Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Interdik sleg vir Afrikaans
Lede van Open Stellenbosch betoog teen Afrikaans op die Matie-kampus. Foto: Eikestadnuus

Die afdwing van die gebruik van Afrikaans by Maties is nie goed vir dié taal of die universiteit nie, skryf Anton van Niekerk.

Sowel Jan Heunis as Leopold Scholtz neem my dit erg kwalik dat ek kritiese vrae vra oor AfriForum se verplasing van die Stellenbosse taaldispuut na die sfeer van die howe. (In hierdie artikel bepaal ek my by laasgenoemde, en spreek my glad nie uit oor die “blackface”-insident by Heemstede nie; laasgenoemde word nog ondersoek.) Sonja Loots vind my vrae oor ’n taalstryd in die hof selfs “bisar”. Waarom sou ’n mens nie op jou regte staan as die Grondwet skynbaar vir daardie regte voorsiening maak nie?

Dit sou verstandig wees as die partye die uitvaardiging van ’n interdik in die hooggeregshof kon vermy. Ek moet weer vra: Wat is die implikasies as die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) voortaan op die uitvoering van ’n hofinterdik berus? Wie gaan dit afdwing, en hoe? Erger nog: Watter atmosfeer word in elke klas geskep as Afrikaans aan studente opgedwing word wat nie daarin belang stel nie? Kan so iets op enige manier goed wees vir Afrikaans, of vir die US?

Omdat ’n mens die reg het om van jou vrou te skei, beteken dit nie dat dit (altyd) reg sal wees om van haar te skei nie.

Daar is ’n belangrike onderskeid wat ’n mens altyd in gedagte behoort te hou wanneer ons praat oor menseregte. Die onderskeid is soos volg: Om, in ’n juridiese sin, die reg te hê om iets te doen, beteken nie altyd dat dit, in ’n morele sin, reg is om dit te doen nie. Byvoorbeeld: Omdat ’n mens die reg het om van jou vrou te skei, beteken dit nie dat dit (altyd) reg sal wees om van haar te skei nie. Of: Omdat ek die reg het om obsene beelde te skilder, beteken dit nie dat dit (altyd) reg is om dit te doen nie. Net so: Om die reg te hê om onderrig in Afrikaans aan ’n universiteit in Suid-Afrika af te dwing, beteken nie dat dit altyd reg is om dit te doen nie.

Baie dinge is in die afgelope jare oor taal in die taaldebat kwytgeraak: dat dit ’n blote kommunikasie-instrument is; dat dit veel meer as ’n sodanige instrument is; dat ’n mens se identiteit van taal afhang; dat taal ’n draer van ’n “haatlike en bose” (Van Wyk Louw) tradisie is, ensovoorts.

Een ding is hierby seker: Taal en dwang is vreemde bedmaats. Om taal op mense af te dwing, veral in ’n situasie waar kommunikasie alreeds moeilik is omdat studente van uiteenlopende tale en kulture in die klas sit, is om ’n reeds komplekse situasie oneindig meer te bemoeilik.

Diegene wat Stellenbosch se manier (ook in die jongste tyd) om oor die weg te kom met kommunikasieprobleme so skerp kritiseer, behoort ’n keer eerlik na te dink hoe hulle self sou wou of kon optree in die situasies waaraan Stellenbosse dosente elke dag blootgestel is.

Studente stel in die algemeen eenvoudig nie meer in Afrikaanse onderrig belang nie.

Ek self doseer tans ’n module vir ongeveer 115 derdejaarstudente. Uit herhaalde navrae wat ek reeds tot hierdie studente gerig het, blyk dit dat daar nie een onder hulle is wat Afrikaans as onderrigmedium verkies nie (hoewel daar waarskynlik ’n paar is wat opstelle en eksamens in Afrikaans sal doen).

’n Kollega wat amper 500 eerstejaarstudente in haar klas het, deel my mee dat, toe sy ’n spesiale geleentheid inrig om Afrikaanse studente te ontmoet en “parallel” te onderrig, daar minder as tien sodanige studente opgedaag het!

Dis die werklikheid waarmee ons elke dag in die klas in Stellenbosch te make het. Studente stel in die algemeen eenvoudig nie meer in Afrikaanse onderrig belang nie.

Talle van die dosente (ekself inkluis) vind dit erg jammer; Afrikaans is ons moedertaal waarin ons die vaardigste is as dit by onderrig kom.

Die US reflekteer al hoe meer ál Suid-Afrika se jong mense.

Ons onthou ook die jare toe Stellenbosch anders en onmiskenbaar Afrikaans was. Toe ek byvoorbeeld my doktorale proefskrif in die vroeë 1980’s geskryf het, het die moontlikheid om dit in Engels te doen, nooit eens by my opgekom nie.

Nou is alles baie, baie anders! Ek merk weinig of geen antagonisme teen Afrikaans op die kampus op nie. Studente praat gemaklik, selfs lustig, Afrikaans met mekaar op straat en in die koshuise. Maar hulle glo terselfdertyd van harte dat die wêreld van die toekoms wat vir hulle voorlê, ’n wêreld gaan wees wat volledig in Engels gaan funksioneer. Hulle kry dié idee waarskynlik meesal by hul ouers. Al hoe meer van hierdie studente was in Engelse skole; hulle beweer dat hulle veral nie in Afrikaans kan skryf nie. En dit help nie om hulle te wys op al die besondere figure wat uitstekend oral ter wêreld (in Engels) presteer en wat volledig in Afrikaans aan die US studeer het nie; laasgenoemde is ’n idee wat hedendaagse studente eenvoudig koud laat.

Wat verwag die bittere opponente van die US se huidige taalbeleid van ons wat in die klas staan? Dat ons die studente moet dwing – nogal met ’n hofbevel (bid jou dit aan!) – om na ons suiwer Afrikaans te luister? As dosente wil ons kommunikeer met ons studente; ons wil so ver moontlik seker maak dat ons verstaan word en dat die werk wat ons doseer, verstaan word. Wat kan ons moontlik daarmee bereik om ons studente te antagoniseer – selfs te vervreem – met ’n ideologiese taalagenda?

As daar baie sterker druk van die studente sou kom (dit is: van die werklike massa – nie die klein AfriForum-juigkommando nie), sou die respons vanuit die dosentekorps waarskynlik dienooreenkomstig wees. Maar Stellenbosch is ’n gans en totaal ander plek as die gemoedelike klein dorpie van my, Heunis en Scholtz se studentedae. Die US reflekteer al hoe meer ál Suid-Afrika se jong mense; die universiteit probeer sy bes om ’n bate te wees vir die héle Suid-Afrika, nie slegs die Afrikaners nie.

Daarom sal die meeste betrokkenes by die US die voortbestaan van Afrikaans verwelkom, maar dan as ’n middel vir effektiewe kommunikasie (waar moontlik), en nie as ’n draer van kulturele of politieke identiteit nie. Natuurlik is dit nie ideaal vir Afrikaans nie.

Dis egter onontbeerlik vir die soort universiteit wat Stellenbosch gekies het om te wees.

Prof. Anton van Niekerk doseer filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.