Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Inperking: ‘Mense gaan terugverlang na hierdie tyd’

Daar is baie ooreenkomste tussen die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie en die 15 maande wat hy op Antarktika deurgebring het, sê Bun Booyens aan Murray La Vita.

Antarktika is die winderigste vasteland op aarde en die weer is dikwels dae aaneen so sleg dat mense dit nie buite waag nie. Navorsingspanne wat veldwerk doen, skuil dikwels dae aaneen in woonwaens soos hierdie. Windstote van meer as 200 km/h word gereeld op die vasteland gemeet. Foto: Bun Booyens

Wanneer Booyens terugdink aan die tydperk van November 1987 tot Maart 1989 wat hy op die Sanae III-basis deurgebring het, onthou hy ook die “strategieë” wat hom gehelp het om die afsondering draaglik te maak en wat nou weer help.

Booyens, ’n vryskutjoernalis en voormalige redakteur van Die Burger, gesels per e-pos en telefonies uit Stellenbosch waar hy en sy gesin die inperking deurbring.

“My tyd op Antarktika was voor die internet, dus het jy bitter min kontak met die buitewêreld gehad. Jy kon elke week een teleks van 150 woorde stuur en ontvang, en Sondae nege minute per radio met iemand tuis gesels. Dikwels kon jy nie radioverbinding kry nie weens magnetiese storms en dan kon die telekse ook nie deurkom nie. Jy was vir alle praktiese doeleindes 99% van die tyd van die buitewêreld afgesny. In my jaar het die Olimpiese Spele van 1988 verbygegaan sonder dat ons hoegenaamd iets daarvan te hore gekom het. Die jaar daarna se ouens het nie geweet die Oosblok het verbrokkel nie.”

‘Jy oorontleed maklik’

Bun Booyens: “As jy die dreigement kwantifiseer dan raak isolasie maklik.” Foto: Michael Hammond

In sulke omstandighede begin jy jouself gou dinge verbeel.

“Jy oorontleed maklik elke woord van ’n teleks en sien dinge tussen die lyne wat daar nie is nie. Jy bekommer jou oor jou ouers wie se geiser gebreek het, maar dis ’n nuttelose emosie want jy kan niks daaraan doen nie.

“Tans is dit die klomp vals stories en ‘deurbrake’ wat eintlik net jou situasie kompliseer. Sluit jouself eerder af van sosiale media vir die dag en gaan kyk net saans daarna.

Jy moet vir iets spesifiek bang wees sodat dit gedrag kan inspireer.

“Baie van hierdie samesweringsgoed beïnvloed mense wat onseker is oor waarteen hulle te staan kom. Jy is meer weerbaar as jy die feite het: Jy gaan só lank hier bly – dalk langer – maar jy is veilig as jy dít doen, byvoorbeeld in die konteks van Antarktika is jy veilig as jy uitgaan en jy vir iemand sê waarheen jy gaan; jy is warm aangetrek; jy het ’n noodfakkel by jou en jy gaan net vir ’n halfuur buite wees.

“Dus: As jy die dreigement kwantifiseer, dan raak isolasie maklik. Ek dink baie van die mense wat nou onrustig is en sukkel met isolasie, is mense wat nie wéét wat gaan gebeur nie of hulle het nie ’n greep op die omvang van wat gaan gebeur nie.

“Ruimtevaarders sal dikwels vir jou dieselfde ding sê: Dit help nie jy is generies bang nie. Jy moet vir iets spesifiek bang wees sodat dit gedrag kan inspireer.”

‘Net een dag en een nag’

Wat ’n mens ook op Antarktika vang, is dat daar ’n groot deel van die jaar nie gewone dag en nag is nie.

“Op die Suidpool self is daar net een dag en een nag die hele jaar – die son kom op, skyn ses maande lank, sak en dan is dit ses maande nag.

“Die Suid-Afrikaanse basis is naby die kus en daar het jy darem ’n maand of twee dag en nag, maar party mense se interne horlosie wil eenvoudig nie aanpas nie. Hulle sukkel om te slaap, bly 20 uur wakker en slaap dan ’n lang ruk.

Die mense wat die beste gevaar het, was dié wat struktuur aan hul dag kon gee.

“Hul werkrooster val uitmekaar en dan ontwikkel daar ’n hele stel sekondêre probleme. Hulle raak prikkelbaar en dan begin dinge uitmekaarval. Ander mense se ritmes werk soos ’n metronoom. Hulle gaan slaap elke ‘aand’ dieselfde tyd en staan ‘soggens’ dieselfde tyd op. Hul roetine red hulle.”

Die mense wat die beste gevaar het, was dié wat struktuur aan hul dag kon gee.

“Die basis was 15 m onder die ys, dus was daar geen vensters nie. Daar was net ’n metertjie wat vir jou gewys het hoe sterk die wind waai en hoe koud dit buite is. As jy op jou horlosie kyk en dit wys kwart voor twee, dan kon dit net sowel die middag of nánag wees.

“Die beste roetine was byvoorbeeld om die neondakligte aan te skakel vir ‘dag’ en dan ná sesuur die tafellampies vir ‘nag’. Almal moes ook aandete bywoon, om te kyk of jy almal by dieselfde program kan hou en om koppe te tel.

“Ons het byvoorbeeld Sondagaande altyd saam ’n fliek gekyk, lekker snacks gemaak en eintlik so ’n tydmerker geskep: Nog ’n week is verby; ’n nuwe week begin.”

‘Spiraal van isolasie’

Die isolasie wat spanne op Antarktika binnenshuis ervaar, word buite dikwels deur die wit landskap vererger. Op dele van die vasteland is daar geen sigbare landmerke nie en wanneer dit bewolk is, is daar geen horison nie — alles is net wit. Foto: Bun Booyens

Die belangrike vaardigheid wat mense op Antarktika aanleer, en wat nou hier in die inperking van toepassing is, is: Beskerm jou slaapritmes en bou dan ’n sinvolle roetine rondom dit – nie net van dag tot dag nie, maar ook per week.

“As jy byvoorbeeld in die oggend opstaan en in daardie eerste soort van gloed van varsheid drie goed afhandel, kan jy vir die res van die dag op dáárdie momentum leef. Maar as jou roetine verdwyn of daar is nie ’n oggend nie . . .

“Dis die een ding wat ek op Antarktika gesien het en daar is ook heelwat navorsing daaroor gedoen deur veral die Amerikaners. Daar is bevind die ding het ’n vaste patroon, en dít is: Die persoon kry nie geslaap nie – sy slaappatrone val uitmekaar uit; sy werk begin lol, en dan is dit ’n baie vinnige spiraal van isolasie.

Jy moet ’n klein dingetjie doen wat jouself ontsettende bevrediging gee, en dan moet jy iets doen wat jou volkome ontspanning bied.

“Daar is iewers geskryf hoe hulle ’n span ná ’n jaar gaan haal het en ‘they found a whole team as wreckages of themselves’ . . .

“Die hele ding het half ingeplof want op die ou einde werk jy nie en jy het ’n skuldgevoel maar jy is nie in ’n situasie waarin jy dit kan oplos nie.

“So, die basiese ding van ’n roetine met ’n variasie van drie of vier duidelike dinge: Jy moet iets gedoen kry wat te doen het met jou werk of jou roeping; jy moet ’n klein dingetjie doen wat jouself ontsettende bevrediging gee, en dan moet jy iets doen wat jou volkome ontspanning bied.

“As enigeen van daai goed wegval, dan begin sukkel jy met jou roetine. Ek dink in ’n staat van afsondering is dit baie moeiliker om jou roetine te handhaaf.”

Presteer en vorder

Dit is ook belangrik om te sorg dat jou werk sy momentum behou.

“Die poolmense praat altyd van die ‘20 mile march’, Roald Amundsen se tegniek waarmee hy Robert Scott Suidpool toe geklop het. Sy span het elke dag, of die weer nou mooi of guur was, 20 myl gestap.

“Scott het ver gestap in mooiweer en dan skuiling gesoek in swak weer. Daardie volgehoue vordering het die gees in Amundsen se span hoog gehou. Scott se dinge het heeltemal ontspoor. En in isolasie moet jy voel dat jy presteer en dat jy te midde van die eentonigheid besig is met iets sinvols.

“Jy moet daardie gevoel kry dat jy vorder met iets wat wyer strek as die mure om jou. Indien nie, kry jy daardie Groundhog Day-gevoel. Jy kan eenvoudig nie ontkom van die huidige nie.”

‘Geestelike reddingsboei’

Booyens was deel van ’n weerspan van drie lede.

“Wanneer jy aan diens was (twee dae aan diens, een dag af) moes jy ’n hele paar keer per dag uitgaan om lesings te neem en ’n weerballon los te laat. Dit was soms ’n helse stryd want die weer buite is gewoonlik sleg. Die wind waai en daar is waaisneeu in jou oë en dis koud en soms slaan die wind die ballon vas teen die ys en dan moet jy oor begin.

Gaan doen net iets buite. Ek het byvoorbeeld onlangs ’n deel van my grasperk met ’n pik omgedolwe en buffelsgras geplant.

“Maar dit was op die ou end eintlik ’n baie groot geestelike reddingsboei: Jy gaan buitentoe terwyl die res van die mense binne sit en lê, en dieselfde fliek vir die 40ste keer kyk, en dan gaan trotseer jy die elemente daar buite – dit is absoluut gewelddadig as die weer sleg is – en ná ’n uur steier jy terug en is net goddank bly jy is weer binne en dan lê daai ouens steeds en kyk Beverley Hills Cop. Jy drink ’n koppie warm tee en voel soos ’n nuwe mens.”

Ook daarin is ’n les vir die huidige inperking.

“Gaan doen net iets buite. Ek het byvoorbeeld onlangs ’n deel van my grasperk met ’n pik omgedolwe en buffelsgras geplant.

“Jy moet jouself op ’n manier dankbaar maak om weer ’n dak oor jou kop te kry. Spring tou of snoei ’n heining. Maar gaan buitentoe sodat jy weer terug binnetoe kan kom.”

Afsondering en konflik

In afsondering vermeerder jou vermoë om die mense om jou te irriteer eksponensieel (en omgekeerd).

“Mense het mekaar al te lyf gegaan oor ’n koffiebeker wat nie gewas is nie. Destyds het hulle gesê die vriende wat jy op Antarktika maak, hou jy lewenslank, die vyande ook. Ek dink isolasie het noodwendig meer konflikpotensiaal. Dis nogal ’n goeie tyd om ’n bestekopname te doen van watter van jou gewoontes ander mense irriteer.”

Dit is belangrik om nie jou verwagtinge rondom ’n teikendatum te bou nie.

Dink net hoe moeilik dit vir iemand in ’n township is om geïsoleerd te lewe, sê hy.

“Dit moet ’n ábsolute treitering wees waar ses mense in ’n vertrek is. Jy het nie ’n enklawe waarheen jy kan onttrek nie. Jy het nie ’n buitentoe waarheen jy kan of mag gaan nie – jy het nie ’n tuin waarin jy kan werk nie.”

Dit is belangrik om nie jou verwagtinge rondom ’n teikendatum te bou nie.

“Jy lees dikwels dat krygsgevangenes sê hulle kon dinge bymekaar hou met, enersyds, die 100% wete dat die oorlog gaan eindig en jy huis toe sal kan gaan, en andersyds, die dissipline om dit nie aan ’n datum te koppel en so vals verwagtinge te skep nie.”

‘Als is wit’

’n Man op die balkon van sy woonstelgebou in Kaapstad tydens die inperking. Foto: Jaco Marais

In die deel van Antarktika waar hulle was, was daar feitlik geen sintuiglike stimulering nie.

“Als is wit, dis bewolk, daar is geen klanke (of dis oorverdowend wanneer die wind waai), geen geure – niks. Die foto’s wat ’n mens sien van Antarktika, is asemrowend mooi, maar dit is een uit elke tien dae wat só lyk. Die weer is die meeste van die tyd vrééslik sleg daarso.

“So, as jy buitentoe gaan, is die weer gewoonlik sleg en dit is bewolk, so jy verloor die horison en jy kry dan wat hulle noem wit sig, wat beteken – dis nie stormagtig of iets nie, maar jy kan net géén definisie sien in die lug of op die grond nie. Soos iemand gesê het: Die heelal is ’n poel melk.

“Dit is ’n onthútsende belewenis. Party mense raak so effens van balans af want jy het nie ’n boom of ’n plat ding wat vir jou min of meer kan sê waar jy is nie.

“As jy op ’n skaflike dag buite is as die wind nie waai nie, dan is daar dikwels níks om te sien nie, níks om te hoor nie, níks om te ruik nie. En niks om eintlik te voel nie want jy het dik klere aan.”

Skakerings van stilte

Die spieëlbeeld van die klankdeprivasie op Antarktika is in ons samelewing aanwesig in die vorm van iets soos klankbesoedeling – dit is nooit stil nie.

“Die geroesemoes wat nooit ophou nie . . . En nou in die tyd van afsondering is dit opvallend hoe stil dit geword het.

“Dieselfde geld oormatige visuele stimulering. Ek onthou toe ons teruggekom het, het ons die aand voordat ons vasgemeer het in Kaapstad buite die hawe gelê. En toe kon ons weer televisie opvang.

Die heerlike ding daar onder was dat jy kan sit en gesels en daar is geen rede of geen eindpunt nie . . .

“En die éénparige verontwaardiging van mense dat jy ’n televisieprogram kyk en dat iemand dit dúrf waag om jou kykervaring met ’n advertensie te onderbreek.

“Dit was óngehoord, want jy kom uit ’n omgewing waar jou gedagtegang joune en joune alleen vir die volgende drie dae is. As jy wil loop en dink oor één ding, sal niemand jou onderbreek nie en jy sal ook nie toelaat dat iemand jou onderbreek nie.

“En nou kom jy terug en dit is hierdie totale oorstimulering van mense wat half aan jou jaspante en jou hemp se kraag plúk vir jou aandag. So, al daardie goed wat baie, baie stil – eintlik té stil en té sensories gedepriveerd was, is beleef as hééltemal óórgestimuleerd as jy terugkom.”

‘Gesprekke raak kleiner’

“Jy moet jouself op ’n manier dankbaar maak om weer ’n dak oor jou kop te kry.” Foto: Misha Jordaan

Wat hy op Antarktika bevind het, is dat ’n mens in die kleinste goed belangstel.

“Jy sal uitstap en kyk hoe lyk ’n skarnier of in watter vorme ys voorkom as jy buite is en jy kan iets sien.”

Jou gesprekke raak al hoe kleiner.

“Dis amper tribal. Die meeste mense wat nou in isolasie is, sal vind hulle praat meer met mekaar. In ’n normale situasie is baie van jou gesprekke en jou optrede transaksioneel – daar moet iets gebeur; dis ’n transaksie.

“Die heerlike ding daar onder was dat jy kan sit en gesels en daar is geen rede of geen eindpunt nie . . . Jy praat oor goed wat boontoe dobber. Ek dink dít is ’n ding wat ’n ou in die moderne lewe opgeoffer het en wat nou in isolasie uitkom.”

Daar is aan afsondering ’n element van vreedsaamheid.

“Jy sien dit in sekere mense se sosialemedia-goed – hulle doen goed wat hulle waarskynlik altyd wou gedoen het . . . Mense gaan terugverlang na hierdie tyd.

“Daar is Paul Simon se wonderlike liedjie ‘Think Too Much’ waarin hy sing: ‘Have you ever experienced a period of grace when your brain just takes a seat behind your face?’

Meer oor:  Paul Simon  |  Bun Booyens  |  Antarktika  |  Staat Van Inperking  |  Covid-19-Pandemie  |  Isolasie  |  Roetine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.