Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Internasionale spanning aan die opbou oor China

Die internasionale spanning rondom China is aan die opbou. Die land se diktatuur word al hoe meer as ’n gevaar vir sy eie etniese minderhede en sy omgewing in Asië gesien. Leopold Scholtz ontleed die huidige stand van sake.

’n Betoging verlede maand in Istanboel, Turkye, wou die aandag vestig op mensereg-vergrype teen die Oeighoere in China. Foto: Getty Images

China was die laaste maande dikwels in die nuus weens die land se aggressiewe houding in Asië. Kenners vrees dat, tensy die spanning ontlont word, ’n kruitvat opgebou word wat êrens vorentoe met groot geweld kan ontplof.

Dit gaan hier om veral twee aparte kwessies wat onregstreeks verband met mekaar hou.

Een: As ’n mens uitgelekte Chinese regeringsdokumente kan glo, is ’n tragedie van groot omvang hom tans in die westelike provinsie Xinjiang aan die afspeel. Ten tweede groei die vrees terselfdertyd in Taiwan dat China sy vere stadigaan vir ’n militêre inval regskuif.

In Xinjiang gaan dit om die Oeighoere, ’n Moslemvolk. Op sy laaste dag as Amerikaanse minister van buitelandse sake het Mike Pompeo die Chinese behandeling van dié groep as “volksmoord” bestempel, ’n beskrywing wat pertinent nie deur die nuwe regering van pres. Joe Biden teruggetrek is nie.

Plakkate wat vra vir die vrylating van aangehoudenes in China se Xinjiang-provinsie. Foto: Getty Images

Wie is die Oeighoere, en waarom is hulle belangrik?

Die Oeighoere is ’n aparte volk, volgens skatting sowat 12 miljoen sterk, wat in die westelike provinsie Xinjiang leef. Hulle was vroeër die meerderheid in die gebied, maar deur grootskaalse immigrasie van die Han – die “eintlike” Chinese – daarheen is hulle nou al minder as die helfte.

Hulle is ’n oorweldigend Islamitiese volk wie se taal verwant is aan Turks. Onder die ou Chinese republiek het hulle selfbestuur gehad, maar toe die kommuniste die mag in 1949 gryp, is die land op bestuursgebied sterk gesentraliseer en het die Oeighoere hul selfbeskikking verloor.

Xinjiang is om geografiese en ekonomiese redes belangrik vir Beijing.

Amptelik is Xinjiang ’n provinsie met selfbestuur, maar dis ’n klug. Beijing sorg daarvoor dat alle owerheidsinstansies deur sý keuses beset word.

Xinjiang is om geografiese en ekonomiese redes belangrik vir Beijing. Die provinsie grens aan Rusland, Tadjikistan, Mongolië, Pakistan, Kazachstan en Kirgistan, wat dit strategies waardevol maak.

Ekonomies is die gebied van groot belang. Talle minerale – steenkool, yster, sink, chroom, nikkel, koper en tungsten – word daar ontgin, maar weens die groot hoeveelhede koring en vrugte lewer dit ook ’n groot deel van die voedsel vir die honger Chinese bevolking van 1,2 miljard.

Uit Beijing se oogpunt is dit dus noodsaaklik dat hy die gebied stewig onder sy beheer hou.

Die probleem is dat talle Oeighoere meen die Chinese immigrasie verstik hul bestaan as aparte volk. Dus het geweld kort-kort sedert die jare negentig opgevlam.

Foto’s van mense wat in China se Xinjiang-provinsie aangehou word is verlede maand op ’n betoging in Istanboel, Turkye, ten toon gestel. Foto: Getty Images

Teen 2017 het Beijing besluit hy het skoon genoeg van die opstandige Oeighoere gehad; hulle moes ’n les geleer word. En dus het die Chinese op groot skaal ontevrede Oeighoere in hegtenis geneem.

Hulle is toegesluit in sentrums wat in die buiteland as “konsentrasiekampe” beskryf word. Die Chinese self praat van “beroepsopleidingsentrums” of “heropvoedingsentrums” wat ten doel het om “ekstremistiese neigings” teen te gaan.

Wat seker is, is dat die inwoners van die “sentrums” gedwonge arbeid in fabrieke moet verrig. Volgens die Amerikaanse amptelike Public Broadcasting Service (PBS)¸ ’n staatsinstelling, is minstens 85 dergelike sentrums in Xinjiang geïdentifiseer waar meer as ’n miljoen mense sedert 2017 – weliswaar nie almal tegelyk nie – aangehou is. Dit gaan nie slegs om aktiviste nie; volgens verskeie uiteenlopende internasionale verslae gaan dit ook om mans met baarde en vroue met sluiers (wat in 2017 verbied is); en egpare met meer as twee kinders.

Pres. Xi Jinping van China. Foto: Getty Images

Die amptelike Chinese standpunt is dat dit alles deel is van ’n veldtog teen “terrorisme” en dat dit niks met die onderdrukking van die Oeighoere te make het nie.

In die kampe moet die gevangenes blykbaar “klasse” bywoon om “Chinese patriotisme” te kweek en Mandaryns, die amptelike taal van China, behoorlik onder die knie te kry. Talle beweer hulle word gemartel, en daar is ook onbevestigde berigte van verkragtings. Dosyne moskees is platgeslaan.

Om alle voorsiening van nuus onder beheer te hou het die Chinese regering in Februarie bepaal dat uitsendings van die BBC elektronies versteur sal word.

Wat in Xinjiang gebeur, het implikasies wat wyer as bloot dié provinsie strek. Dit raak ook Hongkong en veral Taiwan.

Die New York Times het in November verlede jaar meer as 400 geheime Chinese staatsdokumente gepubliseer wat ’n ysingwekkende beeld skets van wat aan die gang is. Die een wat dalk die beste weergee wat aan die gebeur is, is ’n dokument wat beweer dat Oeighoerse aktiviste “geïnfekteer is deur ongesonde gedagtes”: “Vryheid is slegs moontlik wanneer hierdie virus in hul denke uitgewis en hulle in goeie gesondheid is.”

Wat in Xinjiang gebeur, het implikasies wat wyer as bloot dié provinsie strek. Dit raak ook Hongkong en veral Taiwan.

Is ’n aanval op Taiwan onvermydelik?

’n Betoging verlede jaar in Taiwan waarmee solidariteit met teenstanders van die Chinese regering in Hongkong betoon is. Foto: Getty Images

Taiwan is die eiland waarheen die verslane Nasionaliste in 1949 ná hul nederlaag in die burgeroorlog teen Mao Zedong se kommuniste gevlug het. Sedertdien is dit prakties gesproke ’n onafhanklike staat, al word dit kragtens die volkereg nie as sodanig erken nie.

Beijing eis steeds die besit van die eiland op, maar die Taiwannese vrees dat hul liberale demokrasie deur ’n totalitêre Chinese diktatuur vervang sal word. Om dié vrees tegemoet te kom, het die Chinese ’n interessante eksperiment in Hongkong aangegaan.

Toe Brittanje sy heerskappy oor Hongkong in 1997 aan China oordra, het laasgenoemde onderneem om die demokratiese vryhede daar 50 jaar lank te bewaar. Dit, so was die boodskap aan Taiwan, kan met julle ook gebeur as julle na die Chinese moederland terugkeer.

’n Betoger in Taipei, Taiwan, dra ’n plakkaat rond wat vra dat die bewind van die Kommunistiese Party in China beëindig word. Foto: Getty Images

Maar in die laaste jare het die Chinese hul belofte aan die inwoners van Hongkong flagrant verbreek. Op bevel van pres. Xi Jingping is Hongkong se outonomie en demokrasie, ondanks grootskaalse protes van die bevolking, eenvoudig afgeskaf en vervang met ’n soortgelyke totalitêre diktatuur wat in die res van China geld.

Xi se oorkoepelende strategie is om Amerika van sy troon as supermoondheid te stoot. Die land se ongekende ekonomiese ontploffing van die laaste twee dekades word tans vertaal in ’n grootskaalse versterking van sy weermag en veral sy vloot, waarmee hy sy mag tot ver van sy kuste kan projekteer.

Volgens Amerikaanse China-kenners sien China Amerika as ’n moondheid wat aan die verswak en verval is. In die oë van die Chinese is dit blykbaar slegs ’n kwessie van tyd voordat China die sterkste land ter wêreld is, terwyl Amerika steeds verder uitasem gaan hyg en agter raak.

Met dié groeiende selfvertroue, word in die Weste gevrees, is dit haas onvermydelik dat China Taiwan die een of ander tyd gaan aanval. En dít kan Amerika – ongeag wie ook al president is – nie duld nie; hy sal Taiwan te hulp móét snel.

Leopold Scholtz

Dan is die vet regtig in die vuur. Nou reeds word die mededinging tussen China en Amerika as ’n tweede Koue Oorlog beskryf; dan kan dit denkbaar in die Derde Wêreldoorlog ontaard.

Wat in Xinjiang, Hongkong en Taiwan gebeur, hou – al is dit onregstreeks – verband met mekaar. Dit is die ou-ou verhaal van ’n opkomende moondheid, aangevuur deur ou-ou nasionalistiese griewe, wat sy regmatige plek in die wêreld wil hê, al moet hy dan sy elmboë gebruik.

Meer as ’n eeu gelede was dit Duitsland wat – soos keiser Wilhelm II dit uitdruklik gestel het – sy “plek in die son” geëis het. Dit het op die bloedbad van 1914-’18 uitgeloop.

Gaan so iets weer gebeur?

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Xi Jingping  |  Joe Biden  |  Mike Pompeo  |  Xinjiang  |  Hongkong  |  China  |  Amerika  |  Taiwan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.