Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is Covid-19 nekslag vir die ANC?

Die politieke landskap in Suid-Afrika kan heeltemal anders lyk ná die Covid-19-pandemie, skryf Pieter Labuschagne.

’n Soldaat op patrollie in die Setjwetla- informele nedersetting buite Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die sosio-ekonomiese ontwrigting wat deur die Covid-19- pandemie veroorsaak is, het die meeste ander politieke woelinge op die agtergrond geskuif.

Die munisipale verkiesing wat veronderstel is om binne die volgende 12 tot 16 maande plaas te vind, is nie eens op die radar nie.

Hoewel daar glad nie na die verkiesing verwys word nie, is een aspek duidelik. Die impak van die staat van inperking en die inkrimping van die ekonomie sal ’n direkte invloed op die uitslag hê.

Kiesers in Suid-Afrika moet hulle maar daarvoor gereed maak dat die politieke tektoniese plate tydens die munisipale verkiesing van 2021 beslissend sal verskuif.

Die politiek en die ekonomie is onlosmaaklik ineengestrengel en dít sal weer in dié verkiesing bewys word.

Dit is die ekonomie, domkop!

Dié winkel in Soweto het ook sy deure gesluit ingevolge inperkingsregulasies. Foto: AP

Bill Clinton, voormalige Amerikaanse president, het gedurende die presidensiële verkiesing van 1992 die woorde: “Dit is die ekonomie, domkop” teen sy studeerkamer se muur aangebring. Dit was sy eie bevestiging van die deurslaggewende rol wat die ekonomie in politieke steun speel.

Politiek kan nie anders verstaan word as in ’n sosio-ekonomiese konteks nie. In gevestigde demokrasieë, soos Brittanje en Frankryk, het ekonomiese probleme die regerende partye dikwels in die opposisiebanke laat beland.

In Suid-Afrika is die belangrikste vraag wat op medium-, of selfs kort termyn, ná die staat van inperking gaan gebeur.

Die ekonomiese groeikoers voor die impak van die virus het reeds tot onder 1% gedaal.

Die sterkste ekonomieë in die wêreld het reeds met tussen 5% en 10% ingekrimp. Sommige ekonomieë, soos dié van Switserland, het selfs in resessie gegaan as gevolg van die impak van Covid-19.

Die groot probleem is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie, reeds voor die uitbreking van die koronavirus, soos ’n vuisvoos bokser in die kryt rondgesteier het ná opstoppers van Eskom en die gevolge van beurtkrag.

Die ekonomiese groeikoers voor die impak van die virus het reeds tot onder 1% gedaal, staatsbeheerde instellings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, het bodemlose putte geword, daar was ’n skerp styging in die werkloosheidsyfer en die buitelandse skuld het ongesonde vlakke van amper 70% teenoor die bruto binnelandse produk (BBP) bereik.

Die ekonomiese impak van Covid-19 sal ook nou verreken moet word en die prentjie lyk donker.

Inwoners van die Setjwetla- informele nedersetting buite Johannesburg het vroeër vandeesweek bymekaargekom om op kospakkies aan te dring. Foto: Felix Dlangamandla

Die geweldige werkverlies, wat konserwatief op ’n miljoen poste gestel word, sal verwoesting saai. Die meeste ekonome voorspel dat die land die ernstigste depressie in sy geskiedenis sal binnegaan.

In reële terme sal die gaping tussen ryk en arm verder vergroot omdat die ekonomiese impak van Covid-19 die armste van die armes die hardste sal tref.

Indien die besnoeiingsmaatreëls van die staat om sy salarisrekening te laat krimp werklikheid word, sal nog meer werkers sonder inkomste gelaat word.

Daar kan dus ’n skerp toename in diensleweringsproteste in die komende maande verwag word en toenemende druk op die regering om in die armes se basiese behoeftes te voldoen.

’n Man stap met ’n kind oor ’n straat in Diepkloof waar soldate seker gemaak het die inperkingsregulasies word nagekom. Foto: Felix Dlangamandla

Die probleem is dat daar reeds stygende verwagtinge by die armes bestaan dat die regering sal moet voorsien, maar die regering sal ná beurtkrag en Covid-19 in ’n nog swakker posisie wees om aan dié verwagtinge te voldoen.

Die gaping tussen wat mense verwag en dit wat hulle sal kry, sal dus vergroot en spanning in die politieke stelsel skep. In die munisipale verkiesing gaan dit oor brood-en-botter sake en die aspek kan bepalend vir steun in die komende maande wees.

Die stygende frustrasie sal tot meer stakings, nywerheidsbetogings en diensleweringsbetogings lei en die benarde ekonomiese toestand sal neerslag in die plaaslike politiek vind.

Die onsimpatieke en outokratiese toepassing van die inperkingsmaatreëls, waarvan sommige irrasioneel was, het beslis heelwat kiesers van die regerende party vervreem.

Daar moet nie vir ’n oomblik gedink word dat die politiek “normaal” sal voortgaan ná Covid-19 nie. Die politieke kaarte sal beslis herskommel word en die ANC sal die seerste kry.

Hoewel daar heelwat lof bestaan was vir die beslissende en ferm wyse waarop pres. Cyril Ramaphosa die inperkings ingestel het, is daar ook ’n teenkant van die munt. Die onsimpatieke en outokratiese toepassing van die inperkingsmaatreëls, waarvan sommige irrasioneel was, het beslis heelwat kiesers van die regerende party vervreem.

Hier kan ons veral let op die wyse waarop armes gedurende die eerste paar weke moes oorleef. Ramaphosa het ook vyande met magtige individue in die drankbedryf gemaak.

Nadat die ekonomiese impak verreken word, is drie scenario's moontlik.

Moontlikheid van fragmentering

Julius Malema en sy EFF sal politieke munt slaan uit die gevolge van die Covid-19-pandemie en die ekonomiese agteruitgang in die land. Foto: Argief

Die bepalende faktor wanneer ’n mens probeer om toekomstige politieke ontwikkelinge te peil, is om te vra watter party of groepering die meeste voordeel uit die ekonomiese agteruitgang sal trek.

Die antwoord is natuurlik die EFF, wat die agteruitgang van die ekonomie polities-strategies maksimaal sal uitbuit. Verwag maar meer leë drome van ’n staatsbeheerde strategie en ongegronde politieke en ekonomiese beloftes. Die bykomende werkloses, wat eensklaps met beperkte ekonomiese vooruitsigte gelaat gaan word, sal beslis sulke beloftes as ’n uitkoms sien.

Die EFF sal gevolglik ’n groter faktor as in die verlede word – hy bly die enigste mediumgrootte party wat die krisis die beste kan uitbuit.

Die EFF se landwye steun in die munisipale verkiesing van 2021 kan heel waarskynlik tot bo die 15%-kerf styg. In baie stede en groter dorpe sal die EFF dus die magsbalans in die rade hou.

Die EFF sal gevolglik ’n groter faktor as in die verlede word – hy bly die enigste mediumgrootte party wat die krisis die beste kan uitbuit.

As die EFF se steun toeneem, beteken dit dat die swaartepunt in die politieke stelsel na die linkerkant skuif, waar daar sterker op radikaler staats- en sosialistiese veranderinge aangedring sal word.

Die ANC se steun sal waarskynlik nog verder tot die drempel van 50% daal – daar moet onthou word dat hul steun in die munisipale verkiesing van 2016 reeds slegs 53,9% was. Dit is ook nie onmoontlik dat die ANC se landwye steun selfs tot onder 50% kan val nie.

Mans wat aan die lewe moet bly met ’n karige verdienste uit herwinbare materiaal, Maandag naby Kliptown buite Johannesburg. Foto: AP

As daar een groepering binne die ANC is wat in dié tyd sterker kan word, is dit beslis die radikaler element in die party.

Die regering se outokratiese hantering van die Covid-19-pandemie het die meer radikale anti-Ramaphosa groep se profiel versterk. Die militaristiese styl wat Bheki Cele, minister van polisie, ingeslaan het, pas by die meer radikale faksie se siening van hoe sake hanteer moet word.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se hoë profiel in die tyd het haar status geen skade aangedoen nie. Hoewel die kroonprins van die radikales in die ANC, Ace Magashule, in die agtergrond was, sal hy in die tydperk ná Covid-19 met die kwaai ekonomiese agteruitgang beslis sterker na vore tree.

As die radikaler groepering in die ANC sterker word – met die EFF net aan die anderkant van die grensdraad – sal die aandrang op sosialistiese hervorming toeneem.

Met dié scenario is daar ook ’n realistiese moontlikheid van groter samewerking tussen die twee radikale groepe. Indien ’n skeuring in die ANC plaasvind kan hulle selfs met samewerkingsooreenkomste of ’n koalisie die beheer oorneem. Ek kan egter nie insien dat die EFF hom sal laat opneem in ’n groter groepering nie – daarvoor is Julius Malema (EFF-leier) se ego veels te groot.

Konsensus

Pres. Cyril Ramaphosa moet die land lei in die tyd van die Covid-19-pandemie en erge ekonomiese agteruitgang. Foto: Argief

Die tweede realistiese scenario is dat Ramaphosa sal probeer om die ANC in die tydperk ná Covid-19 op dieselfde wyse as vroeër te bestuur.

Dit was reeds ’n groot uitdaging voor die beurtkrag en Covid-19 om dié amorfe party bestaande uit chartiste, radikales, gematigdes en linkses onder een kombers te hou.

Die geweldige uitdaging om die sosio-ekonomiese uitdagings binne die konteks van die verslegtende ekonomie te hanteer, sal bitter moeilik wees.

Die twee diverse faksies skep ’n middelpuntvlietende krag wat nog sterker as vroeër sal wees. Dit gaan toenemend moeiliker word om die aanhangers van die meer ekstreme sosialistiese siening en die meer gematigde sosiale demokrate in een kamp te hou.

Die vakbonde sal die aflegging van staatsamptenare en die rasionalisering van die semistaatsinstellings hand en tand beveg, wat hulle ook in ’n sterk opponerende kamp sal plaas. Die SAKP het wel min lede, maar sal beslis verder tot die versterking van die interne verdelingslyne in die party bydra.

Koalisies en samewerking

Pieter Labuschagne

Die laaste en sekerlik die mees onwaarskynlike scenario is dat Ramaphosa en die gematigde faksie van die ANC steun aan die regterkant soek. Dit beteken dat hy na gematigde partye in die middel van die politieke spektrum, soos die DA en IVP, sal moet uitreik.

Die DA en die IVP het gesamentlik steun van meer as 30% in 2016 se munisipale verkiesing gekry.

Die moontlikheid dat dié twee partye met die gematigdes in die ANC sal saamwerk, is nie te vergesog nie.

Maar wat ook al gebeur, oor een ding kan ons seker wees: Ná Covid-19 sal die politieke landskap anders as nou lyk.

As die ANC skeur, kan dit ’n gematigde front op die politieke spektrum skep wat die land net tot voordeel kan strek. Só ’n front kan steun van baie naby aan 60% kry as die kleiner partye ook met hulle saamwerk.

Dit is sekerlik die beste, maar die mees onwaarskynlike scenario.

Maar wat ook al gebeur, oor een dink kan ons seker wees: Ná Covid-19 sal die politieke landskap anders as nou lyk.

Covid-19 is dalk die spreekwoordelike laaste strooihalm wat die ANC-kameel se rug sal breek.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Bill Clinton  |  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Ace Magashule  |  Suid-Afrika  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.