Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Inperking: Hulp aan mense in ‘zombiewêreld’

Wat hulle sou gebruik vir die utopiese speeldorpie op AfrikaBurn, word nou ingespan om verligting te bring in die “zombiewêreld” waarin hawelose mense in ’n dwaal rondbeweeg, sê Robert Weinek aan Murray La Vita.

Robert Weinek en Kristy Derbyshire met op die agtergrond wasgeriewe wat hulle vir hawelose mense oprig.

“Dis soos ’n zombiewêreld daar buite. Dit is morsdood. Daar is níks, níks, níks daar buite nie. Die enigste mense wat jy sien rondloop, is hawelose mense. Hulle loop doelloos rond; hulle is in ’n dwaal. Dis baie hartseer. Nogal vreemd. Soos ’n post-apokaliptiese wêreld,” sê Robert Weinek, een van die direkteure van AfrikaBurn.

Wat is AfrikaBurn?

AfrikaBurn het in 2007 begin. Dit is op die Amerikaanse Burning Man-konsep gegrond en behels basies die bou van ’n tydelike utopiese en outonome dorpie vir kunstenaars en ander kreatiewe mense om een keer per jaar in te speel en pret te hê.

In die vroeë dae van AfrikaBurn het die organiseerders besluit om 3,5% van al die kaartjieverkope in die plaaslike gemeenskap te belê, sê Weinek.

“Ons het die geld aanvanklik in die plaaslike gemeenskap belê deur te help om ’n biblioteek op die been te bring; ons betaal ook geld oor aan die plaaslike Laerskool Elandsvlei, wat intussen na Brakfontein geskuif het, deur die salaris van ’n kunsonderwyser te betaal en ’n voedingskema te befonds – ons voed sowat 45 kinders drie keer per dag. Ons ondersteun ook die koshuis waar die kinders woon wat na die hoërskool in Calvinia gaan.”

Hulle is ook betrokke by gemeenskapsprojekte in Johannesburg en Kaapstad.

Die verlatenheid van die stedelike landskap in die tyd van nasionale inperking herinner ironies genoeg aan die uitgestrekte, leë stuk woestynagtige Noord-Kaapse aarde in die Tankwa-Karoo waar die jaarlikse AfrikaBurn-geleentheid vanjaar weer van 27 April tot 3 Mei gehou sou word, maar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

Weinek en sy kollega Kristy Derbyshire, een van die hoofde van AfrikaBurn se DPW, hul “departement van openbare werke”, het onlangs begin met wat hulle Projek Waardigheid noem.

“Ek dink dit is elke mens se reg om toegang tot ’n toilet te hê en ’n behoorlike plek te hê waar hy of sy kan was; al is jy ’n hawelose mens,” sê Weinek in ’n Skype-onderhoud in Kaapstad.

“Hulle is desperaat. Hulle weet nie wat aangaan nie. Hulle het gehoor die Kaapstad-metro sal moontlik help, maar hulle weet nie wie gaan hulle wanneer help nie.”

Tente is al opgeslaan op plekke soos onder ’n brug in Kaapstad se middestad, waar sowat 200 hawelose mense gehuisves word.

“Maar in Observatory [Kaapstad] sit hulle op die meent en wag vir dinge om te gebeur. Heelparty van die mense daar is ook lede van Sweat [Sex Workers Education and Advocacy Taskforce].”

‘Hoe kan ons help?’

Die toilette wat in Observatory, Kaapstad, vir hawelose mense opgerig is. Foto: Kirsty Derbyshire

“ ’n Week voordat die president die nasionale staat van inperking aangekondig het, het ons vanjaar se Burn gekanselleer omdat ons in daardie stadium reeds baie, baie besorg oor die verspreiding van die virus was.

“Ons het toe al sowat 3 000 kaartjies aan mense wêreldwyd verkoop. Baie mense wat kaartjies gekoop het, was in lande wat reeds op die punt van inperking was en hoërisikolande soos China, Duitsland, Frankryk en Italië. By die 40 van die mense wat met die bouwerk sou help, was ook vrywilligers uit daardie lande.

“Ons het toe besluit ons kan nie soos ’n reuse-petribakkie in die woestyn wees nie. Jy kan sien wat op die plesiervaarte gebeur. Ons wou nie ’n geleentheid aanbied waar ons ons gemeenskap in die gevaar stel nie; en ’n situasie skep waar die feesgangers dit dan ná die fees nog verder versprei nie.

“Nadat ons die fees gekanselleer het, het ons begin dink hoe ons met al ons kundigheid en toerusting kan help. Ons het nog altyd baie nou met OBSID, die Observatory-veiligheidsektor, saamgewerk. Elke voorstad het ’n SID, hulle sien om na dinge soos veiligheid en die skoonmaak van strate.

“Ons behartig mos ook Streetopia, daardie groot straatfees in Observatory. So, ons werk baie nou saam met die SID’s en die stadsraadslede en hulle hou van ons, want hulle sien die goeie werk wat ons doen en dat ons die kapasiteit en masjinerie het om vreemde en wonderlik komplekse dinge te doen. Hulle weet ook ons kan dit baie vinnig doen,” sê Weinek.

‘Steeds op straat’

Watertenks wat gereed is om versprei te word na waar haweloses dit kan gebruik.

“Ons het ’n spesiaal-ontwerpte porta-toilet wat ons in die Tankwa gebruik wat as tenk ’n vloeibak van 1 000 liter het. So, baie mense kan die toilet gebruik voordat dit leeggepomp hoef te word.

“Ons het twee van hulle hier op die meent in Observatory opgerig, want hier is sowat 80 hawelose mense wat in die omgewing woon. Daar is nie openbare toilette hier nie, die naastes is ’n paar blokke ver en hulle word snags gesluit.

“Amanda Kirk, die uitvoerende hoof van OBSID, het ons onlangs gevra om te kom help. Baie hawelose mense is steeds op straat en hier op die meent. Hulle loop doelloos rond en wag vir die stadsowerhede om hulle op te laai of iets. Hulle het nêrens om heen te gaan nie.

“Hulle het nie ’n plek waar hulle hul klere en hulself kan was nie. Daarom is ons nou besig om vier waseenhede te maak sodat hulle minstens na hul persoonlike higiëne kan omsien.

“Ons gaan later nog verskeie van hierdie waseenhede oprig en nog toilette vervaardig en oprig in Kaapstad en omliggende buurte,” sê hy.

Openbare werke

’n Konstruksie op ’n vorige AfrikaBurn-geleentheid.Foto: Argief

“In AfrikaBurn het ons wat ons die departement van openbare werke noem. Hulle is die mense wat die paaie bou en al die ander infrastruktuur vir AfrikaBurn skep. Dit is baie soortgelyk aan die stadsraad se afdeling openbare werke.

“Hulle het ’n projek wat The Hammer School genoem word. Daar leer hulle mense om goed soos hierdie waseenhede en toilette te vervaardig. Hulle bied ook klasse aan in skryn- en sweiswerk. Ons het al die permitte omdat ons geklassifiseer is as ’n verskaffer van gesondheidstoerusting.”

’n Groep met wie hulle saamwerk, is die eienaars van The Maker Station.

“Dit word deur Felix en Manus Holm bedryf. Hulle help ons en het ook wonderlike dinge geskep soos gesigmaskers en individuele en openbare handreiniger-eenhede wat baie goedkoop is om te vervaardig.”

Die vrygewigheid van Suid-Afrikaners en Kapenaars is wonderlik. Mense is vriendelik en hulpvaardig en hulle leen toerusting aan ons. Iemand het my nou net uit die bloute gebel en gesê hy het ’n hyskraanvragmotor wat hy graag vir ons sal leen.”

‘Massiewe implikasies

Die tente wat onder die Culemborg-brug in Kaapstad vir haweloses opgerig is. Foto: Nicola Jowell

Ons praat oor die kansellasie van vanjaar se AfrikaBurn.

“Die geldelike implikasies is massief. Verlede Maandag sou die eerste spanne uitgegaan het om te begin werk. Die meeste van die toerusting en materiale was reeds gekoop. Ons het dus reeds miljoene in die proses belê.

“Ons was nog besig om etlike duisende kaartjies te verkoop en daardie inkomste is ook verlore. Trouens, ons het ophou kaartjies verkoop nog voordat ons finaal besluit het om AfrikaBurn te kanselleer. Nou het ons sowat die helfte kaartjies as gewoonlik verkoop.

“Aanvanklik het ons besluit ons kan nie meer die mense betaal wat op die terrein sou werk nie, maar intussen het ons besluit om wel sommige salarisse te betaal.

“Ons hoop om deur hierdie jaar te kom tot in volgende jaar sodat ons in 2021 weer ’n AfrikaBurn kan aanbied. Dit sal dan op die nuwe terrein wees – die plaas Kwaggafontein in die Tankwa.

“Ons oorweeg talle scenario’s oor hoe ons volgende jaar se geleentheid gaan aanbied. Indien die pandemie nog lank voortgaan . . . Dit het natuurlik ’n groot geldelike invloed op alle Suid-Afrikaners, so ons sal onrealisties wees as ons dink ons gaan volgende jaar groot getalle kaartjies verkoop. Ons sal waarskynlik ’n kleiner AfrikaBurn moet aanbied, maar ons sal graag wil voortgaan . . .”

AfrikaBurn tuis

AfrikaBurn lewer ’n groot bydrae tot die ekonomie van plekke soos Calvinia en Ceres – iets wat hulle natuurlik vanjaar verloor, sê Weinek.

“Maar dit strek wyer . . . ons praat van in die tien, indien nie honderde miljoen rande wat uitgegee word op dinge soos die huur van toerusting en RV’s [ontspanningsvoertuie] . . . Ja, die uitwerking gaan op alle terreine massief wees.

“Maar ons gaan maar net aan. Ek dink daaraan om mini burns op sosiale media te doen waar mense byvoorbeeld by die huis klein burns in hul braaiarea kan hou. So jy bou miniatuur kunswerke en mutant voertuie; miniatuur alles.”

Hy lag.

“Dan kan jy ’n AfrikaBurn tuis hou. Net sodat ons nie neerslagtig raak nie. Jy moet jou sin vir humor die heeltyd behou. Selfs wanneer jy die ongelooflikste struikelblokke moet oorkom – fisiek en andersins. Met ’n goeie sin vir humor kan jy berge verskuif.”

Meer oor:  Calvinia  |  Kaapstad  |  Ceres  |  Covid-19  |  Hawelose Mense  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.