Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Iran: Gaan Trump hele wêreld teen hom verenig?

Amerika se dreigemente teenoor die res van die wêreld is ’n verdere deurmekaarkrap van die globale magsewewig. Leopold Scholtz probeer kyk wat die toekoms kan inhou.

Iran se kernprogram.Grafika: grafika24

Dit het nie heeltemal as ’n skok gekom nie, maar die uitdagendheid het tog menige wêreldleier na sy asem laat snak. Dit gaan hier om ’n twiet van pres. Donald Trump wat die res van die wêreld kollektief met die verbreking van alle handelsbande dreig indien hulle voortgaan om met Iran handel te dryf.

Net eers die agtergrond.

In 2015 het die internasionale gemeenskap (meer bepaald Amerika onder die destydse pres. Barack Obama, Rusland, China, Duitsland, Frankryk en Brittanje) ’n ooreenkoms met Iran gesluit wat ’n einde gebring het aan die jarelange dispuut oor laasgenoemde se program om kernwapens te ontwikkel. In ruil vir die opheffing van sanksies het laasgenoemde beloof om die program onder streng toesig van die Internasionale Atoomenergie-Agentskap (IAEA) te staak en af te takel.

Enigiemand wat sake met Iran doen, sal NIE sake met Amerika doen nie.

Sedertdien het die IAEA steeds gesertifiseer dat Iran hom aan die ooreenkoms hou. Maar Trump is al sedert 2015 ’n kwaai teenstander van dié ooreenkoms. Hy meen dis te maklik vir Iran om die bepalings te omseil, die ooreenkoms sê niks oor Iran se ontwikkeling van missiele nie, en bowendien speel Iran met sy inmenging in Sirië en Jemen ’n destabiliserende rol in die Midde-Ooste.

Dus het hy Amerika vroeër vanjaar aan die ooreenkoms onttrek en opnuut sanksies teen Iran ingestel. Verlede week het hy egter ’n yslike stap verder geneem. Hy het ’n twiet met die volgende bewoording die wêreld ingestuur:

“Die Iran-sanksies is amptelik ingestel. Dit is die strengste sanksies wat ooit afgekondig is, en in November sal hulle nog ’n kerf hoër word. Enigiemand wat sake met Iran doen, sal NIE sake met Amerika doen nie. Ek vra WÊRELDVREDE, niks minder nie!”

’n Twiet van pres. Donald Trump het die res van die wêreld kollektief met die verbreking van alle handelsbande gedreig indien hulle voortgaan om met Iran handel te dryf. Foto: EPA/Jim Lo Scalza

Iran nie onskuldige slagoffer nie

Dié twiet het ’n enorme gefladder in die globale hoenderhok veroorsaak. Wat presies beteken dit? Dat maatskappye in die private sektor wat handel dryf met Iran uit Amerika geskop gaan word? Gaan Amerika handelsbande verbreek met lande wat handel met Iran dryf?

As ’n mens streng na die bewoording van die twiet kyk, lyk dit of Amerika met sanksies dreig teen enige private onderneming en enige land wat verder handelsbande met Iran onderhou. Met ander woorde, Amerika gaan die wêreld boikot as hy nie sy sin kry nie.

Trump se aanhangers werp dikwels oor sulke sake teen: Moenie die president letterlik opneem nie; neem hom wel ernstig op.

In Amerika self juig Trump se ondersteuners – só ken ons hom, as ’n ysterman wat hom nie laat rondstoot nie.

Maar ’n mens sal nog moet sien of Trump dit in hom het om die hele wêreld teen hom te verenig. Dis nie dat hy géén punt oor die Iran-ooreenkoms hoegenaamd het nie. Die ooreenkoms bevat inderdaad geen verbod op die ontwikkeling van missiele nie.

En Iran is – saam met Rusland – inderdaad besig om sy elmboë in Sirië en Jemen te gebruik en selfs Israel te bedreig. Dis nie asof Iran ’n onskuldige slagoffer van die nare Yanks is nie.

Daarteenoor staan wel dat die ooreenkoms – al was dit dalk slegs voorlopig – Iran se kernwapenprogram nie slegs tot stilstand gebring het nie, maar dit afgetakel het. Die IAEA se streng toesig, van die strengste in die geskiedenis, maak ’n gekierang deur Iran byna ondenkbaar.

In Amerika self juig Trump se ondersteuners – só ken ons hom, as ’n ysterman wat hom nie laat rondstoot nie. Sy teenstanders weer reken hy is ’n onstabiele kêrel wat in dié geval gelei word deur sy begeerte om alles wat Obama bereik het, af te breek.

Die EU se hoof van buitelandse sake, Frederica Mogherini, het gesê Europa hou vas aan die 2015-ooreenkoms met Iran, en sy het maatskappye aangemoedig om Amerika uit te daag.Foto: Wikimedia Commons
Pres. Donald Trump se twiet oor Iran is ’n bewys dat Amerika nooit vertrou kan word nie, het pres. Hassan Rouhani teenoor ’n besoekende Noord-Koreaanse regeringslid gesê. Foto: Wikimedia Commons

Die wêreld reageer

Intussen het die wêreld senuagtig op die Trump-twiet gereageer.

Uit die aard van die saak was Iran se reaksie skerp. Dis ’n bewys dat Amerika nooit vertrou kan word nie, het pres. Hassan Rouhani teenoor ’n besoekende Noord-Koreaanse regeringslid gesê.

En ’n mens kan jou indink wat oor die saak gesê word in Pjongjang, waar die aanduidings is dat die Noord-Koreane in elk geval met hul eie kernwapenprogram voortgaan. Dit ondanks die skouspelagtige ontmoeting tussen Trump en Kim Jong-oen.

Maar ook Rusland en China het skerp negatief gereageer. Trump maak op die oomblik rusie met albei, en die verwagting is nie dat sy onlangse ontmoeting met pres. Wladimir Poetin sake sal laat verbeter nie.

Amerika het pas bykomende sanksies teen Rusland afgekondig na aanleiding van die Russe se beweerde gifmoord-poging op ’n gewese Russiese spioen in Brittanje, Sergei Skripal, en sy dogter. En die handelsoorlog met China eskaleer steeds verder.

In Europa is die woede eweneens groot. Die EU se hoof van buitelandse sake, Frederica Mogherini, het gesê Europa hou vas aan die 2015-ooreenkoms met Iran, en sy het maatskappye aangemoedig om Amerika uit te daag.

Sy het ’n sogenaamde blokkeringstatuut in werking gestel, wat Europese maatskappye in staat stel om kompensasie by die Amerikaners te eis as hulle deur die sanksiedwang benadeel word. Die verwagting is egter nie dat Trump sal inwillig om sulke maatskappye te vergoed nie.

Trump versus die wêreld

Hoe nou vorentoe?

Wel, die magsverhoudinge is ongelyk. Amerika is tans nog ekonomies verreweg die sterkste moondheid ter wêreld, en dis uiters moeilik om teen sy wense in te gaan.

Jy sien reeds hoe Europese maatskappye wat die laaste tyd in Iran belê het, skarrel om weg te hardloop. Die Duitse Handelsblatt berig byvoorbeeld hoe Daimler, Volkswagen, Siemens, Bayer en talle ander oor mekaar val om uit die Amerikaanse stoomroller se pad te kom sodat hul Amerikaanse markte nie in duie stort nie.

Selfs die Franse Renault, wat geen enkele motorkar na Amerika uitvoer nie maar wel talle Amerikaanse onderdele in sy karre inbou, onttrek hom aan Iran.

Trump se boelietaktiek beteken dat hy steeds meer van ’n kommoditeit verloor wat nie in statistieke gemeet kan word nie – geloofwaardigheid en welwillendheid.

Dus, op kort termyn is daar geen twyfel nie. Trump wen.

Op die duur gaan sake nie so eenvoudig wees nie. Trump se boelietaktiek beteken dat hy steeds meer van ’n kommoditeit verloor wat nie in statistieke gemeet kan word nie – geloofwaardigheid en welwillendheid.

Trump is besig om die hele wêreld teen hom te verenig. Dit geld nie net sy natuurlike teenstanders soos Rusland, China en Iran nie, maar ook sy natuurlike bondgenote soos die EU, Japan, Suid-Korea en Kanada.

Op lang termyn gaan iemand hom die een of ander tyd teen Trump wreek. Maar hoeveel skade sou dit intussen aan die globale stabiliteit berokken het?

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Iran  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.