Opsommend beteken dit dat die beperkinge wat die staat op beweging plaas, nie arbitrêr mag wees nie en dat daar ’n rasionele verwantskap tussen die inperking en die gewenste oogmerk moet wees.

Toepassing van die maatreëls

Bheki Cele, minister van polisie, dreig en baklei eerder as om behoorlik met die publiek te kommunikeer. Foto: Argief

Enige beperking op menslike vryheid en beweging moet rasioneel en proporsioneel wees om die handhawing van sosiale distansiëring te verseker ten einde die verspreiding van die virus hok te slaan.

Dit is duidelik dat die meeste Suid-Afrikaners dít verstaan en respekteer.

Dit is egter nie die probleem nie. Die probleem is eerder hoe die maatreëls toegepas word – sommige selfs op diskresionêre, diskriminerende en selfs drakoniese wyse.

As voorbeeld dien die vergunning aan minibustaxi’s teenoor die beperking op individue om alleen te draf of met ’n hond te gaan stap. In albei gevalle gaan dit oor die handhawing van sosiale distansiëring.

In die geval van minibustaxi’s is die toegewing gemaak dat nege mense in ’n voertuig mag reis, hoewel die afstand tussen hulle beslis minder as een meter, en boonop in ’n beperkte ruimte, is.

Pieter Labuschagne

Dié probleem van sosiale distansiëring geld nie iemand wat alleen gaan draf of met ’n hond gaan stap nie (albei aktiwiteite wat fisieke gesondheid en geestelike welstand bevorder).

In die geval van die taxi’s het die regering duidelik onder druk van die taxibedryf diskresionêre toegewings gemaak.

Uiteindelik is dit die diskresionêre, diskriminerende aard van die beperkings wat tot die meeste kritiek lei.

Cele volg soos PW Botha die roete van dreig en baklei eerder as om sinvol met die publiek te probeer kommunikeer.

Dit gaan ook in ’n groot mate oor behoorlike en doeltreffende kommunikasie deur die staat.

Daarom is die prominensie van Bheki Cele, minister van polisie, in dié tye nie een van die regering se beste skuiwe nie.

Cele volg soos PW Botha, staatspresident tydens die noodtoestande van die 1980’s, die roete van dreig en baklei eerder as om sinvol met die publiek te probeer kommunikeer. Dit berokken baie skade aan die verhouding tussen die regering en sy onderdane.

Die onderrok van ’n polisiestaat hang deesdae net te veel uit om gemaklik en rustig oor die staat van inperking te voel.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa en het ook ’n doktorsgraad in die regte. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Noodtoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.