Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Is daar ’n oplossing vir die politieke chaos in Israel?

Israel staan voor ’n tydperk van politieke woelinge ná ’n onduidelike verkiesingsuitslag en ’n premier wat hom weens beweerde korrupsie voor ’n regter moet verantwoord. Leopold Scholtz bekyk die situasie.

Ondersteuners van Benjamin Netanyahu betoog voor die hof waar sy korrupsieverhoor plaasvind. Foto: Getty Images

In min demokratiese lande ter wêreld tref jy ’n vreemder partypolitieke opset aan as in Israel. Die man wat in die laaste algemene verkiesing op 23 Maart ’n volstrekte meerderheid misgeloop het, Benjamin (“Benny”) Netanyahu, het Maandagoggend in die beskuldigdebank voor ’n regter gestaan op aanklagte van korrupsie.

En terselfdertyd het die seremoniële staatshoof, pres. Reuven Rivlin, “teësinnig” in sy eie woorde, Netanyahu gevra om die leiding met die vorm van ’n koalisieregering te neem. Die rede vir sy aarseling was omdat hy geen enkele politikus sien met voldoende steun oor politieke grense heen om ’n meerderheid in die Knesset (die Israeliese parlement) te monster nie, en omdat hy “morele en etiese” probleme met Netanyahu het.

Die politieke onstabiliteit in Israel blyk daaruit dat dit die vierde verkiesing in twee jaar was.

Bowendien het Rivlin, in ’n breuk met konvensie, nie vir Netanyahu persoonlik uitgenooi nie, maar die opdrag deur ’n bode laat aflewer.

Allereers egter die uitslag van die verkiesing (terloops, die politieke onstabiliteit in Israel blyk daaruit dat dit die vierde verkiesing in twee jaar was): Daar is ’n horde politieke partye, maar gerieflikheidshalwe kan hulle in vier groot blokke ingedeel word. Dit is die konserwatiewe, die godsdienstiges, die linkses en die Palestyne.

Dis ingewikkelder as dit, maar dit sou ’n hele reeks artikels verg om dit haarfyn uiteen te sit.

Teenstand uit regse kringe ’n groter gevaar

Reuven Rivlin, president van Israel, het Benjamin Netanyahu teësinnig gevra om ’n regering in Israel saam te stel. Foto: AP

Allereers: Netanyahu se party, die konserwatiwe Likoed, het met 30 van die 120 setels as die sterkste enkele party uit die verkiesing te voorskyn getree, maar ver van ’n meerderheid. Hy het dus koalisiegenote nodig.

Die mees logiese is Gideon Saär (Nuwe Hoop-Party, 6 setels) en Naftali Bennett (Yamina, 7 setels).

Die probleem is dat albei gewese kabinetsministers is, uiters ambisieuse mense wat nie twee keer sal dink om Netanyahu – polities gesproke – keelaf te sny nie. Bowendien is Natanyahu in ’n kwesbare posisie weens die korrupsieklagte teen hom, maar ook omdat sy party sewe setels verloor het.

Die teenstand vanuit regse kringe teen Netanyahu is dus ’n aansienlik groter politieke gevaar as dié uit ander oorde.

Benjamin Netanyahu, wat gevra is om ’n regering in Israel saam te stel, lewer vandeesweek ’n toespraak toe die volksmoord van Jode in die Tweede Wêreldoorlog herdenk is. Foto: AP

Wat daarby kom, is dat sowel Saär as Bennett ’n stuk regser as Netanyahu is. Waar hy as premier ten minste rekening moes hou met praktiese politieke probleme wat nie slegs met ideologie opgelos kan word nie, word Saär en Bennett nie daardeur gekortwiek nie.

Dus kan hulle na hartelus ’n aansienlik harder houding teenoor die Palestyne en die Wesoewer van die Jordaan propageer.

Tog, 52 van die 120 lede in die nuwe Knesset het aangedui dat hulle Netanyahu in mindere of meerdere mate as premier steun. Sy gematig-linkse teenstanders, Yair Lapid van Yesh Atid (17 setels) en genl. Benny Gantz van Blou-en-Wit (8 setels), kon slegs 45 stemme monster. Wat van Netanyahu ’n sleutelfiguur maak, maar nie noodwendig ’n deurslaggewende figuur nie.

Kan konserwatiewe Islamitiese party premier help?

Dié betogers wil duidelik nie hê Benjamin Netanyahu moet weer Israel se premier wees nie. Foto: Getty Images

Netanyahu het volgens wet nou 28 dae tyd om ’n koalisie bymekaar te skraap. Sy eerste keuse sal waarskynlik wees om Lapid en Gantz die hof te maak – nie omdat hulle ideologies soseer ooreenstem nie, maar omdat die rekenkunde dit ’n logiese keuse maak.

Daar kan verwag word dat Lapid en Gantz ’n hoë prys sal vra, dalk te hoog vir die konserwatiewe Netanyahu. Dan bly die moontlikheid oor van ’n minderheidskabinet wat deur bepaalde partye “gedoog” word, dalk die religieuse Sionistiese groepe.

Netanyahu kan in wanhoop probeer om die konserwatiewe Islamistiese party Raäm in te katrol.

In die Israeliese media word ook ’n ondenkbare moontlikheid geopper. Dit is dat Netanyahu in wanhoop kan probeer om die konserwatiewe Islamistiese party Raäm in te katrol.

Raäm verwerp die beginsel van Sionisme en eis dat miljoene Palestyne wat in 1947-’48 uit Israel verdryf is, plus hul afstammelinge, die reg kry om terug te keer. Dit sou die einde van Israel as Joodse tuiste beteken.

Dus kan Netyahu dié moontlikheid dalk gebruik as skrikbeeld om onwillige ander partye in ’n koalisie of ander verstandhouding met hom in te lok.

’n Betoger dra ’n masker van Benjamin Netanyahu by ’n betoging in Jerusalem. Foto: Getty IMages

Toe hy sy nederlaag toegegee het, het Lapid – uit taktiese oorwegings? – oorlog teen Likoed verklaar. “Ek gee kennis vir Likoed, Netanyahu en die koalisie: Ons gaan jul lewe ellendig maak. Ons sal nie afstand doen van die klagte teen Netanyahu nie. Ons gaan die Knesset in ’n slagveld omskep.”

Om die deur in elk geval nie finaal op slot te gooi nie, het Lapid ’n regering van nasionale eenheid voorgestel. “Dis wat die land nou nodig het. Die Israeliese publiek moet sien dat hul leiers kan saamwerk.”

Leopold Scholtz

Die premier het intussen hard teruggeslaan. Hy het die klagte teen hom as “polities geïnspireer” afgemaak en gesê: “Só lyk ’n poging tot ’n staatsgreep.”

Netanyahu word daarvan aangekla dat hy regulasies deurgevoer het wat miljoene in die sak van die telekommunikasiemaatskappy Bezeq laat beland het. In ruil daarvoor het die maatskappy glo positiewe nuusdekking op sy gewilde webwerf, Walla, beloof, saam met ’n smeerveldtog teen Netanyahu se politieke mededingers.

Die hoof van Walla, Ilan Yeshua, het getuig dat die druk op hom om dit te doen, hom laat voel het asof hy in Noord-Korea woon.

Hoe ook al: As Netanyahu, soos dit lyk, nie in staat is om ’n koalisie saam te stel nie, kan dit net wees dat die Israeliese kiesers binne enkele weke vir die vyfde keer in twee jaar die binnekant van ’n stemlokaal sal sien. Die politieke chaos in die land is haas onoplosbaar.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.